Skip to main content

Die spreuke van Salomo – Bundel I

In die res van die boek Spreuke, hoofstuk 10-31, word nou ongeveer 562 spreuke, gesegdes, en wyshede weergegee waarmee ’n wyse lewe versier kan word.  Dit is in 6 bundels saamgevoeg wat onderskeidelik met Salomo (2 bundels met onderskeidelik ongeveer 375 en 137 spreuke elk), die Wyses (2 bundels met onderskeidelik 30 en 5 spreuke elk), Agur (12 spreuke, saam met ’n paar vrae en ’n gebed) en Lemuel (3 uitgebreide spreuke) verbind word.

Die inleiding is ‘n raamwerk vir die hantering van die spreuke

Hoewel daar meesal min onderlinge verbande is tussen die individuele verse, en elke vers of spreuk eintlik selfstandig hanteer kan word, het die inleiding van hoofstuk 1-9 wel ’n deeglike raamwerk gegee waarin ’n mens sonder veel moeite ál die spreuke kan inpas.

  • ’n Mens sal die stemme van vrou Wysheid versus vrou Dwaasheid hierin hoor.
  • Jy sal die klem op die ontsag vir die Here sowel as vir rolmodelle regdeur kan optel.
  • Jy sal telkens kan sien wat die regte pad is om te kies in die praktyk van die lewe, sowel as watter verkeerde afdraaipaaie om te vermy.

Herhalende temas

Dit beteken dat ’n mens die raamwerk kan gebruik om die spreuke te lees.  Druk miskien vir jouself die onderskeie bundels van spreuke uit (’n paar A3 bladsye met die teks in kolomme uitgedruk, kan goed werk om patrone te kan raaksien) en begin met gekleurde merkers die herhalende temas daarop merk.  Jy kan natuurlik ook in jou Bybel werk!

Let op vir die algemene temas soos:

  • wysheid vs dwaasheid,
  • ontsag vir die Here en vir rolmodelle,
  • die regte pad vs die verkeerde een.

Maar kyk ook uit vir kleiner temas soos:

  • welvaart (rykdom vs armoede; deernis met arm mense),
  • ywer (fluksheid teenoor luiheid),
  • verhoudings (met jou naastes, jou familie, jou vriende, jou huwelik, jou ouerskap, en gesagsinstansies),
  • gevoelens (die volle spektrum van woede, liefde, onderskeiding, verwagtings, hartseer) en vele meer.

Jy kan aan die einde van jou deurlees van Spreuke jou eie lys van temas maak, dinge wat nie net jou lewe verryk het nie, maar wat jy wil gebruik in jou begeleiding van ander.  En jy sal ook agterkom dat jy ’n rykdom van spreuke het waarmee jy met nuwe oë na die gesprekke van Jesus en die briewe van Paulus sal kan kyk.

  • Jesus se ongeveer 46 gelykenisse (kyk hier na ’n lys van David Ahl) borduur bv voort op die wysheidstradisies onder andere van Spreuke.  Dink bv aan die gelykenis van die 10 meisies in Matteus 25:1-13 – die 5 verstandiges verteenwoordig dié wat na vrou Wysheid geluister het, en die 5 onverstandiges dié wat na vrou Dwaasheid geluister het.
  • Paulus se hantering van geloofsonderskeiding en geestelike gewoontes herinner sterk aan die wysheidstradisies, bv in die boek Filippense (1:9-10; 4:4-9 – lees hier meer in my Bybelskool oor Filippense).  Maar daaroor miskien later ’n bietjie meer.

Lectio Divina

Patrone in die teks is natuurlik baie opwindend om raak te sien.  Maar, in die lees van Spreuke moet ’n mens ook konsentreer op dít wat jou tref, waarin jy die stem van die Here kan herken.  Daarom moet jy ook in die deurlees van ’n spesifieke hoofstuk konsentreer op die één vers of gedagte wat jou besonderlik tref.  Gebruik dít dan om oor na te dink.  Ek plaas hier net weer die Lectio Divina metodiek om jou daarmee te help:

  1. Silencio – kom tot rus voor God.
  2. Lectio – lees die spreuk of gedagte  hardop ‘n paar keer deur.
  3. Meditatio – oordink die praktiese impak daarvan op jou lewe.
  4. Oratio – antwoord God in gebed daarop.
  5. Contemplatio – geniet God se teenwoordigheid.
  6. Incarnatio – wees gehoorsaam aan wat jy hoor.

Die eerste bundel spreuke van Salomo – 10:1-22:16

Die eerste bundel van Salomo (10:1-22:16) sluit baie nou by die inleiding aan, met 10:1 wat sowel by die tema van wysheid en dwaasheid, as by die tema van ’n gesprek tussen ouers (pa en ma) met hulle kind aansluit.  Interessant is die positiewe noot waarop dit begin, iets wat regdeur hierdie bundel volgehou sal word.

’n Mens kan die eerste bundel in twee dele verdeel:

  1. Spreuke 10:1-15:29 waarin veral met teenstellings (antiteses) gewerk word.  Bv in 10:4 kry jy die stelling: “’n Mens wat nie sy hande uit sy mou steek nie, word arm.” En dan volg die tweede deel, die teenstelling: “Dit is vlyt wat ryk maak.”
  2. Spreuke 15:30-22:16 waarin veral met ooreenstemmings (sinteses) gewerk word.  Bv in 15:30 kry jy die stelling: “Stralende oë bring blydskap”.  En dan volg die tweede deel, die ooreenstemmende bevestigende stelling: “Goeie tyding verkwik ’n mens.”
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders