Spreuke 3:1-35 – Vertrou God en ken Hom in alles
Dit is waarom die boek met soveel passie begin by die begin van die pad, die eerste beginsel van die geestelike lewe, met die ontsag vir God (1:1-7). Dit is wat die eerste tafel van die wet ook beklemtoon. Maar die interessante is, dat die beginsel van ontsag steeds die leidende waarde bly in die uitvoering van die tweede beginsel van die geestelike lewe, om die raad en begeleiding van rolmodelle te erken en volg (1:8-19). Dit is waarmee die tweede tafel van die wet ook begin, soos reeds aangedui.
In hoofstuk 3 gee die pa nou ’n verdere twee “lewenslesse” aan sy kind wat dit verder inskerp:
- Hy gee praktiese raad oor hoe om God te vertrou en in alles te ken (3:1-12).
- Hy gee praktiese voorbeelde van hoe dit lyk om die “regte pad” te volg (3:13-35).
3:1-12 – Vertrou God en ken Hom in alles
Die inhoud van die derde “lewensles” van die pa aan sy seun is: “Vertrou God en ken Hom in alles” (3:5-6). Dit is dieselfde grondbeginsels as wat nou herhaaldelik in die vorige twee hoofstukke gegee is, vertroue en verantwoordelikheid.
Let op hoe hierdie vertroue en verantwoordelikheid uitgespel word met twee kernwoorde: onthou (moenie vergeet nie) en hou vas. Dit is waarin die geheim van jou hele geestelike lewe opgesluit lê. Aan die een kant moet die verlossing, versorging en bevestiging van die Here in die verlede telkens in herinnering geroep word. Moet dit nie vergeet nie, sê die pa vir sy kind. Aan die ander kant moet vasgehou word aan die wyse riglyne wat God uitspel vir die tipe lewenstyl wat nie net Sy goedkeuring wegdra nie, maar die toets van die tyd deurstaan het.
Let op hoe hierdie derde “lewensles” opgedeel word om ses aspekte van die wyse lewenstyl en die voordeel wat dit bring, uit te spel. Elke aspek word in 2 verse elk uitgespel – 3 positief, 3 negatief – telkens met ‘n voordeel daaraan gekoppel.
- 3:1-2 – Moenie vergeet wat jou pa jou leer nie → dit lei tot ’n lang en vol lewe.
- 3:3-4 – Moenie dat liefde en trou ontbreek nie (“skryf dit op die tafel van jou hart” – OAV) → dit laat jou guns verwerf en byval vind by God en mens.
- 3:5-6 – Vertrou volkome (“met jou hele hart” – OAV) op die Here en ken Hom in alles wat jy doen → dit laat jou ervaar dat God jou die regte pad laat loop.
- 3:7-8 – Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, vrees die Here en vermy wat sleg is → dit lei tot genesing en heelheid.
- 3:9-10 – Vereer die Here met offerandes → dit laat jou ervaar dat God jou met oorvloed seën.
- 3:11-12 – Aanvaar die straf en teregwysing van die Here → dit bevestig jou kindskap.
3:13-35 Die voordeel van die wysheid geïllustreer met vyf voorbeelde
Die vierde “lewensles” beslaan die res van die hoofstuk, hoewel ‘n mens dit ook in kleiner dele of “lewenslesse” sou kon opdeel. In die eerste deel spel die pa die voordeel van die wysheid uit (3:13-18) met ’n beklemtoning van ’n vertroue op God se mag (3:19-20), en in die tweede deel gee hy ‘n paar praktiese voorbeelde van die wysheid in aksie (3:21-35).
3:13-20 – VOORDEEL VAN WYSHEID
Met ’n hele paar metafore word die geestelike sowel as materiële rykdom van ’n wyse lewe uitgespel (3:13-18). Aan die een kant maak dit jou lewe vol van betekenis, en aan die ander kant gee dit sukses en invloed. Wysheid is ’n bron van lewe (letterlik: “boom van lewe” – waarmee waarskynlik metafories verwys word na die boom in die tuin van Eden) vir wie dit aangryp en daaraan vashou. Let op die saligspreking (Dit gaan goed met …) waarmee die gedeelte begin en eindig.
Dit is ook opmerklik dat die gedeelte eindig met die oorgangsverse oor God se skeppingsmag (3:19-20), wat beteken dat ’n mens aan die een kant juis op daardie mag (en nie jou eie nie) moet staatmaak in die loop van die gewone lewe. Aan die ander kant is dit ook juis op hierdie basis dat ’n mens self met wysheid kan optree, soos die volgende gedeelte gaan illustreer.
3:21-35 – VOORBEELDE VAN WYSHEID
Let op hoe die vyf praktiese voorbeelde wat die pa uitspel oor beide sy seun se persoonlike karakter as sy publieke optrede gaan. In die publieke lewe gaan dit weer oor beide sy sosiale verantwoordelikheid met dié wat in nood is as oor die manier waarop hy sy eie staanplek in die lewe verwerf. Die mag wat ‘n mens het, moet veral tot voordeel van die wat minder bevoorreg is as jy aangewend word, en nie tot die nadeel van dié wat jou gelyke is of jou meerdere nie.
- 3:21-26 – Tree met takt (respek) en oorleg op, want dit is presies op dié manier waarop die Here jou sal beskerm .
- 3:27-28 – Tree met deernis op teenoor mense in nood.
- 3:29 –Tree met integriteit op teenoor mense wat jou vertrou.
- 3:30 – Wees betroubaarheid teenoor mense wat jou nie kwaad aangedoen het nie.
- 3:31-35 – Moenie mag misbruik nie, nie eers deur ander te beny as hulle dit tot hulle eie voordeel misbruik nie. Die voordeel hiervan is ‘n belewenis van God se teenwoordigheid, nie net vir jouself nie, maar ook vir dié naby aan jou in jou huis. Hy seën en beskerm jou.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Spreuke - May 16, 2012
- Spreuke – slagspreuke vir die lewe - July 17, 2012
- Spreuke – Inleiding - July 25, 2012
- Spreuke 1:1-33 – Begin met God - July 26, 2012
- Spreuke 2:1-22 – Soek wysheid met gespitse ore - July 27, 2012
- Spreuke 3:1-35 – Vertrou God en ken Hom in alles - July 30, 2012
- Spreuke 4:1-27 – Baken jou koers af - July 31, 2012
- Spreuke 5:1-23 – Bly weg van hartelose verhoudings - August 1, 2012
- Spreuke 6:1-19 – Leef met oorleg - August 2, 2012
- Spreuke 6:20-7:27 – Pasop vir owerspel - August 3, 2012
- Spreuke 8:1-36 – Die Wysheid laat jou regtig leef - August 6, 2012
- Spreuke 9:1-18 – Kies die pad van insig as lewenshouding - August 7, 2012
- Die spreuke van Salomo – Bundel I - August 8, 2012
- Spreuke 10:1-32 – God sorg vir die opregtes
- Spreuke 11:1-31 – Die gemeenskap floreer met die regte waardes en lewenstyl - August 9, 2012
- Spreuke 12:1-28 – Leerbaarheid getuig van wysheid - August 10, 2012
- Spreuke 13:1-25 – Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde - August 13, 2012
- Spreuke 14:1-35 – Soos God vir ons ‘n toevlug is, so skep ons integriteit veilige ruimtes vir ander - August 14, 2012
- Spreuke 15:1-33 – Woorde maak saak; God maak saak - August 15, 2012
- Spreuke 16:1-33 – Die mens wik, maar God beskik - August 16, 2012
- Spreuke 17:1-28 – Verhoudings maak saak - August 17, 2012
- Spreuke 18:1-24 – Kommunikasie maak saak - August 20, 2012
- Spreuke 19:1-29 – Integriteit in alles - August 21, 2012
- Spreuke 20:1-30 – Erken God in alles - August 22, 2012
- Spreuke 21:1-31 – God se geregtigheid motiveer ons tot goeie verhoudinge - August 23, 2012
- Spreuke 22:1-16 – Die invloed van rykdom en armoede op verhoudings - August 24, 2012
- Die woorde van die wyses – I - August 27, 2012
- Spreuke 22:17-29 – Wysheid leer jou om God te vertrou
- Spreuke 23:1-35 – Werk aan jou netwerk van verhoudings - August 28, 2012
- Spreuke 24:1-22 – Oorwin die kwaad met die goeie - August 29, 2012
- Nog woorde van die wyses – II - August 30, 2012
- Spreuke 24:23-34 – Prioriteite bepaal alles
- Die spreuke van Salomo – II - August 31, 2012
- Spreuke 25:1-28 – Dink voordat jy doen
- Spreuke 26:1-28 – Dwaasheid ken geen perke nie - September 3, 2012
- Spreuke 27:1-27 – Wees verstandig in beplanning en die uitvoering daarvan - September 4, 2012
- Spreuke 28:1-28 – Vra na die wil van die Here en jy sal tussen reg en verkeerd kan onderskei - September 5, 2012
- Spreuke 29:1-27 – Regverdigheid skep ‘n veilige ruimte vir almal - September 6, 2012
- Die uitsprake van Agur - September 7, 2012
- Spreuke 30:1-33 – God is daar vir dié wat by Hom skuil!
- Die woorde van Lemuel - September 10, 2012
- Spreuke 31:1-31 – Wyse woorde van en oor ‘n knap vrou
- Spreuke – Lees, luister, leef – ePub - October 20, 2012
- Tien lewenslesse uit Spreuke - June 12, 2018
- ‘n Bybelse perspektief op lyfstraf - April 21, 2020
- Spreuke – eenjaarleesplan op YouVersion se Bybeltoep - December 13, 2022
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Ruben
Die tien gebooie is vir Israel gegee van God af. Ons kan kies om ook die tien gebooie toe te pas maar ek vind dat baie “charismatic” kerke gebruik versies in die ou testament soos Malachi 3:10 om geld uit hul gemeente te maak. Jusus het ons nie beveel om die tiendes te betaall nie. Jesus het klaar die prys vir ons betaal. Baie pastore. Vertel vir hul gemeente dat hoe meer hulle gee, hoe meer geseend sal hulle wees. So die mense gee hul tiendes alleenlik om geseend te word. Om meer geld te kry en hulle raak gretig. Ek glo ons kan geld gee vir die kerk as ons wil maar dis verkeerd van pastore om te preek ons MOET ons tiendes betaal. Nerens het Jesus gese ons MOET ons tiendes betaal nie. Ek dink baie van die charismatic pastore word beheer deur geld demone. Laat my asb weet wat julle dink. Dankie.
Chris van Wyk
Oor die Tien Gebooie:
Jesus bevestig in die NT die geldigheid van die Tien Gebooie met sy opsomming daarvan in die twee liefdesgebooie: “28 Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ’n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?” 29 Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31 Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” (Mark 12:28-31). Trouens Jesus verdiep die tweede gebod in Johannes 13:34 deur te sê dat ons nie net ons naaste SOOS ONSSELF moet liefhê nie, maar SOOS HY moet liefhê.
Oor die Tiende:
Die Tiende is nie opgehef in die NT nie. Jesus sê aan die Fariseërs dat hulle die tiende gee, maar die belangrikste nalaat, geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Maar dan sê Hy die volgende: “Juis hierdie dinge moet ’n mens doen en die ander nie nalaat nie.” (Matt 23:23).
Daar is egter ‘n ekstra dimensie wat bykom, dit is die gedagte van ‘n dankoffer wat na vermoë gegee word.
Francois Cillié, voormalige saakgelastigde van die Wes-Kaap sinode van die NG Kerk, sê in ‘n artikel in Kruisgewys (www.gemeentes.co.za) die volgende hieroor:
* Die Bybel sê dat ons ons talente en besittings moet gebruik om vir ons gesinne en families te sorg (1 Tim. 5:4), behoeftiges te help (Matt. 25:34-40, Luk. 10:30-37)
en om die Here se Koninkryk te laat kom(2 Kor. 9:4-18, Fil. 4:10-20).
* Die Bybel bied riglyne van hoeveel ’n mens behoort te gee sodat die Here as “eienaar” van alles erken word. Die Ou Testament bepaal ’n tiende en meer. Die Nuwe Testamenthef nie die vorige bepaling op nie (Mat. 23:23), maar gee ’n bykomende riglyn: “Elkeen moet volgens sy vermoë gee.” (1 Kor. 16:3). Dit kan dus selfs baie meer as ’n tiende wees!
* Daar is tog ook ’n bevrydende Woord: “As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie. Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help.” (2 Kor. 8:12v). Dit herinner mens ook aan die weduwee wie se offer van twee geldstukkies in Jesus se siening, die meeste was omdat sy “alles” gegee het as teken van haar vertroue op die Here! (Mark. 12:41v).
* Sommige gelowiges is bang dat hulle sal skade ly as hulle vir die Here gee. Die teendeel is egter waar. Kyk byvoorbeeld na die volgende beloftes wat verbind word aan ruim gee in Maleagi 3:10: “Toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.” [Dis die enigste plek in die Skrif waar God die mens uitdaag om Hom op die proef te stel!] In Korinthiërs 9:7v staan: “God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” [Daar is seker nêrens anders ’n meer omvangryke belofte oor tydelike en geestelike oorvloed nie!] “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus” staan in Filippense 4:19. Hierdie beloftes van die Here is so waar en eg soos ons aanvaarding daarvan dat dit elke oggend lig word!
* Daar is op die ou end net twee groepe mense op aarde:
1. Die wat sonder ’n verbintenis met die Here lewe – baie van hulle beskou hulself as eienaars – vir wie materiële dinge die hoogste prioriteit is; en
2. Die vir wie hulle verhouding met die Here prioriteit is – hulle wat as verantwoordbare bestuurders van alles wat die Here aan hulle toevertrou het, leef
* Hulle besef die waarheid van Maartin Luther se uitspraak: “In ’n Christen se lewe is daar drie bekerings: die kop, die hart, die beursie. Die derde bekering is die teken van ware bekering.”
Dat kerke en pastore dié gedagtes kan uitbuit, is seker so. Maar dan moet ‘n mens jou maar hou aan die Bybelse beginsels self en dit wat Jesus self gesê het.