Skip to main content

Spreuke 16:1-33 – Die mens wik, maar God beskik

Die vorm van die spreuke van Salomo verander in hierdie hoofstuk na sinteses en ooreenstemmings, eerder as teenstellings soos dit die geval was in hoofstuk 10-15.  Dit sal die geval wees tot aan die einde van hierdie eerste bundel van sy spreuke in hoofstuk 22.

‘n Mens kan die hoofstuk in 3 deel, waarvan die eerste en tweede deel ‘n duidelike tematiese samehang het, en die derde deel meer losstaande spreuke oor die wysheid bevat:

  • Die mens wik, maar God beskik – 16:1-9.
  • Die ideale koning – 16:10-15.
  • Wysheid is beter as welvaart – 16:16-33.

Die mens wik, maar God beskik – 16:1-9

Benewens die verse in hierdie hoofstuk wat ons help om na te dink oor ons Godsbeeld (16:1‑7,9,11,20 – lees weer wat ek daaroor by hoofstuk 15 geskryf het), vorm vers 1-9 ‘n unieke eenheid waarin nagedink word oor die samehang tussen mense se voornemens en beplanning aan die een kant, en die Here se bepaling en beskikking van wat gebeur.  In die woordjies beplan (menslik) en bepaal (Goddelik) lê die boodskap van dié gedeelte opgesluit (16:9).  Albei is noodsaaklik!

Die heel eerste vers tref my besonderlik vandag: “‘n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die Here af.” Die vers lees letterlik in Hebreeus: “Van die mens is die planne/voorbereiding van die hart (gedagtes), maar van die Here is die antwoord van die tong.” Die tweede deel van die vers kan die beste verstaan word as God se reaksie op wat die mens beplan, dws dit is die antwoord van Sy tong, by wyse van spreke.  Peterson vertaal daarom: “Mortals make elaborate plans, but God has the last word,” soos inderdaad die NAV dit ook het.

Met al die uitsprake in Salomo se eerste bundel oor mense se woorde en die impak daarvan op die gemeenskap en die lewe, is hierdie sintese van hom miskien die belangrikste spreuk.  Ons woorde maak saak.  Dit is duidelik, soos in hoofstuk 15 al gesien.  God se woorde maak nog meer saak.  Dit is ook duidelik, soos reeds in hoofstuk 15 gesien.  Wat hoofstuk 16 egter nog helderder daaroor sê, is dat God se woorde lotsbepalend is.  Want, Hy doen wat Hy sê.

Omdat God die laaste woord oor alles het, beteken dit vir my ook dat Hy die eerste woord oor alles moet hê, presies wat in 1:1-7, en 3:1-12 aangevoer is.  Anders kan dit ‘n mens suur bekom.  Dit is waarom ontsag vir Hom die begin van die wysheid is, trouens die begin selfs van kennis is, ten minste van dié kennis wat die moeite werd is, soos Spreuke nou al ‘n paar keer onderstreep het.

Dit is ‘n vers wat my dag (en lewe) gaan bepaal.

Let op hoe dié vers deur die res van die verse aangevul en uitgebrei word:

  • God kyk na gesindhede – vers 2.  Peterson vertaal interessant genoeg “God probes for what is good” wat insiggewend is.
  • Daarom, beplan en voer uit wat God wil hê, dan sal jou planne uitwerk – vers 3.
  • Werk met die belofte dat Hy in beheer is van die eindbestemming en doel van alles – vers 4.
  • Onthou ook dat God nie van arrogansie en verwaandheid hou nie, mense wat voorgee dat hulle alles weet, terwyl hulle daarmee op God se terrein oortree – vers 5.
  • Uit daardie hoek maak die twee opmerkings oor straf vir die goddelose en die verwaande in vers 4-5 sin, omdat hulle hulself aanmatig om die god van hulle eie lewe te word, en dit hulle buite die ruimte van God se sorg en seën plaas. Hartseer en hard, maar onvermydelik.
  • Maar let ook op die aanbod van versoening – klink heel Nuwe Testamenties! – as weer ‘n keuse vir ontsag vir die Here en ‘n lewe van liefde en trou in die gemeenskap gemaak word – vers 6.  Dit ontsluit God se seën in jou lewe wat selfs jou vyande in vrede met jou laat lewe – vers 7.
  • Salomo se gevolgtrekking hieroor is dat só ‘n lewe – ’n regte lewe – beter is as baie inkomste en die verkeerde verhouding met God en die gemeenskap – vers 8.
  • En dan sluit Salomo af met die herhaling van vers 1 dat ons planne moet inpas in wat God wil.  Dan kan ons verwag om sukses daarmee te behaal – vers 9.

Pragtig!

Geen wonder dat hierdie 9 verse aan die grondslag lê van vele idiome wat deur die eeue hieroor geformuleer is.  Uit Eritrea kom dié een: “Man begins; God completes” (Tewoldemedhin Habtu [uit Eritria], “Proverbs”, in Africa Bible Commentary.  Zondervan, 2006:770). ‘n Engelse idioom sê: “Man proposes; God disposes.” soos in vele kommentare nagevolg.  En in Afrikaans is daar: “Die mens wik, maar God beskik.”

En Paulus sou in Filippense 2:12-13 dit as volg verwoord: “My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

Die ideale koning – 16:10-16

Salomo skryf verder oor die koning en teken die kenmerke van ’n ideale koning:

  • Hy praat met Goddelike gesag – vers 10.
  • Hy gebruik God se maatstawwe in die regspraak – vers 11.
  • Hy regeer regverdig – vers 12.
  • Hy hou van die waarheid – vers 13.
  • Hy word deur wysheid tot bedaring gebring – vers 14.
  • Sy vriendelikheid en goedgesindheid beïnvloed alles – vers 15.  “Sy goedgesindheid is soos ’n wolk wat lentereëns bring”!

Wysheid is beter as welvaart – 16:16-33

Die res van die hoofstuk het ’n hele aantal meer losstaande spreuke, wat tog oorhoofs kan inskakel by die tema wat in vers 16 ingelei word: wysheid is beter as welvaart.  Vers 20-24 fokus op die impak van woorde.

  • Opregtheid en nougesetheid lei tot die lewe – vers 17.
  • Eenvoud en nederigheid is meer duursaam as hoogmoed en roof – vers 19.
  • Vertroue op God lei tot voorspoed – vers 20.
  • Wysheid is ’n bron van lewe ook vir ander  – vers 21-24.  “Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens”.  Terloops: Rick Warren sê op Twitter oor vers 21: “If you say it offensively, it will be received defensively.” En “You’re never persuasive when you’re abrasive.”  Goeie raad om na te volg!
  • Honger is ’n groot motivering vir werk – vers 26.
  • Kwaadwilligheid bring teenspoed – vers 27.  Dit is ’n verterende vuur!
  • Skinder bring verwydering – vers 28.
  • Die waarheid is baie kosbaar – vers 28-30.
  • Ouderdom is ’n geskenk vir dié wat reg lewe – vers 31.
  • Geduld en selfbeheersing is noodsaaklik, selfs in oorlog – vers 32.

En let op hoe vers 33 die gedeelte afrond en weer die sentrale boodskap van vers 1 herhaal: “Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…