Spreuke 30:1-33 – God is daar vir dié wat by Hom skuil!

30:1-14 – God is daar vir dié wat by Hom skuil

Dit is interessant om te let op die ooreenkomste van vers 4 met Jesaja 40:12-14 en dele van Job 38 waar oor die misterie van God se skeppingshandelinge gepraat word.  Lees dit gerus.

Belydenis

Agur probeer die onmeetlike onderskeid tussen hom en God uitdruk in vers 2-3 deurdat hy in sy eie oë selfs minder as ‘n dier weet, as dit by sy kennis van God kom (30:2-3).

Die onmeetlikheid van die heelal, die onbeheerbare karakter van die wind en die weer, en die kompleksiteit van die wisselwerking tussen die vastelande en die oseane bring Agur onder die besef van God se grootsheid (30:4).

Tóg, dié God (Eloah is die naam vir God wat hy hier gebruik, soos in Job), is daar vir almal wat by Hom skuil (30:5).  Hy beskerm hulle, en elke belofte van God is (vir hulle) betroubaar.  Voorwaar ‘n woord wat op jou spieël in die badkamer geskrywe moet word, sodat jy jouself hieraan kan herinner as jy in die oggend opstaan en dit die laaste ding kan wees wat jy sien voor jy gaan slaap.

Dit is waarom jy niks moet probeer byvoeg by wat Hy gesê het nie.  Nie net is dit onnodig nie, maar gevaarlik – 30:6.

Gebed

Dié belydenis van Agur gaan naatloos oor in ‘n gebed waarin God vir twee dinge gevra word:

  1. om hom te help om altyd die waarheid te praat – 30:8a;
  2. om hom net genoeg te gee om van te leef – 30:8b-9.

Dit is die probleem van armoede EN rykdom, dat jy óf kan steel om aan die lewe te bly en só God se wet oortree, óf dat jy te veel het en dink dat jy God nie meer nodig het nie en só Hom verloën en nie meer in jou lewe erken nie.

Dit is ‘n gebed wat ek dink elkeen van ons elke dag van ons lewe moet bid!

Riglyne vir die lewe

Vers 10 is moeilik om te verstaan, maar dra ‘n eenvoudige boodskap: moenie skinder nie.

Vers 11-14 beskryf die ontstellende waarheid dat onreg, hoogmoed, eiewaan, wreedheid en hebsug in opvolgende geslagte vermeerder.  Die Hebreeus wat hier in elke vers met  “’n soort mens” vertaal word, dui eintlik op ‘n generasie, en word 4 keer na mekaar aan die begin van die verse gebruik om die negatiewe effek van ‘n opeenstapeling van onreg deur generasies  heen probeer verwoord:

  1. ‘n gebrek aan ouerliefde (30:11 – vs vyfde gebod) lei tot
  2. ‘n gebrek aan sondebesef (30:12) wat lei tot
  3. eiegeregtigheid (30:13) en wat uiteindelik lei tot
  4. die mees afgryslike koelbloedige en hartelose gedrag (30:14).

Dit laat ‘n mens terugdink aan die vermaning van die Here in die Tien Gebooie dat Hy onverdeelde trou aan Hom verwag.  Waar dit nie gebeur nie, het dit ‘n effek op opeenvolgende geslagte: “tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat” – Eks 20:5.   Gelukkig is die teenoorgestelde effek nog méér waar: “tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en My gebooie gehoorsaam.” – Eks 20:6.

30:15-33 – die tragedies en inspirasies van die lewe

Hier is agt waarnemings oor die beloop van die lewe, waarvan vyf numeriese spreuke is (1,3,5,6,7).  Dit is meesal waarnemings oor tragedies (1,2,4,5,8) maar darem ook ‘n paar waarnemings oor inspirasies (3,6,7).  Ek noem dit (‘n bietjie spitsvondig!):

  1. die tragedie van onvervulde begeertes,
  2. die wreedheid van oneerbiedigheid teenoor ouers,
  3. die misterie van onverklaarbaarhede,
  4. die afstootlikheid van ontrouheid,
  5. die ondraaglikheid van ongemanierdheid,
  6. die potensiaal wat in oënskynlike onbeduidendheid opgesluit lê
  7. die statigheid van onbedreigdheid en
  8. die waarskuwing teen die onafwendbare gevolge van verwaandheid en slegte bedoelings.

Die tragedie van onvervulde begeertes – 30:15-16

Vier tragedies word hier opgestapel, die een so erg soos die ander.  Dit is die tragedie van die dood, van kinderloosheid, van ‘n droogte en van ‘n onbeheersde brand.  Die gemene deler is dat die behoefte nooit ophou nie, en nooit volledig bevredig kan word nie.

Die wreedheid van oneerbiedigheid teenoor ouers – 30:17

Die wreedheid van ‘n man wat spot met sy pa, en om te luister na sy ma as benede sy waardigheid beskou sal net getroef word deur die tipe wrede einde wat vir hom voorspel word: sy oneerbiedige oë sal deur kraaie uitgepik word, en deur roofvoëls opgevreet word.  Kragtige metafore wat die totale weersin en minagting vir só ‘n manier van lewe uitdruk.

Die misterie van onverklaarbaarhede – 30:18-19

Agur is ook verwonderd oor die onverklaarbaarhede van alledaagse dinge van sy tyd.  Hy verwys na vier goed wat waarskynlik met die vier klassieke natuurelemente van lug, aarde, water en vuur (liefde) verbind kan word en spel dit uit as sy verwondering oor: die aërodinamika van voëls, die golwing van slangbewegings, die flotasie van skepe, en die hormone van mense.

Hy vra natuurlik nie regtig vir ‘n verklaring nie, al sou hy met die kennis van daardie tyd in elk geval moontlik daarmee gesukkel het.  Hy probeer eintlik sy verwondering uitdruk dat dié goed so wonderlik werk, sonder dat hy dit noodwendig kan verklaar.  En sou ‘n mens kon byvoeg, sonder dat ‘n verklaring die waarde van sy waarneming of die wonder daarvan sou verdiep.

Waar ons vandag die eerste drie voorbeelde kan verklaar, bly die vierde natuurlik steeds ‘n misterie.  En ons kan net goed doen om verby ons verklarings te beweeg om weer die wonder van die natuur en die verwondering daaroor te herontdek.  Verklarings het die manier om jou verwondering te beperk, en jou die bewussyn van die misterie van die lewe te laat verloor.

Die afstootlikheid van ontrouheid – 30:20

Teenoor dié verwondering vir misterie is daar die veragting vir ontrouheid tussen geliefdes, veral waar dit ontken word en soort van as ‘n alledaagse onbenulligheid hanteer word.  Dit bly vir my verstommend dat ons in ‘n tyd waar ons só baie weet, en só baie kan verklaar, nie met meer passie getrou bly aan mekaar, en die liefde bo alles beskerm nie.

Die ondraaglikheid van ongemanierdheid – 30:21-23

Die lewe word regtig ondraaglik gemaak deur vier tipe mense wat ‘n onverwagse geluk smaak, maar dit nie met grasie kan hanteer nie.  Hulle maniere laat hulle in die steek:

  1. ‘n slaaf wat koning word en die mag in die hande kry;
  2. ‘n ongemanierde sot wat hom onverwags vol geëet het;
  3. ‘n oujongnooi wat onverwags getroud kom;
  4. ‘n slavin wat trou met haar baas.

Die potensiaal wat in oënskynlike onbeduidendheid opgesluit lê – 30:24-28

Daarteenoor is daar vier tipe diere (!) wat oënskynlik onbeduidend lyk, maar groot potensiaal het en dit boonop verwesenlik.  Die kontras met die vorige spreuk en die ooreenkoms met die volgende een verhoog die krag hiervan:

  1. Miere wat vir die toekoms voorsien;
  2. Dassies wat veilig teen die kranse woon;
  3. Sprinkane wat sonder ‘n leier in formasie kan vlieg;
  4. Geitjies wat hulle selfs in ‘n koning se paleis tuis maak.

Martin (Zondervan) wys daarop dat dié vier voorbeelde wys dat grootte en krag nie alles is nie.  En dat dié vier diere as metafore optree vir die praktiese wysheid en waarheid van voorsorg, sekuriteit, dissipline, en deursettingsvermoë.

Die inspirasie van onbedreigdheid – 30:29-31

Die diere inspireer jou alreeds met hulle onopsigtelike vermoëns.  Hoeveel te meer nie die volgende drie statige en onbedreigde diere, met die vierde darem ‘n mens, die koning, hoewel hy sy leër daarvoor nodig het:

  1. ‘n Leeu stuit vir niks;
  2. ‘n Spoghaan dieselfde;
  3. ‘n Bokram net so;
  4. ‘n Koning met sy leër by hom.

Dit is implisiete kritiek op verwaandheid, wat in die volgende spreuk uitgespel word.

Die waarskuwing teen die onafwendbare gevolge van verwaandheid en slegte bedoelings – 30:32-33

Die duidelike boodskap van al die waarnemings oor die lewe, is dat hoogmoed en verwaandheid net eenvoudig dwaas is, en dat ‘n mens onafwendbaar die gevolge daarvan sal moet dra – as jy melk karring, kom daar botter; as jy iemand op die neus slaan, kom daar bloed uit; as jy mense kwaad maak (met jou hoogmoed), kom daar rusie.

Wat ‘n kragtoer van ‘n groot wyse: Agur!

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: