Skip to main content

Spreuke 1:1-33 – Begin met God

Die boek Spreuke word met Salomo geassossieer omdat hy bekend was as ‘n wyse man (1 Kon 3-5).  Twee bundels van sy spreuke is ook opgeneem in hierdie boek en beslaan 18 hoofstukke: 10:1-22:16 en 25:1-29:27.  Die res van die boek is egter deur ander wyses geskryf, oor ‘n hele paar eeue versamel en deur die eindredaktor in die boek opgeneem, waarskynlik na die ballingskap.

Die eerste hoofstuk beklemtoon dat wysheid in die eerste plek van God af kom (1:1-7) en in die tweede plek bevestig word deur die ervaring van mense wat die pad met die Here stap, soos ouers en ander gelowige rolmodelle.  Dit is na hulle wat ‘n mens moet luister om wysheid te bekom, die eerste van tien “lewenslesse” van die pa aan sy seun (1:8-19).  Wysheid – van God en van rolmodelle – is daarom vir die pa soos ‘n vrou wat roep en op wie jy jou ore fyn moet instel (1:20-33), ‘n metafoor wat ook in ander wysheidstradisies gebruik word.  Dink byvoorbeeld aan Atena en Minerva, die simbool van wysheid in onderskeidelik die latere Griekse en Romeinse tradisie.  Minerva is baie keer met ‘n uil uitgebeeld.  LEES MEER …

1:1-7 – Begin met God

Onthou dat Spreuke bedoel is as ‘n gids om jou ‘n ekspert in die lewe te maak!  Spreuke wil jou kapasiteit vir wysheid bou, sodat jy met wysheid kan optree.  Dit sal jou help:

  • Om te weet wanneer iemand verstandig praat (1:2);
  • Om ‘n sin vir regverdigheid te ontwikkel (1:3);
  • Om met oorleg op te tree (1:4);
  • Om tot dieper insig te kom (1:5-6)
  • Om nie toe te gee as daar verleiding of dwaasheid oor jou pad kom nie (1:7, 10).

Die klem op kennis en oorleg in vers 4 tref my.  Let op dat dit nie teoreties bedoel word nie, maar prakties. Dit gaan ook nie net oor kennis as sodanig nie, maar oor kennis en oorleg.  Oorleg kan ook vertaal word met oordenking of beraadslaging.  Dit veronderstel ’n deurdink van die implikasies en betekenis van kennis, en dit ook nie net op jou eie nie, maar saam met ander, soos Spreuke ook in 11:14 nog verder in terme van leiers en die gemeenskap sal beredeneer.

Kennis en oorleg is dus nodig om reg te kan optree. Dié tipe wysheid is vir die lewe saam met ander bedoel! Dieselfde geld ‘n sin vir regverdigheid en billikheid in vers 3. Dit is iets wat jy aanleer. Dit is iets wat jy beoefen. Dit is iets waarin jy groei.  Maar dit is ‘n leerervaring wat met die gemeenskap te make het.  Dit is immers waar jy die regverdigheid moet beoefen.  En dit is die basis van ’n goeie en behoorlike opvoeding – dat jy tereg kom in die gemeenskap met God en met ander.

Die eerste ding wat ‘n mens moet leer om hierdie tipe wysheid te bekom, begin egter nie met die gemeenskap as sodanig nie, maar met die “vrees van die Here”, wat in vers 7 vertaal word met “die dien van die Here”.  Hierdie vrees/dien kan ook vertaal word met ontsag vir die Here, wat miskien beter oordra wat die vers bedoel.  Die tipe kennis wat Spreuke dink die moeite werd is, begin met die bewussyn en ontsag vir die Here. Sonder hierdie ontsag vir God raak jy eintlik self god en draai jou lewe te maklik net om jouself.  Om die waarheid te sê, sonder ontsag vir God raak dit ook vir jou moeilik om na ander te luister, veral na die rolmodelle wat met ontsag vir God lewe.

Peterson vertaal daarom vers 7 met: “Start with God—the first step in learning is bowing down to God“.  Dit is ook die oorhoofse beginsel vir alles wat Spreuke gaan sê, en waarin die wysheid ook opgesluit lê.  Soos kennis by die ontsag vir die Here begin, so begin wysheid ook daarmee (9:10).

