Spreuke 6:1-19 – Leef met oorleg

Soos reeds gister aangeroer, fokus hoofstuk 6:1-19 op vier vermanings teen vreemdes, luiheid, onreg en eiegeregtigheid om die seun aan te moedig om met oorleg te leef.   Dit vorm deel van lewensles 8.

6:1-5 – Wees versigtig met verbintenisse aan vreemdes
Die eerste vermaning het met borgstaan vir vreemdes te make.  Dié tema sal nog ’n paar keer aangeraak word in Spreuke (11:15; 20:16) selfs ook wanneer dit nie met vreemdes verband hou nie, maar met enigiemand wat in die skuld is (22:26).

Die punt wat die pa aan sy seun maak, is dat hy versigtig moet wees aan wie hy hom verbind, veral uit die hoek van die mag wat ander dan oor jou kan hê.  Sy pa wil hê dat hy vry moet wees van verpligtinge wat vanweë ander se dwaasheid op hom gelê kan word.

Dit geld uiteraard nie wanneer ’n mens vir iemand anders iets kwytskeld of as ’n geskenk gee nie.  Dit het die pa reeds in sy vierde lewensles vir hom geleer, dat hy nie ’n weldaad moet weerhou van iemand wat dit toekom nie (3:27-28).  Borgskap van vreemdes het egter net só ’n inherente gevaar van misleiding, waaraan die pa sê ’n mens jou net nie moet blootstel nie.

En as dit wel gebeur het?  Wel, doen alles in jou vermoë om daaruit los te kom!  Soebat, pleit, selfs al kos dit jou ’n nag se slaaploosheid, sorteer dit uit!

6:6-11 – Werk soos die miere
Wat hiermee verband hou, is dat daar net een manier is om gebrek in ’n mens se lewe te voorkom.  Dit is deur harde en eerlik werk.

Die pa gebruik die voorbeeld van die miere wat hulle kosvoorraad in die somer reg maak.  Dit is die oestyd van die boere, wanneer daar kos op die dorsvloere beskikbaar is vir die miere.  Dit is al tyd wat die miere het om dit te doen, sodat hulle kos het wanneer daar niks meer op die lande is nie.  En hulle doen dit sonder iemand wat hulle voorsê.

Dit is een van die beginsels wat Stephen Covey gebruik het in sy bekende Law of the Farm.  Jy kan nie ’n oes verwag as jy nie deeglik beplan nie, en die harde werk insit van voorbereiding, bemesting, plant, besproeiing, voeding, onkruidbestryding, beskerming teen peste ensomeer.  Geen oes is moontlik sonder die harde werk wat dit voorafgaan nie.

Die pa waarsku sy seun dus teen luiheid.  En hy moenie wag dat sy pa vir hom opdragte gee nie.  Hy moet dit van uit innerlike oortuiging doen.  Fluksheid vrywaar jou van gebrek.  Gaan gerus die volgende verwysings na oor luiheid, bv 10:26 – ’n lui mens is “soos asyn teen die tande” vir die een wat hom opdragte gee! Daar is kostelike beskrywings in 15:19; 20:4; 24:30–34 (wat soortgelyke taal gebruik as hier); 26:13–16.

6:12-15 – Onreg en bedrog laat jou ineenstort
Maar, die pa weet, ’n mens kan miskien nie lui wees nie, maar steeds probeer om op maklike maniere (easy power!) wins te maak.  Daarom waarsku hy sy seun teen onreg en bedrog.  Let op hoe hy weer oor liggaamsdele praat (soos in 4:20-27) wat nie misbruik moet word nie – , voete, vingers, hart (vers 14: “skelmstreke in sy hart beplan”).  Daardeur maak die pa sy punt, dat sulke mense nikswerd is, en self ineen sal stort.

6:16-19 – Waak teen eiegeregtigheid

Nog is het einde niet.  Want, luiheid kan vermy word, onreg kan vermy word, om dan net vas te val in eiegeregtigheid, waar God se betrokkenheid in jou lewe misken en ignoreer word.

Hier het ons een van die talle numeriese spreuke in die boek, waar ‘n lysie van dinge gemaak word wat onthou of in hierdie geval juis vermy moet word.

“Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het:  wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes (hart)wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, ’n getuie wat lieg en iemand wat rusie stook tussen broers.”

Let op: 1) hoe weereens op liggaamsdele gefokus word om die verkeerde gedrag te illustreer, 2) hoe hierdie dinge, die dinge wat God haat, verband hou met die wet van God, die tien gebooie en 3) hoe hier uiterlike en innerlike dinge genoem word, houdings sowel as gedrag.

Soos ek reeds vroeër gesê het, hoogmoed is natuurlik in sy wese ’n hartsaak, ’n diep oortuiging, wat in jou gedrag manifesteer omdat dit in wese opstand teen die Here is.  Daarom dat ek dit eiegeregtigheid noem.

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: