Spreuke 21:1-31 – God se geregtigheid motiveer ons tot goeie verhoudinge

Hierdie hoofstuk toon van meet af aan meer van ‘n eenheid as van die ander hoofstukke in hierdie versameling van Salomo se spreuke.  Dit begin en eindig met ‘n verwoording van God se aktiewe betrokkenheid in alles wat gebeur, van die koning af regdeur tot by gewone mense (21:1-2 en 21:30-31).  En 6 keer word die woord reg gebruik om die lewenstyl wat God se guns wegdra, uit te druk, veral in die sin van ‘n hoë premie te stel om goeie verhoudings oor die spektrum van die lewe te handhaaf (21:2,3,7,15,18,21).  Dit verskaf die goue draad wat die spreuke by mekaar laat pas.

Die kersie op die koek – die sleutel om die hoofstuk se boodskap te verstaan – is die spreuk wat die herstel van verhoudings in God se regverdigheid sien (21:12).  Sy geregtigheid motiveer ons om goeie verhoudinge te handhaaf.  Ons kan Hom immers vertrou om dinge reg te stel.

Hier is my opsomming van die spreuke se boodskap in die lig van God se geregtigheid wat ons motiveer tot goeie verhoudinge:

  • Die Here bepaal ‘n koning se koers – vers 1.  Dit gee ‘n mens moed om God se hand aktief te soek in alles wat gebeur, selfs wanneer jy geen direkte invloed daarop kan uitoefen nie.  Soos Richard Niebuhr so raak gesê het: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to his action.” (The Responsible Self).  Dit geld ook die invloed van die konings van hierdie wêreld.
  • Die Here toets ‘n mens se gesindheid – vers 2.  Dit is dieselfde spreuk as in 16:2.  Die spreuk in 17:4 sluit by die gedagte aan en spel uit hoe God dié gesindheid toets: Hy louter dit soos ‘n mens goud in ‘n oond hanteer, dws onder buitengewone “warm”omstandighede.  Interessant is dat net in die volgende hoofstuk, 22:1, word van die goeie gesindheid van ander gepraat wat meer werd is as goud en silwer!  Hierdie vier spreuke skakel dus ook die onderskeie hoofstukke aan mekaar, hoewel ‘n mens nou nie te veel daarvan moet maak nie.
  • Die Here verkies dat jy goeie verhoudinge (regverdig en reg) handhaaf eerder as dit jy dit met offers probeer herstel – vers 3.  Dit is ‘n kern-aspek van die wysheid wat die pa sy seun aanraai om te soek, dat dit hom insig sal gee in wat regverdig, en reg en billik is (2:9).    Regverdigheid (eḏā∙qāh ) is ‘n woord wat in die OT veral ten opsigte van jou verhouding met God gebruik is, sowel as in jou verhouding met ander in die gemeenskap (in Engels justice).  Reg (miš∙pāṭ) is ‘n woord wat weer in die OT beide in die regstelsel  gebruik is (in Engels judgement) sowel as vir die konings se heerskappy (in Engels rule).  Hoewel hierdie woord meer vir die tegniese kant van regspraak of regering gebruik is, het die gebruik van dié woord reg in daardie konteks ook altyd met verhoudinge te make gehad, in geestelike en sosiale sin.  In die regstelsel was ‘n goeie uitspraak een wat verhoudinge in die gemeenskap herstel het, sodat met God en die naaste in harmonie geleef kon word, en in die regering van daardie tyd was ‘n goeie koning ook iemand wat ‘n hoë premie op goeie verhoudinge, intern en ekstern sowel as met God, gestel het.  Om regverdig en reg op te tree, beteken dus om goeie verhoudinge te handhaaf, met God en met ander.  Dit is waarom Spreuke op ‘n ander plek ook sê, dat as jy goddeloses by die koning wegvat, sal hy dit regkry om regverdig te regeer omdat goeie verhoudinge dan gehandhaaf kan word (25:5).
  • Selfverheffing en eiewaan lei tot die sonde van goddeloosheid – vers 4.  Dit is eintlik so vanselfsprekend.  Verloor jou ontsag vir ander, dan verloor jy jou ontsag vir God.  Die omgekeerde is ook waar.  Verloor jou ontsag vir God, dan verloor jy ook jou ontsag vir ander, iets wat regdeur Spreuke beredeneer word.  En dit is ook wat die wet sê (Eks 20), en waarby Jesus in die NT aansluit met die liefdesgebod (Matt 22) – die liefde vir God en die naaste is die diepste waarheid oor wat die lewe die moeite werd maak, ware lewenswysheid.  ‘n Mens gehoorsaam dus nie die liefdesgebod omdat God jou verplig nie, maar omdat dit die wyse ding is om te doen, en die lewe dan die moeite werd vir almal word.
  • Beplanning en fluksheid is nuttig, maar oorhaastigheid kan dit dwarsboom – vers 5.
  • Jy verloor maklik rykdom wat deur bedrog bekom is, en sommer jou lewe ook op die koop toe – vers 6.
  • Die geweld van goddeloses wreek hom op hulleself weens hulle onvermoë om verhoudings (reg doen) in stand te hou – vers 7.
  • Eerlikheid en eerbaarheid gaan saam – vers 8.
  • Dit is onuithoubaar sleg in ‘n verhouding met ‘n twisgierige maat – vers 9.  Maar dit kan altyd nog slegter … kyk vers 19!
  • ‘n Slegte mens wil sy naaste uitwis, nie help nie – vers 10.
  • Sterk optrede teen ‘n respeklose mens (ligsinnige) is ‘n les vir onervarenes sowel as wyses – vers 11 (vgl 19:25).
  • ‘n Mens kan staatmaak op God se regverdigheid om goddeloosheid tot ‘n val te bring – vers 12.  God se regverdigheid is dus ook die spil waarom die hele gedeelte draai.  Sy geregtigheid motiveer ons om self reg op te tree, en goeie verhoudinge te handhaaf.
  • Deernis met armes baat jouself wanneer jy self hulp nodig het – vers 13.  Dit is iets waarop ‘n slegte mens nie kan staatmaak nie (21:10).
  • ‘n Geskenk wat sonder vertoon gegee word, kan ‘n groot krisis afweer – vers 14.
  • Wanneer reg geskied, gee dit regverdiges moed, en ontkrag dit onregverdiges – vers 15.
  • Verstandigheid moet voortdurend volgehou word, anders word jy vernietig – vers 16.
  • ‘n Mens word nie van plesierigheid ryk nie – vers 17.
  • Mense verkies eerlike en betroubare mense – vers 18.
  • Dit is beter om eerder in die woestyn te bly, as by ‘n twisgierige maat – vers 19.  Hierdie verhouding is dus nog erger as die een waarvan vers 9 praat.  Daar was dit darem nog moontlik om op die dak van die huis in die koel naglug te sit, eerder as om aan die hitte van die geveg binne die huis deel te neem.  Hier probeer die ou so ver as moontlik wegkom.  Verhoudings waarin rusies baie voorkom, is regtig nie maklik om te hanteer nie!
  • Wysheid het ‘n ingeboude waarde wat keer dat goed sommer verkwis word – vers 20.
  • Reg en liefde is die perfekte pasmaats.  Iemand wat dit regkry om met reg doen en (lojale) liefde sy verhoudinge te bou en bedien, word op vele maniere daardeur beloon, ‘n vol lewe en eer – vers 21.  Die woordjie vir liefde wat hier gebruik word, is ḥě∙sěḏ.  Dit is ’n woord wat met lojale liefde of lojale toewyding vertaal kan word waarin die gedagte van ’n verbintenis tot of verbond met iemand oorheers.  Dit is ’n woord wat daarom vir die Here se verbondstrou (Sy goedertierenheid, soos die OAV dit gehad het – vgl die woord bv in Psalm 136 waar God se lojale liefde in elkeen van die 26 verse besing word) teenoor sy mense gebruik word.  Die tipe liefde wat hier ter sprake is, is dus die tipe liefde, die lojaliteit, wat God teenoor ons bewys.
  • Wysheid kan selfs die dapperste verdediging troef – vers 22.
  • Selfbeheersing in kommunikasie beskerm jou van gevaar – vers 23.
  • Respekloses se arrogansie ken egter geen perke nie – vers 24.
  • Luiaards droom hulle dood – vers 25-26a.  ‘n Eeue-oue probleem.
  • ‘n Regverdige kan vrygewig wees – vers 26b.
  • Die Here walg aan die slegte bedoelings van goddeloses wat offers bring – vers 27.  Dit verdiep die boodskap van vers 2-3, dat God weet wat in ons binnekant aangaan, en dat Hy reg doen verkies bo ‘n skynheilige regstelling.
  • Betroubare getuienis het betekenis – vers 28.
  • Koersvastheid wys wat in ‘n mens se karakter steek – vers 29.
  • God se wil gee die deurslag, nie ons insigte en besluite nie – vers 30-31.
View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Goeie dag Ds van Wyk

    Wat dink u van die volgende artikel in vandag se Beeld op bladsy 6. Sou graag u mening hieroor wou hoor.
    Gebreinspoel om Bybelstories te glo
    Maandag 20 Julie 2015 04:00
    As dit oor die Bybel gaan, is twee plus twee nie meer vier nie, maar iets anders.
    Veral Christene gooi wal teen foute of weersprekings wat uitgewys word deur te sê jy lees die Bybel verkeerd.
    “ Die Bybelse geskrifte is geskryf om mense te beheer. God, wat hierdie kosmos geskep het, is nie die god van die Bybel nie. ”
    Die Bybel is vol foute en weersprekings. Dit is al geskiedkundig, biologies en astrologies verkeerd bewys. Daarom kan die Bybel nie die Woord van ’n volmaakte God wees nie, maar wel die woorde van mense.
    Ons word van kleins af gebreinspoel om die stories in die Bybel te glo. Talle Christene lees ook nie die hele Bybel nie, maar net die “mooi gedeeltes” wat die kerke ook aan ons oordra.
    Die verhale oor die skepping, Adam en Eva, Noag se ark en Simson is ook voorbeelde van verhale wat van ander gelowe kom, soos die Epos van Gilgamesj van Babiloniese mites. Veral die Noag-storie is duidelik van daar af oorgedra.
    Die Bybel beskryf die aarde ook as plat en sê dat die maan én son om die aarde draai. Paul Kruger het tot sy dood geglo die aarde is plat, want die Bybel sê so.
    Gaan léés jou Bybel. Dan sal jy sien God se skepping is agterstevoor en dat daar twee skeppingsverhale is. Waar kry Kain sy vrou? Waar kom die reuse-mense vandaan toe Moses Kanaän binnegegaan het? Almal het mos in die vloed verdrink. Daar is bewyse dat Moses en die Israeliete nooit slawe in Egipte was nie.
    Die Bybelse geskrifte is geskryf om mense te beheer. God, wat hierdie kosmos geskep het, is nie die god van die Bybel nie. Hy het ons ook meer as een breinsel gegee om te weet die aarde en heelal is nie 6 000 jaar oud nie en dat die son nie om die aarde draai nie. Ook dat die honderde rasse op die planeet nie van Adam en Eva, of as jy die Noag-storie glo, van agt mense afkomstig is nie.
    Pinkie Ponk

    Groete
    Elize Barnard

    • Dit is ‘n mondvol! Sulke veralgemenings is egter nie die moeite werd om op te reageer nie. Dit sal te veel tyd neem om op al die aannames wat agter die persoon se menings lê, te reageer. Uiteindelik lê die betroubaarheid van die boodskap van die Bybel vir my in die feit van die vleesgeworde Seun van God, Jesus, wat werklik geleef het, gesterf het, en opgestaan het uit die dood sodat ons hier met God versoend kan leef en kan uitsien na die koms van sy koninkryk, terwyl ons natuurlik ook God se medewerkers in die vestiging daarvan is.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: