Skip to main content

Spreuke 28:1-28 – Vra na die wil van die Here en jy sal tussen reg en verkeerd kan onderskei

Die volgende twee hoofstukke hou verband met mekaar.  Let op hoe die wet van die Here[1], die vertroue op Hom en die doen van Sy wil in ‘n mate die ruggraat gee waarom die spreuke van dié twee hoofstukke opgebou is (28:4,5,7,9,25; 29:16,18,25,27).

Let ook op hoe daar veral op die verskille tussen die regverdiges en die goddeloses gefokus word: “As regverdiges rede tot blydskap het, praat almal met trots daaroor, as goddelose mense aan die bewind kom, kruip die mense weg.” (28:12).  Dié tema word ook eksplisiet in die eerste, middelste en laaste vers van die 55 verse in die twee hoofstukke aangeroer (28:1,28; 29:27 – Stuart in How to Read the Bible book by book – vgl egter ook 29:2,7,16).  Dit bevestig die prioriteit van dié tema.

Elke spreuk bestaan uit twee dele wat óf ‘n verskil uitlig tussen bv die regverdige en die goddelose (teenstelling), óf ‘n stelling uitbrei en onderstreep (sintese):

  • ‘n Skoon gewete gee jou moed – 28:1.  Dit is wat ek aflei uit die teenstellende beskrywing van die onrustigheid van ‘n goddelose en die moed van sy oortuiging by ‘n regverdige.
  • Opstand in ‘n land bring wydverspreide onrus – 28:2.  Dié vers het my geroer in die lig van die geskiedenis van ons land, sowel as in die lig van die onlangse gebeure rondom die Lonmin myn opstand in Marikana.  Wanneer daar opstand is in ‘n land, maak dit ‘n land eintlik onregeerbaar, omdat soveel mense ‘n kans sien om mag tot hulle eie voordeel te probeer gryp.  Dit was so onder die vorige apartheidsbedeling.  Dit is nou weer so as gevolg van die gebrek aan dienslewering en korrupsie.  Dit is eers wanneer iemand wat baie wysheid en kennis het aan bewind kom, dat dié situasie weer reggestel kan word, en daar ‘n tydperk van rus en vrede kan kom.  My gebed is dat die Here ons só iemand sal gee!
  • Armes wat armes uitbuit is ‘n tragedie – 28:3.  Niemand baat daarby nie.  Die Here soek deernis by ons, in enige omstandigheid, soos Jesus in die gelykenis van die amptenare in Matteus 18:21-35 bevestig.
  • Sonder die wet van die Here beland ‘n mens in ‘n morele moeras – 28:4.  Dit beteken dat daar geen verantwoorde manier is om reg en verkeerd te onderskei nie, behalwe die subjektiewe oordeel van mense.  Dié wat die wet wil onderhou, en dié wat hulle nie daaraan wil steur nie, is per definisie in ‘n konflik van waardes met mekaar gewikkel.
  • Dié wat na die wil van die Here vra, leer om te onderskei tussen reg en verkeerd – 28:5.  Die onderskeiding tussen reg en verkeerd is iets wat ‘n mens van God ontvang.  Dit sluit eintlik alle ander kennis vir jou oop.  Dit beteken ook dat God se wil nie intellektueel beperkend is nie, maar juis ‘n mens se intellek vry maak om alles te ondersoek, te weeg, en te beoordeel.
  • Eerbaarheid is belangriker as rykdom – 28:6.  Die rede daarvoor lê waarskynlik in die feit dat ‘n mens dan sonder vrees kan lewe, en dat dít beter is as rykdom, veral as ‘n mens die hele tyd versigtig moet wees vir wat mense sou kon uitvind oor jou.
  • Sonder die wet van die Here beland ‘n mens in die skande – 28:7.  Dieselfde reël geld hier vir die huisgesin, as vir die gemeenskap (28:4).  Maats kan ‘n baie destruktiewe uitwerking op ‘n mens se toewyding aan die Here maak.
  • Uitbuiting boemerang baie keer tot voordeel van armes – 28:8.  ‘n Mens sien die prentjie van Robin Hood in jou geestesoog!
  • Sonder respek vir die wet van die Here kan ‘n mens nie bid nie – 28:9.  ‘n Mens kan nie tegelykertyd die Here en sy wil ignoreer, en steeds Hom vir leiding, beskerming of sorg vra nie.  Dit pas nie.  Jakobus waarsku daarom in die NT gelowiges dat hulle reg moet bid, dws vanuit die regte verhouding met God moet bid (Jak 4:1-10).
  • Misleiding van ander boemerang baie keer tot jou eie nadeel – 28:10.  Daarteenoor geniet die opregte voorspoed.
  • Wysheid is onafhanklik van rykdom of armoede – 28:11.  ‘n Ryk man kan lelik op sy neus kyk as hy ‘n arm mens onderskat, net omdat hy arm is.
  • Regverdigheid dwing respek af, goddeloosheid nie – 28:12.  Dit is eintlik regdeur die lewe só, ‘n regverdige se gedrag is altyd bewonderswaardig, al dink jy nie eers presies soos hy nie.  Maar regverdigheid het ‘n intuïtiewe universele bewondering.  Die teendeel is waar van goddeloosheid wat baie keer met onreg hulle mag en gesag afdwing.  Die feit dat mense in hulle spoor moet trap waar onregverdiges aan die bewind is, maak goddeloses nie op enige manier geliefd, of dwing respek af by dié wat deur hulle verdruk word nie.
  • Sondebelydenis en bekering bring genade – 28:13.  Om jou sonde weg te steek, verander niks nie, en stel eintlik net die onvermydelike ontbloting uit.  En dit ontsê jou in elk geval die genade wat moontlik is as jy eerlik erken wat verkeerd is, en dan daarvan afstand doen.  Dit is ‘n universele geestelike beginsel, iets waarop die hele Bybelse boodskap van God se liefde gefundeer is.
  • Moedswilligheid verseker jou ondergang – 28:14.  Versigtigheid het nie net te make met jou gedrag nie, maar veral ook jou verhouding met die Here.  ‘n Mens kan dit ook saamlees met die vorige vers.
  • ‘n Goddelose tiran breek ‘n weerlose volk – 28:15.  Dié ongelukkige toedrag van sake was nie net die kruis van menige volk in die verlede nie, maar bly die enkele grootste oorsaak van ellende in ons eie tyd regdeur die wêreld. Dit is natuurlik ook nie net leiers as sodanig wat daarvoor verantwoordelik is nie, maar ook onderdrukkende sisteme, godsdienstig sowel as ideologies.
  • ‘n Gebrek aan verstandigheid veroorsaak verdrukking – 28:16.  Die tweede deel van hierdie vers is baie moeilik om met die eerste te versoen, en moet moontlik net as ‘n losstaande kommentaar op die toekoms van ‘n regverdige gesien word.
  • ‘n Moordenaar verloor sy reg op en plek in die gemeenskap – 28:17.  ‘n Mens kan die verhaal van Kain wat Abel doodgemaak het, en vervloek is om ‘n swerwer te word, hier as agtergrond inlees.  Hoe roerend tragies spel Kain dit self uit: “My straf is te swaar om te dra.  U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie.  Ek sal ‘n doellose swerwer op aarde wees …” (Gen 4:13-14a).  Maar daar is natuurlik ook die verhaal van die moordenaar aan die kruis wat genade by Jesus ontvang het … (Lu 23:40-43).
  • Mense help graag ‘n eerbare mens – 28:18.  Dit is ‘n algemene waarheid, waarvan die omgekeerde net so waar is.
  • Fluksheid word beloon – 28:19.  Wie hard werk, en nie hom besig hou met nuttelose dinge nie, sal iets hê om te eet.
  • Betroubaarheid bring voorspoed – 28:20.  Dit is ‘n tydige waarskuwing teen enige vinnige geldmaak skema.
  • Partydigheid is nie reg nie – 28:21.  Dit is ‘n waarskuwing wat ‘n paar keer al in Spreuke voorgekom het, en in alle lewensverbande belangrik bly.
  • Inhaligheid bring nie noodwendig rykdom nie – 28:22.  Dit is ook ‘n redelik vanselfsprekende waarheid.  Rykdom gaan oor baie meer as net om niks uit te gee nie.
  • ‘n Teregwysing eerder as vleitaal word waardeer – 28:23.  ‘n Reguit mens kom verder as iemand wat met allerlei ompaaie probeer werk.
  • Om te steel, bly verkeerd, al sê wie ook al wat daaroor – 28:24.
  • Vertroue op die Here, eerder as gierigheid, bring voorspoed – 28:25.  Dit is só waar!
  • Vertroue in die wysheid bring veiligheid, nie jou eie vermoëns nie – 28:26.  Dit is een van die sleutel wyshede wat regdeur Spreuke verwoord word.
  • Deernis met armes baat uiteindelik ook jouself – 28:27.  Die keersy word op humoristiese wyse geskets.  As jy anderpad kyk om die arme te vermy, sal jy verwens word.
  • Regverdiges word vertrou met mag, goddeloses nie – 28:28.  Dit is wat die verse by my wakker maak – goddeloses gryp die mag, en mense kruip weg van vrees.  Regverdiges word vertrou met die mag – mag word aan hulle gegee.

 


[1] Die wet dui hier moontlik nie net tegnies op die gebooie in die Pentateug nie, maar veral op wat van God se wil in terme van die wysheid beskikbaar is, soos deur die wysheidsliteratuur beskryf in Spreuke, Prediker, Psalms, Job en Hooglied.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda