Spreuke 26:1-28 – Dwaasheid ken geen perke nie

Let op hoe:

  • die eerste 12 verse meesal eksplisiet (behalwe vers 2) met verskillende gestaltes van dwaasheid te make het,
  • die volgende 4 met verskillende gestaltes van luiheid, wat ‘n passiewe vorm van dwaasheid is, te make het en
  • die laaste 12 weer met ‘n paar ander gestaltes van dwaasheid, hoewel die woord dwaas nie daar gebruik word nie, maar wel woorde wat daarmee verbind kan word (onvanpaste woede, mal bedrieërs, kwaadstokers, twissiekes, skindertonge, haters, skynheiliges, leuenaars, vleiers).

Dit is opvallend hoe sonder enige perke die dwase se optrede geskilder word in hierdie hoofstuk en dus in ‘n skrille kontras met die selfbeheersing, versigtigheid en emosionele volwassenheid van die wyse se optredes van die vorige hoofstuk staan.  Spreuke sê hiermee:

  • Wyse mense weet waar die grense lê in menslike verhoudings en leer om daarmee saam te leef, en dit te respekteer.
  • Dwase mense ignoreer ander mense se grense en tree sonder respek vir die waarheid op en daarby oordadig.  Dwaasheid ken dus geen perke nie.

26:1-12 – Dwaasheid is amper ongeneeslik sleg

Die reeks van 12 verse spel nege perspektiewe op dwase uit:

  • Dis onvanpas dat dwase eer ontvang – ‘n mens verwag dit net so min soos sneeu in die somer, en dit is net so onwelkom as reën in die oestyd – 26:1.
  • Dwase kry wat hulle verdien – vers 2 lyk op die oog af na ‘n “odd-one-out” in hierdie reeks.  As ‘n mens vers 2 egter neem as ‘n boodskap vir ‘n dwaas, met die boodskap dat ‘n vervloeking nie iemand kan raak wat dit nie verdien nie, voltooi vers 3 die gedagte, dat dwase kry wat hulle verdien, ‘n lat – 26:2-3.
  • Dit verg uiterse wysheid om met dwase te kommunikeer– vers 4-5 verwoord met twee radikaal teenoorgestelde spreuke die konstante dilemma van wyse mense in hulle verhouding met dwase mense – 26:4-5.
    • Sit jy ‘n wag voor jou mond deur ‘n dwase opmerking te vermy deur liewer niks te sê nie, het jy ‘n probleem dat ‘n dwaas kan dink jy is net soos hy/sy (26:4).
    • Antwoord jy ‘n dwaas egter op dieselfde dwase manier as wat ‘n dwase mens sou doen (moontlik met sarkasme), het jy ook ‘n probleem dat ‘n dwaas kan dink sy/hy is eintlik beter as jy (26:5).
    • Die twee spreuke sê dus dat ‘n mens soms gaan praat, en soms nie, maar dat dit altyd riskant sal wees, omdat jy nie noodwendig ‘n goeie reaksie gaan ontlok nie, en self in die gedrang kan kom.
    • Eintlik vra die twee spreuke vir ‘n derde opsie, een waarin aan die een kant wel respek vir die persoon van die dwase betoon word, en sy of haar standpunte geëggo en verwoord word sonder om dit belaglik te maak, maar aan die ander kant ook sonder om die implikasies daarvan te ignoreer of weg te praat.  Dit vra vir versigtigheid, oorleg, en diep insig in wat agter vrae sit wat mense vra.
    • Soms kan ‘n vraag as antwoord natuurlik die beste keuse  wees, of ‘n reeks vrae, soos Sokrates dit gedoen het.  Deur die vrae het hy sy leerlinge op ‘n ontdekkingstog geneem om self by antwoorde uit te kom (lees die Socratic Dialogues vir meer hieroor).  Hy was ‘n wyse filosoof wat ‘n diepsinnige invloed op ons (veral wetenskaplike) denke uitgeoefen het, nie net vanweë sy eie leringe nie, maar ook deur die invloed wat hy op sy leerling Plato, en dié op sy beurt op sy leerling Aristoteles uitgeoefen het.  Die Westerse manier van dink kan op vele wyses na die drie terug gevoer word, soos later natuurlik aangevul deur Descartes en ander.  Maar of dwase natuurlik daardeur bereik sal word, is nou weer ‘n ander storie!
  • Dit is moeilikheid soek om ‘n dwaas met ‘n boodskap te stuur – 26:6.
  • Selfs ‘n spreuk in die mond van ‘n dwaas is nutteloos – 26:7.
  • Dit is dom om ‘n dwaas mag te gee – 27:8.
  • ‘n Spreuk in die mond van ‘n dwaas, is nie net nutteloos nie, maar rig skade aan – 27:9.
  • Dit is selfs dwaas om ‘n dwaas te huur. Dit is net so dwaas om sommer ‘n verbyganger te huur – 27:10.
  • Dit is onafwendbaar dat ‘n dwaas dieselfde dwaasheid sal begaan – dit is net soos ‘n hond wat sy eie braaksel opeet – 27:11.
  • Die diepste dwaasheid is om te dink dat wysheid in jouself lê – 27:12.  Dit is die diepste waarheid van die gedeelte oor die dwase, want dit skakel die hele gedeelte aan die boodskap van Spreuke van die begin af – wysheid begin met die respek en ontsag wat jy vir God het, en die erkenning dat wysheid by Hom begin, en nie by jouself nie.

26:13-16 – Luiheid is ‘n passiewe vorm van dwaasheid

Hierdie 4 verse stel die probleem van luiheid onomwonde:

  • Luiaards vind verskonings in verbeelde gevare – ‘n leeu in die pad – 26:13.
  • Luiaards bly onaktief – 26:14.
  • Luiaards maak niks klaar nie – 26:15.
  • Luiaards dink uitermate baie van hulle eie insig – 26:16.  Dit beteken dat luiheid ook ‘n beskrywing van dwaasheid is.  En dat dit ook op dieselfde wyse as 27:12 mank gaan aan ‘n respek vir God.

26:17-28 – Dwaasheid rig groot skade aan

Die volgende 12 verse teken ‘n verdere sewe kante van dwaasheid.  Saam met die vorige spreuke oor luiheid, gee dit agt perspektiewe daarop.

  • Dit is dwaas om by ‘n rusie betrokke te raak wat jou nie aangaan nie – 26:17.  Jy sal net jouself beskadig, soos om ‘n kwaai hond aan sy ore te pak.
  • Dit is dwaas om iemand vir die grap te bedrieg – 26:18-19.  Dit is om soos ‘n mal mens (brandende) dodelike pyle rond te skiet, sonder om rekening te hou met die skade wat dit kan aanrig.
  • Dit is dwaas om ‘n rusie te laat aangaan en aangaan – 26:20-21.  Dit is tydige raad aan enigiemand wat by die een of ander twisgesprek betrokke is.  Hou net op met rusie maak, bly by jou eie oortuiging, en doen dit sonder om ander met mag en geweld tot dieselfde oortuiging te probeer oorhaal.
  • Dit is dwaas om te skinder – 26:22-23.  Die probleem met skinder is dat mense dit so maklik glo, en dat die mense waaroor geskinder word, nie daar is om hulleself te verdedig nie.  Eintlik moet ‘n mens onmiddellik wanneer iemand (of jyself) begin skinder, jouself daaraan herinner, ‘n skindery is altyd met slegte bedoelings.  Die mooi woorde is maar net om die slegte bedoelings weg te steek.
  • Dit is dwaas om jou ware gevoelens te verberg – 26:24-26.  Dit is die keersy van skinder, om jou haat, jou bose bedoelings en jou valsheid te verbloem met vriendelike praatjies en ‘n valse skyn.  Uiteindelik kom die bose bedoelings in elk geval aan die lig in wat jy doen, en dan weet almal dit in elk geval.
  • Jy val baie keer self in die gat wat jy vir ander grawe – 26:27.
  • Leuens en vleitaal het dieselfde destruktiewe uitwerking – dit maak seer en bewerk ‘n ander se ondergang – 26:28.

‘n Mens het nodig om dié spreuke in gedagte te hou as jy in gesprek gaan met dwase.

View all posts in this series

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: