Spreuke 8:1-36 – Die Wysheid laat jou regtig leef

Die wysheid word soos vroeër in Spreuke (1:20-33) as ‘n vrou voorgestel.  In vier dele word haar waarde besing (8:1-11), die omvattende inhoud van haar wysheid uitgespel (8:12-21), haar impak as eersteling van die skepping op alles wat bestaan (8:22-31), en die lewe wat sy gee vir dié wat na haar luister (8:22-36).  Die Wysheid laat jou regtig leef!

8:1-11 – die waarde van die wysheid

Die Wysheid se ander naam is Insig (teḇû∙nāh – understanding – 8:1) wat moontlik ‘n meer intellektuele kant van die wysheid beklemtoon om die praktiese perspektief op die wysheid wat met die gebruik van die ander Hebreeuse woord (ḥā∙ḵemôṯ) in Spreuke aangedui word, aan te vul.

Let op dat die Wysheid beskikbaar is vir gewone mense in die gewone lewe, om die waarheid te sê, nie net vir Israeliete of gelowiges nie, maar vir alle mense.  Dit is verder uiters insiggewend vir my dat die wysheid beskikbaar is oral waar besluite geneem moet word.  Dit lei ‘n mens af dat van kruispaaie, stadspoorte, en ingange gepraat word.  Dit is waar die wysheid dan ook gevind sal word, nie soseer in die onttrekking van die gewone lewe nie, maar in die hitte van die stryd, in die besig wees en worsteling in en met die lewe, daar waar besluite gevra en geneem moet word.

‘n Mens kan amper nie anders as om in die tekening van die wysheid as vrou ook ‘n implisiete metaforiese kontras te sien met die owerspelige vrou wat nou al drie keer in die boek voorgekom het nie.  Dit beteken dat die owerspelige vrou van Spreuke waarskynlik nie net as ‘n simbool van buite-egtelike verhoudings geneem moet word nie, maar ook as ‘n simbool van enige verhouding of aktiwiteit wat onwys en dwaas is.

Dít is waarom die Wysheid uiteindelik met God self verbind word, soos ‘n mens in die derde deel gaan lees (8:22-31), hoewel die Wysheid self nie uiteindelik ‘n goddelike gestalte aanneem nie.

8:12-21 – die omvattende inhoud van die wysheid

Weereens word die intellektuele kant van die wysheid – verstand, kennis, skranderheid (of diskresie) – beklemtoon, maar nie in die sin van ‘n ivoortoring akademiese aktiwiteit nie, eerder in die sin van die impak wat dit het op ontsag vir God (8:13) en die gedrag wat ‘n fokus op God tot gevolg het.  Wysheid is toegepaste kennis, kennis wat met onderskeiding en finesse aangewend word in die lewe.

  • Aan die een kant begelei die Wysheid jou tot die haat van ‘n verkeerde lewe, hoogmoed, hovaardigheid, en slinkse woorde (8:13).
  • Aan die ander kant begelei die Wysheid jou om paraat te wees om sukses te kan behaal (8:14), en veral lief te wees om mag en gesag op die regte manier uit te oefen (8:15-16).

Vers 17 tref my besonderlik, en is natuurlik verbind aan die deurlopende refrein deur die boek: “Ek het dié lief wat my liefhet; dié wat my soek, vind my.”  God gee graag vir dié wat na wysheid, na Hom, soek.  En let op dat Spreuke sê: “Wie my het … het ‘n duursame en blywende besitting” (8:18).

Hoewel die OT nog baie gewerk het met die waarde wat besittings in dié lewe gehad het, skemer hier ‘n perspektief deur, dat dit uiteindelik oor die Gewer van die gawes gaan, dws oor God self, nie net oor die gawes as sodanig nie.  In die NT brei Jesus verder hierop uit deurdat Hy ons leer dat selfs die dood ons nie van God verwyder nie, omdat die bewussyn van God en die verhouding met Hom eintlik alles anders troef.

8:22-31 – die impak van die wysheid op alles wat bestaan

Die gordyn word nog verder oopgetrek om die karakter van die Wysheid aan ons bekend te maak.  Let op hoe die wysheid se voorrang bo alles uitgespel word – telkens word gesê dat die wysheid voor alles was, van die begin af, voor die skepping in aanskyn geroep is (aarde, water, berge, grond, hemelgewelf, wolke ens).  ‘n Mens moet natuurlik nie te letterlik hiermee omgaan nie, omdat dit poëties bedoel is (fondamente van die aarde is afgesteek, soos ‘n mens ‘n huis se fondamente sou afsteek – 8:29).  Die punt is net dat die Wysheid voor alles was, en in alles gebruik is.

Maar let ook op dat die Wysheid uiteindelik steeds as deel van die skepping beskou word, en nie as deel van die Skepper self nie.   Hoewel ‘n mens in die versoeking is om hierdie Wysheid direk met die Logos, die Woord, van die Johannes evangelie te verbind, moet ‘n mens onthou dat die Wysheid hier (nog) nie gelyk gestel word aan God nie, soos dit wel die geval is met die Logos wat met Jesus in sy Godheid gelyk gestel word.  Paulus sê ook interessant genoeg dat Jesus vir ons die wysheid geword het wat van God kom (1 Kor 1:30), en verbind die wysheid aan die vryspraak, heiliging en verlossing wat ons deel is in ons eenwording met Christus.  Lees ook wat Paulus oor Jesus sê in terme van die Skepping in Kol 1:15-23: “Alles is deur Hom en vir Hom geskep.”

8:32-36 – die lewe wat die wysheid gee vir dié wat na haar luister

Omdat die Wysheid dus van die begin af daar was, en haar in alles verlustig het, veral in die mense, roep Spreuke alle mense op om na haar te luister.  In die luister na die Wysheid lê die sin van die lewe opgesluit: “Dit sal goed gaan met die mense wat na my luister” (8:34).

Waar 8:1-11 gesê het dat die Wysheid in die lewenskeuse haar stem laat hoor, sê hierdie gedeelte dat daar ook elke dag na haar geluister moet word, tyd gemaak moet word om na haar stem te luister en “op my drumpel (te) staan en wag” (8:34).  Die woord huis kan hier op die tempel dui, hoewel in die konteks dit eintlik op enige ruimte dui waar tyd geneem word om stil genoeg te word om te luister.

Dit is nogal ‘n diepsinnige lewensmotto wat die moeite werd is om na te volg: “Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag.”

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Interessante gesprek by Bybelskool.com aan die gang oor die betekenis van woorde. Om een of ander rede kom dit nie hier aan nie, weens ‘n gebrek in die Facebook plugin. Julle kan dit egter volg op die webtuiste self.

  • Ja, dite gedeelte bring my maar net weer terug by 2 dinge:
    – Wysheid kom van God (vgl v 30: kry sy kennis by Hom);

  • Gister gedruk voor ek klaar getik het:
    Eerstens kom wysheid van God (v 30);
    Tweedens behels dit dat ons die Here sal dien!

    Dit hoe in: opregtheid (v 7); insig (v 9); nederigheid (v 13); reg (v 13); mag (v 14); waardering (v 31) en vreugde (v 31).
    Die toets vir my graad van wysheid is tot hoe n mate ek hierdie dinge leef!

    XX

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: