Skip to main content

Spreuke 17:1-28 – Verhoudings maak saak

Hierdie hoofstuk kan nie so maklik in temas ingedeel word as hoofstuk 16 nie.  Dit lyk op die oog af na ‘n paar losstaande gedagtes.  Daarom het ek probeer om die tekste eers in my eie woorde op te som om die betekenis my eie te maak.  Daarna het ek begin om vir patrone en temas te kyk en ‘n paar tekste met mekaar te probeer verbind.  Toe het ek probeer om sin te begin maak van die geheel van die tekste.  En my verrassing was groot om in ‘n oënskynlik losstaande klomp verse ‘n diepsinnige deurlopende tema te vind.  Reg aan die einde het ek ‘n teks gekies, wat hierdie tema – verhoudings maak saak – vir my die beste uitdruk, om oor na te dink met die Lectio Divina manier.

Betekenisse

Om julle mee te neem in my manier van werk met die teks, gee ek die lysie van betekenisse weer (met die verbintenisse met ander tekste in hakies), net soos ek dit aanvanklik gemaak het:

  • Gebrek en vrede is verkieslik bo oorvloed en getwis – vers 1 (vgl vers 14,19).
  • Wysheid maak selfs slawe deel van die familie – vers 2 (vgl vers 6,21,25).
  • God toets die gesindheid (harte) soos silwer en goud gelouter word – vers 3.
  • Jou ingesteldheid bepaal waarna jy luister.  Waarna jy luister wys wat jou ingesteldheid is – vers 4.
  • Jou perspektief oor arm mense en ongelukvoëls sê ten diepste wat jy van God dink – vers 5.
  • Familielede wil graag trots wees op mekaar – vers 6 (vgl vers 2,21,25).
  • Jou statuur bepaal wat mense by jou soek – vers 7.
  • Omkoopgeskenke het towerkrag – vers 8 (vgl vers 23).
  • Jou houding teenoor mense bepaal hoe jy hulle foute gaan hanteer.  Dié met wie jy goeie verhoudinge wil handhaaf, se foute sien jy oor.  Dié wat jy wil bykom, se foute haal jy aanmekaar op – vers 9.
  • Verstandige mense is meer sensitief vir dreigemente as dwase – vers 10.
  • Die kwaad van ‘n slegte mens haal hom in – vers 11 (vgl vers 13).
  • ‘n Dwaas se sotheid is wreed en gewelddadig – vers 12.
  • Selfs jou huis ly daaronder wanneer jy goed met kwaad vergeld – vers 13 (vgl vers 11).
  • Staak getwis voor dit jou meesleur soos ‘n damwal wat breek – vers 14 (vgl vers 1,19).
  • God hou nie van onreg in die regspraak nie – vers 15.
  • ‘n Dwaas kan nie wysheid bekom nie, selfs al probeer hy daarvoor betaal – vers 16.
  • Jy kan op vriende se liefde staatmaak. Familie staan jou by in nood – vers 17.
  • Borgstaan vir skuld is dom – vers 18.
  • As jy aanstoot wil gee, soek jy rusie.  As jy jouself verhef bo ander, gaan jy seerkry – vers 19.
  • Valsheid vernietig voorspoed – vers 20.
  • ‘n Dwase en ongemanierde kind bring hartseer vir ‘n ouer.  Dit suig die vreugde uit jou lewe uit – vers 21 (vgl vers 2,6,25).
  • Vrolikheid maak gesond en omgekeerd –  vers 22.
  • Omkoopgeskenke is goddeloos en onregverdig.  Dit dwarsboom die regstelsel – vers 23 (vlg vers 8).
  • ‘n Soeke na wysheid bring doelgerigtheid – vers 24.
  • ‘n Onverstandige kind is vir sy ouers ‘n ergernis en bitter verdriet – vers 25 (vgl vers 2,6,21).
  • Selfs ‘n ligte straf vir ‘n onskuldige (boete) en ‘n onvanpaste straf vir ‘n mens in aansien (lyfstraf), is onregverdig – vers 26.
  • Wyse mense loop nie te koop met hulle kennis nie, en bly kalm – vers 27 (vgl vers 28).
  •  Stilbly kan selfs ‘n dwaas na ‘n wyse laat lyk – vers 28 (vgl vers 27).

Patrone en temas

Let op die tekste waar ek gemerk het dat dit aspekte van dieselfde saak aanraak :

  • Twis en rusie – vers 1,14,19.
  • Familiewees – vers 2,6,21,25.
  • Omkoopgeskenke – vers 8,23.
  • Onregverdige vergelding – vers 11,13.
  • Stilbly en kalmte – vers 27,28.

Geheelbeeld: Spreuke 17 gaan oor verhoudings

Wat ek raaksien, as ‘n mens al die tekste oorhoofs probeer beskou, is dat dit alles oor verhoudings gaan en die wyse waarop jy met ander omgaan.

  • Familieverhoudings (vers 2,6,21,25),
  • Gesinsverhoudings (vers 2,6,17,21,25),
  • Huweliksverhoudings (vers 1),
  • Werksverhoudings (vers 2),
  • Regsverhoudings (vers 8,15,18,20,23,26),
  • Vriendskapverhoudings (vers 9,17),
  • Gemeenskapsverhoudings (vers 5,7,11,12,13,16,19,24,27,28)
  • sowel as jou verhouding met jouself (vers 22).

Hoewel ek by gemeenskapsverhoudings eintlik alle tekste geplaas het wat nie in ‘n ander kategorie gepas het nie, gee ‘n opsomming van die onderskeie houdings wat dié tekste aanbeveel teenoor die gemeenskap ‘n navolgenswaardige voorbeeld:

  • Die volgende houdings getuig van wysheid in die gemeenskap: respek (5), waarheid praat (7), doelgerigtheid (24), kalmte (27) en stilbly (28).
  • Die volgende houdings getuig van die teendeel in die gemeenskap: kwaadwilligheid (11,13), sotlikheid (12), dwaasheid (16), rusiemaak (19), en doelloosheid (24).

Dit beteken vir my dat vers 3 eintlik ‘n kernvers in die gedeelte is: “dit is die Here wat die gesindheid (harte/gedagtes) toets” omdat ’n mens se ingesteldheid en houding teenoor ander die deurslag gee in jou verhoudinge met ander mense.  Hy sien raak hoe jy dink oor ander (arm mense – vers 5; mense oor wie jy die mag het om hulle skuldig of onskuldig te verklaar – vers 15) en het ’n afsku as dit nie met respek en regverdigheid is nie.

Daar is ook ‘n skerp kontras tussen stilbly en kalm bly (vers 27-28) aan die een kant en getwis en rusiemaak (vers 1,14,19) aan die ander kant, wat natuurlik ook ‘n gemeenskap kan maak of breek.  Interessant genoeg begin die gedeelte met die spreuk oor ‘n getwis en eindig met die spreuk oor stilbly.  ‘n Mens sou die gedeelte dus kon saamvat met ‘n titel soos: Kies Kalmte bo Konflik!  Só word ‘n gemeenskap immers gebou.

Maar die klem op verhoudings het my uiteindelik uitgebring by die titel van hierdie hoofstuk:  Verhoudings maak saak.

Lectio Divina

Daarom het ek vers 3 gekies om oor na te dink, spesifiek hoe my ingesteldheid teenoor ander my verhoudings met hulle raak – en nog dieper wat die Here van my ingesteldheid dink – omdat dit só sentraal vir my geword het in my lees van hierdie hoofstuk.

En hoewel ek nou nie op die detail daarvan wil ingaan nie, kon ek my ontsteltenis oor sekere konflikte in my omgewing tot rus bring, omdat die Here my gehelp verstaan het in my nadenke, dat dié dinge alles met ‘n gebrek aan goeie verhoudings te make het.  En kon ek die Here vertrou om my te help om mee te werk om die konflikte met wysheid te hanteer, spesifiek om op goeie verhoudinge te fokus.  ‘n Mens – ek – is só geneig om met wrewel of woede te reageer, wat nie wys is nie!  Kalmte, respek, doelgerigte verhoudingsbou – dít is die antwoord!

Dít is hoe die Here praat deur Sy Woord!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.