Skip to main content

Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens

Markus (Matteus en Lukas)

3.  Die koms van die Seun van die mens

Jesus verstel weer sy versier en fokus nou op sy Wederkoms, die klimaks van hierdie profetiese rede. Sy koms sal gepaard gaan met kosmiese tekens – ontwrigtings aan die son, maan, sterre, en ander kragte in die hemelruim (Jes 13:10: Joel 2:10, 31; 3:15 – vgl Petrus in sy toespraak op Pinksterdag in Hand 2 wat ook hierna verwys en dit verbind aan die uitstorting van die Heilige Gees).  Met die Seun van die mens (Dan 7:13) kom ook die engele wat die uitverkorenes versamel.

Matteus brei uit oor die verslaentheid wat oor die volke van die aarde sal kom en praat ook van die groot trompet wat dit alles sal aankondig.  Lukas praat ook van die radeloosheid en angs van die mense vir die “gebulder van die see en sy vloedgolwe”(tsunamis?).  Hy bemoedig die gelowiges egter met die boodskap dat hierdie dinge eintlik ‘n teken is dat hulle verlossing naby is.  Daarom moet hulle regop staan en hulle koppe oplig!

4.  Die voorbeeld van die vyeboom

Jesus gebruik dan die voorbeeld van die vyeboom se seisoenale verandering in die lente wat as teken dien dat die somer naby is, om die dissipels op die regte wyse na dié tekens te laat kyk.  “Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur,” sê Jesus.  Die natuurlikste interpretasie van “hierdie geslag” is dat dit na die Jode van Jesus se tyd verwys (vgl Mark 8:12). Dws, die profetiese rede sal in die Joodse volk van daardie tyd se leeftyd vervul word.  En dit op sigself is ‘n teken dat die Wederkoms naby is.

Matteus neem Markus net so oor en Lukas noem dit ‘n gelykenis eerder as ‘n voorbeeld.  Hy praat ook van die tekens as tekens van die koninkryk van God.

5.  Die tyd en datum van die wederkoms

Jesus sluit die profetiese rede af deur sy oproep tot gereedheid en waaksaamheid te herhaal, want die tyd en datum van die wederkoms is net bekend vir Sy Vader.  Hy gebruik die voorbeeld van ‘n deurwagter wat nie weet wanneer die huiseienaar weer terug kom nie, en daarom sal wakker bly.

Matteus gebruik ook die voorbeeld van die situasie in die tyd van Noag wat as wekroep vir die dissipels moet dien om waaksaam te wees.  Hy praat ook van die onderskeid wat met die wederkoms tussen mense getref sal word, waarskynlik op grond van hulle waaksaamheid al dan nie.  Die deurwagter voorbeeld van Markus word anders deur hom vertel. By Matteus is dit die huiseienaar self wat waaksaam is terwyl hy vir ‘n dief wag.

Lukas verbind die oproep tot waaksaamheid baie spesifiek aan die gevaar dat hulle gees deur onmatige etery en drinkery en die sorge van die lewe afgestomp sal word, en die dag hulle soos ‘n vangnet kan oorval.  Hy roep hulle ook op tot voortdurende gebed.

View all posts in this series

Markus, profetiese rede, waaksaam


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar