Skip to main content

Tag: identiteit

1 Korintiërs 1 – Partyskappe skend die Eenheid in Christus

Let op hoe Paulus sy brief begin met ’n verantwoording van sy roeping as apostel van Jesus Christus, die eerste keer dat hy die benaming begin gebruik.  Hy begrond sy apostelskap in God se wil, waarvandaan ook sy gesag kom om met “God se gemeente” in Korinte in gesprek te tree.

Sostenus, waarskynlik die voormalige hoof van die sinagoge in Korinte (Hand 18:17), maar nou ’n gelowige en medebedienaar van die Woord, word nie net saam met Paulus as outeurs van die brief aangedui nie, maar dit kan wees dat Paulus dit moontlik aan hom as sekretaris gedikteer het (1 Kor 16:21).

Let op hoe Paulus God dank vir die wyse waarop Sy genade onder hulle posgevat het, veral in die gawes van woord en kennis.  Hy is ook opgewonde dat hulle vol verwagting uitsien na die wederkoms (al gaan hy in hfst. 15 tog weer hieroor gesels).  Geloof en hoop is goed gevestig in hulle gemeente.

Maar hy kan hulle nie loof vir hulle gebrek aan eenheid nie.  Die onderlinge liefde ontbreek dus.  Vergelyk dit met sy dankwoord aan die Tessalonisense waar hy hulle geprys het vir hulle geloof, liefde en hoop (1 Tes 1:3; 2 Tes 1:3-4).  Geen wonder dat hy ’n hele hoofstuk later sou afstaan aan die onderwerp van die liefde nie, want dít is wat hulle kort gekom het (1 Kor 13).

Hy spreek hulle daarom skerp aan oor die verdeeldheid wat veral in groepvorming en partyskappe onder hulle na vore kom, soos Chloë se mense aan hom kom oordra het.  Dit is immers hulle roeping, om met mekaar “verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.”

Die gemeente het hulle identiteit in vier groepe gesoek, dié vir Paulus (die stigter van die gemeente), dié vir Apollos (’n uitstekende redenaar uit Aleksandrië), dié vir Sefas (Petrus, die leier van die apostels) en dié vir Christus (die werklik vromes?!).  Let op dat die verskille nie leerstellig was nie, maar groepvorming of partyskappe rondom leiers.  Paulus gril by dié gedagte en gaan direk oor tot ’n diepsinnige Christologiese verantwoording van hulle identiteit: Ons is Een in Christus, die krag en die wysheid van God.  Hy is die enigste leier wat in die middelpunt van ’n gemeente mag staan.

Met verwysing na Jesaja 29:14 bevestig Paulus in vers 19 en verder die OT gedagte dat God Hom nie aanpas by die heersende wysheid van mense nie, maar ontferm oor dié wat glo. Dit is nie wat jy weet wat God se aandag trek nie, maar dat jy glo.  Hiermee rig Paulus hom teen beide die Joodse en Griekse weersin in die boodskap van die kruis – die Jode neem aanstoot daarin omdat hulle eerder ’n wonderteken sou wou sien (ironies dat hulle die wonder van die opstanding geïgnoreer het en net op die kruis gefokus het); die Grieke dink dis onsin omdat dit menslike denke uitgesluit het, en net afhanklik was van geloof in God.

Hoewel Paulus in hoofstuk 2 eers verder gaan uitbrei oor hoekom God die weg van die prediking en die openbaring van die Gees kies om sy boodskap aan mense oor te dra, gaan hy in hoofstuk 3 terugkom na die betekenis van hierdie gedagte – dat God se wysheid en menslike wysheid teenoor mekaar staan – en dit van toepassing maak op die “wyse” idee van groepvorming, en uitwys hoe dwaas dit in die oë van God is.  Groepvorming kom na vore uit jaloesie en twis en skaad die gemeente, wat die gebou van God is.

Eenheid is ononderhandelbaar in die kerk wat God tot stand bring in ’n gebied.

Die ding wat my dus uit hierdie eerste hoofstuk by bly, is die klem op eenheid.  Dit is doodgewoon onaanvaarbaar dat daar groepvorming en partyskappe in ’n gemeente rondom leiers ontstaan, hetsy uit jaloesie of uit ’n getwis.  En elkeen van ons moet ons eie lojaliteite in die gemeente ondersoek of ons nie ook hieraan skuldig is nie, hoe onskuldig dit op die oog af ook al vir ons kan voorkom.  En dan praat ek nie eers van die breër Christelike prentjie in ons stede en dorpe nie …

Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou

Markus

Hiermee kom ons by Deel 3 van Markus se evangelie.  Die skares en die Fariseërs begin nou op die agtergrond verdwyn.  Jesus gee sy volle aandag aan sy dissipels, ten spyte van hulle hardheid van hart en onbegrip.  Die drie lydingsaankondigings vorm die hart van hierdie gedeelte.

Jesus kom volgens Markus (enigste evangelis wat die verhaal vertel) uiteindelik in Betsaida aan, maar kry steeds nie rus nie.  Mense bring ‘n blinde man na Hom toe vir genesing.  Getrou aan sy strategie om die samedromming om Hom te verminder, neem Hy die man buite die dorp, genees hom en stuur hom huis toe met die opdrag om nie weer die dorp binne te gaan nie.  Interessant dat Jesus weer spoeg gebruik en dat die genesing twee stadia insluit (uniek in die genesingsverhale).

Sommige geleerdes dink dat die twee stadia eintlik ‘n “acted parable” is, dat Jesus hiermee eintlik vooruit wys na die verskillende stadiums waardeur sy dissipels sal moet gaan om regtig geestelik te kan sien.  Soos Guelich sê: “They are in need of a ‘second touch’ which ultimately comes after Easter”.  Die man se genesing funksioneer dus ook as ‘n metafoor in die res van die verhaal: net dié wie se oë Jesus genees, kan sien – in geestelike sin.

Op pad na Sesarea-Filippi (eintlik ‘n ompad, weg van Jerusalem af?) draai die gesprek met sy dissipels om sy identiteit: “Wie, sê die mense, is Ek?”  Interessant is dat die antwoorde van mense Jesus met sy voorlopers identifiseer (‘n opgestane Johannes die Doper, Elia wat volgens Maleagi weer sou kom, of een van die profete).  Petrus maak egter die belangrike belydenis dat Jesus die Christus is, dit beteken: die gesalfde, die Messias, presies dit waarmee die evangelie se openingsin begin: “Die evangelie van Jesus Christus …”.  Getrou aan Jesus se werkswyse belet Hy hulle om dié belydenis verder bekend te maak om die leiers van die volk nie  iets te gee wat Sy bediening voortydig kan inkort nie.

‘n Wending tree nou in die verhaal in, heel gepas direk na die eerste werklike aanvaarding van die openbaring van Hom as die Christus.  Soos Matteus dit vertel, is Jesus van hier af op pad na Jerusalem toe.  Jesus begin om sy dissipels dieper in te lei in sy ware status en roeping: om deur die leiers verwerp te word, doodgemaak te word, maar drie dae later weer op te staan.  Hulle het dit gesnap dat Hy die Messias is, maar nou moes hulle Hom as die Lydende Messias leer ken (Jes 53).  Hierdie eerste reguit aankondiging van sy dood en opstanding word egter met onbegrip begroet, en Petrus neem Hom opsy en berispe Hom.  Sy woorde word nie weergegee, soos wel die geval is in Matteus nie.  Sommige geleerdes dink dat Petrus dit verswyg het in die oorvertel van sy herinneringe aan Markus.

Jesus antwoord hierdie onbegrip deur sterk te begin fokus op ‘n dieper lering oor die eise van dissipelskap.  In ‘n sekere sin kan ‘n mens dit ook die Lydensweg van die Dissipels noem (Groenewald).  Die skare word nog hier saam met die dissipels onderrig, maar die dissipels is die eintlike fokus van Jesus se onderrig.  Dissipelskap kos ‘n prys: selfverloëning, kruis opneem (teken van volle oorgawe en nie ‘n verheerliking van pyn nie) en navolging.  Jesus koppel dit aan die paradoks van lewe deur verlies: wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; wie sy lewe vir Hom en die evangelie verloor, sal dit behou.  Daar is geen sin in die wins van die wêreld, maar die verlies van jou lewe.

Interessant dat Jesus die spilpunt vir sy argument aan die woord skaam koppel: Wie Hom nou skaam vir my tussen die mense, vir Hom sal Ek my dan skaam tussen die hemelinge met die wederkoms.  Hy sluit die lering af met die verklaring dat baie van dié wat daar staan, in hulle lewe die koninkryk van God met krag sal sien kom.  Dit verwys heel waarskynlik na die opstanding uit die dood, wat nie vir almal beskore was om te sien nie (Rom 1:4; Hand 10:41).

Matteus, Lukas en Johannes

Matteus brei uitvoerig uit oor Petrus se belydenis, noem Jeremia as een van die profete waarmee mense Jesus verbind, en voeg die frase by: “Seun van die lewende God”.  Jesus tree dan met hom in gesprek wat uitloop op die ongelooflike uitspraak van Jesus, dat op hierdie belydenis sal Hy sy kerk bou.  Net so brei hy uit op die eerste aankondiging van Jesus se lyding, dood en opstanding waarin Petrus se berispende gesprek en Jesus se afwysende antwoord daarop weergegee word.  Hy verkort die gesprek oor dissipelskap, maar voeg een perspektief by wat nie in die ander twee Sinoptici voorkom nie, waar elkeen by die wederkoms volgens hulle dade vergeld sal word.  Dit verwys egter waarskynlik steeds in die konteks na die nakoming van die eise van dissipelskap en nie na enige werksheiligheid nie.

Lukas plaas die gesprek oor die belydenis in die konteks van Jesus wat besig is om te bid, en gee Petrus se uitspraak as volg weer: “Die Gesalfde van God.”  Hy verkort Markus se aankondiging van Jesus se dood en opstanding na ‘n enkele sin.  Hy volg Markus se weergawe van Jesus se lering oor dissipelskap, hoewel net korter.

Johannes plaas die belydenis van Petrus in die konteks van ‘n hele aantal dissipels wat Jesus verlaat het, en op Jesus se vraag of hulle nie ook wil gaan nie, maak Petrus dan die belydenis dat hulle by Hom wil bly, want Hy is die Heilige van God.  Jesus se reaksie daarop is dat daar steeds een van dié wat agtergebly het is wat eintlik ‘n duiwel is, bedoelende Judas.

Onlangse kommentaar