Skip to main content

Spreuke 27:1-27 – Wees verstandig in beplanning en die uitvoering daarvan

Waar die vorige twee hoofstukke gefokus het op die twee hoof beskrywings van menslike gedrag: wysheid en dwaasheid – met die verskil wat veral lê in die respek vir allerlei grense al dan nie – fokus hierdie hoofstuk meer op persoonlike houdings en emosies en hoe dit in sosiale gedrag na vore kom.

Telkens word dié spreuke met skerp pittige prentjies verwoord, waarvan sommige net onopsombaar mooi is en liefs net so gememoriseer moet word!

  • Moenie grootpraat oor wat jy môre verwag nie – 27:1.  Jy kan per definisie nie van môre seker wees nie.  Dit is ‘n belangrike waarheid wat Jakobus met die afhanklikheid van God verbind het, en waar ons idee van Deo Volente, as die Here wil, vandaan kom (Jak 4:13-17).
  • Moenie jouself prys nie – 27:2.  Dit lê ook aan die wortel van ons idioom: “Jakkals prys sy eie stert!”
  • Die ergernis van ‘n dwaas is ‘n sware las – 27:3.  Die hele vorige hoofstuk handel daaroor.
  • Woede en jaloesie ontsien niks en niemand nie – 27:4.  Daar is ‘n fyn lyn tussen kwaad word … en sondig, soos Paulus ook in Efesiërs skryf: “As julle kwaad word (wat nog nie ‘n probleem as sodanig is nie), moenie sondig nie (bv deur te steel, of lelik te praat, of verbitter of opvlieënd te wees, te vloek of te skel nie)” – Ef 4:26-31.  Jaloesie is altyd verkeerd in Spreuke – wanneer jy jaloers is op mag (3:31), of van hartstog brand (14:30) veral vir ‘n ander man se vrou (23:27) of nog erger jaloers is op slegte mense (24:1,19).  Die woord word soms in die res van die Bybel in ‘n positiewe sin gebruik, waar dit op enkelvoudigheid of lojaliteit dui, veral van God self (Eks 20:5).  Maar dit is nie die geval in Spreuke nie.
  • Eerlikheid is altyd beter, selfs al ontbloot dit jou, en maak dit jou seer.  Op eerlike mense se menings kan jy staatmaak – 27:5-6.  Moenie daarvan terugdeins nie.  Weereens dink ‘n mens onmiddellik weer aan die verhaal  van Jesus en Judas in die NT.
  • Eetlus hang van jou versadigingsvlakke af – 27:7.  Ons het verskillende idiome wat dieselfde waarheid vasvang: “As die muis dik, is die koring bitter.”  “Honger is die beste kok.”
  •  Hierdie spreuk is só goed gestel, dat dit ‘n sonde sal wees om dit te verkort: “Soos ‘n voël wat sy nes net so los, so is ‘n man wat sy gesin in die steek laat.” – 27:8.  Ons moet beter doen en wees as die diere.
  • Vriendskap se voordeel lê in die raad wat jy kry, nie in die plesier daarvan nie – 27:9.  Dit is dus iets waarop ‘n mens moet fokus in jou vriendskappe. Dit moet jou keuse van vriende begelei, en die wyse waarop julle saam is.  Die plesier is goed, die raad beter.
  • ‘n Buurman wat naby is, is meer werd as ‘n broer wat ver is, veral as dié reeds ‘n vriend van jou pa was – 27:10.  Langdurige vriendskappe met jou bure kan vir jou regtig baie werd wees.
  • ‘n Goeie reputasie begin by jou huis – 27:11.  Uiteraard bly die ouer-kind verhouding een van lojaliteit, maak nie saak wat gebeur nie.  Ons skuld dit aan mekaar.  Maar, wanneer ‘n ouer agterkom dat ‘n kind met wysheid begin optree, is dit net soveel makliker om jou kind se reputasie in die gemeenskap te beskerm teen kwaadwilliges.
  • Verstandigheid maak ‘n mens se oë oop en help jou om onheil te vermy – 27:12.  Let weereens op hoe jou leerbaarheid saamwerk met God se sorg om jou uit die moeilikheid te hou.  Die een gaan saam met die ander.
  • Verskans jou teen uitbuiting deur vreemdes, selfs al is dit net vir iemand wat borg staan – 17:13.  Spreuke wys eintlik borgskap af (6:1-5; 20:16).  As jy iemand wil help, help en kry klaar.  Moenie instaan vir ander se skuld nie.
  • Neem ander mense in ag, as jy van blydskap wil skree – 27:14.  Die buurman kan dit miskien nog met jou uithou as jy vroegdag al uitbundig is, maar die ander wat daarna moet luister, moontlik nie!
  • ‘n Maat wat ‘n herrie opskop oor alles, is onbeheerbaar sleg – 27:15-16.  ‘n Lawaaierige twisgierige uitvarende maat kan net so min beheer word as om die wind te probeer keer of olie met jou hand te probeer vashou.
  •  Yster slyp yster, vriende vorm mekaar – 27:17.  Dié spreuk is só goed gestel, dit sou ‘n skande wees om dit te probeer anders stel.  En dit is só waar!
  • Dit is tot jou eie voordeel om na jou werkgewer se belange om te sien – 27:18.  Die belange van werkgewer en werknemer is verweef met mekaar.  Die werkgewer se voordeel is meesal ook jou eie voordeel.  Die omgekeerde is natuurlik ook waar.  En waar werkgewers hulle nie daaraan steur nie, kan groot ongelukkigheid losbars, soos ons al soveel maal in ons land gesien het.
  • Jy is soos jy dink – 27:19.  Dié spreuk het ‘n moderne klank, omdat dit vandag nog net so waar is as ‘n paar eeue voor Christus.  Wat in jou gedagte aangaan, sê vir jou wie jy is.  Dit is waarom Spreuke soveel klem daarop lê dat ‘n mens versigtig met jou eie gedagtes moet omgaan.  Dit bepaal jou hele lewe (4:23).
  • Begeertes is onversadigbaar – 17:20.  Dit is onmoontlik om aan die einde van jou eie begeertes te kom.  Dit is waarom dit so nodig is om tyd in jou gedagtes te maak vir God en om te luister na wysheid, want dit is die enigste manier waarop jou begeertes nie oor jou sal heers nie.
  • Die basiese karakter van ‘n mens kom veral onder druk na vore – 27:21-22.  Hier kry ons twee spreuke oor die basiese karakter van mense.  Uiteraard kan dit nie alles sê nie, maar probeer hulle net ‘n kernwaarheid formuleer.  Soos silwer en goud se waarde deur ‘n oond getoets kan word, só kan ‘n mens se waarde getoets word aan die lof wat hy ontvang.  Dit bly veral onder druk dieselfde.  Daarteenoor kan jy alles probeer om iets beter van ‘n dwaas te maak, maar dit sal nie slaag nie.  Dwaasheid kry ‘n mens nie sommer uit iemand nie.
  • Beplan sorgvuldig en voer dit nougeset uit – 27:23-27.  Hierdie uitgebreide spreuk druk ‘n baie belangrike aspek van ‘n mens se vertroue op die Here, en jou toewyding aan Hom, uit.  Net soseer as wat ‘n mens die Here moet vertrou met al jou weë, Hom daarin moet ken (3:1-12), en vir Sy wysheid daarvoor moet soek, moet jy met die lig wat jy van Hom ontvang, jou roeping in die lewe uitvoer.  Dit behels 1) sorgvuldige beplanning – sorg dat jy weet wat jou kleinvee nodig het – 2) voortdurende betrokkenheid – gee aandag aan jou veetroppe.  Vertroue op die Here vervang nooit beplanning en betrokkenheid nie, maar word juis daardeur bevestig.  Dan sal daar iets wees om aan te trek en genoeg kos vir jou gesin en werksmense, selfs genoeg om ‘n nuwe stuk grond te koop.  Wyse raad!
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.