Spreuke 22:17-29 – Wysheid leer jou om God te vertrou

Vandag lees ons die inleiding van die eerste bundel van die woorde van die wyses, sowel as die eerste 5 spreuke.

Inleiding – 22:17-21

Let op die persoonlike gesprekstyl waarin die spreuke aangebied word – “wat ek jou wil leer”.  Op dieselfde wyse as wat die seun deur sy pa onderrig is om 1) na hom, sy pa, en na sy ma te luister in die eerste 9 hoofstukke, en 2) veral Vrou Wysheid aan hom voorgehou is as die stem van die Here self, só word 3) die woorde van die wyses aan hom voorgehou as ‘n stem om na te luister.

Die voordele van ‘n luister na wysheid word op drie maniere weergegee: 1) dit is lekker om wys te wees, 2) dit is lekker om self wyse woorde kwyt te raak in geselskap, en 3) dit leer hom om op die Here te vertrou.  Laasgenoemde is sekerlik die belangrikste funksie van die wysheid, dat dit ‘n mens leer om op die Here te vertrou.  Dít is die vers wat my vandag tref as die woord van die Here aan my – elke keer wat ek kies om na die stem van wysheid te luister, leer ek ook hoe om die Here meer en meer te vertrou met my lewe.  Diep en duidelik!

Die belangrike voorskrifte wat volg sal leiding aan hom gee dat hy die waarheid in die wêreld sal herken en self wys en in ooreenstemming met die waarheid sal kan optree.  Wat kan nou belangriker wees as dit!?

Spreuk 1 – 22:22-23 – Tree met deernis op teenoor arm en hulpelose mense

Deernis met arm en hulpelose mense is ‘n teken van wysheid, nie net omdat dit vir hulle iets beteken nie, maar omdat jy daarmee aan die kant van die Here gaan staan.  God is op ‘n besondere manier die God van die armes en hulpeloses, soos in die Belydenis van Belhar geskryf staan.

Spreuk 2 – 22:24-25 – Wees baie versigtig vir opvlieënde mense

Die probleem van opvlieënde mense is dat jy baie maklik soos hulle kan word.  Daarom moet jy baie versigtig wees om vriende met só iemand te wees.  Dit kan jou in lewensgevaar laat beland.  Soos Spreuke 22:19 gesê het, dit is selfs ‘n probleem om só iemand daarmee te help, omdat dit baie gou ‘n konstante verantwoordelikheid word.

Spreuk 3 – 22:26-27 – Moenie borg staan vir ‘n ander se skuld nie

Dié spreuk kom in verskillende vorms regdeur die boek Spreuke voor.  Dit het veral met die borgstaan vir vreemdes te make.  Die punt is dat ’n mens versigtig moet wees aan wie jy jou verbind, veral uit die hoek van die mag wat ander dan oor jou kan hê.  Dit geld uiteraard nie wanneer ’n mens iemand anders iets kwytskeld of as ’n geskenk gee nie.  Dit het die pa reeds in sy vierde lewensles vir sy seun geleer, dat hy nie ’n weldaad moet weerhou van iemand wat dit toekom nie (3:27-28).

Spreuk 4 – 22:28 – Moenie antieke grense verlê nie

Hierdie spreuk het te make met die belangrikheid wat die verbintenis aan grond in die wêreldbeeld van daardie tyd ingeneem het.  Om die waarheid te sê, dit was ook teologies ‘n kernwaarheid.  Die  boek Genesis werk met die kernwaarheid dat God ons gemaak het om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.  God se bedoeling met die aarde was en is dat almal ‘n plek daarop vind, ‘n habitat, ‘n tuiste.  Dit geld mense, diere en plante.  Dit sien ons reeds in die feit dat die Bybel diere en plante nie klassifiseer volgens hulle anatomie en morfologie nie, maar volgens hulle ekologie, hulle habitat, die plek waar hulle bly (Gen 1-2), die voëls in die lug, die visse in die see.  Dit wys hoe fundamenteel alles wat leef, verbind is aan waar hulle leef.

God se bedoeling met die mens was en is nou hieraan verwant.  God het mense gemaak om Hom in die aardse ekologie te verteenwoordig (Gen 1:26), om die “tuin” met alles daarin te bewoon, te bewerk en te bewaar (Gen 2:15).  Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën.  Dit beteken ook dat bewoonbewerk en bewaar fundamenteel is tot die mense se bestaansdoel en werk in hulle tuiste op aarde.  En mense word op dieselfde wyse in die eerste plek volgens hulle ekologie geklassifiseer, hulle habitat,  die plek waar hulle bly (Gen 2-4) – selfs voor die sondeval – en voordat dinge soos afkoms en die nageslag ter sprake kom (Gen 5).  En wanneer die nageslag van Jafet, Gam en Sem beskryf word, is dit weereens in terme van die plekke waar hulle en hulle nageslag gebly het (Gen 10).

Dit is waarom ’n mens nie antieke grense moet verlê nie, want jy ontneem mense hulle verbintenis aan die grond, aan die plek waar hulle ’n ruimte het om tot hulle reg te kom, om God se opdrag na te kom, om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar. Die volk is byvoorbeeld met die Intog in Kanaän gewaarsku dat hulle nie in die beloofde land hulle bure moes mislei deur grenspale te verskuif om vir hulleself meer grond te gee nie (Deut 19:14; 27:17). Netso mag ‘n mens nie sommer so van jou geboortegrond afstand gedoen het nie.  ’n Mens hoor daarom in hierdie spreuk ook die wysheid wat agter die baie belangrike verhaal van Nabot se wingerd sit, waar koning Agab hom van sy grond wou  vervreem, en so grense wou verlê wat al lankal daar is nie(1 Konings 21 – lees meer daaroor in hierdie bydrae by die bybelskool.com: 1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid).

Dit is ’n belangrike teks om oor na te dink in ons land …

Spreuk 5 – 22:29 – Verhoog jou vaardigheid, en verhoog só jou invloed

Hoe mooi sê die wyse nie: “Jy sien self …”.  Dit is tog ‘n algemene waarheid dat vaardige mense se invloedsfeer groei.  Hulle kom in die diens van konings en mense van aansien.  Daarom is die onuitgesproke aanbeveling van dié vers: verhoog jou vaardigheid, en verhoog só jou invloed.

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: