Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking
Markus (Matteus en Lukas)
Dit is belangrik om die profesieë oor Jerusalem in die konteks van die eindtyd te verstaan. Sommige profesieë rondom Jerusalem is in die leeftyd van die dissipels bewaarheid. Ander wag nog steeds om finale vervulling. Matteus sê dit baie helder ”wat sal die teken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”
In 5 dele lig Jesus die gordyn oor die toekoms:
1. Rampe en Vervolginge
Die Olyfberg is aan die oostekant van die stad geleë. Jesus lewer hierdie profetiese rede terwyl hulle na die tempel kan kyk. Die klippe waarvan die tempel gebou is, was regtig besonders. Een klip wat opgegrawe is, was 4x6x12 meter groot. Die tempel was op dié stadium nog nie eers voltooi nie. Bouwerk het in 15 vC ‘n aanvang geneem onder Herodes die Grote en is in 64 nC (International Standard Bible Encyclopedia) eers finaal voltooi – ironies genoeg, net voor dit vernietig is in 70 nC deur keiser Titus.
Die tempel, sê Jesus, sal afgebreek word, klippe en al, sowel as die “gewyde geskenke” daarbinne vernietig word (Lukas). Daar is nie meer ‘n omkeer moontlik vir Jerusalem nie. Let op hoe die eerste geroepe dissipels, twee pare broers – hier in ‘n ander volgorde as in Markus 1:16-20 genoem – met Jesus in gesprek is. Matteus en Lukas het dit dat al die dissipels hierna geluister het.
Jesus het klaar gepraat met die skares en die Joodse Raad en sal hulle eers weer met die verhoor en kruisiging ontmoet. Op die dissipels se vraag na die tyd en teken van die vernietiging, gee Jesus twee antwoorde:
- Hulle moet versigtig wees vir misleiding oor Jesus self. Mense sal voorgee hulle is Hy. Die begeleidende tekens van die eindtyd: oorloë, hongersnood en aardbewings (Lukas voeg epidemies by) moet hulle nie verskrik nie. Dit is geboortepyne van die nuwe tyd wat kom.
- Hulle moet versigtig wees vir wat met hulleself kan gebeur in teenstand. Hulle sal geregtiglik, godsdienstig en polities vervolg word. Maar dit alles sal as getuienis vir Jesus dien en deel wees van die verkondiging van die evangelie aan alle nasies.
As bemoediging en motivering praat Hy oor die wysheid wat die Heilige Gees vir hulle in dié situasies sal gee, soos ook letterlik gebeur het voor die Joodse Raad in Handelinge 4. Matteus praat nie hieroor in hierdie konteks nie, terwyl Lukas verder uitbrei daaroor en aan Jesus self koppel: “Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee …”. Dit wys op die integrale eenheid tussen Jesus en die Gees.
Jesus waarsku egter ook dat die vervolging ook teenstand binne families sal insluit (vgl Mark 3:31!), en bemoedig hulle om tot die einde te volhard, al sluit dit die dood in. Lukas het ‘n interessante byvoeging: “daar sal nie eens ‘n haar van julle kop af val nie,” waarmee Hy heel moontlik bedoel dat hulle steeds in die hande van God sal wees, en nie uit hulle verhouding met Hom geruk sal word nie, dws dat hulle nie geestelik deur fisiese lyding en die dood sal skade ly nie. Kyk ook na Luk 12:8 vir ‘n soortgelyke stelling, waar duidelik gesê word dat die fisiese dood nie ‘n ewige skade aan gelowiges kan berokken nie. Paulus gebruik ook ‘n variasie van die stelling in Hand 27:34. Daar word dit egter letterlik bedoel.
2. Die groot verdrukking
Jesus se visier verskuif na die tyd van die tempel vernietiging self. Sy raad aan gelowiges is om in daardie tyd te vlug, omdat dit ‘n tyd van groot verdrukking sal wees. As teken van die verwoesting wat kom, sal “die ding wat ‘n gruwel is vir God” op die “plek waar hy nie moet wees nie”, dws die tempel, opgerig word. Weereens waarsku Jesus teen vals christusse en vals profete waarvoor hulle op hulle hoede moet wees.
Matteus verbind hierdie gebeure aan die soortgelyke gebeure wat in Daniël se profesie voorspel is, waar ook van die gruwelike ding gepraat word wat in die “heilige plek” opgerig sal word (Dan 12:11 – dit is vervul in 168 vC met die Siriese Antiogus Epifanes IV se altaar aan Zeus wat in die tempel opgerig is – 1 Makkabeërs 1:54,59). Hy verduidelik verder dat die valse christusse en profete se aansprake getoets kan word aan die lokale en geheime aard daarvan, iemand moet jou inlig oor die detail: in die woestyn of in die slaapkamer. Die koms van die Seun van die mens sal egter oombliklik, publiek en globaal sigbaar wees, soos ‘n weerligstraal wat van oos na wes alles verlig.
Dit is moontlik om hier ‘n verdere betekenis in te lees, dat hier van die eindtyd en die wederkoms gepraat word, soos baie geleerdes doen, veral as jy dit met ander eskatologiese gedeeltes vergelyk (bv. 2 Tess 2, waar van die Antichris gepraat word wat in die tempel sy troon sal oprig). ‘n Mens moet egter onthou dat die profesie vir die dissipels egter iets was wat in hulle leeftyd betekenis gehad het. Dit was duidelik voorop in Markus se oorvertelling hiervan, heel moontlik net ‘n paar jaar voor dit inderdaad in vervulling gegaan het.
Lukas vertel nie van die tempel ontheiliging, maar wel van leërs wat Jerusalem sal omsingel. Hy verbind die verdrukking aan God se straf oor hierdie volk, wat Hy deur die heidennasies sal uitvoer. Lukas gee dus ook duidelik ‘n Joodse interpretasie aan hierdie verdrukking wat direk met die gebeure in 70 nC verbind kan word.
View all posts in this series
- WEEK 1: Inleiding op die evangelie van Markus - January 12, 2010
- Die vier evangelies se unieke Jesus-portrette - January 21, 2010
- Die drie Sinoptiese evangelies - January 22, 2010
- Die boodskap van Markus - January 25, 2010
- Markus in vergelyking met die ander evangelies - January 26, 2010
- Bybelstudie metodiek - January 27, 2010
- Luistersiklus
- Lectio Divina
- WEEK 2: Markus 1:1-3:6 – Proloog en Deel 1: Bekendstelling - January 28, 2010
- Markus 1:1 – Jesus as God-mens vervul die OT beloftes
- Markus 1:1-8 – Die hart van die evangelie is opgesluit in Jesus Christus
- Markus 1:9-20 – om deur Christus geroep te wees, is om ‘n dissipel te wees - January 29, 2010
- Markus 1:21-31 – Dit is ‘n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die bose geeste, en hulle gehoorsaam hom. - February 1, 2010
- Markus 1:32-39 – Die bediening draai om God, nie om die vrugte daarvan nie
- Markus 1:40-45 – “Ek wil. Word gesond.” - February 2, 2010
- Markus 2:1-12 – geloof word in gedrag uitgedruk
- Markus 2:13-17 – dié wat siek is, het ‘n dokter nodig
- Markus 2:18-3:6 – Jesus se bevrydende bediening wek wrede weerstand van die leiers - February 3, 2010
- WEEK 3 van die Bybelskool oor Markus - February 4, 2010
- Markus 3:7-30 – Die impak van die bediening verskerp
- Die twaalf dissipels in die evangelies en Handelinge
- Markus 3:31-35 – Jesus en sy familie - February 5, 2010
- Markus 4:1-9 – Wie ore het en kan hoor, moet luister
- Markus 4:10-12 – Die geheim van die koninkryk word gegee, nie verwerf nie
- Markus 4:13-29 – om reg te hoor, bepaal jou hele lewe - February 8, 2010
- Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie? - February 9, 2010
- Markus 5:1-20 – Wat het U met my te doen? - February 10, 2010
- Markus 5:21-43 – Bly maar net glo!
- Markus 6:1-6 – Sy tuisdorp se mense wil niks van Hom weet nie
- WEEK 4 van die Bybelskool - February 11, 2010
- Markus 6:7-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys
- Markus 6:30-52 – Jesus demonstreer sy Godheid op verskillende maniere - February 12, 2010
- Markus 6:53-7:23 – Onreinheid het met die hart te make - February 15, 2010
- Markus 7:24-8:10 – Jesus is intiem en intens betrokke by mense - February 16, 2010
- Markus 8:11-21 – Hoe blind is dié wat nie wil sien nie - February 17, 2010
- WEEK 5 van die Bybelskool - February 18, 2010
- Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou
- Markus 9:2-29 – Vir die een wat glo, kan alles - February 19, 2010
- Markus 9:30-48 – dié wat eerste wil wees, moet laaste wees - February 22, 2010
- Markus 9:49-10:16 – Jesus vra getrouheid aan Hom en lojaliteit aan mekaar - February 23, 2010
- Markus 10:17-45 – Redding uit genade alleen - February 24, 2010
- WEEK 6 van die Bybelskool - February 25, 2010
- Markus 10:46-11:25 – ‘n huis van gebed vir die nasies
- Markus 11:27-12:37 – Jesus se intellek en wysheid is te veel vir die Joodse Raad - February 26, 2010
- Markus 12:38-44 – Die arm weduwee se gawe - March 1, 2010
- Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking - March 2, 2010
- Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens - March 3, 2010
- WEEK 7 van die Bybelskool - March 4, 2010
- Markus 14:1-11 – Gesalf in Betanië, verraai in Jerusalem
- Markus 14:12-42 – Jesus word die paaslam - March 5, 2010
- Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte - March 8, 2010
- Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe - March 9, 2010
- Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan - March 10, 2010
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Tien lesings uit Markus vir Heilige Week met kommentaar - April 11, 2017
- Jesus is die hart van die evangelie - January 8, 2018
Groot verdrukking, Markus, profetiese rede
Vince Aslett
Vandag se lees is vir my ongelooflik van toepassing op vandag, dit is erg om te lees op forums soos FB en selfs die Kerkbode hoe die Evangelie se betekenis afgewater word en mense mislei word deur diegene wat veronderstel is om ons gewone lidmate op die regte pad te hou, ai ek kan nie verstaan dat dit toegelaat word nie. Die ergste is dat die NG Kerk dan beoordeel word. Dankie Chris dat daar nog van julle is wat bereid is om op te staan vir wat waar is.
Chris van Wyk
Dankie. En op 'n ander wicket: Ek is nogal ook aangeraak deur die raakpunte van dié gedeelte met die Haïti en Chili gebeure die afgelope weke. Ek dink ons lewe baie keer, ten spyte van wat ons sê, sonder 'n regtige verwagting vir die Einde, of te wel Begin … hang af hoe jy daarna kyk. Vorige voorspellings oor die Einde wat naby is, en as vals uitgewys is, ontmoedig 'n mens ook om hierdie woorde van Jesus in die praktyk ernstig te neem. Maar, die Einde is naby – en die konkrete gebeure in die wêreld is soos 'n wekker wat al hoe helderder begin lui en vir my sê, die Here is naby. Sonder om daarmee te sê dit is hierdie of daardie jaar … maar dit is naby!
Vince Aslett
Stem saam, so terloops, interesant om te lees dat die tempel in 67 na Christus klaar gebou was en toe in 70 NC vernietig was, ek kan nie help om te wonder of daar n geestelike betekenis is in die 3 van die 3 jaar? Iets anders wat my opgeval het was dat die Islam Moskee nou gebou staan op die plek waar die tempel was nie “ge-link” kan word met v 14 nie (Ek weet dat ons nie sulke dinge moet inlees nie – die gedagte het net by my opgekom)
Chris van Wyk
Ek het weer gaan kyk na die datum, en dit met ander bronne gekorreleer. Dit blyk eerder 64 nC te wees toe die tempel finaal klaar was, dws 6 jaar voor die vernietiging van Jerusalem (International Standard Bible Encyclopedia). So jy moet betekenis maak met 6 jaar! Daar is blykbaar al 5 moskees op die tempelberg, waarvan die Dome of the Rock (gebou oor die klip waarvandaan Mohammed volgens hulle hemel toe gevaar het) volgens sommige op die ou tempel terrein staan, en volgens ander weer nie. Dit enigste seker aanduiding van die ou tempel posisie is die Westelike Muur, die heiligste plek vir die Jode vandag, wat inderdaad die een kant van Herodes se tempel is. Maar ek dink die teks se verwysing is eerstens na Titus se aksies in 70 nC en tweedens na die Antichris se termyn wat ek nie soseer met Islam assosieer nie, behalwe as hulle natuurlik uiteindelik die wêreld oorneem! Maar my vaardigheid om dit na waarde te interpreteer is te beperk …
Jurie Jurgens
Ek het al gehoor/gelees dat Jesus eintlik 2 verskillende vrae hier beantwoord – eerstens oor “wanneer sal dit (die afbreek van die tempel) gebeur” en tweedens wat sal die tekens wees van die voleindiging/die wederkoms. (In MAt kan mens selfs van 3 vrae praat). Maar om die res van die profetiese rede hieraan uit te pluis is bokant my. Stem jy saam oor die tweeledigheid van die vraag, en wil jy nie dalk vanaand uitbrei watter dele van Jesus se rede waar inpas nie? Lyk my nie dat jy gaan wegkom van die eskatologie nie?!!
Chris van Wyk
Die profetiese rede het verseker twee betekenisvlakke: 1) vir die Jode, en meer spesifiek die toekoms van die tempel – die voorhangsel wat skeur met Jesus se dood, is 'n verdere teken van die tempel se vernietiging en 2) vir die wêreld, waar dit oor Jesus se wederkoms gaan. Maar om dit uit mekaar te haal, is nie eenvoudig nie, en gaan altyd afhang van 'n hele klomp voorveronderstellings van die leser. Ek sal my nek 'n bietjie uitsteek vanaand, maar nie te ver nie. dit sal moet wag vir Daniël en Openbaring!
Past C Tities
Pastoor ek soek graag Meer inligting oor rampe veral geestelik
Dankie vir u wonderlik ervaring wat u met andere deel
Chris van Wyk
Hi, jy kan kyk wat ek geskryf het by week 80-84 van Prontuit die Waarheid (https://bybelskool.com/prontuit-die-waarheid-argief/).