Spreuke 20:1-30 – Erken God in alles

Hierdie spreuke is weereens woordprentjies van die wyse lewe teenoor die dwase een.  In elkeen word ‘n lewensituasie op ‘n baie bondige, maar ook boeiende manier geskilder, waarin die lewenswysheid van die Spreukedigter, Salomo, weergegee word.  Die onderwerpe word uit alle lewensfere geneem: die ekonomie, die politiek, die regbank, die geestelike lewe, die gesinslewe, en die sosiale lewe.

Hier is my opsomming van die betekenis van die onderskeie spreuke, met ‘n klein bietjie kommentaar daarby:

  • Drank laat jou respek verloor – jy vir ander, en ander vir jou – vers 1.  Drank word gepersonifieer, en kry amper ‘n lewe van sy eie, soos drank natuurlik ook jou anders laat optree as wat jy is.
  • Die gramskap van ‘n koning spel gevaar – vers 2.  Die koning kan natuurlik ook ‘n metafoor wees vir iemand onder die invloed van drank.
  • Om ‘n rusie te vermy, is wys – vers 3.
  • Die wet van die plaas: as jy nie plant nie, sal jy nie oes nie – vers 4.
  • Oorwoë menings gee diepte aan die lewe – vers 5.
  • Betroubaarheid is skaars – vers 6.
  • Regdoen en eerlikheid is tot die voordeel van jou kinders – vers 7.
  • Die koning is goed met foutvindery – vers 8 (vgl vers 26,28 – integriteit en liefde en trou is nodig).
  • Onskuld is skaars – vers 9.
  • Die Here gril vir onregverdige besigheid – vers 10 (vgl vers 23 vir dieselfde gedagte).
  • Jou gedrag wys jou eerlikheid en opregtheid al dan nie – vers 11.
  • God het ons ons luister- en onderskeidingsvermoë gegee – vers 12.
  • Hardwerkendheid bring oorvloed – vers 13.  Interessant: “staan vroeg op” is eintlik die vertaling van “maak jou oë vroeg oop” wat dié vers met die vorige een, vers 12, verbind.  Spreuke wil dus sê, God het jou oë gegee, gebruik dit dan van vroeg af om jou werk met passie en oorgawe te doen.
  • Kopers maak nie hulle ware gevoelens oor ‘n winskopie bekend nie, tot hulle eie voordeel – vers 14.
  • Kennis is meer werd as goud en edelstene – vers 15.
  • Tref voorsorg as jy vir ‘n vreemde borg staan – vers 16.
  • Oneerlike wins kan jou suur bekom – vers 17.
  • Oorleg in beplanning bring sukses – vers 18.
  • Pasop vir skindertonge – vers 19.
  • ‘n Gebrek aan respek vir jou ouers beskadig jou eie lewe – vers 20.
  • Oneerlike besit bring nie geluk nie – vers 21.
  • Los die wraak vir die Here en vertrou Hom – vers 22.  Die wet het dit al voorgeskryf (Deut 32:35) en Paulus het dit ook as een van die kenmerke van die Christelike lewenstyl beskryf (Rom 12:19).
  • Die Here gril vir onregverdige besigheid – vers 23 (uitbreiding van vers 10).
  • Laat die Here jou koers bepaal – vers 24.  Hoewel daar baie is wat ons van God se werkinge nie verstaan nie, onthef dit ons nie van die verantwoordelikheid om te onderskei en Sy wil ons lewe te laat bepaal nie.
  • Wees baie versigtig wat jy die Here belowe – vers 25.  Dié vers sluit baie nou aan by vers 24.  Om God se wil te soek en te doen, en veral jou daaraan te verbind, moet met groot omsigtigheid gedoen word.
  • ‘n Wyse koning oordeel met integriteit – vers 26 (vgl vers 8 – sonder integriteit kan dit foutvindery ‘n nagmerrie wees; ook vers 28: liefde en trou is nodig).
  • Die Here ken ons van begin tot end – vers 27.  Dié spreuk is beide ‘n waarskuwing dat ons nie moet dink dat ons dinge vir Hom kan wegsteek nie, maar ook ‘n vertroosting, dat in ons soeke na sy wil ons op Sy betrokkenheid kan reken (vers 24-25).
  • Liefde en trou bevestig die heerskappy van ‘n koning – vers 28.
  • Jongmans is trots op hulle krag; oumense op hulle grysheid – vers 29.
  • Streng dissipline hou jou weg van die kwaad – vers 30.

Wat my vandag tref, is die wyse waarop daar op ‘n diepsinnige manier oor die geestelike lewe, die wandel met God, gepraat word.  Nie net word daar oor betroubaarheid en onskuld gepraat nie (vers 6,9), maar ook oor hoe om die Here te ken op jou pad (vers 25), veral omdat Hy nie net die begin en die einde daarvan bepaal nie (vers 27), maar deurgaans van alles bewus is (vers 24).

Die konteks waarbinne hierdie uitsprake geplaas word, beteken dat ‘n mens Hom in ag moet neem in jou gedrag (vers 11), jou passie vir werk (vers 4,13), jou verhouding met jou ouers (vers 20), jou eerlikheid in besigheid (vers 10,14,15,16,17,23), jou oorleg in beplanning (vers 5,18), en in jou sosiale lewe (vers 1,19).  Selfs in jou hantering van onreg, moet jy eerder op die Here vertrou as op jou eie wraakgedagtes (vers 22).

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (6)

  • Ek het ‘n navraag gekry oor my woordkeuse in vers 20: “Die Here gril vir onregverdige besigheid”. Hier is ‘n bietjie meer agtergrond: In my lees van die vers het ‘n prentjie in my kop gekom van die Here wat met afsku terugdeins van bedrog, en my woord daarvoor was toe gril! Die OAV het “dis ‘n gruwel”, die NCV het “hates” en die NIV “detests”. Die Hebreeus is to-‘a-bat wat ook met “disgusting”, en “abominable” in Engels vertaal kan word. Letterlik lees die vers só (ook in woordorde): “‘n Gruwel vir die Here (is) ‘n gewig en ‘n gewig, en ‘n skaal oneerlik/misleidend (is) nie goed nie.” Die Here hou dus nie daarvan dat jy een gewig vir een persoon gebruik, en dan weer ‘n ander gewig vir ‘n ander persoon, en hom dan inloop nie. Só ‘n oneerlike of misleidende skaal is nie goed nie! Ek wonder of afstootlik nie nog ‘n beter woordkeuse sou wees nie: “Onregverdige besigheid stoot die Here af.” Punt is, die Here hou nie van bedrog nie. Wens ek kon die hele Bybelskool op dié vlak doen! Maar dan sou ek ‘n kommentaar begin skryf!

    • Ek het sommer vir die interessantheid ook gaan kyk na wat die HAT sê oor die woord afsku. Afsku word verklaar met ‘n diepe afkeer, gevoel van weersin, walging. ‘n Mens sou dus die boodskap van vers 20 kon weergee met: “Die Here het ‘n diep weersin of afkeer in onregverdige besigheid.” Of korter gesê: “Die Here walg aan onreg in besigheid.”

  • Prediker 2 vers 10 praat van die wyse na regs en die dwaas na links? Plaas dit asseblief vir my in konteks? Ek verstaan nie…

    • Ek is nie seker na watter vers jy verwys nie. Pred 2:10 sê: “Alles wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning.” Spr 2:10 sê: “Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem, kennis sal vir jou iets aangenaams word.”

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: