Markus 6:30-52 – Jesus demonstreer sy Godheid op verskillende maniere

Markus

Die apostels (die woord beteken gestuurdes – die enigste keer wat Markus die woord vir die twaalf gebruik) kom terug en vertel Jesus alles wat hulle gedoen en ervaar het.  Jesus se reaksie is om hulle na ‘n stil plek te neem, nie net om weg van die skares en hulle eise te gaan rus nie, maar waarskynlik ook om met hulle die ervarings deur te gesels.  Die skare fnuik egter Sy planne en Hy kry die skape sonder herder innig jammer en begin hulle leer.  Markus vertel nie van ‘n Bergrede nie, maar dit sou goed op dié punt gepas het.

Die eerste vermeerdering van die brood vind dan plaas.  Let op hoe Jesus dit as ‘n geleentheid gebruik om hulle te leer.  Net tevore is Jaïrus se dogtertjie iets te ete gegee na sy uit die dood opgewek is.  Hier is die uitdaging veel groter.  Maar, Jesus leer hulle dat wat hulle ook al het, genoeg is om deur God gebruik te word in diens van ander.  Almal kry genoeg van die 5 brode en 2 vissies, sodat meer as 5000 mense gevoed word, en daar nog 12 mandjies (Jode het blykbaar baie keer kleinerige mandjies as ‘n soort handsak by hulle gehad om goed in te dra) oorbly.

Daar is ‘n groot ironiese kontras met die feesmaal van Herodes – daar het ‘n oorvloedige feesmaal op die dood van Johannes die Doper uitgeloop; hier het ‘n eenvoudige maal van brood en vis op ‘n wonderwerk van God uitgeloop.  ‘n Mens kan ook nie anders as om te dink aan die wyse waarop God in die woestyn vir sy volk gesorg het nie (Eks 16) en die latere koswonders van Elia (1 Kon 17) en Elisa (2 Kon 4).  Onthou ook die parallelle tussen Jesus se opwekking van Jaïrus se dogtertjie en die soortgelyke wonders van Elia en Elisa.

Jesus gaan dan die berg op om te bid, dit waarvoor Hy in die eerste plek gekom het, toe Hy sy dissipels na ‘n stil plek geneem het om te rus.  Weereens demonstreer Hy sy mag oor die wind en weer, as Hy teen dagbreek na hulle aangeloop kom op die see van Galilea, op pad na Betsaida.  In taal wat herinner aan God wat by Moses verbygaan (Eks 33:22) wil Jesus by hulle verbygaan, maar klim saam met hulle in die skuit om hulle gerus te stel: “Dit is Ek!”. Anders as met Moses kan hulle met God in verhouding staan en Hom van aangesig tot aangesig ervaar.  Tog verstaan hulle steeds nie wie Hy is en wat Hy kan doen nie, soos ook die vermeerdering van die brood die vorige aand vir hulle gewys het.  Hulle is in die binnekring, maar verstaan ironies genoeg nog steeds nie veel meer as die buitestaanders nie.

Matteus, Lukas en Johannes

Al vier evangelies vertel van hierdie terugtrek na ‘n stil plek, maar dat die skares hulle verras en Jesus hulle verder leer oor die koninkryk, en uiteindelik vir hulle kos voorsien.  Johannes noem die See van Galilea ook die See van Tiberias.  Die detail van Matteus en Lukas se verhaal oor die eerste vermeerdering van die brood kom in hoofsaak ooreen met Markus s’n.  Lukas vertel net van die groepe in 50 en nie van die groepe in 100 nie.  Net Markus en Matteus sal later ook van die tweede broodwonder vertel.

Johannes maak die gesprek van Jesus met die dissipels meer persoonlik, met Jesus wat spesifiek met Filippus en Andreas praat in die oploop na die wonderwerk.  Johannes sê ook duidelik dat Jesus dit doen om hulle iets van Homself te leer.  Die brode word as garsbrode geïdentifiseer, maar die res van die detail is dieselfde.  Net Johannes vertel ook van die nadraai van hierdie wonder, dat die mense Hom met geweld wil koning maak, maar dat Jesus nie daarvoor te vinde was nie.

Lukas vertel nie die verhaal van Jesus wat op die see loop nie.  Matteus brei uit op hierdie verhaal en vertel van die interaksie van Petrus met Jesus wat uitloop op Petrus wat self ook op die see loop, totdat hy te bang word en amper sink.  Dit lei tot ‘n gesprek oor hulle kleingeloof wat uitmond in ‘n belydenis dat Hy die Seun van God is. Johannes verskil oënskynlik van die ander evangelies, deurdat hy sê dat hulle na Kapernaum op pad was, en nie Betsaida soos uit die ander evangelies blyk nie.  As ‘n mens egter Markus 6:53 lees kom jy agter dat die wind hulle van koers af gedwing het en hulle by Gennesaret aan wal gegaan het, wat naby Kapernaum is.

View all posts in this series

bid, leer, stilte, vermeerdering van die brood, wonders


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Chris; Dis weereens vir my ongelooflik hoeveel keer Jesus bewys dat Hy God is, n mens kan insien dat van die Teoloeë wat dit nie WIL aanvaar nie, die basis van die Bybel as God se Woord aan die mensdom wil aanvat as net mites en verhale. Twee dinge wat ek graag klaring sal wil kry oor is;
    Ek lees in n komentaar dat:
    1. In die Ou Testament (Septuagint) Job 9:8 dat God beskryf word as die Een wat op golwe loop. Is dit dalk moontlik dat jy n vertaling van die betrokke vers uit die Septuagint het? Sal interesant wees om te sien.
    2. Jesus se woorde “Dit is Ek” word volgens die kommentaar deurgetrek na Eks 3:14 se “Ek is wat Ek is” as n bevestiging dat Hy God is.Ek sien nie die konneksie nie, ek verstaan dit amper meer dat Jesus hulle maar net gerusstel?

  • Die NAV vertaling is 'n parafrase van die oorspronklike teks. Die Hebreeuse grondteks beteken letterlik “en stap op die golwe van die see” soos dit in die OAV vertaal is. Die Septuagint vertaling het dus dieselfde betekenis: dat die golwe van die see vir God soos ’n pad is, wat nogal ‘n interessante perspektief gee op Jesus wat oor die water, soos op ‘n pad, loop en Petrus wat Hom daarin probeer navolg (vgl. Matt. 14:24–32).

    Dat Jesus op die water loop, wys dus ook duidelik na sy Godheid, soos Ps. 89:10 dit van God uitspel: “U heers oor die onstuimige see: as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar.”

    Een kommentator, Clines, het interessant genoeg, met verwysing na noordwes Semitiese mitologie, die frase vertaal met “trap op die rug van die see-god”. Die Hebreeuse woord jam wat vir see gebruik word, is ook die woord vir die see-god waarvan in Ugaritiese literatuur gepraat word. En die Hebreeuse woord bamah vir golwe (enigste plek in die OT waar dit so vertaal word) beteken meesal hoogte, en word soms gebruik vir kultiese platform. Daarom dink hy kan dit moontlik verwys na die rug van die see-god waarop God trap, eerder as om van die golwe van die see te praat. Maar ek bly vir eers by bogenoemde verklaring soos die OAV dit het.

    Oor Jesus en die “Ek is”-konnontasie – dit maak vir my sin, maar word natuurlik ingelees in die teks in. So dit is maar net een interpretasie.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: