Skip to main content

Spreuke 26:1-28 – Dwaasheid ken geen perke nie

Let op hoe:

  • die eerste 12 verse meesal eksplisiet (behalwe vers 2) met verskillende gestaltes van dwaasheid te make het,
  • die volgende 4 met verskillende gestaltes van luiheid, wat ‘n passiewe vorm van dwaasheid is, te make het en
  • die laaste 12 weer met ‘n paar ander gestaltes van dwaasheid, hoewel die woord dwaas nie daar gebruik word nie, maar wel woorde wat daarmee verbind kan word (onvanpaste woede, mal bedrieërs, kwaadstokers, twissiekes, skindertonge, haters, skynheiliges, leuenaars, vleiers).

Dit is opvallend hoe sonder enige perke die dwase se optrede geskilder word in hierdie hoofstuk en dus in ‘n skrille kontras met die selfbeheersing, versigtigheid en emosionele volwassenheid van die wyse se optredes van die vorige hoofstuk staan.  Spreuke sê hiermee:

  • Wyse mense weet waar die grense lê in menslike verhoudings en leer om daarmee saam te leef, en dit te respekteer.
  • Dwase mense ignoreer ander mense se grense en tree sonder respek vir die waarheid op en daarby oordadig.  Dwaasheid ken dus geen perke nie.

26:1-12 – Dwaasheid is amper ongeneeslik sleg

Die reeks van 12 verse spel nege perspektiewe op dwase uit:

  • Dis onvanpas dat dwase eer ontvang – ‘n mens verwag dit net so min soos sneeu in die somer, en dit is net so onwelkom as reën in die oestyd – 26:1.
  • Dwase kry wat hulle verdien – vers 2 lyk op die oog af na ‘n “odd-one-out” in hierdie reeks.  As ‘n mens vers 2 egter neem as ‘n boodskap vir ‘n dwaas, met die boodskap dat ‘n vervloeking nie iemand kan raak wat dit nie verdien nie, voltooi vers 3 die gedagte, dat dwase kry wat hulle verdien, ‘n lat – 26:2-3.
  • Dit verg uiterse wysheid om met dwase te kommunikeer– vers 4-5 verwoord met twee radikaal teenoorgestelde spreuke die konstante dilemma van wyse mense in hulle verhouding met dwase mense – 26:4-5.
    • Sit jy ‘n wag voor jou mond deur ‘n dwase opmerking te vermy deur liewer niks te sê nie, het jy ‘n probleem dat ‘n dwaas kan dink jy is net soos hy/sy (26:4).
    • Antwoord jy ‘n dwaas egter op dieselfde dwase manier as wat ‘n dwase mens sou doen (moontlik met sarkasme), het jy ook ‘n probleem dat ‘n dwaas kan dink sy/hy is eintlik beter as jy (26:5).
    • Die twee spreuke sê dus dat ‘n mens soms gaan praat, en soms nie, maar dat dit altyd riskant sal wees, omdat jy nie noodwendig ‘n goeie reaksie gaan ontlok nie, en self in die gedrang kan kom.
    • Eintlik vra die twee spreuke vir ‘n derde opsie, een waarin aan die een kant wel respek vir die persoon van die dwase betoon word, en sy of haar standpunte geëggo en verwoord word sonder om dit belaglik te maak, maar aan die ander kant ook sonder om die implikasies daarvan te ignoreer of weg te praat.  Dit vra vir versigtigheid, oorleg, en diep insig in wat agter vrae sit wat mense vra.
    • Soms kan ‘n vraag as antwoord natuurlik die beste keuse  wees, of ‘n reeks vrae, soos Sokrates dit gedoen het.  Deur die vrae het hy sy leerlinge op ‘n ontdekkingstog geneem om self by antwoorde uit te kom (lees die Socratic Dialogues vir meer hieroor).  Hy was ‘n wyse filosoof wat ‘n diepsinnige invloed op ons (veral wetenskaplike) denke uitgeoefen het, nie net vanweë sy eie leringe nie, maar ook deur die invloed wat hy op sy leerling Plato, en dié op sy beurt op sy leerling Aristoteles uitgeoefen het.  Die Westerse manier van dink kan op vele wyses na die drie terug gevoer word, soos later natuurlik aangevul deur Descartes en ander.  Maar of dwase natuurlik daardeur bereik sal word, is nou weer ‘n ander storie!
  • Dit is moeilikheid soek om ‘n dwaas met ‘n boodskap te stuur – 26:6.
  • Selfs ‘n spreuk in die mond van ‘n dwaas is nutteloos – 26:7.
  • Dit is dom om ‘n dwaas mag te gee – 27:8.
  • ‘n Spreuk in die mond van ‘n dwaas, is nie net nutteloos nie, maar rig skade aan – 27:9.
  • Dit is selfs dwaas om ‘n dwaas te huur. Dit is net so dwaas om sommer ‘n verbyganger te huur – 27:10.
  • Dit is onafwendbaar dat ‘n dwaas dieselfde dwaasheid sal begaan – dit is net soos ‘n hond wat sy eie braaksel opeet – 27:11.
  • Die diepste dwaasheid is om te dink dat wysheid in jouself lê – 27:12.  Dit is die diepste waarheid van die gedeelte oor die dwase, want dit skakel die hele gedeelte aan die boodskap van Spreuke van die begin af – wysheid begin met die respek en ontsag wat jy vir God het, en die erkenning dat wysheid by Hom begin, en nie by jouself nie.

26:13-16 – Luiheid is ‘n passiewe vorm van dwaasheid

Hierdie 4 verse stel die probleem van luiheid onomwonde:

  • Luiaards vind verskonings in verbeelde gevare – ‘n leeu in die pad – 26:13.
  • Luiaards bly onaktief – 26:14.
  • Luiaards maak niks klaar nie – 26:15.
  • Luiaards dink uitermate baie van hulle eie insig – 26:16.  Dit beteken dat luiheid ook ‘n beskrywing van dwaasheid is.  En dat dit ook op dieselfde wyse as 27:12 mank gaan aan ‘n respek vir God.

26:17-28 – Dwaasheid rig groot skade aan

Die volgende 12 verse teken ‘n verdere sewe kante van dwaasheid.  Saam met die vorige spreuke oor luiheid, gee dit agt perspektiewe daarop.

  • Dit is dwaas om by ‘n rusie betrokke te raak wat jou nie aangaan nie – 26:17.  Jy sal net jouself beskadig, soos om ‘n kwaai hond aan sy ore te pak.
  • Dit is dwaas om iemand vir die grap te bedrieg – 26:18-19.  Dit is om soos ‘n mal mens (brandende) dodelike pyle rond te skiet, sonder om rekening te hou met die skade wat dit kan aanrig.
  • Dit is dwaas om ‘n rusie te laat aangaan en aangaan – 26:20-21.  Dit is tydige raad aan enigiemand wat by die een of ander twisgesprek betrokke is.  Hou net op met rusie maak, bly by jou eie oortuiging, en doen dit sonder om ander met mag en geweld tot dieselfde oortuiging te probeer oorhaal.
  • Dit is dwaas om te skinder – 26:22-23.  Die probleem met skinder is dat mense dit so maklik glo, en dat die mense waaroor geskinder word, nie daar is om hulleself te verdedig nie.  Eintlik moet ‘n mens onmiddellik wanneer iemand (of jyself) begin skinder, jouself daaraan herinner, ‘n skindery is altyd met slegte bedoelings.  Die mooi woorde is maar net om die slegte bedoelings weg te steek.
  • Dit is dwaas om jou ware gevoelens te verberg – 26:24-26.  Dit is die keersy van skinder, om jou haat, jou bose bedoelings en jou valsheid te verbloem met vriendelike praatjies en ‘n valse skyn.  Uiteindelik kom die bose bedoelings in elk geval aan die lig in wat jy doen, en dan weet almal dit in elk geval.
  • Jy val baie keer self in die gat wat jy vir ander grawe – 26:27.
  • Leuens en vleitaal het dieselfde destruktiewe uitwerking – dit maak seer en bewerk ‘n ander se ondergang – 26:28.

‘n Mens het nodig om dié spreuke in gedagte te hou as jy in gesprek gaan met dwase.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Spreuke


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda