Skip to main content

Spreuke 13:1-25 – Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde

Soos in hoofstuk 12 (12:1) begin Spreuke 13:1 met leerbaarheid as tema, en word klem weereens gelê op die rol wat woorde speel in ’n wyse lewe teenoor een wat dwaas is (13:2,3,13,14).  Tussen al die ander meer alleenstaande spreuke, kan nog een ander tema raakgesien word, dié van welvaart (13:2,4,7,8,11,18,21,22,23,25).

Wat vir my uiters interessant is, is dat hierdie twee temas, die temas van wyse woorde en welvaart, eksplisiet met mekaar verbind word (13:2).  Dit leer ons dat welvaart baie keer juis kom deur die waardering van wyse woorde – dié van God (13:13) en dié van die wyses (13:14).

Waardeer wyse woorde

Ek het vir myself die voordele van ’n waardering van wyse woorde opgesom.  Dit is die gedagtes waarmee ek die dag tegemoet gaan.

  • Leerbaarheid is ’n teken van wysheid.  Domastrantheid laat jou selfs nie eers op dreigemente ag slaan nie (13:1).
  • Die regte woorde kan voorspoed bring.  Onbetroubare mense, op wie se woord jy nie kan peil trek nie, is gewelddadig (13:2).
  • Stilbly kan jou lewe spaar.  Te veel praat kos jou maklik jou lewe (13:3).
  • Eerbied vir God se woorde dra goeie vrug in jou lewe.  Minagting daarvan het slegte gevolge  (13:13).
  • Waardeer die wyse woorde van ander.  Dit is ’n bron van lewe wat jou vrywaar van die strikke van die dood (13:14).
  • Verstandige mense gebruik kennis tot hulle voordeel om dwaasheid te vermy (13:16).
  • ’n Staatmaker boodskapper stel sake reg (13:17).

Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde

Ek het ook gaan nadink oor die eksplisiete verband van welvaart en voorspoed aan leerbaarheid en ’n waardering van wyse woorde:

  • Hardwerkendheid troef enige tyd luiheid. (13:4).
  • Wat jy sien, is nie altyd die werklikheid nie, veral nie in terme van oënskynlike rykdom en armoede nie (13:7).  Ek ken sulke mense …!
  • Daar is een voordeel in armoede.  Hulle word nie maklik afgedreig met ’n losprys nie, soos dit wel soms die geval is met ryk mense nie (13:8).
  • Moet nooit die waarde van “bietjie vir bietjie” by mekaar maak onderskat nie (13:11).  Dit is soos samegestelde rente.  Gee net tyd en dit lewer groot welvaart op!  Dieselfde geld nie vinnige of maklike rykdom nie.  Weereens kan ’n mens maklik dink aan voorbeelde.
  • ’n Gebrek aan leerbaarheid ly maklik tot ’n gebrek aan lewensmoontlikhede (13:18).
  • God se guns word baie keer in voorspoed beleef deur mense wat in ’n regte verhouding met Hom lewe (13:21).
  • Goeie mense laat ’n erfenis na vir hulle kleinkinders (13:22).  Dié erfenis is natuurlik nie net besittings en welvaart nie, maar ook ’n goeie naam en lewenswaardes wat die moeite werd is om na te volg.
  • Vers 23 is vir my ietwat onverstaanbaar vertaal in die NAV.  Die NIV maak vir my meer sin, en is nader aan die oorspronklike: “A poor man’s field may produce abundant food, but injustice sweeps it away.“ (Letterlik sê die oorspronklike Hebreeus: “baie kos is in die geploegde land van die armes;  wat genoeg is, word verwoes deur ’n gebrek aan reg”).  Onreg het ‘n groot effek op arm mense, selfs wanneer hulle eintlik genoeg het om van te leef, kan onreg dit van hulle af wegneem.  Dit is een van die primêre redes waarom ek deernis het met armes.  Hulle is só uitgelewer!
  • Regverdiges het genoeg om te eet.  Goddeloses bly honger (13:25).  Dit is ’n oorbeklemtoning van die punt wat eintlik op ’n tweede vlak ’n metafoor is vir regverdiges wat tevrede is met wat God gee, en goddeloses wat nooit tevrede sal wees, voordat hulle diep honger na God gestil word nie.  Maar dit is ’n klein bietjie interpretasie van my in die lig van die res van die Bybelse boodskap!

