Skip to main content

Tag: Dissipelskap

Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou

Markus

Hiermee kom ons by Deel 3 van Markus se evangelie.  Die skares en die Fariseërs begin nou op die agtergrond verdwyn.  Jesus gee sy volle aandag aan sy dissipels, ten spyte van hulle hardheid van hart en onbegrip.  Die drie lydingsaankondigings vorm die hart van hierdie gedeelte.

Jesus kom volgens Markus (enigste evangelis wat die verhaal vertel) uiteindelik in Betsaida aan, maar kry steeds nie rus nie.  Mense bring ‘n blinde man na Hom toe vir genesing.  Getrou aan sy strategie om die samedromming om Hom te verminder, neem Hy die man buite die dorp, genees hom en stuur hom huis toe met die opdrag om nie weer die dorp binne te gaan nie.  Interessant dat Jesus weer spoeg gebruik en dat die genesing twee stadia insluit (uniek in die genesingsverhale).

Sommige geleerdes dink dat die twee stadia eintlik ‘n “acted parable” is, dat Jesus hiermee eintlik vooruit wys na die verskillende stadiums waardeur sy dissipels sal moet gaan om regtig geestelik te kan sien.  Soos Guelich sê: “They are in need of a ‘second touch’ which ultimately comes after Easter”.  Die man se genesing funksioneer dus ook as ‘n metafoor in die res van die verhaal: net dié wie se oë Jesus genees, kan sien – in geestelike sin.

Op pad na Sesarea-Filippi (eintlik ‘n ompad, weg van Jerusalem af?) draai die gesprek met sy dissipels om sy identiteit: “Wie, sê die mense, is Ek?”  Interessant is dat die antwoorde van mense Jesus met sy voorlopers identifiseer (‘n opgestane Johannes die Doper, Elia wat volgens Maleagi weer sou kom, of een van die profete).  Petrus maak egter die belangrike belydenis dat Jesus die Christus is, dit beteken: die gesalfde, die Messias, presies dit waarmee die evangelie se openingsin begin: “Die evangelie van Jesus Christus …”.  Getrou aan Jesus se werkswyse belet Hy hulle om dié belydenis verder bekend te maak om die leiers van die volk nie  iets te gee wat Sy bediening voortydig kan inkort nie.

‘n Wending tree nou in die verhaal in, heel gepas direk na die eerste werklike aanvaarding van die openbaring van Hom as die Christus.  Soos Matteus dit vertel, is Jesus van hier af op pad na Jerusalem toe.  Jesus begin om sy dissipels dieper in te lei in sy ware status en roeping: om deur die leiers verwerp te word, doodgemaak te word, maar drie dae later weer op te staan.  Hulle het dit gesnap dat Hy die Messias is, maar nou moes hulle Hom as die Lydende Messias leer ken (Jes 53).  Hierdie eerste reguit aankondiging van sy dood en opstanding word egter met onbegrip begroet, en Petrus neem Hom opsy en berispe Hom.  Sy woorde word nie weergegee, soos wel die geval is in Matteus nie.  Sommige geleerdes dink dat Petrus dit verswyg het in die oorvertel van sy herinneringe aan Markus.

Jesus antwoord hierdie onbegrip deur sterk te begin fokus op ‘n dieper lering oor die eise van dissipelskap.  In ‘n sekere sin kan ‘n mens dit ook die Lydensweg van die Dissipels noem (Groenewald).  Die skare word nog hier saam met die dissipels onderrig, maar die dissipels is die eintlike fokus van Jesus se onderrig.  Dissipelskap kos ‘n prys: selfverloëning, kruis opneem (teken van volle oorgawe en nie ‘n verheerliking van pyn nie) en navolging.  Jesus koppel dit aan die paradoks van lewe deur verlies: wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; wie sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, sal dit behou.  Daar is geen sin in die wins van die wêreld, maar die verlies van jou lewe.

Interessant dat Jesus die spilpunt vir sy argument aan die woord skaam koppel: Wie Hom nou skaam vir my tussen die mense, vir Hom sal Ek my dan skaam tussen die hemelinge met die wederkoms.  Hy sluit die lering af met die verklaring dat baie van dié wat daar staan, in hulle lewe die koninkryk van God met krag sal sien kom.  Dit verwys heel waarskynlik na die opstanding uit die dood, wat nie vir almal beskore was om te sien nie (Rom 1:4; Hand 10:41).

Matteus, Lukas en Johannes

Matteus brei uitvoerig uit oor Petrus se belydenis, noem Jeremia as een van die profete waarmee mense Jesus verbind, en voeg die frase by: “Seun van die lewende God”.  Jesus tree dan met hom in gesprek wat uitloop op die ongelooflike uitspraak van Jesus, dat op hierdie belydenis sal Hy sy kerk bou.  Net so brei hy uit op die eerste aankondiging van Jesus se lyding, dood en opstanding waarin Petrus se berispende gesprek en Jesus se afwysende antwoord daarop weergegee word.  Hy verkort die gesprek oor dissipelskap, maar voeg een perspektief by wat nie in die ander twee Sinoptici voorkom nie, waar elkeen by die wederkoms volgens hulle dade vergeld sal word.  Dit verwys egter waarskynlik steeds in die konteks na die nakoming van die eise van dissipelskap en nie na enige werksheiligheid nie.

Lukas plaas die gesprek oor die belydenis in die konteks van Jesus wat besig is om te bid, en gee Petrus se uitspraak as volg weer: “Die Gesalfde van God.”  Hy verkort Markus se aankondiging van Jesus se dood en opstanding na ‘n enkele sin.  Hy volg Markus se weergawe van Jesus se lering oor dissipelskap, hoewel net korter.

Johannes plaas die belydenis van Petrus in die konteks van ‘n hele aantal dissipels wat Jesus verlaat het, en op Jesus se vraag of hulle nie ook wil gaan nie, maak Petrus dan die belydenis dat hulle by Hom wil bly, want Hy is die Heilige van God.  Jesus se reaksie daarop is dat daar steeds een van dié wat agtergebly het is wat eintlik ‘n duiwel is, bedoelende Judas.

Markus 6:7-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys

Markus

Die toegespitse aandag aan die dissipels begin met hierdie opdrag in alle erns.  Dit tref my hoe Jesus “die twaalf” twee-twee uitstuur.  Dit bly die normale patroon van enige werk vir die Here, om dit in gemeenskap met ander te doen.  Dit tref my ook dat hulle nie in detail voorsiening moet maak vir die werk nie, maar afhanklik moes wees van die ontvangs van mense op die plekke waar hulle sou gaan.  Mense wat hulle nie ontvang nie, word ook doodgewoon verlaat om uit te kom by dié wat hulle nodig het.  En dié mense kom tot bekering, mense met bose geeste ontvang bevryding en siekes word gesond gemaak.  Interessant dat hulle met olie gesalf word, soos ons later ook by Jakobus 5:14 sal lees.

Dit is ook merkwaardig hoe hierdie verhaal vertel word in die konteks van Herodes wat Johannes die Doper onthoof het. Dit vorm die agtergrond van Herodes (Antipas – seun van Herodes die Grote wat ‘n kwart van sy pa se ryk regeer het) se verwondering oor Jesus.  Sy tweestryd oor Johannes word oorwoeker deur sy onbedagte belofte aan sy dogter (Salome), en hy moet haar gee wat sy vra: Johannes se kop op ‘n skinkbord.  Daarmee kom die lesers agter dat dissipelskap altyd ‘n prys vra.  Soos Johannes vir sy dissipelskap met sy lewe geboet het, sou Jesus dit ook doen.  En dié lot sou ook menige van hierdie dissipelkring tref.  Dit laat my ook besef dat ‘n mens regtig seker moet maak die Here stuur jou, sodat jou offer vir God se saak gegee word.

Matteus en Lukas

Moontlik gedagtig aan sy gehoor van Joodse Christene, vermeld Matteus spesifiek dat Jesus se opdrag nie die heidene of Samaritane ingesluit het nie.  Die eerste fokus was die verlore skape van Israel.  Hierdie gestuurdheid sou later verander en in die Groot Opdrag van Matteus 28 uitgebrei word na alle nasies.  Matteus gee ook die rede vir die verbod op voorsiening vir die reis: “‘n Arbeider is tog geregtig op sy onderhoud”.  Lukas bly by die feite soos Markus dit weergegee het, hoewel met sy eie beklemtoninge, soos dat hulle nie eers ‘n kierie moet saamvat nie.

Matteus vertel ook die verhaal van die onthoofding van Johannes die Doper meer uitgebreid en bly by die feite van die verhaal soos Markus dit vertel het.  Lukas verkort die verhaal tot ‘n enkele paar sinne.

Markus 3:7-30 – Die impak van die bediening verskerp

Dié week lees ons hoofstuk 3:7-6:6a

Ek gaan dit as volg lees:

  • Donderdag: 3:7-30
  • Vrydag: 3:31-4:12
  • Maandag: 4:13-29
  • Dinsdag: 4:30-41
  • Woensdag: 5:1-6:6

Oorsig

Hoofstuk 3:7-4:34 – Die impak van die bediening verskerp – op Jesus self, sy familie, die dissipelkring en in al groter wordende kring op die mense van die Midde-Ooste.  En die teenstand verskerp natuurlik daarmee saam.  Aan die een kant is Jesus se familie daaroor verward, en aan die ander kant doen Jesus die wyse ding (soos Moses) om 12 apostels aan te stel, juis om die eise van die bediening die hoof te bied.

Hoofstuk 4:35-6:6a – Dit word opgevolg met ‘n reeks wonderdade (see, duiwels, dood, onreinheid) waarin geloofshoudings ‘n belangrike rol gaan speel.  Soos Gordon Fee sê:

“Wonder and awe come easy; true faith not.” (How to Read the Bible Book by Book, p 282)

‘n Groot toeloop van mense na Jesus toe – 3:7-12

Jesus wissel sy bediening af tussen optredes by die see van Galilea en in die dorp by Kapernaum.  Dit wil voorkom of Hy meer afsondering by die see wou hê, dit is waar Hy bv. gaan bid het (1:35), maar mense stroom van oral oor na Hom toe om deur Hom aangeraak te word, uit Judea, uit Sirië, uit Fenisië en selfs uit Edom (Idumea), die gebied van Esau.  Dit samedromming van die skares by die see is so groot, dat Hy vanuit ‘n skuitjie begin bedien.  Telkens gee Hy steeds die bevel tot geheimhouding, veral rondom die bediening van duiweluitdrywing, hoewel dit in die praktyk ‘n baie beperkte effek het.

Matteus en Lukas

Matteus en Lukas plaas die gebeure aan die begin van die Bergrede (of in Lukas se geval, miskien eerder die Vlakterede!).  Matteus verkort Markus se verhaal, hoewel hy Dekapolis (‘n gebied met 10 Griekse stede wat aan Sirië onderdanig was) byvoeg.  Lukas kombineer die bevel rondom geheimhouding met die gedeelte oor die genesing van Petrus se skoonma.  Lukas verklaar ook hoekom die mense so naby Jesus gekom het – hulle wou Hom aanraak omdat daar krag tot genesing uit Hom gegaan het.

Die aanstelling van die twaalf apostels – 3:13-19

Soos in die vorige perikoop gesien kan word, Jesus se impak neem steeds toe met ‘n hele klomp meer dissipels as die aanvanklike 5 wat hy geroep het, dat Hy besluit om 12 apostels aan te stel.  Hy noem hulle hier vir eerste keer apostels, d.w.s. gestuurdes.  Hulle moes by Hom bly, sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek.

Matteus en Lukas

Matteus verkort Markus se weergawe, maar sit tog iets ekstra by, die verwysing dat die dissipels ook die mag verkry om siekes gesond te maak.  Lukas noem hoe die aanstelling gekom het na Jesus ‘n nag lank gaan bid het daaroor, hoewel hy nie hier spesifiek oor hulle bediening uitwei nie (vgl Luk 10 egter).

Meer inligting oor die verskille in die lyste van die apostels

Die lastering teen die Heilige Gees – 3:20-30

Die samedromming om Jesus het nou so groot geword, dat Hy by die huis nie kans kry om te eet nie (vgl Joh 4:34 – sy voedsel is om die wil van sy Vader te doen).  Sy familie (“sy mense” uit Nasaret) word daardeur baie verontrus, veral omdat hulle sy bediening nie regtig verstaan nie, en dink dat Hy versteurd geraak het.  Daarom kom hulle na Kapernaum om Hom te kom haal, hoewel dit vrugteloos blyk te wees(die vertelling gaan voort in 3:21-23). Die skrifgeleerdes gryp dié kommer van die familie aan om Jesus se bediening verder verdag te maak, en dit ironies genoeg toe te skryf aan besetenheid deur Beëlsebul (“die Heer van die huis” van die Hebreeus Baäl-Zebûl), die duiwel.

