Spreuke 13:1-25 – Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde

Soos in hoofstuk 12 (12:1) begin Spreuke 13:1 met leerbaarheid as tema, en word klem weereens gelê op die rol wat woorde speel in ’n wyse lewe teenoor een wat dwaas is (13:2,3,13,14).  Tussen al die ander meer alleenstaande spreuke, kan nog een ander tema raakgesien word, dié van welvaart (13:2,4,7,8,11,18,21,22,23,25).

Wat vir my uiters interessant is, is dat hierdie twee temas, die temas van wyse woorde en welvaart, eksplisiet met mekaar verbind word (13:2).  Dit leer ons dat welvaart baie keer juis kom deur die waardering van wyse woorde – dié van God (13:13) en dié van die wyses (13:14).

Waardeer wyse woorde

Ek het vir myself die voordele van ’n waardering van wyse woorde opgesom.  Dit is die gedagtes waarmee ek die dag tegemoet gaan.

  • Leerbaarheid is ’n teken van wysheid.  Domastrantheid laat jou selfs nie eers op dreigemente ag slaan nie (13:1).
  • Die regte woorde kan voorspoed bring.  Onbetroubare mense, op wie se woord jy nie kan peil trek nie, is gewelddadig (13:2).
  • Stilbly kan jou lewe spaar.  Te veel praat kos jou maklik jou lewe (13:3).
  • Eerbied vir God se woorde dra goeie vrug in jou lewe.  Minagting daarvan het slegte gevolge  (13:13).
  • Waardeer die wyse woorde van ander.  Dit is ’n bron van lewe wat jou vrywaar van die strikke van die dood (13:14).
  • Verstandige mense gebruik kennis tot hulle voordeel om dwaasheid te vermy (13:16).
  • ’n Staatmaker boodskapper stel sake reg (13:17).

Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde

Ek het ook gaan nadink oor die eksplisiete verband van welvaart en voorspoed aan leerbaarheid en ’n waardering van wyse woorde:

  • Hardwerkendheid troef enige tyd luiheid. (13:4).
  • Wat jy sien, is nie altyd die werklikheid nie, veral nie in terme van oënskynlike rykdom en armoede nie (13:7).  Ek ken sulke mense …!
  • Daar is een voordeel in armoede.  Hulle word nie maklik afgedreig met ’n losprys nie, soos dit wel soms die geval is met ryk mense nie (13:8).
  • Moet nooit die waarde van “bietjie vir bietjie” by mekaar maak onderskat nie (13:11).  Dit is soos samegestelde rente.  Gee net tyd en dit lewer groot welvaart op!  Dieselfde geld nie vinnige of maklike rykdom nie.  Weereens kan ’n mens maklik dink aan voorbeelde.
  • ’n Gebrek aan leerbaarheid ly maklik tot ’n gebrek aan lewensmoontlikhede (13:18).
  • God se guns word baie keer in voorspoed beleef deur mense wat in ’n regte verhouding met Hom lewe (13:21).
  • Goeie mense laat ’n erfenis na vir hulle kleinkinders (13:22).  Dié erfenis is natuurlik nie net besittings en welvaart nie, maar ook ’n goeie naam en lewenswaardes wat die moeite werd is om na te volg.
  • Vers 23 is vir my ietwat onverstaanbaar vertaal in die NAV.  Die NIV maak vir my meer sin, en is nader aan die oorspronklike: “A poor man’s field may produce abundant food, but injustice sweeps it away.“ (Letterlik sê die oorspronklike Hebreeus: “baie kos is in die geploegde land van die armes;  wat genoeg is, word verwoes deur ’n gebrek aan reg”).  Onreg het ‘n groot effek op arm mense, selfs wanneer hulle eintlik genoeg het om van te leef, kan onreg dit van hulle af wegneem.  Dit is een van die primêre redes waarom ek deernis het met armes.  Hulle is só uitgelewer!
  • Regverdiges het genoeg om te eet.  Goddeloses bly honger (13:25).  Dit is ’n oorbeklemtoning van die punt wat eintlik op ’n tweede vlak ’n metafoor is vir regverdiges wat tevrede is met wat God gee, en goddeloses wat nooit tevrede sal wees, voordat hulle diep honger na God gestil word nie.  Maar dit is ’n klein bietjie interpretasie van my in die lig van die res van die Bybelse boodskap!

Respeklose spotters

Ek wil ook ’n paar opmerking maak oor die ligsinnige waarvan Spreuke hier in vers 1 praat.  Die keuse vir dié woord in die NAV is effens ongelukkig en vir misverstand vatbaar.  Die oorspronklike Hebreeuse woord dui nie op iemand wat ’n grapjas is of selfs net oppervlakkig is nie.  Die woord wat hier vertaal word met ligsinnige, is die Hebreeuse woord lîṣ.  Dit dui eintlik ’n spotter aan, soos die OAV vertaling dit inderdaad vertaal.  So het verskeie Engelse vertalings dit ook.  In Engels word die woord vertaal met scorner, scoffer of mocker.

Dit dui dus op iemand wat met geen respek praat van ander en wat vir hulle belangrik is nie, wat spot met wat vir ander heilig is, wat wysheid op ’n arrogante, siniese manier minag.  Dit sien ’n mens in die feit dat hulle geen waardering vir wyse woorde het nie.  Vergelyk gerus ook Ps 1:1; Mark 7:22; Matt 12:36; Ef 5:4 waar hierby aangesluit word, en waar ’n mens ook eerder van minagtendes of respekloses kan praat as van ligsinniges.

Ek het vir die interessantheid die verse gesoek in Spreuke waar die woord ligsinniges voorkom, en gee dit hier weer, sodat jy ’n oorsig kan vorm van wat van die spotter (jy kan die woord vervang met respeklose, minagter, arrogante, sinikus ensomeer) gesê word in Spreuke.

  • Spr 9:7 – “Wie iemand so opvoed dat hy ’n spotter word, moet die verwyt daarvoor dra; wie iemand so leer dat hy ’n goddelose word, doen dit tot sy eie skande.”
  • Spr 9:8 – “Moenie ’n spotter probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ’n wyse op, en hy sal lief wees vir jou.”
  • Spr 9:12 – “As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan; as jy ’n spotter is, dra jy alleen die las.”
  • Spr 13:1 – “’n Wyse seun laat hom leer deur sy vader, ’n spotter slaan nie eens op dreigemente ag nie.”
  • Spr 14:6 – “Al soek ’n spotter wysheid, hy kry dit nie; ’n verstandige mens doen maklik kennis op.”
  • Spr 15:12 – “’n Spotter hou nie daarvan dat hy tereggewys word nie; hy word nie ’n wyse mens nie.”
  • Spr 19:25 – “As jy ’n spotter klap, leer dié wat nog onervare is, daaruit; as jy ’n verstandige mens straf, word hy nog verstandiger.”
  • Spr 19:29 – Spotters moet straf te wagte wees, en dwase moet slae verwag.”
  • Spr 20:1 – “Wyn maak jou spottend (eintlik beter vertaalbaar met: “Wyn is ’n spotter), drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie.”
  • Spr 21:11 – “As jy ’n spotter laat boet vir sy dade, leer onervare mense wysheid daaruit; as jy iemand onderrig wat wysheid het, leer hy self daaruit.”
  • Spr 21:24 – “’n Spotter is hovaardig en aanmatigend, sy hovaardige optrede het geen perke nie.”
  • Spr 22:10 – “As jy ’n spotter wegjaag, hou die rusies op en kom die getwis en beledigings tot ’n end.”
  • Spr 24:9 – “’n Dwaas se geknoei loop op niks uit nie; mense verafsku ’n spotter.”
  • Spr 29:8 – Spotters bring ’n stad in oproer; wyse mense kalmeer die gemoedere.”

Hierteenoor wil Spreuke in hoofstuk 13 sê: Waardeer die woorde van die wyses.  Dit bring jou in die regte verhouding met God, en is ’n bron van lewe (13:13-14).  Dit is die weg na ware welvaart (13:2).

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Hier is dit opvallend dat mens nie moet eiewys wees en jou eie kop volg nie, maar bereid moet wees om te leer by wyse ander persone! (v 1&18). In die hfst leer ons bv:
    – om versigtig te praat (v3);
    – hard te werk (v 4);
    – by die waarheid te hou (v 5);
    – gehoorsaam te wees aan Hom (v 6);
    – vreugde te vind in Hom (v 9);
    – met eerbied vir God te lewe (v 13);
    – reg te doen (v 16);
    – gesonde geselskap te kies (v 20).
    Ek wil dit leer en gaan dit probeer doen!

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: