‘n Bybelse perspektief op lyfstraf

Ek kan nie meer presies onthou wat ek verkeerd gedoen het nie. Ek onthou wel dat ek uitdagend was. My pa het daarom geweet dié tienjarige kind van hom het ‘n pak slae nodig. Praat sou nie help nie, soos my volgende antwoord bewys het. “Hoekom het jy dit gedoen?” het hy gevra. “Ja, inderdaad, hoekom?” het ek gedink. “Dit was die duiwel, pa,” het ek slim geantwoord. Soos Adam van ouds. “Maar, dan slaan ek die duiwel uit jou uit!” het slim sy baas gevang. ‘n Pak slae wat ek tot vandag toe onthou! En my rebellie was kortgeknip.

Nie dat my pa dié roete met die roede – dit was boonop met ‘n plathand! – vandag meer sou kon volg nie. Hoe het dinge nie verander nie, nê? Lyfstraf was twintig jaar gelede nog een van die strawwe wat deur ons howe uitgedeel en toegepas is. Ook in ons skole. Sedertdien word lyfstraf egter ook in ons huise verbied, hoewel dit op soortgelyke wyse as in die howe en skole een van die Bybel se strafmaatreëls was wat ouers by die huise kon gebruik.

Hier is ‘n paar opmerkings om jou te vergewis van wat die Bybel sê oor lyfstraf, sodat jy goed kan onderskei om steeds jou kinders in gehoorsaamheid aan die Bybel te kan opvoed. Omdat net Spreuke oor lyfstraf uitsprake gee, gebruik ek hoofsaaklik dié gegewens.

Daar word min oor lyfstraf van kinders in die Bybel geskrywe

Daar word net vyf keer in die Bybel na lyfstraf in ‘n familiekonteks verwys. Die ander verwysings na lyfstraf is in die konteks van regspraak en arbeidsverhoudinge (bv. Eks 21:12-26; Num 35:16-21; Deut 19:11; 25:2-3; 27:15; Spr 10:13; 17:10, 26; 19:25; 20:30). Daardie Bybeltekste kan jy dus nie gebruik in dié konteks nie.

Die verwysings na lyfstraf in ‘n familiekonteks het verder net met seuns te make. Soos die Egiptiese spreekwoord lui: “Boys have their ears on their backside; they listen when they are beaten.” Ons het geen getuienis uit die Bybel dat dogters geslaan is nie, hoewel hulle net soos seuns gedissiplineer en opgevoed is. Iets om in ag te neem.

Lyfstraf was net een manier waarop kinders gedissiplineer is

Dié verwysings na die lyfstraf van kinders word verder net in Spreuke gevind (Spr 13:24; 22:15; 23:14-15; 29:15). Dit beteken dat lyfstraf nie deel van die voorskrifte van die wet was nie, maar deel van die wysheidstradisie van Israel. In daardie konteks was lyfstraf natuurlik nog steeds ‘n geldige manier om te straf. Maar, dit was net een van talle maniere waarop kinders in ‘n ouerhuis hanteer moes word.

Die belangrikste manier waarop kinders gedissiplineer is, sê die wysheidstradisie, is deur onderrig en opvoeding in ‘n verhouding met hulle ouers. Lyfstraf was ‘n klein deel daarvan. Ook net vir seuns.

Die fokus in die Bybel is op opvoeding en dissipline van kinders

Binne familie- en geloofsverbande beveel Spreuke aan dat daar in die eerste plek onderrig en opvoeding gegee word as ‘n manier om kinders te help om met kennis en oorleg op te tree (Spr 1). Dit sluit eers in die tweede plek dissipline en teregwysing in. Net kinders wat geweet het wat die regte ding is, en kies om daarteen te rebelleer, kon deur lyfstraf gedissiplineer word.

Die wysheidstradisie moedig ouers dus aan tot hierdie dubbele fokus op opvoeding en dissipline. Dit sluit in om te luister na die vermaning van jou vader, en die onderrig van jou moeder nie te verontagsaam nie. Albei ouers se liefdevolle opvoeding – wat die dissipline van vermaning, sowel as die aanmoediging van onderrig, ingesluit het – was bedoel om van kinders mooi mense te maak.

Die doel was om jou te laat optree soos ‘n wenner met ‘n behoorlike krans op jou kop en ‘n pragtige hanger om jou nek (Spr 1:8-9)! Die gevolg van hierdie tipe dissipline sou wees dat jou kind: “jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” (Spr 29:17 – OAV).

Beloning en straf

Spreuke werk verder met beloning en straf as twee kante van hierdie opvoeding. Goeie gedrag word beloon en slegte gedrag word gestraf. Bybelse opvoeding het altyd albei hierdie kante.

Aan die een kant word wyse en verantwoorde gedrag aangemoedig. Dit is dinge soos om in ontsag voor die Here te leef (Spr 1:7), met oorleg op te tree (Spr 3:21), getrou te bly aan jou vrou (Spr 5:18 – ouers het by getroude kinders betrokke gebly!) te spaar vir die dag van môre (Spr 10:5), ‘n wag voor jou mond te plaas en kalm van gees te bly (Spr 17:27). Die belangrikste manier om dit aan te moedig, was met gesprekvoering binne ‘n verhouding met jou kind.

Aan die ander kant word dwase en onverantwoordelike gedrag sterk afgeraai. Dit is dinge soos onverskillige woorde in die hitte van die stryd (Spr 12:18; 29:20), beledigings (Spr 18:8), buitehuwelikse seks (Spr 23:27), en onbeheerste woede wat oorkook (Spr 27:4). Weereens is gesprekvoering die eerste keuse in die dissiplinering, maar kon lyfstraf vir negatiewe gedrag gebruik word.

Lyfstraf was bedoel as ‘n teken van liefde – Spreuke 13:24

Lyfstraf was nie bedoel om jou aggressie of woede op jou kinders te wreek nie. Maar, die teendeel was ook waar: “Wie sy lat terughou, haat sy seun, maar wie hom liefhet, hou hom in die oog vir straf.” (BDV).

Lyfstraf was bedoel om dwaasheid te beperk – Spreuke 22:15

Lyfstraf was bedoel om die ingebore dwaasheid van kinders te beperk: “As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede (“pak slae” – NAV) sal dit daaruit verwyder.” (OAV). Soos die NET Bible dit vertaal: “Folly is bound up in the heart of a child, but the rod of discipline will drive it far from him.” Hierdie “tugroede” of “roede van dissipline” het ‘n waarskuwende karakter gehad met die oog op die verbetering van gedrag, om ‘n kind tot wysheid te begelei.

Lyfstraf was bedoel om van die verderf te red – Spreuke 23:13-14

Lyfstraf was nie bedoel om vir normale dissipline te gebruik nie. Net vir iets wat só ‘n impak op die kind kon hê dat dit hom heeltemal afvallig sou maak: “Moenie straf van ‘n jong seun weerhou nie; as jy hom met ‘n lat slaan, sal hy nie doodgaan nie. Jy slaan hom wel met ‘n lat, maar jy red sy lewe van die doderyk.” (BDV).

Lyfstraf was bedoel om grense aan kinders te stel – Spreuke 29:15

Lyfstraf was daarom bedoel om grense aan kinders te stel, om hulle nie aan hulle eie insig oor te laat nie, maar te dissiplineer om deur die pyn van ‘n pak slae wysheid te leer. Let op dat die lat altyd saam met woorde gebruik is: “‘n Lat en teregwysing gee wysheid; maar ‘n jong seun aan homself oorgelaat, steek sy moeder in die skande.” (BDV).

Hoe beïnvloed hierdie gedagtes uit Spreuke ‘n gelowige se oortuiging in terme van die opvoeding van sy of haar kinders?

Voed kinders op deur die dissipline en teregwysing van die Here – Efesiërs 6:4

Wat sê die NT oor lyfstraf? Niks eksplisiet nie. Die NT volg Spreuke in die fokus op dissipline en teregwysing na, maar sonder die duidelike uitspel van lyfstraf as strafmaatreël. Paulus skrywe in sy “huistafels”: “Moenie julle kinders uittart nie (treiter – vgl. Kol 3:21), maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here.” (BDV). Soos ook die Hebreërskrywer wat hierby aansluit en konstruktiewe straf voorstel met die oog op verbetering, sonder om lyfstraf spesifiek te noem (Hebr 12:5-11).

Lyfstraf sou uiteraard in die lig van Spreuke aanvaarbaar wees in die NT. Die hele Bybel is immers die Woord van God. Die NT het nie die OT vervang as Woord van God nie. Die NT is steeds gegrond op die onderbou wat die OT verskaf. Die wysheid van die OT bly van krag soos talle aanhalings in die NT bewys (2 Kor 8-9; Kol 1).

Die wysheidstradisie (en die wet) verskaf steeds die onderbou van die moreel-etiese gedrag van gelowiges soos Jesus en die apostels dit beskryf. Die agtergrond vir Paulus se beskrywing van die vrug van die Gees kom uit Jesaja 32 en 57, sowel as Joël 2 (Gal. 5:22).

Maar, lyfstraf word nie sonder meer as ‘n noodwendige afdwingbare maatreël in die NT geleer nie. Lyfstraf is Bybels aanvaarbaar, en ‘n geldige strafmaatreël om liefde te toon, dwaasheid te beperk, van die verderf te red, en grense te stel. Maar ander strawwe wat dieselfde doel het, kan op kreatiewe maniere ontwikkel word.

View all posts in this series

Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: