Spreuke 24:1-22 – Oorwin die kwaad met die goeie
Ek gee eers ‘n opsomming van die inhoud en boodskap van die onderskeie spreuke, en daarna ‘n drietal insigte wat dié spreuke by my wakker gemaak het en wat bogenoemde vraag beantwoord met ‘n insig wat net sowel uit die NT kon gekom het: Oorwin die kwaad met die goeie:
Spreuk 19 – 24:1-2 – Moenie slegte mense beny nie
Daar is altyd die groot versoeking om slegte mense te beny dat hulle met geweld vat wat hulle wil, en niks en niemand in hulle pad laat staan om te kry wat hulle wil hê nie. Om die waarheid te sê, kragdadige mense word baie keer bewonder vir hulle sukses, waarmee die vrae wat ‘n mens met reg oor hulle metodes en karakter kan vra, oordonder word. En dit is net ‘n kort treetjie van beny na begeer en uiteindelik om dieselfde te doen. Daarom moet hulle geselskap self vermy word.
Uit ‘n NT hoek is dit natuurlik ook ‘n deel van die verleiding van die versoekings waarvoor die duiwel Jesus geplaas het (Matt 4:1-11) – om verstommende, aangrypende, en magtige dinge te doen wat mense eenvoudig sou dwing om Sy boodskap te aanvaar. Jesus verweer Hom daarteen deur God se pad te kies:
- om God se wil te ken en doen en nie daarsonder wonders tot Sy eie voordeel te doen nie (klippe in brood),
- om God se tydsberekening en metodiek te aanvaar en dit te kies, en God nie te probeer dwing om aangrypende dinge te doen voor die mense wat as ‘n kortpad sonder die kruis tot Jesus se voordeel sou wees nie (spring van die tempel af), en,
- om God alleen te dien uit ontsag vir Wie Hy is, en nie die koninkryke van die wêreld met mag en geweld aan Homself onderdanig te maak nie, soos wat die duiwel Hom aangebied het nie.
Jesus moes self leer op ‘n harde manier om nie die duiwel te beny vir die slegte goed wat hy voorgestel het nie.
Die volgende spreuke gaan verder uitwys hoe dié pad van geweld juis uiteindelik mislukking waarborg.
Spreuk 20 – 24:3-4 – Bou met insig en verstand
Drie goed is nodig om iets te bou wat stewig is, en met kosbare en mooi goed volgemaak kan word: verstand, insig en kennis. ‘n Goeie drietal om op te fokus en in te groei. ‘n Onthou, ‘n mens kan die kwade nie net oorwin met nie-gewelddadige optrede van redding nie (24:11-12). Dit is ook nodig om iets nuuts te bou, by wyse van spreke, wat van insig en kennis getuig.
Spreuk 21 – 24:5-10 – Wyse leiers span raadgewers in
Hierdie uitgebreide spreuk kan ook in 4 afsonderlike dele ingedeel word (5-6,7,8-9,10), maar omdat dit ‘n deurlopende tema van die wysheid van beraadslaging het, kies ek om dit as een spreuk te hanteer, soos dit in die NAV is.
Wysheid is die eintlike mag, maar dit kom nie van een mens of een bron af nie, eerder van baie raadgewers af en dan net ná beraadslaging – vers 5-6. Dit is waar nie net van oorlog nie, maar eintlik van enige situasie waarin die moontlikheid van groot konflik en vyandskap bestaan. Spreuke onderstreep hiermee die belangrike rol van gesamentlike onderskeiding, iets wat ook in die NT se geloofsonderskeidende prosesse nagevolg is en ‘n patroon vir gelowiges geword het om in hulle besluitneming te gebruik (Hand 15).
Wanneer wyse leiers só werk, snoer dit dwase se monde – vers 7 – en ontbloot dit die planne van dwase as knoeiery en sonder respek vir God en ander – vers 8-9. Dit is dan ook die enigste manier waarop ‘n mens dwaasheid kan troef, deur dit deur ‘n groter groep van onderskeidende gelowiges te laat hanteer. Onthou ligsinnigheid beteken eintlik respekloosheid.
Hierdie waarheid word afgerond met ‘n gedagte dat ‘n mens baie kan aflei van jou voorbereiding vir iets, as jy kyk na jou reaksie wanneer die dag van nood jou tref: as jy aarsel, is jy nog nie opgewasse daarvoor nie … en het jy nodig om meer tyd aan gesamentlike onderskeiding te bestee.
Spreuk 22 – 24:11-12 – God verwag van ons om hulpeloses te red
Hierdie spreuk draai nie doekies om oor ons onvervreembare verantwoordelikheid om nie maar net te huil oor dié wat swaarkry en weerloos afgemaai word nie, maar inderdaad iets te doen om sulke mense te help en te red. Dit beteken nie dat ons die gewelddadige opsie moet kies in die proses nie, maar dat ons net nie onbetrokke moet bly nie en alle moontlike nie-gewelddadige opsies moet ondersoek om te help.
Dit bly vir my een van die raaisels van die lewe dat Christene so maklik dié verantwoordelikheid ontduik, baie keer met die verskoning dat hulle nie geweet het nie, en daarmee die boodskap van hierdie spreuk ignoreer. Hierdie wyses van Spreuke herinner met hierdie spreuk ons daaraan dat God alles weet, ook wanneer ons onkunde pleit om ons eie nalatigheid om in te gryp by onreg probeer verskoon. God verwag van ons om hulpeloses te red, en ons kan die verantwoordelikheid nie ontglip nie. Ons ignoreer hierdie opdrag tot ons eie skade.
Jy kan self aan praktiese voorbeelde uit jou eie lewe dink waarin hierdie ontkenning eintlik net onbetrokkenheid verskoon. Dan is daar ook die vele publieke voorbeelde van dieselfde ontkenning, byvoorbeeld die pogings om die onderdrukking van die Jode deur die Nazi’s te ontken, nie net in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog nie, maar selfs vandag nog deur ekstreme groepe in die Midde-Ooste. Hier plaaslik sien ons nog steeds baie mense wat die destruktiewe effek van apartheid op die selfbeeld en vermoëns van swart mense ontken, baie keer met die verskoning: “Ons weet daar niks van af nie.” Al sou dit waar kon wees van die verlede, kan dit nie vandag meer waar wees. Die belangrike punt om te snap, is dat dit eers is wanneer ‘n mens van ontkenning na erkenning beweeg, dat daar verandering kan kom, en jy deur jou betrokkenheid by weerloses ‘n verskil kan maak.
Spreuk 23 – 24:13-14 – Wysheid en kennis gee ‘n hoopvolle toekoms
Met ‘n baie innemende vergelyking word kennis en wysheid met heuningstroop vergelyk. Dit is hoe lekker dit is wanneer ‘n mens wysheid ontdek en begin toepas. Jou visie op die toekoms word daarop gebou. Dit gee jou ‘n hoop wat onvernietigbaar is.
Spreuk 24 – 24:15-18 – Regverdiges verheug hulle nie oor hulle vyand se val nie
Hierdie spreuk kan ook in twee dele verdeel word (24:15-16; 24:17-18), maar dit pas ook goed as ‘n eenheid by mekaar, veral in die prentjie wat dit teken van regverdiges se hantering van onregverdiges. Soos ‘n vriend van my gesê het: “Walk in the opposite spirit”!
Dit is uiters belangrik om nie die kwade met kwaad te probeer vergeld nie. Want dan raak jy eintlik net so boos soos die bose mense wat jy probeer uitwis. Netsoos die Here raaksien as ‘n mens onskuld pleit as jy eintlik jou onbetrokkenheid net wil wegsteek, só sien Hy ook raak as jy jou verlekker in die rampspoed wat jou vyand tref.
God verwag van ons dat ons regverdig sal bly, selfs wanneer ons reg bewys word in ‘n saak. Regverdiges verheug hulle nie oor hulle vyand se val nie.
Spreuk 25 – 24:19-20 – Moenie jou ontstel oor goddeloses mense nie
Waar die eerste twee verse gewaarsku het teen die afguns op slegte mense, waarsku hierdie twee verse dat jy jou ook nie oor hulle moet ontstel nie. Daar is nie ‘n toekoms in goddeloosheid nie. Hulle toekoms is geslote, uit eie keuse, omdat hulle God ontken, en daarmee ook die hoop wat Hy bring vir ‘n toekoms.
Spreuk 26 – 24:21-22 – Leef in ontsag vir die Here en gesagsfigure
Die eerste bundel van die spreuke van die wyses word afgesluit met die oproep om met ontsag vir die Here te leef, en Hom te dien, sowel as om die gesagsfigure in die lewe (koning) te erken, en nie by oproer (gewelddadig) betrokke te raak nie. Dit sluit natuurlik nie uit dat ‘n mens betrokke raak by mense wat onregverdig deur ‘n koning behandel word nie, soos spreuk 22 dit so mooi verwoord het.
Regverdiges het deernis
Wat my besonderlik tref van hierdie 8 spreuke, is hoe die regverdiges hier geskets word as mense wat nie net deernis het met hulpeloses nie – en die Here se opdrag om sulke mense te red van hulle lot aangryp nie (24:11-12) – maar dat hulle selfs ook deernis het met hulle vyande, dat hulle nie hulself verheug oor hulle vyand se val nie (24:17), iets wat ook in die woorde van Jesus weerklink in die Bergrede (Matt 5:44 – dít is hoe ons kinders van die Here is!) en in Paulus se opsomming van die Christelike lewenswandel (Rom 12:17-21). Ons moet ons nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar die kwaad oorwin met die goeie – ‘n wysheid wat aan die grondslag van die Christelike lewe lê en sy wortels het in die woorde van die wyses van Spreuke.
Wyse leiers beraadslaag
Die ander klem in hierdie 8 spreuke is die belangrikheid daarvan om nie net op jou eie insigte staat te maak in konflik nie, maar wyd te beraadslaag om die beste en wysste manier om ‘n situasie te hanteer, veral as dit uiteindelik in oorlog (kan) ontaard. Dit is wat wyse leiers doen. Hulle weet die oorwinning kom deur baie raadgewers. Dit is immers hoe ‘n mens dit regkry om die kwaad te oorwin deur die goeie!
Vertrou God wanneer jy erge konflik en teenstand beleef
Laastens – let op hoe hierdie Spreuke jou aanmoedig om ‘n spesifieke positiewe lewenshouding aan te leer en te beoefen, gemik daarop dat jou hele lewe van regverdigheid en deernis kan getuig. Regverdigheid en deernis gaan saam, nie regverdigheid en veroordeling nie.
Dit gee jou sommer ook ‘n uitstekende manier om die publieke reaksies van Christelike leiers te beoordeel, of dit van deernis of van oordeel getuig. As die Here Jesus self gesê het: Hy kom nie om die wêreld te oordeel nie (Joh 3:17), pas dit ons as sy volgelinge ook nie om dit te doen nie. Die oordeel kom slegs God self toe, en dit is iets waaroor Hy self en op sy eie tyd besluit (Rom 12:19, waarin Deut 32:25 aangehaal word).
Dit is ook iets wat vroeër in Spreuke vermeld is (20:22 “Moenie sê: ‘Ek wil my wreek oor die kwaad wat my aangedoen is’ nie; vertrou op die Here, en Hy sal jou help.”). Wanneer ‘n mens God regtig vertrou, kan jy Hom ook vertrou met jou teenstanders en vyande.
View all posts in this series
- Bybelskool oor Spreuke - May 16, 2012
- Spreuke – slagspreuke vir die lewe - Jul 17, 2012
- Spreuke – Inleiding - Jul 25, 2012
- Spreuke 1:1-33 – Begin met God - Jul 26, 2012
- Spreuke 2:1-22 – Soek wysheid met gespitse ore - Jul 27, 2012
- Spreuke 3:1-35 – Vertrou God en ken Hom in alles - Jul 30, 2012
- Spreuke 4:1-27 – Baken jou koers af - Jul 31, 2012
- Spreuke 5:1-23 – Bly weg van hartelose verhoudings - Aug 1, 2012
- Spreuke 6:1-19 – Leef met oorleg - Aug 2, 2012
- Spreuke 6:20-7:27 – Pasop vir owerspel - Aug 3, 2012
- Spreuke 8:1-36 – Die Wysheid laat jou regtig leef - Aug 6, 2012
- Spreuke 9:1-18 – Kies die pad van insig as lewenshouding - Aug 7, 2012
- Die spreuke van Salomo – Bundel I - Aug 8, 2012
- Spreuke 10:1-32 – God sorg vir die opregtes
- Spreuke 11:1-31 – Die gemeenskap floreer met die regte waardes en lewenstyl - Aug 9, 2012
- Spreuke 12:1-28 – Leerbaarheid getuig van wysheid - Aug 10, 2012
- Spreuke 13:1-25 – Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde - Aug 13, 2012
- Spreuke 14:1-35 – Soos God vir ons ‘n toevlug is, so skep ons integriteit veilige ruimtes vir ander - Aug 14, 2012
- Spreuke 15:1-33 – Woorde maak saak; God maak saak - Aug 15, 2012
- Spreuke 16:1-33 – Die mens wik, maar God beskik - Aug 16, 2012
- Spreuke 17:1-28 – Verhoudings maak saak - Aug 17, 2012
- Spreuke 18:1-24 – Kommunikasie maak saak - Aug 20, 2012
- Spreuke 19:1-29 – Integriteit in alles - Aug 21, 2012
- Spreuke 20:1-30 – Erken God in alles - Aug 22, 2012
- Spreuke 21:1-31 – God se geregtigheid motiveer ons tot goeie verhoudinge - Aug 23, 2012
- Spreuke 22:1-16 – Die invloed van rykdom en armoede op verhoudings - Aug 24, 2012
- Die woorde van die wyses – I - Aug 27, 2012
- Spreuke 22:17-29 – Wysheid leer jou om God te vertrou
- Spreuke 23:1-35 – Werk aan jou netwerk van verhoudings - Aug 28, 2012
- Spreuke 24:1-22 – Oorwin die kwaad met die goeie - Aug 29, 2012
- Nog woorde van die wyses – II - Aug 30, 2012
- Spreuke 24:23-34 – Prioriteite bepaal alles
- Die spreuke van Salomo – II - Aug 31, 2012
- Spreuke 25:1-28 – Dink voordat jy doen
- Spreuke 26:1-28 – Dwaasheid ken geen perke nie - Sep 3, 2012
- Spreuke 27:1-27 – Wees verstandig in beplanning en die uitvoering daarvan - Sep 4, 2012
- Spreuke 28:1-28 – Vra na die wil van die Here en jy sal tussen reg en verkeerd kan onderskei - Sep 5, 2012
- Spreuke 29:1-27 – Regverdigheid skep ‘n veilige ruimte vir almal - Sep 6, 2012
- Die uitsprake van Agur - Sep 7, 2012
- Spreuke 30:1-33 – God is daar vir dié wat by Hom skuil!
- Die woorde van Lemuel - Sep 10, 2012
- Spreuke 31:1-31 – Wyse woorde van en oor ‘n knap vrou
- Spreuke – Lees, luister, leef – ePub - Oct 20, 2012
- Tien lewenslesse uit Spreuke - Jun 12, 2018
- ‘n Bybelse perspektief op lyfstraf - Apr 21, 2020
- Spreuke – eenjaarleesplan op YouVersion se Bybeltoep - Dec 13, 2022