Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou

Markus

Hiermee kom ons by Deel 3 van Markus se evangelie.  Die skares en die Fariseërs begin nou op die agtergrond verdwyn.  Jesus gee sy volle aandag aan sy dissipels, ten spyte van hulle hardheid van hart en onbegrip.  Die drie lydingsaankondigings vorm die hart van hierdie gedeelte.

Jesus kom volgens Markus (enigste evangelis wat die verhaal vertel) uiteindelik in Betsaida aan, maar kry steeds nie rus nie.  Mense bring ‘n blinde man na Hom toe vir genesing.  Getrou aan sy strategie om die samedromming om Hom te verminder, neem Hy die man buite die dorp, genees hom en stuur hom huis toe met die opdrag om nie weer die dorp binne te gaan nie.  Interessant dat Jesus weer spoeg gebruik en dat die genesing twee stadia insluit (uniek in die genesingsverhale).

Sommige geleerdes dink dat die twee stadia eintlik ‘n “acted parable” is, dat Jesus hiermee eintlik vooruit wys na die verskillende stadiums waardeur sy dissipels sal moet gaan om regtig geestelik te kan sien.  Soos Guelich sê: “They are in need of a ‘second touch’ which ultimately comes after Easter”.  Die man se genesing funksioneer dus ook as ‘n metafoor in die res van die verhaal: net dié wie se oë Jesus genees, kan sien – in geestelike sin.

Op pad na Sesarea-Filippi (eintlik ‘n ompad, weg van Jerusalem af?) draai die gesprek met sy dissipels om sy identiteit: “Wie, sê die mense, is Ek?”  Interessant is dat die antwoorde van mense Jesus met sy voorlopers identifiseer (‘n opgestane Johannes die Doper, Elia wat volgens Maleagi weer sou kom, of een van die profete).  Petrus maak egter die belangrike belydenis dat Jesus die Christus is, dit beteken: die gesalfde, die Messias, presies dit waarmee die evangelie se openingsin begin: “Die evangelie van Jesus Christus …”.  Getrou aan Jesus se werkswyse belet Hy hulle om dié belydenis verder bekend te maak om die leiers van die volk nie  iets te gee wat Sy bediening voortydig kan inkort nie.

‘n Wending tree nou in die verhaal in, heel gepas direk na die eerste werklike aanvaarding van die openbaring van Hom as die Christus.  Soos Matteus dit vertel, is Jesus van hier af op pad na Jerusalem toe.  Jesus begin om sy dissipels dieper in te lei in sy ware status en roeping: om deur die leiers verwerp te word, doodgemaak te word, maar drie dae later weer op te staan.  Hulle het dit gesnap dat Hy die Messias is, maar nou moes hulle Hom as die Lydende Messias leer ken (Jes 53).  Hierdie eerste reguit aankondiging van sy dood en opstanding word egter met onbegrip begroet, en Petrus neem Hom opsy en berispe Hom.  Sy woorde word nie weergegee, soos wel die geval is in Matteus nie.  Sommige geleerdes dink dat Petrus dit verswyg het in die oorvertel van sy herinneringe aan Markus.

Jesus antwoord hierdie onbegrip deur sterk te begin fokus op ‘n dieper lering oor die eise van dissipelskap.  In ‘n sekere sin kan ‘n mens dit ook die Lydensweg van die Dissipels noem (Groenewald).  Die skare word nog hier saam met die dissipels onderrig, maar die dissipels is die eintlike fokus van Jesus se onderrig.  Dissipelskap kos ‘n prys: selfverloëning, kruis opneem (teken van volle oorgawe en nie ‘n verheerliking van pyn nie) en navolging.  Jesus koppel dit aan die paradoks van lewe deur verlies: wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; wie sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, sal dit behou.  Daar is geen sin in die wins van die wêreld, maar die verlies van jou lewe.

Interessant dat Jesus die spilpunt vir sy argument aan die woord skaam koppel: Wie Hom nou skaam vir my tussen die mense, vir Hom sal Ek my dan skaam tussen die hemelinge met die wederkoms.  Hy sluit die lering af met die verklaring dat baie van dié wat daar staan, in hulle lewe die koninkryk van God met krag sal sien kom.  Dit verwys heel waarskynlik na die opstanding uit die dood, wat nie vir almal beskore was om te sien nie (Rom 1:4; Hand 10:41).

Matteus, Lukas en Johannes

Matteus brei uitvoerig uit oor Petrus se belydenis, noem Jeremia as een van die profete waarmee mense Jesus verbind, en voeg die frase by: “Seun van die lewende God”.  Jesus tree dan met hom in gesprek wat uitloop op die ongelooflike uitspraak van Jesus, dat op hierdie belydenis sal Hy sy kerk bou.  Net so brei hy uit op die eerste aankondiging van Jesus se lyding, dood en opstanding waarin Petrus se berispende gesprek en Jesus se afwysende antwoord daarop weergegee word.  Hy verkort die gesprek oor dissipelskap, maar voeg een perspektief by wat nie in die ander twee Sinoptici voorkom nie, waar elkeen by die wederkoms volgens hulle dade vergeld sal word.  Dit verwys egter waarskynlik steeds in die konteks na die nakoming van die eise van dissipelskap en nie na enige werksheiligheid nie.

Lukas plaas die gesprek oor die belydenis in die konteks van Jesus wat besig is om te bid, en gee Petrus se uitspraak as volg weer: “Die Gesalfde van God.”  Hy verkort Markus se aankondiging van Jesus se dood en opstanding na ‘n enkele sin.  Hy volg Markus se weergawe van Jesus se lering oor dissipelskap, hoewel net korter.

Johannes plaas die belydenis van Petrus in die konteks van ‘n hele aantal dissipels wat Jesus verlaat het, en op Jesus se vraag of hulle nie ook wil gaan nie, maak Petrus dan die belydenis dat hulle by Hom wil bly, want Hy is die Heilige van God.  Jesus se reaksie daarop is dat daar steeds een van dié wat agtergebly het is wat eintlik ‘n duiwel is, bedoelende Judas.

View all posts in this series

Dissipelskap, identiteit, lyding, opstanding, sterwe


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Ek lees vandag op oor die bedoeling van wat Jesus vir Petrus gesê het “Jy is n rots…” en ek lees deur n paar kommentare op soek na n moontlike iterpretasie; Kry wat die Rooms Katolieke en ook die Protestante glo wat nie heeltemal vir my n antwoord gee nie. So in die ry, luister ek na Prof Wentzel Coetzer se Seën program. Hy gee toe nog n alternatief, in dat toe Jesus dit vir Petrus gesê het, was hy nog glad nie die rots nie, Jesus het egter die potensiaal in Petrus gesien en het geweet dat hy n groot prediker sal wees, al het Petrus dit self nie gesien nie. Dalk iets wat ons kan deurtrek na vandag toe? Sien ons in ons eie mense om ons die potensiaal of al die mislukkings?

  • Rooms-Katolieke fokus op Petrus as leier en Protestante op sy belydenis as die rots van die kerk. Jou voorstel beteken dan dat Jesus potensiaal raakgesien het, wat raakpunte het met die RK siening. Interessant! Ek dink al drie interpretasies kan ingelees word in die teks, en hang maar af van met watter bril 'n mens kyk en wat jy daarmee wil maak. In die prof se voorstel kan 'n mens dan met 'n meer waarderende ingesteldheid na ander kyk. 'n Mens kan ook natuurlik die potensiaal van God se kant af inlees: dws Jesus het geweet wat Hy met Petrus gaan doen, dws die potensiaal wat daar in Homself is om in Petrus te belê …

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: