Skip to main content

Spreuke 22:17-29 – Wysheid leer jou om God te vertrou

Vandag lees ons die inleiding van die eerste bundel van die woorde van die wyses, sowel as die eerste 5 spreuke.

Inleiding – 22:17-21

Let op die persoonlike gesprekstyl waarin die spreuke aangebied word – “wat ek jou wil leer”.  Op dieselfde wyse as wat die seun deur sy pa onderrig is om 1) na hom, sy pa, en na sy ma te luister in die eerste 9 hoofstukke, en 2) veral Vrou Wysheid aan hom voorgehou is as die stem van die Here self, só word 3) die woorde van die wyses aan hom voorgehou as ‘n stem om na te luister.

Die voordele van ‘n luister na wysheid word op drie maniere weergegee: 1) dit is lekker om wys te wees, 2) dit is lekker om self wyse woorde kwyt te raak in geselskap, en 3) dit leer hom om op die Here te vertrou.  Laasgenoemde is sekerlik die belangrikste funksie van die wysheid, dat dit ‘n mens leer om op die Here te vertrou.  Dít is die vers wat my vandag tref as die woord van die Here aan my – elke keer wat ek kies om na die stem van wysheid te luister, leer ek ook hoe om die Here meer en meer te vertrou met my lewe.  Diep en duidelik!

Die belangrike voorskrifte wat volg sal leiding aan hom gee dat hy die waarheid in die wêreld sal herken en self wys en in ooreenstemming met die waarheid sal kan optree.  Wat kan nou belangriker wees as dit!?

Spreuk 1 – 22:22-23 – Tree met deernis op teenoor arm en hulpelose mense

Deernis met arm en hulpelose mense is ‘n teken van wysheid, nie net omdat dit vir hulle iets beteken nie, maar omdat jy daarmee aan die kant van die Here gaan staan.  God is op ‘n besondere manier die God van die armes en hulpeloses, soos in die Belydenis van Belhar geskryf staan.

Spreuk 2 – 22:24-25 – Wees baie versigtig vir opvlieënde mense

Die probleem van opvlieënde mense is dat jy baie maklik soos hulle kan word.  Daarom moet jy baie versigtig wees om vriende met só iemand te wees.  Dit kan jou in lewensgevaar laat beland.  Soos Spreuke 22:19 gesê het, dit is selfs ‘n probleem om só iemand daarmee te help, omdat dit baie gou ‘n konstante verantwoordelikheid word.

Spreuk 3 – 22:26-27 – Moenie borg staan vir ‘n ander se skuld nie

Dié spreuk kom in verskillende vorms regdeur die boek Spreuke voor.  Dit het veral met die borgstaan vir vreemdes te make.  Die punt is dat ’n mens versigtig moet wees aan wie jy jou verbind, veral uit die hoek van die mag wat ander dan oor jou kan hê.  Dit geld uiteraard nie wanneer ’n mens iemand anders iets kwytskeld of as ’n geskenk gee nie.  Dit het die pa reeds in sy vierde lewensles vir sy seun geleer, dat hy nie ’n weldaad moet weerhou van iemand wat dit toekom nie (3:27-28).

Spreuk 4 – 22:28 – Moenie antieke grense verlê nie

Hierdie spreuk het te make met die belangrikheid wat die verbintenis aan grond in die wêreldbeeld van daardie tyd ingeneem het.  Om die waarheid te sê, dit was ook teologies ‘n kernwaarheid.  Die  boek Genesis werk met die kernwaarheid dat God ons gemaak het om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.  God se bedoeling met die aarde was en is dat almal ‘n plek daarop vind, ‘n habitat, ‘n tuiste.  Dit geld mense, diere en plante.  Dit sien ons reeds in die feit dat die Bybel diere en plante nie klassifiseer volgens hulle anatomie en morfologie nie, maar volgens hulle ekologie, hulle habitat, die plek waar hulle bly (Gen 1-2), die voëls in die lug, die visse in die see.  Dit wys hoe fundamenteel alles wat leef, verbind is aan waar hulle leef.

God se bedoeling met die mens was en is nou hieraan verwant.  God het mense gemaak om Hom in die aardse ekologie te verteenwoordig (Gen 1:26), om die “tuin” met alles daarin te bewoon, te bewerk en te bewaar (Gen 2:15).  Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën.  Dit beteken ook dat bewoonbewerk en bewaar fundamenteel is tot die mense se bestaansdoel en werk in hulle tuiste op aarde.  En mense word op dieselfde wyse in die eerste plek volgens hulle ekologie geklassifiseer, hulle habitat,  die plek waar hulle bly (Gen 2-4) – selfs voor die sondeval – en voordat dinge soos afkoms en die nageslag ter sprake kom (Gen 5).  En wanneer die nageslag van Jafet, Gam en Sem beskryf word, is dit weereens in terme van die plekke waar hulle en hulle nageslag gebly het (Gen 10).

Dit is waarom ’n mens nie antieke grense moet verlê nie, want jy ontneem mense hulle verbintenis aan die grond, aan die plek waar hulle ’n ruimte het om tot hulle reg te kom, om God se opdrag na te kom, om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar. Die volk is byvoorbeeld met die Intog in Kanaän gewaarsku dat hulle nie in die beloofde land hulle bure moes mislei deur grenspale te verskuif om vir hulleself meer grond te gee nie (Deut 19:14; 27:17). Netso mag ‘n mens nie sommer so van jou geboortegrond afstand gedoen het nie.  ’n Mens hoor daarom in hierdie spreuk ook die wysheid wat agter die baie belangrike verhaal van Nabot se wingerd sit, waar koning Agab hom van sy grond wou  vervreem, en so grense wou verlê wat al lankal daar is nie(1 Konings 21 – lees meer daaroor in hierdie bydrae by die bybelskool.com: 1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid).

Dit is ’n belangrike teks om oor na te dink in ons land …

Spreuk 5 – 22:29 – Verhoog jou vaardigheid, en verhoog só jou invloed

Hoe mooi sê die wyse nie: “Jy sien self …”.  Dit is tog ‘n algemene waarheid dat vaardige mense se invloedsfeer groei.  Hulle kom in die diens van konings en mense van aansien.  Daarom is die onuitgesproke aanbeveling van dié vers: verhoog jou vaardigheid, en verhoog só jou invloed.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.