Spreuke 1:1-33 – Begin met God

Die boek Spreuke word met Salomo geassossieer omdat hy bekend was as ‘n wyse man (1 Kon 3-5).  Twee bundels van sy spreuke is ook opgeneem in hierdie boek en beslaan 18 hoofstukke: 10:1-22:16 en 25:1-29:27.  Die res van die boek is egter deur ander wyses geskryf, oor ‘n hele paar eeue versamel en deur die eindredaktor in die boek opgeneem, waarskynlik na die ballingskap.

Die eerste hoofstuk beklemtoon dat wysheid in die eerste plek van God af kom (1:1-7) en in die tweede plek bevestig word deur die ervaring van mense wat die pad met die Here stap, soos ouers en ander gelowige rolmodelle.  Dit is na hulle wat ‘n mens moet luister om wysheid te bekom, die eerste van tien “lewenslesse” van die pa aan sy seun (1:8-19).  Wysheid – van God en van rolmodelle – is daarom vir die pa soos ‘n vrou wat roep en op wie jy jou ore fyn moet instel (1:20-33), ‘n metafoor wat ook in ander wysheidstradisies gebruik word.  Dink byvoorbeeld aan Atena en Minerva, die simbool van wysheid in onderskeidelik die latere Griekse en Romeinse tradisie.  Minerva is baie keer met ‘n uil uitgebeeld.  LEES MEER …

1:1-7 – Begin met God

Onthou dat Spreuke bedoel is as ‘n gids om jou ‘n ekspert in die lewe te maak!  Spreuke wil jou kapasiteit vir wysheid bou, sodat jy met wysheid kan optree.  Dit sal jou help:

  • Om te weet wanneer iemand verstandig praat (1:2);
  • Om ‘n sin vir regverdigheid te ontwikkel (1:3);
  • Om met oorleg op te tree (1:4);
  • Om tot dieper insig te kom (1:5-6)
  • Om nie toe te gee as daar verleiding of dwaasheid oor jou pad kom nie (1:7, 10).

Die klem op kennis en oorleg in vers 4 tref my.  Let op dat dit nie teoreties bedoel word nie, maar prakties. Dit gaan ook nie net oor kennis as sodanig nie, maar oor kennis en oorleg.  Oorleg kan ook vertaal word met oordenking of beraadslaging.  Dit veronderstel ’n deurdink van die implikasies en betekenis van kennis, en dit ook nie net op jou eie nie, maar saam met ander, soos Spreuke ook in 11:14 nog verder in terme van leiers en die gemeenskap sal beredeneer.

Kennis en oorleg is dus nodig om reg te kan optree. Dié tipe wysheid is vir die lewe saam met ander bedoel! Dieselfde geld ‘n sin vir regverdigheid en billikheid in vers 3. Dit is iets wat jy aanleer. Dit is iets wat jy beoefen. Dit is iets waarin jy groei.  Maar dit is ‘n leerervaring wat met die gemeenskap te make het.  Dit is immers waar jy die regverdigheid moet beoefen.  En dit is die basis van ’n goeie en behoorlike opvoeding – dat jy tereg kom in die gemeenskap met God en met ander.

Die eerste ding wat ‘n mens moet leer om hierdie tipe wysheid te bekom, begin egter nie met die gemeenskap as sodanig nie, maar met die “vrees van die Here”, wat in vers 7 vertaal word met “die dien van die Here”.  Hierdie vrees/dien kan ook vertaal word met ontsag vir die Here, wat miskien beter oordra wat die vers bedoel.  Die tipe kennis wat Spreuke dink die moeite werd is, begin met die bewussyn en ontsag vir die Here. Sonder hierdie ontsag vir God raak jy eintlik self god en draai jou lewe te maklik net om jouself.  Om die waarheid te sê, sonder ontsag vir God raak dit ook vir jou moeilik om na ander te luister, veral na die rolmodelle wat met ontsag vir God lewe.

Peterson vertaal daarom vers 7 met: “Start with God—the first step in learning is bowing down to God“.  Dit is ook die oorhoofse beginsel vir alles wat Spreuke gaan sê, en waarin die wysheid ook opgesluit lê.  Soos kennis by die ontsag vir die Here begin, so begin wysheid ook daarmee (9:10).

1:8-19 – Luister na rolmodelle

Die tweede ding wat ‘n mens moet leer, is om te luister na rolmodelle: jou pa, jou ma (vers 8), en ander gesagsfigure.

Let op hoe hierdie twee sake (1:1-7 en 1:8-19) ooreenkom met die eerste gebod van elk van die twee tafels van die wet: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:3) en, “Eer jou vader en jou moeder” (Eks 20:12).  Die boek Spreuke kan dus gesien word as ’n uitgebreide uitleg van alles wat in die Tien Gebooie as die hart van God se wil vir die volk uitgespel is.  Trouens, Jesus beskou hierdie twee sake as die hart van Sy eie lering, om God lief te hê en jou naaste soos jouself (Matt 22:37-40).

Die boek Spreuke is dus ’n heerlike praktiese uitleg van die wet, en iets waarin ’n mens die sin van Jesus se leringe kan raaksien, ’n hele paar eeue voor Hy met Sy bediening sou begin.

Let op hoe die pa die alternatief uitspel.  As ’n mens nie met God begin nie, as jy nie die invloed van rolmodelle respekteer nie, sit jy jou voet op ’n pad waarin jy min weerstand gaan hê teen die verleiding van misdaad en geweld.  Dit is die gevaar van ’n lewe waar jy nie bewustelik lewe saam met God nie, en jou afskei van die geborgenheid van die primêre verhoudingsruimte, die gesin en  familie, sowel as die geloofsgemeenskap.  Jy raak te maklik die enigste oriënteringspunt vir jou norme en waardes.

Die verleiding van onafhanklikheid en selfverryking ten koste van jou verhouding met God en jou gemeenskap moet dus ten alle koste vermy en teengestaan word. Die uiteinde daarvan is die dood.

1:20-33 – Luister na Wysheid

Wysheid word vervolgens as ‘n vrou voorgestel na wie ‘n mens moet luister.  Die meervoud van die woord wysheid word gebruik (ḥā∙ḵemôṯ), hoewel die werkwoorde enkelvoud is (royal plural).

Dat die wysheid as vroulik voorgestel word, is vir my interessant, en sluit aan by dieselfde gebruik in ander wysheidstradisies (Grieks, Romeins), waarskynlik omdat die hele idee van koestering, vertroeteling, en omgee meer geredelik met vroue geassosieer is.  In die vroeëre Egiptiese wysheidstradisies word wysheid egter ook met Sia (of Saa) geassosieer, wat manlik uitgebeeld word.  Dit is ook só in die ander Oosterse tradisies van Boeddhisme en Taoïsme.

Belangriker as dit is egter dat die wysheid regdeur Spreuke as die stem van God self voorgestel word. Dat dit vroulik is, ondersteun die gedagte dat God nie vasgevang kan word in ’n manlike idioom nie, dat die beskrywing van God beide uit manlike en vroulike metafore opgebou word.

Let op dat die Wysheid eerstens die mense aanspreek wat geneig is om juis nie te luister nie.

Drie tipe mense word aangespreek in vers 22:

  • onkundiges (simpletons),
  • spotters/grootpraters (scoffers/cynics),
  • dwase/swape (fools/idiots).

Peterson (The Message) vertaal daarom: “Simpletons! How long will you wallow in ignorance? Cynics! How long will you feed your cynicism? Idiots! How long will you refuse to learn?”

Interessant is dat die spotters as arrogante vrydenkers voorgestel word wat die regverdiges teenstaan, dié wat God wil dien, wat vir Hom ontsag het.  ’n Mens kan hulle vandag nog herken!

Die waarde van luister word uitgespel, sowel as die gevolge van nie-luister. Luister bring veiligheid. Nie-luister bring vernietiging: “dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid” (1:32).

Dit is wat Psalm 1 ook sê, dat geluk en voorspoed lê op die pad van die regverdiges, en verydeling en verwoesting op die pad van die goddeloses, ligsinniges en sondaars, ‘n motief wat regdeur die Psalms gehandhaaf word. God lei die regverdiges, en Hy laat die onregverdiges aan hulle eie lot en beplanning oor.

Terloops, Sokrates het gesê dat wysheid op drie maniere aangeleer word: deur refleksie (beste), nabootsing (maklikste) en ervaring (bitterste).  Iets om oor na te dink!

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (5)

  • Andre Kritzinger

    Die woorde van Spr 1:26-28 is ontstellend:”Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref, ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval,wanneer daar nood en kwelling oor julle kom. Die angs sal soos ‘n storm oor julle kom, die ongeluk sal julle tref soos ‘n orkaan. Dán sal julle my roep en ek sal nie antwoord nie, julle sal my soek en my nie kry nie.”
    Wat is die boodskap daarin?
    Ja, God lei die regverdiges, en Hy laat die onregverdiges aan hulle eie lot en beplanning oor.
    Tog moet ons die genade waarvan die gelykenis van die verlore seun vertel ook kan verkondig.
    Dankie vir jou insigte.

  • Die woorde van Spr 1:26-28 is inderdaad ontstellend:”Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref …” ‘n Paar opmerkings:

    • Die spotlag kom natuurlik omdat die wysheid geïgnoreer en in die wind geslaan is. Maar, onthou, dit is die verpersoonliking van die wysheid, nie die pa wat lag nie. Psalm 2 praat ook hieroor en sê dat God in die hemel lag oor die aardse leiers wat saamspan teen die gesalfde, en met hulle spot. En in die NT word God se lag met Jesus se uiteindelike oorwinning in verband gebring (Lees meer oor wat ek in my bydrae oor Psalm 2 hieroor skrywe)
    • Spreuke maak baie keer van oorbeklemtoning gebruik om ‘n punt te maak. En die punt is ernstig – vermy die dwaasheid; soek die wysheid. Spreuke gee eintlik met dié ontstellende uitspraak die sterkste moontlike waarskuwing dat ‘n mens rekening moet hou daarmee dat dade gevolge het. Jy sal maak dat mense, eintlik God self, vir jou lag …
    • Daar is ook ander uitsprake in die Skrif wat van deernis praat. In die Psalms word ook gesê dat God vir sondaars die pad aanwys (25:8) en in die NT is Jesus se hele bediening een van deernis met sondaars, hoewel die skynheiliges en goddeloses dit steeds ontgeld. Maar, weereens, selfs Jesus se deernis keer Hom nie om skerp te reageer op dwaasheid nie, soos toe Hy Petrus skerp tereggewys het, selfs Satan genoem het, omdat Hy nie gedink het wat God wil nie, maar wat mense wil (Mark 8:31-33).
    • Baie scary, ja – om te dink daar IS ‘n “point of no return.” Maar God se genade en Sy regverdigheid moet noodwendig “two sides of the same coin” wees… en die laaste woord van die hoofstuk bly steeds: “maar wie na my luister sal veilig wees en howf geen ramp te vrees nie.”

  • v.11 het ons getref as die rou werklikheid van ons wêreld en Suid-Afrika spesifiek: “Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom, ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie.” Dit het beelde opgeroep van die senseless violence (Pulp Fiction) waarmee ons ons laat vermaak. Selfs ‘n program soos CSI, waar crime fighting net ‘n ekskuus is vir bloed-en-derms-kyk… is ons “beter” as ou Romeine in die Coliseum?

    Ons gesprek het ook gegaan oor al die werklose outjies in SA wat op hierdie oomblik daardie woorde vir mekaar sê: “Ons vat wat waardevol is en ons maak ons huise vol met wat ons roof…” v.13 Wie se verantwoordelikheid is hulle? En die AIDS wesies wat nie pa of ma het om hulle te leer nie – hulle is deel van ons wêreld.

    Ons het gebid vir die filmindustrie – dat die Here mense inspireer om movies te maak waarin Wysheid se stem gehoor word. Ons het gebid vir die regering van ons land, en vir nuwe maniere om die werkloses en die wese hoop te gee, en vir die Kerk se taak om die verlorenes te soek.

    Ons het gisteraand “toevallig” Woody Allen se Cassandra’s Dream (2007) gekyk. Dit was ‘n voorbeeld van die soort movie waarvoor ons gebid het: dit was ‘n illustrasie van hierdie eerste hoofstuk van Spreuke. In die fliek is Cassandra’s Dream ‘n boot, en op ‘n manier ‘n metafoor, dink ek, vir wysheid en oorleg. ‘n Bietjie Google het aan die lig gebring dat die oorspronklike Cassandra in Griekse mitologie ‘n profetes was na wie se waarskuwings niemand wou luister nie, met aaklige gevolge.

    Chris van Wyk, ek is veral dankbaar vir jou beskrywing van “Silencio”: kom tot RUS voor God. Miskien sal ek dit regkry. So far so good – gister se ervaring was great.

  • Die woorde van Spr 1:26-28 is inderdaad ontstellend:”Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref …” ‘n Paar opmerkings:

    Die spotlag kom natuurlik omdat die wysheid geïgnoreer en in die wind geslaan is. Maar, onthou, dit is die verpersoonliking van die wysheid, nie die pa wat lag nie. Psalm 2 praat ook hieroor en sê dat God in die hemel lag oor die aardse leiers wat saamspan teen die gesalfde, en met hulle spot. En in die NT word God se lag met Jesus se uiteindelike oorwinning in verband gebring (Lees meer oor wat ek in my bydrae oor Psalm 2 hieroor skrywe)
    Spreuke maak baie keer van oorbeklemtoning gebruik om ‘n punt te maak. En die punt is ernstig – vermy die dwaasheid; soek die wysheid. Spreuke gee eintlik met dié ontstellende uitspraak die sterkste moontlike waarskuwing dat ‘n mens rekening moet hou daarmee dat dade gevolge het. Jy sal maak dat mense, eintlik God self, vir jou lag …
    Daar is ook ander uitsprake in die Skrif wat van deernis praat. In die Psalms word ook gesê dat God vir sondaars die pad aanwys (25:8) en in die NT is Jesus se hele bediening een van deernis met sondaars, hoewel die skynheiliges en goddeloses dit steeds ontgeld. Maar, weereens, selfs Jesus se deernis keer Hom nie om skerp te reageer op dwaasheid nie, soos toe Hy Petrus skerp tereggewys het, selfs Satan genoem het, omdat Hy nie gedink het wat God wil nie, maar wat mense wil (Mark 8:31-33).

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: