Spreuke 16:1-33 – Die mens wik, maar God beskik
‘n Mens kan die hoofstuk in 3 deel, waarvan die eerste en tweede deel ‘n duidelike tematiese samehang het, en die derde deel meer losstaande spreuke oor die wysheid bevat:
- Die mens wik, maar God beskik – 16:1-9.
- Die ideale koning – 16:10-15.
- Wysheid is beter as welvaart – 16:16-33.
Die mens wik, maar God beskik – 16:1-9
Benewens die verse in hierdie hoofstuk wat ons help om na te dink oor ons Godsbeeld (16:1‑7,9,11,20 – lees weer wat ek daaroor by hoofstuk 15 geskryf het), vorm vers 1-9 ‘n unieke eenheid waarin nagedink word oor die samehang tussen mense se voornemens en beplanning aan die een kant, en die Here se bepaling en beskikking van wat gebeur. In die woordjies beplan (menslik) en bepaal (Goddelik) lê die boodskap van dié gedeelte opgesluit (16:9). Albei is noodsaaklik!
Die heel eerste vers tref my besonderlik vandag: “‘n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die Here af.” Die vers lees letterlik in Hebreeus: “Van die mens is die planne/voorbereiding van die hart (gedagtes), maar van die Here is die antwoord van die tong.” Die tweede deel van die vers kan die beste verstaan word as God se reaksie op wat die mens beplan, dws dit is die antwoord van Sy tong, by wyse van spreke. Peterson vertaal daarom: “Mortals make elaborate plans, but God has the last word,” soos inderdaad die NAV dit ook het.
Met al die uitsprake in Salomo se eerste bundel oor mense se woorde en die impak daarvan op die gemeenskap en die lewe, is hierdie sintese van hom miskien die belangrikste spreuk. Ons woorde maak saak. Dit is duidelik, soos in hoofstuk 15 al gesien. God se woorde maak nog meer saak. Dit is ook duidelik, soos reeds in hoofstuk 15 gesien. Wat hoofstuk 16 egter nog helderder daaroor sê, is dat God se woorde lotsbepalend is. Want, Hy doen wat Hy sê.
Omdat God die laaste woord oor alles het, beteken dit vir my ook dat Hy die eerste woord oor alles moet hê, presies wat in 1:1-7, en 3:1-12 aangevoer is. Anders kan dit ‘n mens suur bekom. Dit is waarom ontsag vir Hom die begin van die wysheid is, trouens die begin selfs van kennis is, ten minste van dié kennis wat die moeite werd is, soos Spreuke nou al ‘n paar keer onderstreep het.
Dit is ‘n vers wat my dag (en lewe) gaan bepaal.
Let op hoe dié vers deur die res van die verse aangevul en uitgebrei word:
- God kyk na gesindhede – vers 2. Peterson vertaal interessant genoeg “God probes for what is good” wat insiggewend is.
- Daarom, beplan en voer uit wat God wil hê, dan sal jou planne uitwerk – vers 3.
- Werk met die belofte dat Hy in beheer is van die eindbestemming en doel van alles – vers 4.
- Onthou ook dat God nie van arrogansie en verwaandheid hou nie, mense wat voorgee dat hulle alles weet, terwyl hulle daarmee op God se terrein oortree – vers 5.
- Uit daardie hoek maak die twee opmerkings oor straf vir die goddelose en die verwaande in vers 4-5 sin, omdat hulle hulself aanmatig om die god van hulle eie lewe te word, en dit hulle buite die ruimte van God se sorg en seën plaas. Hartseer en hard, maar onvermydelik.
- Maar let ook op die aanbod van versoening – klink heel Nuwe Testamenties! – as weer ‘n keuse vir ontsag vir die Here en ‘n lewe van liefde en trou in die gemeenskap gemaak word – vers 6. Dit ontsluit God se seën in jou lewe wat selfs jou vyande in vrede met jou laat lewe – vers 7.
- Salomo se gevolgtrekking hieroor is dat só ‘n lewe – ’n regte lewe – beter is as baie inkomste en die verkeerde verhouding met God en die gemeenskap – vers 8.
- En dan sluit Salomo af met die herhaling van vers 1 dat ons planne moet inpas in wat God wil. Dan kan ons verwag om sukses daarmee te behaal – vers 9.
Pragtig!
Geen wonder dat hierdie 9 verse aan die grondslag lê van vele idiome wat deur die eeue hieroor geformuleer is. Uit Eritrea kom dié een: “Man begins; God completes” (Tewoldemedhin Habtu [uit Eritria], “Proverbs”, in Africa Bible Commentary. Zondervan, 2006:770). ‘n Engelse idioom sê: “Man proposes; God disposes.” soos in vele kommentare nagevolg. En in Afrikaans is daar: “Die mens wik, maar God beskik.”
En Paulus sou in Filippense 2:12-13 dit as volg verwoord: “My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”
Die ideale koning – 16:10-16
Salomo skryf verder oor die koning en teken die kenmerke van ’n ideale koning:
- Hy praat met Goddelike gesag – vers 10.
- Hy gebruik God se maatstawwe in die regspraak – vers 11.
- Hy regeer regverdig – vers 12.
- Hy hou van die waarheid – vers 13.
- Hy word deur wysheid tot bedaring gebring – vers 14.
- Sy vriendelikheid en goedgesindheid beïnvloed alles – vers 15. “Sy goedgesindheid is soos ’n wolk wat lentereëns bring”!
Wysheid is beter as welvaart – 16:16-33
Die res van die hoofstuk het ’n hele aantal meer losstaande spreuke, wat tog oorhoofs kan inskakel by die tema wat in vers 16 ingelei word: wysheid is beter as welvaart. Vers 20-24 fokus op die impak van woorde.
- Opregtheid en nougesetheid lei tot die lewe – vers 17.
- Eenvoud en nederigheid is meer duursaam as hoogmoed en roof – vers 19.
- Vertroue op God lei tot voorspoed – vers 20.
- Wysheid is ’n bron van lewe ook vir ander – vers 21-24. “Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens”. Terloops: Rick Warren sê op Twitter oor vers 21: “If you say it offensively, it will be received defensively.” En “You’re never persuasive when you’re abrasive.” Goeie raad om na te volg!
- Honger is ’n groot motivering vir werk – vers 26.
- Kwaadwilligheid bring teenspoed – vers 27. Dit is ’n verterende vuur!
- Skinder bring verwydering – vers 28.
- Die waarheid is baie kosbaar – vers 28-30.
- Ouderdom is ’n geskenk vir dié wat reg lewe – vers 31.
- Geduld en selfbeheersing is noodsaaklik, selfs in oorlog – vers 32.
En let op hoe vers 33 die gedeelte afrond en weer die sentrale boodskap van vers 1 herhaal: “Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom.”
View all posts in this series
- Bybelskool oor Spreuke - May 16, 2012
- Spreuke – slagspreuke vir die lewe - July 17, 2012
- Spreuke – Inleiding - July 25, 2012
- Spreuke 1:1-33 – Begin met God - July 26, 2012
- Spreuke 2:1-22 – Soek wysheid met gespitse ore - July 27, 2012
- Spreuke 3:1-35 – Vertrou God en ken Hom in alles - July 30, 2012
- Spreuke 4:1-27 – Baken jou koers af - July 31, 2012
- Spreuke 5:1-23 – Bly weg van hartelose verhoudings - August 1, 2012
- Spreuke 6:1-19 – Leef met oorleg - August 2, 2012
- Spreuke 6:20-7:27 – Pasop vir owerspel - August 3, 2012
- Spreuke 8:1-36 – Die Wysheid laat jou regtig leef - August 6, 2012
- Spreuke 9:1-18 – Kies die pad van insig as lewenshouding - August 7, 2012
- Die spreuke van Salomo – Bundel I - August 8, 2012
- Spreuke 10:1-32 – God sorg vir die opregtes
- Spreuke 11:1-31 – Die gemeenskap floreer met die regte waardes en lewenstyl - August 9, 2012
- Spreuke 12:1-28 – Leerbaarheid getuig van wysheid - August 10, 2012
- Spreuke 13:1-25 – Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde - August 13, 2012
- Spreuke 14:1-35 – Soos God vir ons ‘n toevlug is, so skep ons integriteit veilige ruimtes vir ander - August 14, 2012
- Spreuke 15:1-33 – Woorde maak saak; God maak saak - August 15, 2012
- Spreuke 16:1-33 – Die mens wik, maar God beskik - August 16, 2012
- Spreuke 17:1-28 – Verhoudings maak saak - August 17, 2012
- Spreuke 18:1-24 – Kommunikasie maak saak - August 20, 2012
- Spreuke 19:1-29 – Integriteit in alles - August 21, 2012
- Spreuke 20:1-30 – Erken God in alles - August 22, 2012
- Spreuke 21:1-31 – God se geregtigheid motiveer ons tot goeie verhoudinge - August 23, 2012
- Spreuke 22:1-16 – Die invloed van rykdom en armoede op verhoudings - August 24, 2012
- Die woorde van die wyses – I - August 27, 2012
- Spreuke 22:17-29 – Wysheid leer jou om God te vertrou
- Spreuke 23:1-35 – Werk aan jou netwerk van verhoudings - August 28, 2012
- Spreuke 24:1-22 – Oorwin die kwaad met die goeie - August 29, 2012
- Nog woorde van die wyses – II - August 30, 2012
- Spreuke 24:23-34 – Prioriteite bepaal alles
- Die spreuke van Salomo – II - August 31, 2012
- Spreuke 25:1-28 – Dink voordat jy doen
- Spreuke 26:1-28 – Dwaasheid ken geen perke nie - September 3, 2012
- Spreuke 27:1-27 – Wees verstandig in beplanning en die uitvoering daarvan - September 4, 2012
- Spreuke 28:1-28 – Vra na die wil van die Here en jy sal tussen reg en verkeerd kan onderskei - September 5, 2012
- Spreuke 29:1-27 – Regverdigheid skep ‘n veilige ruimte vir almal - September 6, 2012
- Die uitsprake van Agur - September 7, 2012
- Spreuke 30:1-33 – God is daar vir dié wat by Hom skuil!
- Die woorde van Lemuel - September 10, 2012
- Spreuke 31:1-31 – Wyse woorde van en oor ‘n knap vrou
- Spreuke – Lees, luister, leef – ePub - October 20, 2012
- Tien lewenslesse uit Spreuke - June 12, 2018
- ‘n Bybelse perspektief op lyfstraf - April 21, 2020
- Spreuke – eenjaarleesplan op YouVersion se Bybeltoep - December 13, 2022
Vere
Hi Chris.
Ek lees Spreuke 16 na Josua 7 wat so perfek pas met Die Here se aksies in die verhaal van Ai. Van die mens (Josua) wat die plan bepaal maar Die Here wat bepaal. Die Here wat die gesindheid ken (Akan). Wysheid eerdar as goud, insig eerder as silwer. (wat gesteel is). Self die uitwysing van die familie van Akan gee Spreuke 16:33 “Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom.”
Seengroete
Chris van Wyk
Ja, wonderlik nê. Ek het dié hoofstuk in Spreuke 16 baie geniet: Spreuke 16:1-33 – Die mens wik, maar God beskik. Ek het daar geskrywe: “In die woordjies beplan (menslik) en bepaal (Goddelik) lê die boodskap van dié gedeelte opgesluit (16:9). Albei is noodsaaklik!”