Dit bly vir my interessant hoe Jesus telkens op hierdie verdagmakery reageer.  In plaas daarvan om hulle net af te skryf, of te ignoreer, antwoord Hy hulle en probeer verduidelik met 3 voorbeelde – koninkryk, huisgesin en Satan se koninkryk – hoe hulle mening nie sin maak nie.  Hy plaas sy eie bediening dan in die konteks van ‘n “berowing” van Satan.  Hy spel ook die gevaar uit van die mening van die skrifgeleerdes, dat dit uiteindelik God se werk aan die duiwel toeskryf, en dit is ‘n ewige fout, ‘n keuse teen God, die sonde teen die Heilige Gees.

Matteus en Lukas

Daar is redelike onderlinge verskille in detail en beklemtoninge tussen die drie evangelies rondom hierdie verhaal, hoewel dit nie wesenlik is nie, en net die eie Jesus-portret helder skilder wat elkeen vertel.  Waar Markus sy verhaal nie hier aan ‘n konkrete voorbeeld koppel nie, koppel Matteus en Lukas dit aan die uitdrywing van ‘n bose gees uit ‘n blinde en stom man.  Lukas noem net dat hy stom was.

Matteus noem nie die reaksie van Jesus se familie nie in hierdie konteks nie, Lukas ook nie.  Matteus koppel die negatiewe reaksie van die Fariseërs aan die uitspraak van die menigte dat Jesus miskien die Seun van Dawid (die verwagte Messias) kon wees.  Lukas weer voeg by dat ander Hom op die proef wou stel met ‘n versoek om ‘n wonderteken.

Matteus en Lukas brei verder uit op Jesus se opmerking dat die skrifgeleerdes en Fariseërs se mening nie sin maak nie, deur met ‘n retoriese vraag hulle te wys daarop dat hulle eie volgelinge ook nie die duiwel inspan om die duiwels uit te dryf nie.  Matteus koppel dan die uitdryf van duiwels aan die Heilige Gees en Lukas aan die vinger van God, en wys hoe dit tekens is van die koninkryk van God wat naby gekom het.

Matteus en Lukas vul Markus se verhaal ook aan met Jesus se uitspraak dat dié wat nie aan sy kant is nie, is téén Hom (Jesus gebruik die omgekeerde uitspraak in Markus 9:40: “Wie nie téén ons is nie, is vir ons.” waar dit ook oor duiweluitdrywing gaan).

Markus 1:9-20 – om deur Christus geroep te wees, is om ‘n dissipel te wees

Vandag lees ek soos ‘n vakleerling:

  • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
  • Wat moet ek hiermee doen?

Markus

Jesus se doop, versoeking, eerste prediking en roeping van sy dissipels word met vinnige penstrepe geteken.  Sy tuisdorp plaas Hom binne Joodse konteks.  Die doop met water verbind Hom aan mense wat bekering nodig het.  Die doop met die Heilige Gees verbind Hom aan God wat deur Jesus goeie nuus vir sulke mense bring.  Die versoeking in die woestyn stel Hom voor as beproefde en getoetste boodskapper.

Let op hoe sy prediking in Galilea, sy tuisgebied, begin en hoe op die punt af dit gelewer word: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom.  Bekeer julle en glo die evangelie.”  Hy is die Een waarvan Johannes die Doper gepraat het, en Hy bring die goeie nuus wat lank gelede al belowe is (Jesaja en Maleagi).

Sonder omhaal van woorde word die volgende stap in hierdie vinnigvloeiende agenda van Jesus uitgevoer.  Hy roep sy eerste dissipels (vgl Elia en Elisa in 1 Kon 19:19-21) en draai geen doekies om oor hulle nuwe lewenstaak nie: “Kom hier!  Kom saam met My [letterlik: ‘Kom agter My aan’], en Ek sal julle vissers van mense maak.”  En die reaksie van die eerste dissipels is om onmiddellik hulle werpnette te los en Hom te volg.  Jesus se roeping is dus gesagvol, soos ook verderaan met die prediking en die uitdrywing van die duiwels sal blyk, en effektief.

Die dissipels vervul ‘n baie belangrike rol in Markus se vertelling van die evangelie.  Dit is belangrik vir Markus om aan te toon dat hulle van die begin af saam met Jesus is, veral die vier wat hier genoem word.  Interessant dat hulle 2-2 geroep word, wat heel moontlik ‘n patroon vir dissipelskap daar stel (vgl. Mark 6:7 en Luk 10).  Daarby kan hy met hulle reaksies (en gebrek daaraan) Jesus en die ander karakters in sy verhaal beter definieer en beskrywe.  En, ons die lesers, kan met hulle identifiseer. Van die begin af is hulle ook besig met in diens opleiding as dissipels.

Dit laat my besef:

Om deur Christus geroep te wees, is om ‘n dissipel te wees.  Ek moet Hom volg.

Die ander evangelies

Die optrede van Johannes die Doper

Matteus (3:13-17) brei uit oor die gesprek wat tussen Jesus en Johannes die Doper ontstaan oor die gepastheid dat Jesus deur Johannes gedoop word.  Jesus oortuig hom egter dat dit God se wil is, en dieselfde tekens begelei hierdie doop: die duif en die stem. Lukas (3:21-22) hou meer by die korter weergawe van Markus, hoewel hy bv. ‘n ander woord gebruik vir die openbaring van die Heilige Gees (die hemel het oopgegaan eerder as oopgeskeur soos in Markus).  Dit wil ook lyk asof meer mense die duif gesien het, nie net Jesus en/of Johannes nie.

Die evangelie van Johannes vertel ook die verhaal van Jesus se doop (1:29-34) maar uit die hoek van die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.  Waar Markus en Matteus vertel dat Jesus die duif gesien het, is dit hier ook Johannes die Doper wat die wondergebeure gadeslaan en ingetrek word in die gesprek met God oor die betekenis daarvan.

Jesus word versoek

Matteus (4:1-11) en Lukas (4:1-13) vertel die verhaal van die versoeking in die woestyn met baie meer detail.  Hulle brei uit oor die effek op Jesus (honger), en sy verweer uit die Skrif in antwoord op die versoekings.  Matteus en Lukas se vertelling van die onderskeie versoekings kom ooreen, hoewel die orde verskil.  Matteus vermeld nie die wilde diere (teken van die vredesryk wat aanbreek – vgl Jes 11:6-8) soos Markus nie, wel die engele wat Jesus hierna kom versorg.  Lukas het niks daaroor nie, net dat die Satan Hom vir ‘n ruk met rus gelaat het.  Let ook op hoe Lukas, anders as Matteus wat sy evangelie daarmee begin, Jesus se geslagsregister plaas tussen die verhaal van die doop en die versoeking, en dit van Jesus se verbintenis aan Josef terugvertel tot by Adam, wat die seun van God genoem word.

Jesus begin preek

Jesus se eerste optrede word deur Matteus (4:12-17) en Lukas (4:14-15) ook in Galilea geplaas, spesifiek in Kapernaum, soos Markus later ook skryf met die verhaal van die besetene wat genees word, en verbind aan die profesie in Jesaja 8:23-9:2.  Jesus se eerste prediking word deur Matteus in dieselfde kort woorde as in Markus weergegee.  Lukas verbind die prediking eksplisiet aan die krag van die Gees en die effek daarvan op die mense, veral in die sinagoges, en dat almal met lof van Hom gepraat het.

Jesus roep sy eerste dissipels

Die roeping van die eerste dissipels word op soortgelyke wyse in Matteus (4:18-22) as in Markus vertel.  Matteus plaas dit ook direk na die eerste berig oor Jesus se prediking.

Lukas (5:1-11) se weergawe verskil van Markus en Matteus s’n, beide in die plasing daarvan – die prediking in Nasaret, sowel as ‘n paar optredes in Kapernaum word daarvoor geplaas – as in die beskrywing daarvan.  Lukas plaas dit in die konteks van die lering van die skare en ‘n wonderteken aan Simon.

Johannes se vertelling van die roeping van die eerste dissipels verskil ook, onder ander in die bykomende detail oor Filippus en Natanael se roeping, en die plasing van die roeping van Andreas by die Jordaan rivier, eerder as by die See van Galilea (ook See van Tiberias [Joh 21:1], See van Gennesaret [Luk 5:1] genoem).  Andreas is ook die een wat vir Simon by Jesus uitbring, anders as in die ander evangelies.

Onlangse kommentaar