Spreuke 14:1-35 – Soos God vir ons ‘n toevlug is, so skep ons integriteit veilige ruimtes vir ander

Om “vas te val” by ‘n gedagte

Dit bly heerlik om hierdie wyshede van Spreuke te oordink, en in jou eie konteks van toepassing te maak.  Onthou egter dat ‘n mens nie alles kan inneem nie, en daarom ‘n seleksie móét maak waarop jy regtig fokus in jou leeswerk en veral waaroor jy dieper nadink.

Dit is goed om “vas te val” by ‘n teks en dit diep te oordink.  Jy hoef glad nie skuldig te voel dat jy nie al die ander verse goed deurdink het nie.  Hier is 35 verse in die hoofstuk, en jy kan ‘n paar uur nadink net oor die eerste een, soos ek amper vandag gedoen het!  Stel jou dus oop vir die werk van die Heilige Gees om dié vers of twee wat jou roer, raak te sien, en dink dan daaroor na met die Lectio Divina metode: silencio, lectio, meditatio, oratio, contemplatio, en incarnatio.  Die woorde rol so lekker van ‘n mens se tong af, maar dit beteken maar net: word stil voor die Here, lees ‘n gedagte of vers deeglik, dink diep daaroor na, bid daaroor, geniet God se teenwoordigheid, en gaan leef dit.

Die wyse vrou

Hierdie hoofstuk begin met ‘n wyse vrou (Hebreeus het die meervoud vroue) wat vir haar huis sorg.

In die lig van Spreuke 31 sluit dit nie besigheid ensomeer uit nie, hoewel binne die meer patriargale bestaan van dié tyd vroue minder godsdienstig, polities en ekonomies aktief was as mans, natuurlik met heerlike uitsonderings, soos Debora, Ester, Abigajil, Gulda en later Akwila, Junia, Lidia ensomeer.

Wat waar is van die vrou in vers 1 is natuurlik ook waar van enige man: die keuse om jou huis – dit sluit die mense van die huis natuurlik in die eerste plek in – te versorg is lewensbelangrik op die pad van wysheid. Anders breek jy alles – en dit sluit uiteindelik die gemeenskap in – af.

Om jou eie gemoed te ken

‘n Lewenswaarheid wat my tref, is in vers 10:

“Net ’n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie.”

Ons het soms die utopiese verwagting dat iemand anders presies sal weet wat in ons gemoed aangaan, sal weet hoe swaar dinge vir ons is, of hoe bly ons oor ander goed is.  En hoewel daar natuurlik altyd wonderlike uitsonderings is, waar jy sulke mense ontmoet en voel jy word volledig verstaan, is dit nie ‘n ervaring wat altyd en in alle omstandighede so is nie.  Trouens, dit is ‘n onvanpaste verwagting om te  dink iemand anders, al is dit sulke naby mense aan jou soos jou ouers of ‘n huweliksmaat, kan presies weet hoe bitter of hoe bly jy oor iets is.  Hierdie spreuk moedig ons dus aan om nie net met onvervulbare verwagtings te lewe  nie, maar om moeite te doen om jou eie gemoed te ken, en verlief te neem dat jou bitterheid en jou blydskap nie noodwendig deur ander gedeel kan word nie.

God is ‘n veilige toevlug

Dit gee ‘n mens nuwe waardering vir die lewenswaarheid wat in vers 26-27 aangegee word:

“Wie die Here dien, het daarin ’n veilige toevlug, en ook sy kinders vind daar skuiling. Wie die Here dien, vind daarin ’n bron van lewe; dit laat jou die strikke van die dood ontkom.”

Die Here is ‘n toevlug.  By Hom is daar begrip.  By Hom is daar ‘n veilige toevlug.  Om die waarheid te sê, selfs jou kinders sal baat by jou rus-vind in die Here, omdat dit hulle sal aanmoedig om self met die Here ‘n pad te loop.  Dit is ‘n bron van lewe en laat jou moed hou in die verstrikking wat bedreigings soos die dood baie keer bring.

Ook vers 31 tref my, veral omdat dit so ‘n sentrale waarheid uitdruk (later meer daaroor as ek oor Spreuke se Godsbeeld skryf):

“Wie ’n arm mens verdruk, beledig sy Maker; wie hom oor ’n arm mens ontferm, eer God.”

Dit bly ‘n universele waarheid.

Integriteit skep veilige lewensruimtes

Ek het gewonder oor vers 32 se boodskap:

“Die goddelose kom tot ’n val deur sy boosheid; die regverdige het ’n toevlug, ook in sy dood.”

Die woordjie toevlug kan ook met hoop vertaal word, wat moontlik op ‘n verskuilde verwagting van ‘n lewe na die dood dui, hoewel dit eintlik heeltemal onderontwikkel in die teologie van die OT is.

Peterson het gekies om die verwysing na die dood as ‘n metafoor vir die gebrek aan lewensruimte te neem, en dit as volg vertaal:

“The evil of bad people leaves them out in the cold; the integrity of good people creates a safe place for living.”

Ek dink dit help ‘n mens al ‘n hele end om dié vers te verstaan.  Sal graag hoor wat julle daaroor dink!

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Ja, daar is soveel rykdom in elke hoofstuk. Maar ek het vasgesteek by verse26 en 27:
    Wie die Here dien het
    – n veilige skuilplek
    – die Lewe!
    XX t

  • Gister het ek die gedeelte op my eie deurgewerk en vandag eers na jou kommentaar daaroor gekyk. Dis vir my opvallend hoe eenders ons daaroor dink!

    Dis ook vir my duidelik dat daar ‘n hoe premie geplaas word op opregtheid en eerlikheid in mens se lewenswandel!

    Jou vraag oor vers 32 het ek aanvanklik ook geinterpreteer as ‘n toevlug na die dood in die hiernamaals by Hom (die Ewige Lewe). Maar jy het my aan die dink gesit en nou begin ek verstaan dat mens ook reeds hier in die lewe “dood” kan wees – as dit sleg gaan, jy pyn ervaar (fisiek of emosioneel of albei), verbitterd voel, ens – en Hy is dan ook mens se enigste toevlug en veilige vesting. Net Hy verstaan ons emosies heeltemal. En ja, Hy is ons Hoop!

    In die Silekunde en navorsing het ons al in my eerstejaar op Universiteit geleer van veranderlikes (variables), wat ‘n invloed het op ‘n situasie en die navorsing daarvan, en dan die onverandelikes (invariables), wat in elke situasie vir almal altyd dieselfde bly.

    Nou besef ek hoe God altyd dieslefde bly en in ons lewe eintlik die enigste Onveranderlike is!

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: