Skip to main content

Spreuke 29:1-27 – Regverdigheid skep ‘n veilige ruimte vir almal

Hierdie kort en kragtige spreuke neem die tema van die verskil tussen die regverdige en die goddelose verder en spel dit uit in ‘n hele paar konkrete lewensituasies.  Die regverdiges word veral gekenmerk in hulle respek vir ander wat ten diepste met hulle respek en ontsag vir God te make het.  Die goddeloses word deur hulle gebrek aan respek vir ander en vir God geteken.

Hier volg my opsommende interpretasie van die inhoud van die spreuke:

  • Die skrif is aan die muur vir iemand wat nie uit sy foute wil leer nie – 29:1.
  • Regverdige regeerders is ‘n plesier vir die volk, goddeloses ‘n pyn – 29:2.
  • Kinders se lewenswyse, goed of sleg, het ‘n direkte en persoonlike impak op hulle ouers – 29:3.  Dié spreuk word natuurlik ‘n gelykenis in die NT, die gelykenis van die Verlore Seun (Luk 15).  Jesus beklemtoon daar God se genadige liefde vir sy kinders.  Die vermorsing van geld deur die jonger broer troef nie die pa, ‘n model vir God, se genade nie. Die gelykenis kan trouens as die gelykenis van die Wagtende Vader geneem word, waarin God se passievolle verlange na versoening geteken word, lank voor die inkeer van ‘n kind van Hom dit ‘n werklikheid maak.  Selfs die ouer broer se veroordeling van die jonger broer, wat eintlik ‘n veroordeling van sy pa se genade is, kan by wyse van spreke, God nie van stryk bring nie.
  • Regverdigheid skep ‘n veilige omgewing – 29:4.  Onregverdige belastings ruïneer ‘n land.
  • Vleitaal verstrik – 29:5.  Die slegste bedoelings word met die mooiste woorde verbloem.
  • Sonde bly die grootste gevaar – 29:6.  Ware vrolikheid kom van ‘n skoon gewete.
  • Regverdiges is besorg oor arm mense se lot – 29:7. Let op hoe dié besorgdheid op ‘n implisiete wyse in God gefundeer word, want dit is goddelose mense – mense wat God se bestaan en invloed in die lewe nie erken nie – wat nie begrip het daarvoor nie.  Wat ‘n mens natuurlik onmiddellik laat besef, wanneer dié begrip in ‘n ongelowige teenwoordig is, is só ‘n mens moontlik nie ver van die ontvanklikheid vir ‘n bewussyn van God nie.
  • Wyse mense bring kalmte – 29:8.  Daarteenoor bring ligsinnige (respeklose) mense ‘n stad in oproer.
  • Dit is uitmergelend om ‘n saak teen ‘n dwaas te maak – 29:9.  ‘n Mens moet nooit dink dat ‘n regsgeding vrede sal bring nie.  Dit is gewoonlik ver van die waarheid af.  Onthou die dilemma van 26:4-5.
  • Jou houding teenoor ‘n onskuldige mens, verraai die gehalte van jou eie karakter – 29:10.  Regverdiges kan eenvoudig nie onbetrokke bly wanneer iemand onskuldig aangekla word nie.
  • Dit neem baie tyd om ‘n dwaas te kalmeer – 29:11.
  • Wanneer jy self nie respek het vir die waarheid nie, het jy naderhand net leuenaars in diens – 29:12.
  •  Die Here sorg vir alle mense – 29:13.  Dit is ‘n waarheid wat regdeur die Bybel beklemtoon word.  In die NT gebruik Jesus dié beginsel om vyandsliefde te motiveer (Matt 5:43-48).
  • ‘n Koning wat reg aan armes laat geskied, bestendig sy eie regering – 29:14.  Dit is in ‘n neutedop wat in ons land nodig is – dat armes die ervaring het dat hulle regverdig behandel word.
  • Dissipline is ‘n opvoeding in wysheid – 29:15.  Ons kan verskil oor die metodieke, maar die beginsel bly dieselfde.  Sorg vir dissipline en jy word nie maklik in die skande gesteek nie.
  • Goddelose regerings laat sonde gedy – 29:16.  Die belofte dat sulke regerings uiteindelik ondergaan, is bedoel om regverdiges moed te laat hou, sodat hulle nie ook aan die versoeking van die sonde toegee nie.
  • ‘n Goeie opvoeding bring rus in jou eie hart – 29:17.  ‘n Goeie opvoeding is nie net ‘n vreugde in terme van die toekoms van jou kind nie, maar ook ‘n gerusstelling en vreugde vir jou eie hart.
  • Die doen van God se wil bring voorspoed.  Waar dit beperk word, verwilder ‘n volk – 29:18.  Let op hoe beide die getuienis oor God se wil, as die doen daarvan, belangrik is.  Dit is waarmee ‘n volk geïnspireer kan word.  Die praktiese situasie in die tyd van Eli is ‘n goeie voorbeeld van wat met hierdie spreuk bedoel word (1 Sam 3).  Met Samuel se gehoorsaamheid aan God is die situasie omgedraai.
  • Woorde alleen bring nie noodwendig reaksie nie – 29:19. ‘n Ongemaklike waarheid, maar ‘n waarheid nietemin!
  • Dink voor jy praat, anders is jy dwaas – 29:20.
  • Rebellie begin by bederf – 29:21.  Dit is natuurlik nie net van slawe waar nie, maar ook van kinders.
  • Opvlieëndheid veroorsaak ‘n uitkringende probleem – 29:22.  Dit is soos rimpels op die water.  Alles en almal word daardeur geraak.
  • Hoogmoed kom tot ‘n val – 29:23.  Nederigheid bring weer eer.
  • Die deler is so goed soos die steler – 29:24.  Die probleem met die ontvangs van gesteelde goedere, is dat jy dan nie vir die reg kan opstaan nie.  Jou mond word effektief gesnoer.
  • Vertroue in die Here bring ware veiligheid, nie die vrees vir ander mense nie – 29:25.  ‘n Mens kan uit vrees vir ander mense maatreëls tref om jouself teen hulle of teen gevaar te probeer beskerm, maar die maatreëls as sodanig kan jou nie red nie.  Dit is wanneer jy op die Here vertrou, dat jy ware veiligheid ervaar.  Dit beteken natuurlik nie dat jy nie ook wys moet leef en verstandig moet optree nie.  Dit is darem al oor en oor deur Spreuke gesê.  Maar jou vertroue moet in die eerste plek in die Here wees.
  • Dit is die Here wat sorg dat reg aan jou geskied – 29:26.  Omdat die Here in beheer is ook van die regeerder, help jou soeke na die regeerder se guns nie veel nie.  Soek eerder na die Here se guns en Hy sal aan jou laat reg geskied (Ps 37!).
  • Die stryd tussen regverdiges en goddeloses is onafwendbaar skerp – 29:27.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.