Respeklose spotters

Ek wil ook ’n paar opmerking maak oor die ligsinnige waarvan Spreuke hier in vers 1 praat.  Die keuse vir dié woord in die NAV is effens ongelukkig en vir misverstand vatbaar.  Die oorspronklike Hebreeuse woord dui nie op iemand wat ’n grapjas is of selfs net oppervlakkig is nie.  Die woord wat hier vertaal word met ligsinnige, is die Hebreeuse woord lîṣ.  Dit dui eintlik ’n spotter aan, soos die OAV vertaling dit inderdaad vertaal.  So het verskeie Engelse vertalings dit ook.  In Engels word die woord vertaal met scorner, scoffer of mocker.

Dit dui dus op iemand wat met geen respek praat van ander en wat vir hulle belangrik is nie, wat spot met wat vir ander heilig is, wat wysheid op ’n arrogante, siniese manier minag.  Dit sien ’n mens in die feit dat hulle geen waardering vir wyse woorde het nie.  Vergelyk gerus ook Ps 1:1; Mark 7:22; Matt 12:36; Ef 5:4 waar hierby aangesluit word, en waar ’n mens ook eerder van minagtendes of respekloses kan praat as van ligsinniges.

Ek het vir die interessantheid die verse gesoek in Spreuke waar die woord ligsinniges voorkom, en gee dit hier weer, sodat jy ’n oorsig kan vorm van wat van die spotter (jy kan die woord vervang met respeklose, minagter, arrogante, sinikus ensomeer) gesê word in Spreuke.

  • Spr 9:7 – “Wie iemand so opvoed dat hy ’n spotter word, moet die verwyt daarvoor dra; wie iemand so leer dat hy ’n goddelose word, doen dit tot sy eie skande.”
  • Spr 9:8 – “Moenie ’n spotter probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ’n wyse op, en hy sal lief wees vir jou.”
  • Spr 9:12 – “As jy wysheid het, het jy self die voordeel daarvan; as jy ’n spotter is, dra jy alleen die las.”
  • Spr 13:1 – “’n Wyse seun laat hom leer deur sy vader, ’n spotter slaan nie eens op dreigemente ag nie.”
  • Spr 14:6 – “Al soek ’n spotter wysheid, hy kry dit nie; ’n verstandige mens doen maklik kennis op.”
  • Spr 15:12 – “’n Spotter hou nie daarvan dat hy tereggewys word nie; hy word nie ’n wyse mens nie.”
  • Spr 19:25 – “As jy ’n spotter klap, leer dié wat nog onervare is, daaruit; as jy ’n verstandige mens straf, word hy nog verstandiger.”
  • Spr 19:29 – Spotters moet straf te wagte wees, en dwase moet slae verwag.”
  • Spr 20:1 – “Wyn maak jou spottend (eintlik beter vertaalbaar met: “Wyn is ’n spotter), drank laat jou lawaai maak; niemand wat van dronkenskap slinger, is verstandig nie.”
  • Spr 21:11 – “As jy ’n spotter laat boet vir sy dade, leer onervare mense wysheid daaruit; as jy iemand onderrig wat wysheid het, leer hy self daaruit.”
  • Spr 21:24 – “’n Spotter is hovaardig en aanmatigend, sy hovaardige optrede het geen perke nie.”
  • Spr 22:10 – “As jy ’n spotter wegjaag, hou die rusies op en kom die getwis en beledigings tot ’n end.”
  • Spr 24:9 – “’n Dwaas se geknoei loop op niks uit nie; mense verafsku ’n spotter.”
  • Spr 29:8 – Spotters bring ’n stad in oproer; wyse mense kalmeer die gemoedere.”

Hierteenoor wil Spreuke in hoofstuk 13 sê: Waardeer die woorde van die wyses.  Dit bring jou in die regte verhouding met God, en is ’n bron van lewe (13:13-14).  Dit is die weg na ware welvaart (13:2).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…