1:8-19 – Luister na rolmodelle

Die tweede ding wat ‘n mens moet leer, is om te luister na rolmodelle: jou pa, jou ma (vers 8), en ander gesagsfigure.

Let op hoe hierdie twee sake (1:1-7 en 1:8-19) ooreenkom met die eerste gebod van elk van die twee tafels van die wet: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:3) en, “Eer jou vader en jou moeder” (Eks 20:12).  Die boek Spreuke kan dus gesien word as ’n uitgebreide uitleg van alles wat in die Tien Gebooie as die hart van God se wil vir die volk uitgespel is.  Trouens, Jesus beskou hierdie twee sake as die hart van Sy eie lering, om God lief te hê en jou naaste soos jouself (Matt 22:37-40).

Die boek Spreuke is dus ’n heerlike praktiese uitleg van die wet, en iets waarin ’n mens die sin van Jesus se leringe kan raaksien, ’n hele paar eeue voor Hy met Sy bediening sou begin.

Let op hoe die pa die alternatief uitspel.  As ’n mens nie met God begin nie, as jy nie die invloed van rolmodelle respekteer nie, sit jy jou voet op ’n pad waarin jy min weerstand gaan hê teen die verleiding van misdaad en geweld.  Dit is die gevaar van ’n lewe waar jy nie bewustelik lewe saam met God nie, en jou afskei van die geborgenheid van die primêre verhoudingsruimte, die gesin en  familie, sowel as die geloofsgemeenskap.  Jy raak te maklik die enigste oriënteringspunt vir jou norme en waardes.

Die verleiding van onafhanklikheid en selfverryking ten koste van jou verhouding met God en jou gemeenskap moet dus ten alle koste vermy en teengestaan word. Die uiteinde daarvan is die dood.

1:20-33 – Luister na Wysheid

Wysheid word vervolgens as ‘n vrou voorgestel na wie ‘n mens moet luister.  Die meervoud van die woord wysheid word gebruik (ḥā∙ḵemôṯ), hoewel die werkwoorde enkelvoud is (royal plural).

Dat die wysheid as vroulik voorgestel word, is vir my interessant, en sluit aan by dieselfde gebruik in ander wysheidstradisies (Grieks, Romeins), waarskynlik omdat die hele idee van koestering, vertroeteling, en omgee meer geredelik met vroue geassosieer is.  In die vroeëre Egiptiese wysheidstradisies word wysheid egter ook met Sia (of Saa) geassosieer, wat manlik uitgebeeld word.  Dit is ook só in die ander Oosterse tradisies van Boeddhisme en Taoïsme.

Belangriker as dit is egter dat die wysheid regdeur Spreuke as die stem van God self voorgestel word. Dat dit vroulik is, ondersteun die gedagte dat God nie vasgevang kan word in ’n manlike idioom nie, dat die beskrywing van God beide uit manlike en vroulike metafore opgebou word.

Let op dat die Wysheid eerstens die mense aanspreek wat geneig is om juis nie te luister nie.

Drie tipe mense word aangespreek in vers 22:

  • onkundiges (simpletons),
  • spotters/grootpraters (scoffers/cynics),
  • dwase/swape (fools/idiots).

Peterson (The Message) vertaal daarom: “Simpletons! How long will you wallow in ignorance? Cynics! How long will you feed your cynicism? Idiots! How long will you refuse to learn?”

Interessant is dat die spotters as arrogante vrydenkers voorgestel word wat die regverdiges teenstaan, dié wat God wil dien, wat vir Hom ontsag het.  ’n Mens kan hulle vandag nog herken!

Die waarde van luister word uitgespel, sowel as die gevolge van nie-luister. Luister bring veiligheid. Nie-luister bring vernietiging: “dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid” (1:32).

Dit is wat Psalm 1 ook sê, dat geluk en voorspoed lê op die pad van die regverdiges, en verydeling en verwoesting op die pad van die goddeloses, ligsinniges en sondaars, ‘n motief wat regdeur die Psalms gehandhaaf word. God lei die regverdiges, en Hy laat die onregverdiges aan hulle eie lot en beplanning oor.

Terloops, Sokrates het gesê dat wysheid op drie maniere aangeleer word: deur refleksie (beste), nabootsing (maklikste) en ervaring (bitterste).  Iets om oor na te dink!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda