Die woorde van die wyses – I
Die eerste bundel van die gesegdes van die wyses werk veral met ooreenstemmings soos ons reeds in die tweede deel van die eerste bundel spreuke van Salomo gesien het (“Moenie ‘n arm mens te kort doen omdat hy arm is nie; moenie die hulpelose vertrap in die regspraak nie” – 22:22). Die kort tweede bundel werk veral met sinteses (“Iemand wat eerlik antwoord, is ‘n ware vriend.” – 24:26).
Die woorde van die wyses is in ‘n persoonlike gesprekstyl geskrywe, amper soos die gesprek wat die pa met sy seun het in die eerste nege hoofstukke. Dit is ook hier waar ‘n hele paar spreuke aangetref word wat ooreenstem met van die Egiptiese wysheidstradisies, spesifiek die tradisie van die Egiptiese wysheidsboek van Amenemope uit die 11de of 12de eeu v C. Amenemope was ‘n skrifgeleerde en moenie verwar word met ‘n latere farao wat ook dié naam gehad het nie.
Trouens, ‘n mens kan 22:20 só vertaal: “Ek skryf vir jou dertig voorskrifte neer …” wat nogal sin maak in die lig van die poging van sommige om die bundel in 30 spreuke op te deel (Martin, NIV, NCV), en in die lig van die moontlikheid dat die skrywer daarmee ‘n verband met die dertig hoofstukke van die Wysheid van Amenemope wou trek. Baie geleerdes dink selfs dat hierdie deel van Spreuke gebaseer is op die Wysheid van Amenemope.
‘n Bietjie agtergrond oor die vertaling van Spreuke 22:20
Oor die Hebreeuse teks: die Hebreeuse teks is aanvanklik net met konsonante (medeklinkers) geskryf. ‘n Mens het die vokale “ingelees” uit jou kennis van die Hebreeuse taal. Later is die vokale (klinkers) bygesit as kolletjies en strepies (nikkud) deur ‘n groep wat as die Masorete bekend staan.
‘n Mens kon egter foute maak met:
- die vokalisering (kan, kon, ken, kin het immers dieselfde konsonante, maar verskillende vokale, en ‘n mens moes uit die konteks agterkom watter woord bedoel word) asook met
- die oorskrywe van die teks (elke enkele kopie van die Bybel is met die hand oorgeskrywe[1]).
Vandaar dat daar ook ‘n sisteem van korreksies was, die sogenaamde Ketib en Qere sisteem. Uit eerbied vir die teks het die Masorete foute in die teks nie direk verander nie, maar net in die kantlyn ‘n fout reggemaak met die sogenaamde Qere lesing (wat ‘n mens moet lees) waarmee hulle aangedui het hoe hulle dink die Ketib lesing (wat geskryf is) verander moet word
Oor Spreuke 20:22: die Hebreeuse woord in die grondteks (Ketiv – silsôm) beteken eintlik eergister (“die dag voor gister”) wat nie sin maak nie. In die kantlyn van die teks het die oorskrywers van die Hebreeuse teks daarom die vokale van die woord verander na offisiere of belangrike/uitnemende (Qere – salisîm), soos dit metafories in die NAV vertaal is: “Ek skryf vir jou belangrike voorskrifte neer …”. Die Hebreeuse woord kan egter ook anders gevokaliseer word sodat die woord dertig (selosîm) kan beteken, soos dit in die NIV en NCV vertaal is en deur ‘n hele paar geleerdes voorgestel word (bv Murphy). Beide die Qere lesing – belangrike – en die nuwere voorstel – dertig – maak sin.
Die indeling in spreuke
Die NAV deel die spreuke van die eerste bundel in 26 eenhede in wat egter vir my meer sin maak as die meer geforseerde poging om 30 spreuke in dié bundel te vind (Martin, Murphy, NIV, NCV).
- Kyk spesifiek na 24:5-10 wat deur Martin (Zondervan Biblical Commentary) in 4 spreuke opgedeel word, en eintlik heel gemaklik as een uitgebreide spreuk verstaan kan word wat verenig is rondom die tema van wysheid op die dag van nood (oorlog).
- Kyk ook na 24:15-18 wat deur Martin in 2 spreuke opgedeel word, maar ook gemaklik as ‘n uitgebreide spreuk verstaan kan word wat verenig is rondom die tema van die stryd tussen regverdiges en goddeloses, waarin regverdiges versigtig moet wees om nie wraakgierig op te tree nie.
Natuurlik hoef die verwysing na dertig (as ‘n mens dié voorstel aanvaar) nie presies te wees nie, en kan dit bloot ‘n manier wees om na die Wysheid van Amenemope te verwys. Wat vir my belangriker is, is dat dit inhoudelik meer sin maak om met 26 spreuke te werk. Dit is dan ook hoe ek dit gaan hanteer. Die 26 spreuke verwoord ‘n hele aantal temas uit die gesamentlike wysheid van ‘n groep wyses uit die eerste helfte van die eerste millennium v C.
Ek stel my voor dat dié groep – dit is nou as ‘n mens aanvaar dat daar so ‘n groep was, en hierdie groep wyses nie net ‘n literêre skepping was van die redakteur nie – met groot passie en plesier hierdie spreuke versamel het, gelag het oor die storie van die dronkie (23:29-35 – “Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink …”) en gehuil het oor die geweld wat sommige tref, en daar is niemand wat iets aan hulle saak wil doen nie (24:11-12 – “Ons weet daar niks van af nie …”).
Dit beteken die spreuke het met die praktyk van die lewe te make, en dit is hoe ‘n mens dit in die eerste plek moet lees. Die spreuke is bedoel vir die lewe. Die akademiese debat oor die korrekte teks moet uiteindelik oorgaan in ‘n lees van die teks sodat dit jou lewe kan beïnvloed en verander. Dit moet dieselfde passie en plesier by jou ontlok as waarmee dit geskryf en versamel is.
Oor die ooreenkoms met die Egiptiese Wysheid van Amenemope
Dat daar ‘n ooreenkoms is tussen die spreuke van Amenemope en hierdie bundel van die gesegdes van die wyses is onteenseglik. Op baie punte is daar inhoudelike en selfs woordelikse ooreenstemming. Dat van die spreuke in hierdie bundel dus geleen het by die wysheid van Amenemope, is heel waarskynlik so.
Maar, dit beteken nie uiteindelik dat die spreuke gebaseer is op die Egiptiese wysheid nie. Daar is net te veel verskille. Amenemope het 30 hoofstukke van sy wysheid gepubliseer, nie 30 verse nie. Die ooreenkomste is lukraak gevat uit sy publikasie, en nie sistematies in volgorde nie. Dit is nie byvoorbeeld ‘n soort opsomming van die Egiptiese wysheid van Amenemope nie. Die spreuke is volledig binne die tradisies van die OT geplaas en binne die godsdiens van Israel, nie dié van Egipte nie (22:19,22; 23:11).
Belangriker nog is die feit dat die ooreenkomste daarby net in ‘n derde van die tekste in Spreuke te vind is van 22:17-23:11 (Murphy) wat beteken die bundel van die wyses in Spreuke is ‘n selfstandige werk. Dit maak ook die pogings om 30 spreuke in die hele bundel te kry net vir akademici van belang.
Met dié mondvol … kom ons lees die spreuke om daarin die woord van die Here vir ons lewe te hoor!
[1] Dit was die geval tot en met die koms van die moderne boekdrukkuns. Gedurende die 11de-15de eeu nC was daar in China en Korea alreeds beduidende ontwikkelinge in dié verband. Vir ons beter bekend, was die ontwikkelinge in Duitsland waar in 1455 die eerste Gutenberg Bybel gedruk is. Dit het ‘n bepalende rol gespeel in die Renaissance en die Hervorming van die 16de eeu en verder. Dit het ook die stimulus verskaf vir die verspreiding van die Duitse vertaling van die NT deur Maarten Luther in 1522 wat ‘n geweldige rol in die impak van die Hervorming gespeel het.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Spreuke - May 16, 2012
- Spreuke – slagspreuke vir die lewe - July 17, 2012
- Spreuke – Inleiding - July 25, 2012
- Spreuke 1:1-33 – Begin met God - July 26, 2012
- Spreuke 2:1-22 – Soek wysheid met gespitse ore - July 27, 2012
- Spreuke 3:1-35 – Vertrou God en ken Hom in alles - July 30, 2012
- Spreuke 4:1-27 – Baken jou koers af - July 31, 2012
- Spreuke 5:1-23 – Bly weg van hartelose verhoudings - August 1, 2012
- Spreuke 6:1-19 – Leef met oorleg - August 2, 2012
- Spreuke 6:20-7:27 – Pasop vir owerspel - August 3, 2012
- Spreuke 8:1-36 – Die Wysheid laat jou regtig leef - August 6, 2012
- Spreuke 9:1-18 – Kies die pad van insig as lewenshouding - August 7, 2012
- Die spreuke van Salomo – Bundel I - August 8, 2012
- Spreuke 10:1-32 – God sorg vir die opregtes
- Spreuke 11:1-31 – Die gemeenskap floreer met die regte waardes en lewenstyl - August 9, 2012
- Spreuke 12:1-28 – Leerbaarheid getuig van wysheid - August 10, 2012
- Spreuke 13:1-25 – Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde - August 13, 2012
- Spreuke 14:1-35 – Soos God vir ons ‘n toevlug is, so skep ons integriteit veilige ruimtes vir ander - August 14, 2012
- Spreuke 15:1-33 – Woorde maak saak; God maak saak - August 15, 2012
- Spreuke 16:1-33 – Die mens wik, maar God beskik - August 16, 2012
- Spreuke 17:1-28 – Verhoudings maak saak - August 17, 2012
- Spreuke 18:1-24 – Kommunikasie maak saak - August 20, 2012
- Spreuke 19:1-29 – Integriteit in alles - August 21, 2012
- Spreuke 20:1-30 – Erken God in alles - August 22, 2012
- Spreuke 21:1-31 – God se geregtigheid motiveer ons tot goeie verhoudinge - August 23, 2012
- Spreuke 22:1-16 – Die invloed van rykdom en armoede op verhoudings - August 24, 2012
- Die woorde van die wyses – I - August 27, 2012
- Spreuke 22:17-29 – Wysheid leer jou om God te vertrou
- Spreuke 23:1-35 – Werk aan jou netwerk van verhoudings - August 28, 2012
- Spreuke 24:1-22 – Oorwin die kwaad met die goeie - August 29, 2012
- Nog woorde van die wyses – II - August 30, 2012
- Spreuke 24:23-34 – Prioriteite bepaal alles
- Die spreuke van Salomo – II - August 31, 2012
- Spreuke 25:1-28 – Dink voordat jy doen
- Spreuke 26:1-28 – Dwaasheid ken geen perke nie - September 3, 2012
- Spreuke 27:1-27 – Wees verstandig in beplanning en die uitvoering daarvan - September 4, 2012
- Spreuke 28:1-28 – Vra na die wil van die Here en jy sal tussen reg en verkeerd kan onderskei - September 5, 2012
- Spreuke 29:1-27 – Regverdigheid skep ‘n veilige ruimte vir almal - September 6, 2012
- Die uitsprake van Agur - September 7, 2012
- Spreuke 30:1-33 – God is daar vir dié wat by Hom skuil!
- Die woorde van Lemuel - September 10, 2012
- Spreuke 31:1-31 – Wyse woorde van en oor ‘n knap vrou
- Spreuke – Lees, luister, leef – ePub - October 20, 2012
- Tien lewenslesse uit Spreuke - June 12, 2018
- ‘n Bybelse perspektief op lyfstraf - April 21, 2020
- Spreuke – eenjaarleesplan op YouVersion se Bybeltoep - December 13, 2022