Skip to main content

Spreuke 25:1-28 – Dink voordat jy doen

Hierdie hoofstuk bevat 23 spreke wat oor 28 verse versprei is.  Die spreuke is ook in 8 groepe rondom temas versamel, soos ek dit hieronder verduidelik. Vers 1 is natuurlik die inleiding op die 4 hoofstukke, en reeds behandel met die vorige bydrae.

Wat my tref is hoe die reeks spreuke in dié hoofstuk versigtigheid, nadenke, selfbeheersing en emosionele volwassenheid aanprys.  Dit laat my dink aan die idioom om te dink voordat jy doen, wat dan ook die titel van die hoofstuk vir my geword het.

25:2-7 – Die aura en misterie van koningskap

Hier het ons 4 spreuke wat konings beskryf aan die hand van hulle ondersoekende geaardheid (25:2), misterieuse en onpeilbare gedagtes (25:3), feilbaarheid in die geselskap van goddeloses (25:4-5), en sensitiwiteit vir mense wat sy mag bedreig (25:6-7).  Dit bly steeds ‘n raak opsomming van beide die uitdaging om ‘n koning te wees, en nog meer, om saam met ‘n koning te werk.

25:8-10 – Behou goeie buurmanskap

Hierdie 2 spreuke leer ‘n mens om versigtig te wees om 1) sommer vinnige gevolgtrekkings te maak oor jou buurman sonder om eers ‘n in diepte ondersoek te doen van wat jy waargeneem het (25:8) en 2) as jy wel dink dat jy ‘n saak teen hom het, baie seker te maak van jou feite, selfs al maak jy staat op dinge wat vertroulik vir jou gesê, anders kan jy lelik op jou neus kyk as iemand anders dié feite nie kan rugsteun nie (25:9-10).

25:11-14 – Die regte woord op die regte tyd

Hierdie 3 spreuke het almal te make met die wyse waarop woorde gebruik word.  Wyse woorde op die regte tyd is kosbaar (25:11-12), en gee moed (25:13) teenoor leë woorde van belofte wat niks oplewer nie (25:14).

25:15-17 – Geduld en selfbeheersing bring jou ver

Hierdie 3 spreuke het almal te make met versigtigheid – geduld en selfbeheersing – teenoor mense in gesagsposisies (25:15), teenoor jouself en jou  liefde vir soetgoed (25:16), en teenoor jou buurman om nie sy drumpel deur te trap met jou kuierdery nie (25:17).

25:18-20 – Wars woorde maak seer

Soos die spreuke in 25:11-14 gaan hierdie 3 spreuke oor die wyse waarop woorde gebruik word, maar hierdie keer net oor die verkeerde manier waarop dit ingespan word.  Valse getuienis teenoor jou naaste (25:18), onbetroubaarheid in konflik (25:19) en emosionele onvolwassenheid  in jou reaksie op leed (25:20) maak seer.

25:21-22 – Jy moet jou vyand liefhê

Vers 21-22 se opdrag om jou vyand kos en water te gee, al is hy iemand wat jou haat, val ’n mens op.  En let op hoe konkreet dit uitgespel word.  Hierdie 2 spreuke, saam met 24:17-18 waar dieselfde lewenshouding gevra word, gee ’n ander perspektief op die gangbare moraal van ’n oog-vir-’n-oog , soos dit op ’n hele paar plekke in die OT beskryf word.  Dit neem selfs die opdrag in die OT om jou naaste lief te hê, soos Lev 19:17-18 dit van ons vra, ’n bietjie verder, en maak naasteliefde van toepassing nie net op mense van jou eie (volks-)gemeenskap nie, maar van toepassing selfs op jou vyande.

Dat die Here jou daarvoor sal vergoed, teken ook ’n kant van God waarin Sy regverdigheid nie net Sy geliefdes insluit nie, maar ook dié wat teenoor Hom staan.  Waarskynlik lê hieragter die hoop op versoening, waarin God hoop dat deur só ’n optrede die vyand juis tot inkeer sal kom, vuurrooi van skaamte sal word (letterlik: “gloeiende kole op sy kop” wat waarskynlik metafories vir bloos gebruik word), wanneer hulle onverdiende genade ervaar in nood.

Dié perspektief op die lewe bereik natuurlik eers volle wasdom in die lewe van Jesus, waar Hy die verhaal van die Barmhartige Samaritaan vertel om dié punt verder in te skerp (Luk 10:25-37).  En Paulus haal uit dié spreuk aan as hy oor die Christelike lewenswandel praat (Rom 12:20-21).  Oorwin die kwaad deur die goeie!

25:23-25 – Kommunikasie maak saak

Hierdie 3 spreuke onderstreep wat Spreuke al ’n hele paar keer gesê het, kommunikasie maak saak:  1) agteraf praat maak kwaad – dit is so seker as wat die noordewind reën bring (25:23), 2) twis by die huis is onuithoudbaar (25:24), 3) goeie berigte van veraf is soos koue water vir ’n moeë mens se dors (25:25).

25:26-28 – Selfbeheersing is noodsaaklik

In die laaste 3 verse is daar 3 spreuke wat almal te make het met selfbeheersing: 1) teenoor goddeloses, anders kom ’n mens maklik tot ’n val (25:26), 2) teenoor eersug, dit is soos soetgoed wat met matigheid en selfbeheersing hanteer moet word (25:27 – vgl 25:16), en 3) teenoor uitbuiting of aanvalle van ander, waarteen jy jou moet beskerm soos ’n muur ’n stad beskerm, deur met selfbeheersing op te tree.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.