Skip to main content

Die woorde van die wyses – I

Daar is 2 bundels van die gesegdes van die wyses in die boek opgeneem (22:17-24:22; 24:23-34).  Die eerste bundel het ‘n inleiding (22:17-21) en dan tussen 26 en 30 spreuke van wisselende lengte, afhangende van hoe jy die spreuke indeel.  Die tweede bundel is ‘n kort addendum tot die eerste een met ‘n inleiding (24:23) en 5 spreuke.

Die eerste bundel van die gesegdes van die wyses werk veral met ooreenstemmings soos ons reeds in die tweede deel van die eerste bundel spreuke van Salomo gesien het (“Moenie ‘n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie; moenie die hulpelose vertrap in die regspraak nie” – 22:22).  Die kort tweede bundel werk veral met sinteses (“Iemand wat eerlik antwoord, is ‘n ware vriend.” – 24:26).

Die woorde van die wyses is in ‘n persoonlike gesprekstyl geskrywe, amper soos die gesprek wat die pa met sy seun het in die eerste nege hoofstukke.  Dit is ook hier waar ‘n hele paar spreuke aangetref word wat ooreenstem met van die Egiptiese wysheidstradisies, spesifiek die tradisie van die Egiptiese wysheidsboek van Amenemope uit die 11de of 12de eeu v C.  Amenemope was ‘n skrifgeleerde en moenie verwar word met ‘n latere farao wat ook dié naam gehad het nie.

Trouens, ‘n mens kan 22:20 só vertaal: “Ek skryf vir jou dertig voorskrifte neer …” wat nogal sin maak in die lig van die poging van sommige om die bundel in 30 spreuke op te deel (Martin, NIV, NCV), en in die lig van die moontlikheid dat die skrywer daarmee ‘n verband met die dertig hoofstukke van die Wysheid van Amenemope wou trek.  Baie geleerdes dink selfs dat hierdie deel van Spreuke gebaseer is op die Wysheid van Amenemope.

‘n Bietjie agtergrond oor die vertaling van Spreuke 22:20

Oor die Hebreeuse teks: die Hebreeuse teks is aanvanklik net met konsonante (medeklinkers) geskryf.  ‘n Mens het die vokale “ingelees” uit jou kennis van die Hebreeuse taal.  Later is die vokale (klinkers) bygesit as kolletjies en strepies (nikkud) deur ‘n groep wat as die Masorete bekend staan.

‘n Mens kon egter foute maak met:

  • die vokalisering (kan, kon, ken, kin het immers dieselfde konsonante, maar verskillende vokale, en ‘n mens moes uit die konteks agterkom watter woord bedoel word) asook met
  • die oorskrywe van die teks (elke enkele kopie van die Bybel is met die hand oorgeskrywe[1]).

Vandaar dat daar ook ‘n sisteem van korreksies was, die sogenaamde Ketib en Qere sisteem.  Uit eerbied vir die teks het die Masorete foute in die teks nie direk verander nie, maar net in die kantlyn ‘n fout reggemaak met die sogenaamde Qere lesing (wat ‘n mens moet lees)  waarmee hulle aangedui het hoe hulle dink die Ketib lesing (wat geskryf is) verander moet word

Oor Spreuke 20:22: die Hebreeuse woord in die grondteks (Ketiv – silsôm) beteken eintlik eergister (“die dag voor gister”) wat nie sin maak nie.   In die kantlyn van die teks het die oorskrywers van die Hebreeuse teks daarom die vokale van die woord verander na offisiere of belangrike/uitnemende (Qere – salisîm), soos dit metafories in die NAV vertaal is: “Ek skryf vir jou belangrike voorskrifte neer …”.  Die Hebreeuse woord kan egter ook anders gevokaliseer word sodat die woord dertig (selosîm) kan beteken, soos dit in die NIV en NCV vertaal is en deur ‘n hele paar geleerdes voorgestel word (bv Murphy).  Beide die Qere lesing – belangrike – en die nuwere voorstel – dertig – maak sin.

Die indeling in spreuke

Die NAV deel die spreuke van die eerste bundel in 26 eenhede in wat egter vir my meer sin maak as die meer geforseerde poging om 30 spreuke in dié bundel te vind (Martin, Murphy, NIV, NCV).

  • Kyk spesifiek na 24:5-10 wat deur Martin (Zondervan Biblical Commentary) in 4 spreuke opgedeel word, en eintlik heel gemaklik as een uitgebreide spreuk verstaan kan word wat verenig is rondom die tema van wysheid op die dag van nood (oorlog).
  • Kyk ook na 24:15-18 wat deur Martin in 2 spreuke opgedeel word, maar ook gemaklik as ‘n uitgebreide spreuk verstaan kan word wat verenig is rondom die tema van die stryd tussen regverdiges en goddeloses, waarin regverdiges versigtig moet wees om nie wraakgierig op te tree nie.

Natuurlik hoef die verwysing na dertig  (as ‘n mens dié voorstel aanvaar) nie presies te wees nie, en kan dit bloot ‘n manier wees om na die Wysheid van Amenemope te verwys.  Wat vir my belangriker is, is dat dit inhoudelik meer sin maak om met 26 spreuke te werk.  Dit is dan ook hoe ek dit gaan hanteer.  Die 26 spreuke verwoord ‘n hele aantal temas uit die gesamentlike wysheid van ‘n groep wyses uit die eerste helfte van die eerste millennium v C.

Ek stel my voor dat dié groep – dit is nou as ‘n mens aanvaar dat daar so ‘n groep was, en hierdie groep wyses nie net ‘n literêre skepping was van die redakteur nie – met groot passie en plesier hierdie spreuke versamel het, gelag het oor die storie van die dronkie (23:29-35 – “Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink …”) en gehuil het oor die geweld wat sommige tref, en daar is niemand wat iets aan hulle saak wil doen nie (24:11-12 – “Ons weet daar niks van af nie …”).

Dit beteken die spreuke het met die praktyk van die lewe te make, en dit is hoe ‘n mens dit in die eerste plek moet lees.  Die spreuke is bedoel vir die lewe.  Die akademiese debat oor die korrekte teks moet uiteindelik oorgaan in ‘n lees van die teks sodat dit jou lewe kan beïnvloed en verander.  Dit moet dieselfde passie en plesier by jou ontlok as waarmee dit geskryf en versamel is.

Oor die ooreenkoms met die Egiptiese Wysheid van Amenemope

Dat daar ‘n ooreenkoms is tussen die spreuke van Amenemope en hierdie bundel van die gesegdes van die wyses is onteenseglik.  Op baie punte is daar inhoudelike en selfs woordelikse ooreenstemming.  Dat van die spreuke in hierdie bundel dus geleen het by die wysheid van Amenemope, is heel waarskynlik so.

Maar, dit beteken nie uiteindelik dat die spreuke gebaseer is op die Egiptiese wysheid nie.  Daar is net te veel verskille.  Amenemope het 30 hoofstukke van sy wysheid gepubliseer, nie 30 verse nie.  Die ooreenkomste is lukraak gevat uit sy publikasie, en nie sistematies in volgorde nie.  Dit is nie byvoorbeeld ‘n soort opsomming van die Egiptiese wysheid van Amenemope nie.  Die spreuke is volledig binne die tradisies van die OT geplaas en binne die godsdiens van Israel, nie dié van Egipte nie (22:19,22; 23:11).

Belangriker nog is die feit dat die ooreenkomste daarby net in ‘n derde van die tekste in Spreuke te vind is van 22:17-23:11 (Murphy) wat beteken die bundel van die wyses in Spreuke is ‘n selfstandige werk.  Dit maak ook die pogings om 30 spreuke in die hele bundel te kry net vir akademici van belang.

Met dié mondvol … kom ons lees die spreuke om daarin die woord van die Here vir ons lewe te hoor!

 


[1] Dit was die geval tot en met die koms van die moderne boekdrukkuns.  Gedurende die 11de-15de eeu nC was daar in China en Korea alreeds beduidende ontwikkelinge in dié verband.  Vir ons beter bekend, was die ontwikkelinge in Duitsland waar in 1455 die eerste Gutenberg Bybel gedruk is.  Dit het ‘n bepalende rol gespeel in die Renaissance en die Hervorming van die 16de eeu en verder.  Dit het ook die stimulus verskaf vir die verspreiding van die Duitse vertaling van die NT deur Maarten Luther in 1522 wat ‘n geweldige rol in die impak van die Hervorming gespeel het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.