Spreuke 4:1-27 – Baken jou koers af
- Lewensles 5 – 4:1-9 – Neem jou ouers (rolmodelle) se opvoeding ter harte.
- Lewensles 6 – 4:10-19 – Kies die pad van wysheid en nie die pad van goddeloosheid nie.
- Lewensles 7 – 4:20-27 – Hou koers deur te fokus op jou binnekant en jou bakens.
Let op hoe lewensles 5 (rolmodelle) en 6 (keuses) met nommer 1 en 2 onderskeidelik ooreenkom, en lewensles 7 (binnekant en bakens) raakpunte het met nommer 3 (ken God in alles).
4:1-9 – Neem jou ouers (rolmodelle) se opvoeding ter harte
Let op dat die pa hierdie keer met sy kinders (seuns) praat en dit vanuit sy eie ervaring. Sy fokus op wysheid kom dus van geslag tot geslag. En sy ma net soseer soos sy pa het tot hierdie opvoeding bygedra (4:3). Trouens, die pa was sý ma se oogappel.
Let op hoe die pa in die vyfde lewensles die voordeel van die pad van wysheid uitspel: “sodat jy werklik kan lewe” (4:4). Wysheid is nie ’n straf nie, maar sal jou beskerm (4:6), aan jou betekenis gee (4:8), jou sosiale aansien verleen (4:8) en jou lewe versier (4:9).
Wysheid moet daarom soos ’n metgesel vir hom/hulle wees, soos ’n bruid wat jou lewenspad met jou deel, wat jy kan liefhê en wat jou lewe kan verryk en versier (4:6).
4:10-19 – Kies die pad van wysheid en nie die pad van goddeloosheid nie
Maar dan is dit lewensbelangrik dat dié pad, die pad van wysheid, gekies word, en die pad van goddeloosheid vermy word. Die pa borduur daarom in die sesde lewensles verder voort op die soeke na en voordele van die keuse om op die “regte pad” te bly.
Dit sluit in om die pad van die goddeloses en slegte mense te vermy, en die pad van die regverdiges te kies. Die twee paaie laat dit óf donker óf lig word in jou lewe. Om die waarheid te sê, die pad van goddeloosheid is verslawend – jy kan later nie meer daarsonder nie (lê wakker)! Dit beïnvloed jou hele lewe, en stel jou bloot aan die verydeling wat met boosheid en slegte mense saamgaan.
Geniet en oordink die betekenis van die pragtige vers: “Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is” (4:18)!
Let op die oorbeklemtoning om die punt te maak dat die wysheid meer voordelig is as die dwase pad van die goddeloosheid en misdaad – daar sal niks in jou pad wees nie, jy sal nie struikel nie (4:12).
4:20-27 – Hou koers deur te fokus op jou binnekant en jou bakens
Die sewende lewensles van die pa aan sy seun is om koers te hou op die pad van wysheid. In die proses is sy ore (4:20), hart (4:23), mond (4:24), oë (4:25), en voete (4:26) belangrik, almal metafore vir aspekte van sy soeke na en uitlewe van die wysheid.
- Sy ore moet vir die wyse onderrig van sy rolmodelle uitgeleen word. Hulle leiding en opvoeding moet gevolg en nageboots word.
- Sy binnekant moet beskerm word teen boosheid en negatiwiteit, meer as enigiets anders. Dit máák saak wat ’n mens dink en hoe jy dink.
- Sy mond moet reguit praat en leuens en misleiding soos die pes vermy.
- Sy oë moet reguit kyk na die pad waarvoor hy deur die wysheid geroep is. Hoewel dit in dié konteks meer met eerlikheid en opregtheid te make het, laat dit my tog ook dink aan Job wat van homself gesê het dat hy ’n verbond met sy oë gesluit het om nie na ’n ander vrou te kyk nie (Job 31:1), en Jesus wat dieselfde sentiment in die Bergrede gebesig het (Matt 5:28).
- Sy voete moet doelgerig bly op die pad wat die wysheid vir hom afgebaken het. Sy lewenstyl moet verband hou met wat in sy binneste gebeur.
Fokus op jou binnekant
In jou vertroue op God en in jou luister na Hom en in die inspanning om die regte pad te vind en daarop te hou, is daar miskien min dinge wat so belangrik is, as om jou hart – jou binnekant – bo alles te bewaar, om versigtig om te gaan met jou diepste oortuigings en motiverings: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” (4:23).
Hart het hier te make met jou gedagtes en jou binnewêreld, jou binnekant, die plek waar die onderskeiding gebeur tussen dit wat goed is en dit wat sleg is. Let op die volgende vertalings van vers 23 wat verskillende kante hiervan belig:
- King James: “Keep thy heart with all diligence; for out of it are the issues of life.”
- Die New Century vertaal: “Be careful what you think, because your thoughts run your life.”
- Die NIV vertaal: ” Above all else, guard your heart, for it is the wellspring of life.”
Nou, hoewel met ’n oppervlakkige lees van Spreuke, die woord hart net een keer in die NAV voorkom, kom dit in die oorspronklike eintlik ongeveer 80 keer voor, meesal in die betekenis van die binnekant van die mens . In die NAV is dit meesal, behalwe in 4:23, met gedagtes of wil vertaal.
Die rede vir die vertaling is enersyds, omdat die hart nie net as die sentrale lewensorgaan beskou is nie, maar as die setel van die denke beskou is, en andersyds om daarmee te sê, dat jou dit oor jou diepste oortuiginge gaan, dinge wat jy in jou diepste binneste dink, dws in jou hart dink. Dit is die dinge waarmee jy versigtig moet omgaan.
Ek het sommer vir die lekker ’n bietjie gaan kyk na hoe Spreuke oor die hart/gedagtes praat. Vir die dieperdelwers:
- Spreuke 2:2 sê bv letterlik: dat jy “jou hart (moet) neig tot verstand”, dws tot diep insig, dat jy jou diepste oortuiginge moet verfyn en verdiep.
- Spreuke 3:3 (ook 7:3) gaan nog verder, en sê: “Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart”, wat beteken dat dit nie oor blote kennis gaan, iets wat jy uit die kop kan opsê nie, maar oor dinge wat met liefde en trou saamhang, wat as’t ware die manier waarop jy dink en lewe saamvat.
- Die pa sê eintlik hier in 4:4: “Laat jou hart my woorde vashou” en in 4:21“bewaar hulle binne-in jou hart”, waarmee hy van ’n diep verbintenis praat aan die woorde wat die seun van hom geleer het, dinge wat hom só moet vashou, dat hy nie anders kan as om in ooreenstemming daarmee te lewe nie.
- Die hart van die verstandige soek dus na kennis (Spr 15:14), maar kennis wat in ’n diep oortuiging vasgelê en vasgehou kan word.
- Die effek daarvan is vêrreikend. Dit bepaal hoe jy praat: Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord (Spr 15:28) en sê nie sommer net die eerste slegte ding wat daarin opkom nie.
- Dit bepaal spesifiek ook hoe jy met ander praat, en hoe jy invloed op ander uitoefen: “’n Wyse mens (letterlik: die hart van die wyse) praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer” (Spr 16:23).
- Een van die belangrike aspekte daarvan, is om altyd weer in gedagte te hou, dat dit oor God gaan in alles wat jy doen, dit wat in 1:1-7 so beslissend geargumenteer is. Daarom “Laat jou hart die sondaars nie beny nie, maar wees die hele dag in die vrees van die Here” (Spr 23:17).
- En dan die kostelike insig – ’n manier waarop jy jou kan beoordeel, of jy slaag in wat jy doen:
“Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink (letterlik: so is die hart van die mens teenoor die mens)” (Spr 27:19). - Dit beteken natuurlik nie dat jy op jouself en jou eie insigte moet vertrou nie. Daar is die waarskuwing in Spreuke 28:26: “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ’n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.” Maar jy bly verantwoordelik vir wat jy dink, en hoe jy dink.
- Dit word in Spreuke ook gekontrasteer met ’n “hart wat onheilsplanne beraam”, of soos dit in die NAV weergegee word “gedagtes wat met komplotte besig is” (Spr 6:18). Dit word as deel van die numeriese spreuk weergegee in die 8ste les van die pa aan sy seun. Let op hoe hier uiterlike en innerlike dinge genoem word, houdings sowel as gedrag:
- “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het: oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes (hart)wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, ’n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.” (Spr 6:16-19)
- Hoogmoed is natuurlik ook in sy wese ’n hartsaak, ’n diep oortuiging, wat in jou gedrag manifesteer (Spr 16:5) omdat dit in wese opstand teen die Here is. Dit is mense “in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai” (Spr 6:14). Dit is waarom die gedagtes (hart) van die goddelose min werd is (Spr 10:20).
- Maar die gedagtes (harte) van mense is vir die Here nie onbekend nie (Spr 15:11). Om die waarheid te sê, Hy toets die gedagtes (harte) van mense (Spr 24:12). Hoewel dit moeilik is vir ons om te doen, veral wanneer ’n mens magtiges se gedagtes (harte) wil peil (Spr 25:3), is mense se gedagtes vir God glashelder.
- Gelukkig dat God daarom betrokke is in die bepaling van die pad wat ’n mens loop, al wil jou hart soms anders: “Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die Here rig sy voetstappe” of soos dit nou in die NAV staan: “n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop” (Spr 16:9).
- Wanneer die pa oor die verleiding van “easy sex” praat, is dit ook een van die diep dinge wat hy met sy seun deel: “Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie” (Spr 6:25) omdat sy “listig van hart” is (Spr 7:10). Iets waarop Jesus in Matt 5 weer terugkom.
- Maar daar is ook ander dinge wat jou hart kan raak en waarmee ’n mens versigtig moet omgaan: bekommernis (12:25), uitgestelde hoop (13:12). Paulus dring dus daarom daarop aan dat ons ons begeertes met God deurgesels (Fil 4), soos inderdaad ook Psalm 37 sê.
- Die pa praat natuurlik nie net van die hart nie – in die sin van jou binnekant – maar ook oor die verstand (teḇû∙nā[h]) wat meer met insig of onderskeiding te make het – “’n dwaas gebruik nie sy verstand nie” (Spr 10:21). “Daar is verstand nodig om ’n huis te bou, insig om sy fondamente te lê,” (Spr 24:3).
Baken jou koers af
Maar natuurlik is dit nie net vertroue op God, ‘n luisterende gesindheid en die fokus op jou manier van dink, jou binnekant, wat jou pad bepaal nie. Jy moet ook die pad stap wat God wys. Soos Spreuke sê: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree” – 4:26. Dws, soos dit in die OAV staan: “Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees,” en vers 27: “wyk nie regs of links af nie, (en) hou jou voet ver van boosheid.” Soos die wyses inderdaad later sal eggo: “Luister, my seun, soek die regte insig: bly op die regte pad” (Spreuke 23:19).
Deur vir jou bakens op te rig op jou pad, en daarvolgens koers te hou, sal jou nie net op die regte pad hou nie, maar dit ’n vreugde maak, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.
Drie versoekings om te vermy
Soos reeds vroeër in die inleiding genoem, praat Spreuke van drie hoof afdraaipaaie wat vermy moet word op dié wyse pad: “easy money” (veral in 1:10-19), “easy sex” (2:16-19 maar ’n hele paar keer verder aan!) en “easy power” (veral 3:27-35).
Dit is die drie oer-versoekings, waaroor al baie boeke geskryf is deur die loop van eeue, die versoekings van money, sex en power. Jy sal goed doen om Richard Foster se boek Money, Sex and Power (Hodder Christian Books: 1999) hieroor te lees óf die boek van Brian McLaren Finding our Way Again: The Return of the Ancient Practices (Thomas Nelson: 2008) aan te skaf, waarin hy drie eeu-oue geestelike dissiplines aanbeveel, die sogenaamde “threefold way” (p 146), waarin ’n mens nie net op die verlossing van versoekings konsentreer nie, maar ook op die lewe wat God gee.
Hier is ’n kort beskrywing daarvan waarvan die eerste dissipline met die drie versoekings te make het, en die ander twee dissiplines met God en die lewe:
- Die Via Purgativa of Katarsis het te make met die dimensie van self-ondersoek in die lig van die evangelie, waardeur die krag van die boosheid wat in ons lê, en waardeur ons versoek word, ontbloot is, om deur die lig en krag van God gesuiwer en getransformeer te word. Tradisioneel is drie dinge geïdentifiseer waarvan ons gesuiwer moet word: hoogmoed (pride – dit gaan oor ’n pre-okkupasie met jouself – in terme van Spreuke: easy power), wellus (lust – dit gaan oor ’n fiksasie op plesier – in terme van Spreuke: easy sex) en gierigheid (greed – dit gaan oor ’n obsessie met besittings – in terme van Spreuke: easy money).
- Die Via Illuminativa of Fotosis het te make met die dimensie van verligting wat God bring deur die waarheid en liefde wat Hy in ons lewens uitstort. Daardeur kom daar groeikrag om al hoe meer Christus-gesentreerd te lewe.
- Die Via Unitiva of Theosis het te make met die dimensie van vereniging of vervulling met God, Sy wil en strewe, sonder dat dit beteken het dat die mens daarmee ophou bestaan het, of die self genegeer is, maar eerder geheilig is.
Tyd ontbreek my … ander dag verder hieroor!
View all posts in this series
- Bybelskool oor Spreuke - May 16, 2012
- Spreuke – slagspreuke vir die lewe - July 17, 2012
- Spreuke – Inleiding - July 25, 2012
- Spreuke 1:1-33 – Begin met God - July 26, 2012
- Spreuke 2:1-22 – Soek wysheid met gespitse ore - July 27, 2012
- Spreuke 3:1-35 – Vertrou God en ken Hom in alles - July 30, 2012
- Spreuke 4:1-27 – Baken jou koers af - July 31, 2012
- Spreuke 5:1-23 – Bly weg van hartelose verhoudings - August 1, 2012
- Spreuke 6:1-19 – Leef met oorleg - August 2, 2012
- Spreuke 6:20-7:27 – Pasop vir owerspel - August 3, 2012
- Spreuke 8:1-36 – Die Wysheid laat jou regtig leef - August 6, 2012
- Spreuke 9:1-18 – Kies die pad van insig as lewenshouding - August 7, 2012
- Die spreuke van Salomo – Bundel I - August 8, 2012
- Spreuke 10:1-32 – God sorg vir die opregtes
- Spreuke 11:1-31 – Die gemeenskap floreer met die regte waardes en lewenstyl - August 9, 2012
- Spreuke 12:1-28 – Leerbaarheid getuig van wysheid - August 10, 2012
- Spreuke 13:1-25 – Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde - August 13, 2012
- Spreuke 14:1-35 – Soos God vir ons ‘n toevlug is, so skep ons integriteit veilige ruimtes vir ander - August 14, 2012
- Spreuke 15:1-33 – Woorde maak saak; God maak saak - August 15, 2012
- Spreuke 16:1-33 – Die mens wik, maar God beskik - August 16, 2012
- Spreuke 17:1-28 – Verhoudings maak saak - August 17, 2012
- Spreuke 18:1-24 – Kommunikasie maak saak - August 20, 2012
- Spreuke 19:1-29 – Integriteit in alles - August 21, 2012
- Spreuke 20:1-30 – Erken God in alles - August 22, 2012
- Spreuke 21:1-31 – God se geregtigheid motiveer ons tot goeie verhoudinge - August 23, 2012
- Spreuke 22:1-16 – Die invloed van rykdom en armoede op verhoudings - August 24, 2012
- Die woorde van die wyses – I - August 27, 2012
- Spreuke 22:17-29 – Wysheid leer jou om God te vertrou
- Spreuke 23:1-35 – Werk aan jou netwerk van verhoudings - August 28, 2012
- Spreuke 24:1-22 – Oorwin die kwaad met die goeie - August 29, 2012
- Nog woorde van die wyses – II - August 30, 2012
- Spreuke 24:23-34 – Prioriteite bepaal alles
- Die spreuke van Salomo – II - August 31, 2012
- Spreuke 25:1-28 – Dink voordat jy doen
- Spreuke 26:1-28 – Dwaasheid ken geen perke nie - September 3, 2012
- Spreuke 27:1-27 – Wees verstandig in beplanning en die uitvoering daarvan - September 4, 2012
- Spreuke 28:1-28 – Vra na die wil van die Here en jy sal tussen reg en verkeerd kan onderskei - September 5, 2012
- Spreuke 29:1-27 – Regverdigheid skep ‘n veilige ruimte vir almal - September 6, 2012
- Die uitsprake van Agur - September 7, 2012
- Spreuke 30:1-33 – God is daar vir dié wat by Hom skuil!
- Die woorde van Lemuel - September 10, 2012
- Spreuke 31:1-31 – Wyse woorde van en oor ‘n knap vrou
- Spreuke – Lees, luister, leef – ePub - October 20, 2012
- Tien lewenslesse uit Spreuke - June 12, 2018
- ‘n Bybelse perspektief op lyfstraf - April 21, 2020
- Spreuke – eenjaarleesplan op YouVersion se Bybeltoep - December 13, 2022
ZakErna
Be careful what you think, for your thoughts run your life. Proverbs 4:23
This is actually literally true, on the level of the neurons in your brain. Research shows that “whatever you are doing at any time, you are physically modifying your brain to become better at it.” (Quoted from a youTube video – Athene’s Theory of Everything reviewed by Prof Anton Corey of Grand Valley State University) If you are thinking negative, self-destructive thoughts, or hateful vindictive thoughts, you brain is actually changing itself to get better and better at thinking them… until you can no longer think any other way and they run your life!
In the light of this, the call of Eph 4:22 – 33 to have your mind renewed becomes a really urgent one!
Chris van Wyk
Research also showed how an activity that you watch, is mirrored in your brain. That is why it has such a great impact on us watching Chad le Clos win the gold in the 200 m butterfly at the Olympics. It is as if we have been with him in the water. The reverse is also true, weeping with the Stormers …
Judy Devenish
Moes die afgelope week n groot besluit neem in my lewe. Het besluit geneem op grond van wat ek in my hart gevoel het die Here wou hê ek moes doen. Het vanoggend hierdie stuk van jou deurgewerk en het nou so veel Vrede oor my besluit. Baie dankie Chris. Here het jou gebruik om my so te bless!
Chris van Wyk
Ek is baie bly die Here het jou gelei in jou besluit. Kolossense 3:15 sê mos dat die vrede van Christus in ons lewens die deurslag moet gee. In die oorspronklike staan dit letterlik so: “laat die vrede van God heers/besluit/begelei in julle harte”. Die woordjie βραβευέτω (brabeuetoo) in dié vers wat met heers/besluit/begelei vertaal kan word, dra eintlik die betekenis van “skeidsregter speel“. God se vrede help dus vir ons in ons binnekant (hart – dws ons gedagtewêreld) om te kan onderskei tussen verskillende moontlikhede, net soos ‘n skeidsregter die fluitjie blaas om rigting aan ‘n spel van watter aard ook al te gee. Staan vas in die vertroue dat God jou paaie sal gelyk maak!
André Kritzinger
Die opsomming van die sogenaamde “threefold way” bly my by. Ek probeer dit selfs memoriseer. Dis so raakgevat dat ek dit graag ineenvoudige taal vir my kinders sal wil vertaal. Dankie dat jy dit gedeel het