Spreuke 25:1-28 – Dink voordat jy doen

Hierdie hoofstuk bevat 23 spreke wat oor 28 verse versprei is.  Die spreuke is ook in 8 groepe rondom temas versamel, soos ek dit hieronder verduidelik. Vers 1 is natuurlik die inleiding op die 4 hoofstukke, en reeds behandel met die vorige bydrae.

Wat my tref is hoe die reeks spreuke in dié hoofstuk versigtigheid, nadenke, selfbeheersing en emosionele volwassenheid aanprys.  Dit laat my dink aan die idioom om te dink voordat jy doen, wat dan ook die titel van die hoofstuk vir my geword het.

25:2-7 – Die aura en misterie van koningskap

Hier het ons 4 spreuke wat konings beskryf aan die hand van hulle ondersoekende geaardheid (25:2), misterieuse en onpeilbare gedagtes (25:3), feilbaarheid in die geselskap van goddeloses (25:4-5), en sensitiwiteit vir mense wat sy mag bedreig (25:6-7).  Dit bly steeds ‘n raak opsomming van beide die uitdaging om ‘n koning te wees, en nog meer, om saam met ‘n koning te werk.

25:8-10 – Behou goeie buurmanskap

Hierdie 2 spreuke leer ‘n mens om versigtig te wees om 1) sommer vinnige gevolgtrekkings te maak oor jou buurman sonder om eers ‘n in diepte ondersoek te doen van wat jy waargeneem het (25:8) en 2) as jy wel dink dat jy ‘n saak teen hom het, baie seker te maak van jou feite, selfs al maak jy staat op dinge wat vertroulik vir jou gesê, anders kan jy lelik op jou neus kyk as iemand anders dié feite nie kan rugsteun nie (25:9-10).

25:11-14 – Die regte woord op die regte tyd

Hierdie 3 spreuke het almal te make met die wyse waarop woorde gebruik word.  Wyse woorde op die regte tyd is kosbaar (25:11-12), en gee moed (25:13) teenoor leë woorde van belofte wat niks oplewer nie (25:14).

25:15-17 – Geduld en selfbeheersing bring jou ver

Hierdie 3 spreuke het almal te make met versigtigheid – geduld en selfbeheersing – teenoor mense in gesagsposisies (25:15), teenoor jouself en jou  liefde vir soetgoed (25:16), en teenoor jou buurman om nie sy drumpel deur te trap met jou kuierdery nie (25:17).

25:18-20 – Wars woorde maak seer

Soos die spreuke in 25:11-14 gaan hierdie 3 spreuke oor die wyse waarop woorde gebruik word, maar hierdie keer net oor die verkeerde manier waarop dit ingespan word.  Valse getuienis teenoor jou naaste (25:18), onbetroubaarheid in konflik (25:19) en emosionele onvolwassenheid  in jou reaksie op leed (25:20) maak seer.

25:21-22 – Jy moet jou vyand liefhê

Vers 21-22 se opdrag om jou vyand kos en water te gee, al is hy iemand wat jou haat, val ’n mens op.  En let op hoe konkreet dit uitgespel word.  Hierdie 2 spreuke, saam met 24:17-18 waar dieselfde lewenshouding gevra word, gee ’n ander perspektief op die gangbare moraal van ’n oog-vir-’n-oog , soos dit op ’n hele paar plekke in die OT beskryf word.  Dit neem selfs die opdrag in die OT om jou naaste lief te hê, soos Lev 19:17-18 dit van ons vra, ’n bietjie verder, en maak naasteliefde van toepassing nie net op mense van jou eie (volks-)gemeenskap nie, maar van toepassing selfs op jou vyande.

Dat die Here jou daarvoor sal vergoed, teken ook ’n kant van God waarin Sy regverdigheid nie net Sy geliefdes insluit nie, maar ook dié wat teenoor Hom staan.  Waarskynlik lê hieragter die hoop op versoening, waarin God hoop dat deur só ’n optrede die vyand juis tot inkeer sal kom, vuurrooi van skaamte sal word (letterlik: “gloeiende kole op sy kop” wat waarskynlik metafories vir bloos gebruik word), wanneer hulle onverdiende genade ervaar in nood.

Dié perspektief op die lewe bereik natuurlik eers volle wasdom in die lewe van Jesus, waar Hy die verhaal van die Barmhartige Samaritaan vertel om dié punt verder in te skerp (Luk 10:25-37).  En Paulus haal uit dié spreuk aan as hy oor die Christelike lewenswandel praat (Rom 12:20-21).  Oorwin die kwaad deur die goeie!

25:23-25 – Kommunikasie maak saak

Hierdie 3 spreuke onderstreep wat Spreuke al ’n hele paar keer gesê het, kommunikasie maak saak:  1) agteraf praat maak kwaad – dit is so seker as wat die noordewind reën bring (25:23), 2) twis by die huis is onuithoudbaar (25:24), 3) goeie berigte van veraf is soos koue water vir ’n moeë mens se dors (25:25).

25:26-28 – Selfbeheersing is noodsaaklik

In die laaste 3 verse is daar 3 spreuke wat almal te make het met selfbeheersing: 1) teenoor goddeloses, anders kom ’n mens maklik tot ’n val (25:26), 2) teenoor eersug, dit is soos soetgoed wat met matigheid en selfbeheersing hanteer moet word (25:27 – vgl 25:16), en 3) teenoor uitbuiting of aanvalle van ander, waarteen jy jou moet beskerm soos ’n muur ’n stad beskerm, deur met selfbeheersing op te tree.

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: