Markus 4:10-12 – Die geheim van die koninkryk word gegee, nie verwerf nie

Markus

Dis duidelik dat daar ‘n groep mense saam met die twaalf by Jesus was wat Hom gevolg en gedien het.  Jesus verduidelik hier die doel met sy gelykenisse, voordat Hy in die volgende perikoop die Gelykenis van die Saad verder vir hulle sal uitlê.

Let op hoe Hy die wat buite is kontrasteer me dié wat binne is, en dat dit net laasgenoemde is wat die geheim van die koninkryk van God kan ontrafel.  En let ook op dat dit iets is wat gegee word, en nie iets wat verwerf word nie.

Jesus haar hier uit Jesaja 6:9-10 aan en verklaar dat die gelykenisse ‘n versluierende effek het; dit verberg die waarheid vir dié wat buite staan en nie inkom om te luister en verander te word nie.  Die implikasie daarvan is dat die lewe by Jesus te vinde is, in ‘n luisterende verhouding met Hom, en nie van ‘n afstand as ‘n buitestaander of teenstander nie.

Matteus en Lukas

Matteus (en Lukas) plaas die gesprek in die konteks van die dissipels alleen.  Matteus brei uit op Markus se weergawe in woorde wat herinner aan die gelykenis van die muntstukke.  En hy plaas die klem aan die einde van die perikoop op die voorreg wat die dissipels het om te kan hoor en te kan sien, omdat baie dit begeer het, en nie kon nie.

View all posts in this series

luister


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Markus se bewoording in 4:12 ” . . dat hulle hulle nie miskien bekeer en vergewe word nie” (met verwysing na Jesaja) val darem swaar op die oor in ons menslike manier van dink! As Mattheus sê “hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak” klink dit veel “billiker”. In wese moet dit seker verstaan word in die konteks van die vrymag van God – om te kies wie “binne” is en wie “buite”?

  • Stephan Bothma

    Markus se bewoording in 4:12 ” . . dat hulle hulle nie miskien bekeer en vergewe word nie” (met verwysing na Jesaja) val darem swaar op die oor in ons menslike manier van dink! As Mattheus sê “hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak” klink dit veel “billiker”. In wese moet dit seker verstaan word in die konteks van die vrymag van God – om te kies wie “binne” is en wie “buite”?

  • Die “sodat” aan die begin van vers 12 in Markus 4 maak dié stelling van Jesus baie kontroversieel. Lukas het dit ook so. Matteus verander Markus se verwoording van Jesus se stelling in 13:13 deur in plaas van “sodat” van “omdat” te praat, wat die verantwoordelikheid vir die skare se onbegrip op hulle luistervermoë plaas. Dit herinner aan die wyse waarop die gelykenis van die saad ook verstaan moet word, die ontvanklikheid van die grond het ‘n invloed op die saad se effektiwiteit. Dit val dus ook makliker op die oor!

    Matteus se interpretasie maak dat ‘n mens Jesaja 6:9-10 se profesie ook anders hoor, dat die nie-hoor van God se Woord nie aan Sy werk toegeskryf word nie, maar aan die volk se eie optrede: “Julle sal hoor en hoor en tog nie verstaan nie (slegs beskrywend) … Hulle het hulle ore toegedruk … sodat hulle nie … met hulle ore kan hoor … nie (verklaring vir die nie-hoor).”

    Geleerdes (Manson en Jeremias) verwys na die rabbynse literatuur, spesifiek die Aramese weergawe van Jesaja 6:9-10, dat die Aramees eintlik óf met “sodat” óf met “omdat” vertaal kan word, en dat dié teks of 'n Griekse vertaling daarvan moontlik deur die evangeliste gebruik is. Markus en Lukas kies “sodat” en Matteus “omdat”.

    Jeremias gaan verder en probeer aandui dat Markus moontlik met sy “sodat” eintlik bedoel het dat daarmee die woorde van Jesaja in vervulling gegaan het (“sodat vervul sou word”), en dat die verantwoordelikheid vir die nie-hoor steeds op die hoorders rus. Baie het hom nagevolg, maar omdat Markus “sodat” nie in die res van sy evangelie só gebruik nie, bly dit te spekulatief (Geullich).

    Watter interpretasie ‘n mens ook al kies, die punt wat Markus saam met die ander evangeliste maak, is dat waar ‘n mens in ‘n verhouding met Jesus is, deel van sy volgelinge is, deel van die binnekring, word die betekenis van die gelykenisse duidelik en vind ‘n mens die lewe. Daarbuite, dws waar jy nie ‘n pad met Hom stap nie, en jy ‘n buitestaander is, is die gelykenisse versluierend, en verwarrend, en word jy daardeur afgesit.

    Om ‘n lang storie kort te maak, in die nabyheid van Jesus word ons begrip meer, omdat Hy dit vir ons gee, en waar Hy nie teenwoordig is nie, word ons onbegrip meer, omdat Hy dit nie vir ons (kan?) gee nie.

    Ons los Romeine 9-10 vir ‘n ander dag, want dan is ons vierkant in die uitverkiesingsvraagstuk … !

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: