Skip to main content

‘n Bybelse perspektief op lyfstraf

Ek kan nie meer presies onthou wat ek verkeerd gedoen het nie. Ek onthou wel dat ek uitdagend was. My pa het daarom geweet dié tienjarige kind van hom het ‘n pak slae nodig. Praat sou nie help nie, soos my volgende antwoord bewys het. “Hoekom het jy dit gedoen?” het hy gevra. “Ja, inderdaad, hoekom?” het ek gedink. “Dit was die duiwel, pa,” het ek slim geantwoord. Soos Adam van ouds. “Maar, dan slaan ek die duiwel uit jou uit!” het slim sy baas gevang. ‘n Pak slae wat ek tot vandag toe onthou! En my rebellie was kortgeknip.

Nie dat my pa dié roete met die roede – dit was boonop met ‘n plathand! – vandag meer sou kon volg nie. Hoe het dinge nie verander nie, nê? Lyfstraf was twintig jaar gelede nog een van die strawwe wat deur ons howe uitgedeel en toegepas is. Ook in ons skole. Sedertdien word lyfstraf egter ook in ons huise verbied, hoewel dit op soortgelyke wyse as in die howe en skole een van die Bybel se strafmaatreëls was wat ouers by die huise kon gebruik.

Hier is ‘n paar opmerkings om jou te vergewis van wat die Bybel sê oor lyfstraf, sodat jy goed kan onderskei om steeds jou kinders in gehoorsaamheid aan die Bybel te kan opvoed. Omdat net Spreuke oor lyfstraf uitsprake gee, gebruik ek hoofsaaklik dié gegewens.

Daar word min oor lyfstraf van kinders in die Bybel geskrywe

Daar word net vyf keer in die Bybel na lyfstraf in ‘n familiekonteks verwys. Die ander verwysings na lyfstraf is in die konteks van regspraak en arbeidsverhoudinge (bv. Eks 21:12-26; Num 35:16-21; Deut 19:11; 25:2-3; 27:15; Spr 10:13; 17:10, 26; 19:25; 20:30). Daardie Bybeltekste kan jy dus nie gebruik in dié konteks nie.

Die verwysings na lyfstraf in ‘n familiekonteks het verder net met seuns te make. Soos die Egiptiese spreekwoord lui: “Boys have their ears on their backside; they listen when they are beaten.” Ons het geen getuienis uit die Bybel dat dogters geslaan is nie, hoewel hulle net soos seuns gedissiplineer en opgevoed is. Iets om in ag te neem.

Lyfstraf was net een manier waarop kinders gedissiplineer is

Dié verwysings na die lyfstraf van kinders word verder net in Spreuke gevind (Spr 13:24; 22:15; 23:14-15; 29:15). Dit beteken dat lyfstraf nie deel van die voorskrifte van die wet was nie, maar deel van die wysheidstradisie van Israel. In daardie konteks was lyfstraf natuurlik nog steeds ‘n geldige manier om te straf. Maar, dit was net een van talle maniere waarop kinders in ‘n ouerhuis hanteer moes word.

Die belangrikste manier waarop kinders gedissiplineer is, sê die wysheidstradisie, is deur onderrig en opvoeding in ‘n verhouding met hulle ouers. Lyfstraf was ‘n klein deel daarvan. Ook net vir seuns.

Die fokus in die Bybel is op opvoeding en dissipline van kinders

Binne familie- en geloofsverbande beveel Spreuke aan dat daar in die eerste plek onderrig en opvoeding gegee word as ‘n manier om kinders te help om met kennis en oorleg op te tree (Spr 1). Dit sluit eers in die tweede plek dissipline en teregwysing in. Net kinders wat geweet het wat die regte ding is, en kies om daarteen te rebelleer, kon deur lyfstraf gedissiplineer word.

Die wysheidstradisie moedig ouers dus aan tot hierdie dubbele fokus op opvoeding en dissipline. Dit sluit in om te luister na die vermaning van jou vader, en die onderrig van jou moeder nie te verontagsaam nie. Albei ouers se liefdevolle opvoeding – wat die dissipline van vermaning, sowel as die aanmoediging van onderrig, ingesluit het – was bedoel om van kinders mooi mense te maak.

Die doel was om jou te laat optree soos ‘n wenner met ‘n behoorlike krans op jou kop en ‘n pragtige hanger om jou nek (Spr 1:8-9)! Die gevolg van hierdie tipe dissipline sou wees dat jou kind: “jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” (Spr 29:17 – OAV).

Beloning en straf

Spreuke werk verder met beloning en straf as twee kante van hierdie opvoeding. Goeie gedrag word beloon en slegte gedrag word gestraf. Bybelse opvoeding het altyd albei hierdie kante.

Aan die een kant word wyse en verantwoorde gedrag aangemoedig. Dit is dinge soos om in ontsag voor die Here te leef (Spr 1:7), met oorleg op te tree (Spr 3:21), getrou te bly aan jou vrou (Spr 5:18 – ouers het by getroude kinders betrokke gebly!) te spaar vir die dag van môre (Spr 10:5), ‘n wag voor jou mond te plaas en kalm van gees te bly (Spr 17:27). Die belangrikste manier om dit aan te moedig, was met gesprekvoering binne ‘n verhouding met jou kind.

Aan die ander kant word dwase en onverantwoordelike gedrag sterk afgeraai. Dit is dinge soos onverskillige woorde in die hitte van die stryd (Spr 12:18; 29:20), beledigings (Spr 18:8), buitehuwelikse seks (Spr 23:27), en onbeheerste woede wat oorkook (Spr 27:4). Weereens is gesprekvoering die eerste keuse in die dissiplinering, maar kon lyfstraf vir negatiewe gedrag gebruik word.

Lyfstraf was bedoel as ‘n teken van liefde – Spreuke 13:24

Lyfstraf was nie bedoel om jou aggressie of woede op jou kinders te wreek nie. Maar, die teendeel was ook waar: “Wie sy lat terughou, haat sy seun, maar wie hom liefhet, hou hom in die oog vir straf.” (BDV).

Lyfstraf was bedoel om dwaasheid te beperk – Spreuke 22:15

Lyfstraf was bedoel om die ingebore dwaasheid van kinders te beperk: “As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede (“pak slae” – NAV) sal dit daaruit verwyder.” (OAV). Soos die NET Bible dit vertaal: “Folly is bound up in the heart of a child, but the rod of discipline will drive it far from him.” Hierdie “tugroede” of “roede van dissipline” het ‘n waarskuwende karakter gehad met die oog op die verbetering van gedrag, om ‘n kind tot wysheid te begelei.

Lyfstraf was bedoel om van die verderf te red – Spreuke 23:13-14

Lyfstraf was nie bedoel om vir normale dissipline te gebruik nie. Net vir iets wat só ‘n impak op die kind kon hê dat dit hom heeltemal afvallig sou maak: “Moenie straf van ‘n jong seun weerhou nie; as jy hom met ‘n lat slaan, sal hy nie doodgaan nie. Jy slaan hom wel met ‘n lat, maar jy red sy lewe van die doderyk.” (BDV).

Lyfstraf was bedoel om grense aan kinders te stel – Spreuke 29:15

Lyfstraf was daarom bedoel om grense aan kinders te stel, om hulle nie aan hulle eie insig oor te laat nie, maar te dissiplineer om deur die pyn van ‘n pak slae wysheid te leer. Let op dat die lat altyd saam met woorde gebruik is: “‘n Lat en teregwysing gee wysheid; maar ‘n jong seun aan homself oorgelaat, steek sy moeder in die skande.” (BDV).

Hoe beïnvloed hierdie gedagtes uit Spreuke ‘n gelowige se oortuiging in terme van die opvoeding van sy of haar kinders?

Voed kinders op deur die dissipline en teregwysing van die Here – Efesiërs 6:4

Wat sê die NT oor lyfstraf? Niks eksplisiet nie. Die NT volg Spreuke in die fokus op dissipline en teregwysing na, maar sonder die duidelike uitspel van lyfstraf as strafmaatreël. Paulus skrywe in sy “huistafels”: “Moenie julle kinders uittart nie (treiter – vgl. Kol 3:21), maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here.” (BDV). Soos ook die Hebreërskrywer wat hierby aansluit en konstruktiewe straf voorstel met die oog op verbetering, sonder om lyfstraf spesifiek te noem (Hebr 12:5-11).

Lyfstraf sou uiteraard in die lig van Spreuke aanvaarbaar wees in die NT. Die hele Bybel is immers die Woord van God. Die NT het nie die OT vervang as Woord van God nie. Die NT is steeds gegrond op die onderbou wat die OT verskaf. Die wysheid van die OT bly van krag soos talle aanhalings in die NT bewys (2 Kor 8-9; Kol 1).

Die wysheidstradisie (en die wet) verskaf steeds die onderbou van die moreel-etiese gedrag van gelowiges soos Jesus en die apostels dit beskryf. Die agtergrond vir Paulus se beskrywing van die vrug van die Gees kom uit Jesaja 32 en 57, sowel as Joël 2 (Gal. 5:22).

Maar, lyfstraf word nie sonder meer as ‘n noodwendige afdwingbare maatreël in die NT geleer nie. Lyfstraf is Bybels aanvaarbaar, en ‘n geldige strafmaatreël om liefde te toon, dwaasheid te beperk, van die verderf te red, en grense te stel. Maar ander strawwe wat dieselfde doel het, kan op kreatiewe maniere ontwikkel word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.