Skip to main content

Spreuke 15:1-33 – Woorde maak saak; God maak saak

Ons kom in hoofstuk 15-16 waarskynlik by ‘n teologiese dieptepunt in die boek Spreuke.  Nie net word die naam van die Here hier meer kere gebruik nie (20 keer uit die 111 keer wat die Here se persoonsnaam in Spreuke gebruik word)[1] maar die temas het ook spesifiek met God se teenwoordigheid en betrokkenheid in ons lewens te make.

Terloops: skaf vir jou ‘n gratis Bybelprogram aan vir jou rekenaar of selfoon, om sulke navorsing makliker self te kan doen: e-Sword (e-sword.net), Netbible (bible.org/netbible), Online Bible (onlinebible.org), of Youversion (youversion.com).  Die meeste van hulle het toepassings (toeps of applications) vir jou selfoon of tablet en verskeie vertalings, onder andere ook Afrikaans.  Daar is ook sulke sagteware teen betaling beskikbaar, bv Logos Bible Software (logos.com), en Vyrso (vyrso.com) wat die moontlikheid van soekfunksies in ander boeke in jou biblioteek insluit.

Daar is in hierdie gedeelte 2 goue drade wat die onderskeie tekste op ‘n manier aan mekaar verbind: 1) woorde maak saak en 2) God maak saak.  Dit is dan ook twee van die goed waarop ‘n mens in jou lewe moet fokus: wat en hoe jy dinge sê, en met Wie jy rekening hou.

Woorde maak saak

Woorde het ‘n ongelooflike impak op mense. Dit kan mense bou of dit kan hulle breek: “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede ontvlam” (15:1).  Wyse woorde maak kennis begeerlik, terwyl dwase woorde onsinnig is – “fools are leaky faucets, dripping nonsense” (Peterson) (15:2). “Kalmerende woorde bring lewe, skynheilige woorde breek mense” (15:4).  “Wyse mense versprei kennis met wat hulle sê” (15:7).  Hulle diepsinnige greep op wat regtig belangrik is, verlig ander mense se begrip met die regte soort kennis.

En hierdie fokus op woorde bly ’n life-long journey: “’n Verstandige (intelligente) mens is op soek na kennis” (15:14) en dink eers na daaroor voor hy of sy dit met ander deel (15:28).  Dit is in wese wat regverdigheid en billikheid beteken, om eers na te dink oor wat regtig aan die gang is, voordat in gesprek getree word.

Want, na alles, “wat is beter as die regte woord op die regte tyd?” (15:23) as dit uit diep nadenke kom!  Dit is nie net vir jouself ’n vreugde nie, maar vir almal wat jou aanhoor.  Hierdie wysheid van Spreuke oor woorde en die betekenis wat dit aan mense se lewens gee, is ’n universele waarheid, wat geëggo word oor die hele wêreld, in al sy diverse verskeidenheid kontekste.  ’n Goeie tyding verkwik ’n mens byvoorbeeld (15:30) en dit is van almal van ons waar.

Mense wat ag slaan op woorde en die betekenis wat dit oordra, word self wys, al is woorde soms ook teregwysinge (15:32) en beteken dit dat jy nederig genoeg moet wees om geleer te word, voor die eer van ’n wyse lewe jou deel word (15:33).  Dit is juis in beraadslaging waarin van verskillende kante af geluister word na ’n saak, wat die planne wat ons maak suksesvol kan wees (15:22).

Trouens ons woorde maak ten diepste vir God saak, ons woorde aan mekaar, EN ons woorde aan Hom!  Let op hoe Spreuke sê: “aangename woorde is vir Hom aanneemlik” (15:26) waar veral gedink word aan ons woorde in gesprek met mekaar!  Ons woorde aan mekaar maak vir God saak.  Maar ook ons woorde wat aan God gerig is, maak vir Hom saak.  Daarom lê Spreuke ook klem daarop dat God die gebede van opregtes en regverdiges aanvaar en hoor (15:8,29).  Wat ’n belofte!

God maak saak

Maar Spreuke is ook baie bewus van God se alomteenwoordigheid, wat hier onder andere uitgespel word as sy alsiendheid.   “Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop” (15:3).  Peterson gee daarom vers 1-11 die opskrif: God Doesn’t Miss a Thing.  Inderdaad!

Dit sal goed wees om vir jou ‘n prentjie te trek van wat alles van God gesê word in hierdie 2 hoofstukke. Uiteraard is dit net ‘n gedeeltelike prentjie, maar nietemin ‘n inspirerende een:

  • God is alsiende en hou alle mense, goed en sleg, dop (15:3).
  • God luister na die gebede van opregtes, maar verafsku die offers en lewens van goddeloses (15:8-9, 29).  Wanneer Hy met jou tevrede is, laat Hy selfs jou vyande in vrede met jou lewe (16:7).
  • Alle mense se gedagtewêreld is vir God oop en bloot (15:11).
  • God beskerm weduwees (15:25) en gee voorspoed vir dié wat ag gee op sy woorde (16:20).
  • God hou van aangename woorde (15:26).
  • God bepaal wat in jou lewe gebeur – die laaste woord daaroor kom van die Here af (16:1,9,33).  Dit sluit in dat Hy jou hart en gesindheid ondersoek (16:2) en dat jy Hom daarin moet ken (16:3).
  • Die Here het alles met ‘n doel gemaak, selfs die goddelose kry ‘n rol in sy plan (16:4).
  • Die Here hou nie van verwaande mense nie (16:5).
  • God bepaal die norme en maatstawwe van die reg (16:11), wat nie net só in die Joodse tydvak was vir die volk nie, maar steeds ‘n groot impak het in die regstelsel van vandag.

Ekskursus: Die Godsbeeld van Spreuke

Ek het om ‘n breër prentjie te kry, al die verse in Spreuke waarin God se naam voorkom, nagegaan om agter te kom wat die Godsbeeld is waarmee Spreuke werk.  Dit is natuurlik nie akademies verantwoord nie, en my ordening kan fyner en korter gedoen word.  Maar hier is ‘n sinopsis van wat ek in Spreuke oor God gelees het:

  • God word as Skepper geteken, wat twee goed beteken.
    • Aan die een kant is die hemel en aarde Sy handewerk en kan iets van Sy wysheid en insig daarin gesien word (3:19; 8:26).  Dit is wat Psalm 19 ook op ‘n liriese wyse sê.
    • Aan die ander kant beteken dit dat elke mens God-waardig is (14:31).  Ryk en arm is voor Hom gelyk (22:2).  Dit is waarom deernis met en ontferming oor arm mense so geloof word.  Jy bewys daarmee dat jy God eer.  Om die waarheid te sê, deur aan ‘n arm mens iets te gee, is ‘n lening aan die Here, wat Hy sal vereffen (19:17).
  • God is regverdig, sien wat in goddeloses se huise en harte aangaan, en bring hulle tot ‘n val (21:12).  Hy bepaal selfs die norme van die regspraak (16:11).
  • God ken ons lewe (=weë) (5:21) en selfs ons gedagtes (=hart) (17:3; 20:27; 24:11-12).   Die Here sien oral (15:3,11).  Daar is niks vir Hom verborge nie, en Hy tree daarmee in gesprek en handel daarvolgens.
    • Aan die een kant beteken dit dat  ons versigtig moet wees vir die verkeerde dinge, veral die afdraaipaaie in die lewe, gesimboliseer deur die vreemde vrou (5:20).  Dit is dwaas en bring jou onvermydelik by vernietiging uit.
    • Aan die ander kant moet ons nie dink dat niksdoen ons sal verskoon nie.  Hy vergeld ons ook wanneer ons nie betrokke raak by hierdie lewe nie, onder andere by die lotgevalle van dié wat weerloos verneder en vernietig word (24:11-12).  Let op dat dit nie oor ‘n koue logiese oordeel van God gaan oor wat ons reg of verkeerd doen nie, maar oor of ons ‘n hart vir ander het, presies dít wat Jesus in die profetiese rede in Matteus 25 sê, die koninkryk is vir dié wat deernis met ander het.  Hierdie is groot en diepsinnige gedagtes!
  • God is duidelik waarvan Hy hou – onberispelike mense (11:20), goeie mense (12:2), mense wat Hom gehoorsaam en sy wil doen (15:9).  Die Here gee wysheid vir sy mense (2:6) en straf (dissiplineer) hulle (3:11-12).
  • God is duidelik waarvan Hy nie hou nie – hoogmoed, leuens, moord, komplotte, kwaaddoen, rusiemaak (6:16), en skelmgeid (11:1).  Daarom kan Hy van ons vra dat ons dit ook haat (8:13).
  • God het wysheid gemaak om ons te begelei, reeds van die skepping af (8:22).
  • God bepaal ons lewenskoers (3:6; 4:26-27; 16:1-9, 33; 19:21; 20:24).  Dit sluit nie ons beplanning uit nie, maar in.  Dit sluit ook die lewens van konings in (21:1).
  • God is in die gewone lewe betrokke (3:4).  Hy bewys sy guns op vele maniere aan dié wat liefde en trou betoon, wat opreg is (8:35; 11:20; 14:9).  En Hy sorg dat die regte insig behoue bly, al lyk dit soms vir ons asof dit sukkel (22:12).  Daarom kan die Here vertrou word (3:5).
  • God is in die huwelik betrokke (2:17).  Dit word as ‘n verbond van Homself beskryf.  Wie ‘n lewensmaat kry, geniet die guns van die Here (18:22; 19:14).
  • God bevestig mense  wat sy wil doen (12:3).  Hy antwoord hulle gebede (15:8).
  • God neem sy mense in vertroue, dié wat reg lewe (3:32).  Dit is vir my ‘n ongelooflike prentjie van God, een wat my opgewonde maak om God met alles in my te dien.
  • God seën die huis van dié wat aan Hom getrou is (3:33).  Soos met alles, is God se seën nie net bedoel vir die één wat Hy seën nie, maar vir die gemeenskap waarbinne die persoon leef, in dié geval sy familie en gesin (14:26) selfs ‘n volk (14:34).  Dit sluit selfs in dat jou vyande met jou in vrede sal lewe (16:7).  Rykdom is daarom ‘n seën van God (10:22).
  • God beloon gehoorsaamheid (10:2; 12:28).  Dit lei na die lewe.
  • God gee wat die regverdige begeer (10:24).  Dit is ‘n diep waarheid oor God, iets wat ‘n mens al by Abraham in werking sien (Gen 19), en wat baie weerklank in die Psalms gevind het (Ps 37).
  • God gee kos aan die regverdiges (10:3).  Dit gebeur in ‘n konteks van fluksheid, wat weereens die wederkerigheid van hierdie uitsprake oor God uitwys.
  • God gee gesondheid (3:7-8).  Hy verkwik jou liggaam wanneer jy vermy wat sleg is.  Daar is dus ‘n wederkerigheid daarin.  Hy red gehoorsames deur hulle kennis (11:9).  En hulle word vir ander ‘n bron van lewe (11:30).
  • God gee ‘n lang lewe aan dié wat Hom dien (10:27).  Om te doen wat die Here wil, is ‘n groot krag in die lewe van die regverdige (10:29).  Weereens wederkerigheid!
  • God beskerm sy mense wat met takt en oorleg leef (3:26).  Let weereens op hoe die lewe in wysheid en God se sorg saamwerk.  Sy Naam is ‘n veilige vesting (18:10).  Hy vra ook dat ons Hom sal vertrou met goed wat verkeerd gaan, eerder as om ons te wreek op mense wat ons onregverdig behandel (20:22).
  • God stel sy eer nie in wat Hy openbaar maak nie, maar ook in wat Hy verborge hou (25:2).  Hy loop nie te koop met wat Hy weet nie.  Dit beteken onder andere ons lewens in al sy hoogtepunte en laagtepunte is veilig by Hom!  Die konings van hierdie wêreld se eer lê egter in wat hulle weet, hulle kennis en hulle navorsing.
  • God is heilig (9:10; 30:3).  Dit beteken in dié konteks dat Hy onaantasbaar en onvervalsbaar is.  Daar is ook ander betekenisse van heiligheid in die Bybel, dat dit ‘n verhelderende suiwerende lig is wat alles transformeer.
  • God se Naam kan oneer  aangedoen word, wanneer sy mense nie volgens sy wil optree nie (30:9).

 


[1] Die naam God word 15 keer gebruik.

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar