Skip to main content

Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking

Markus (Matteus en Lukas)

Dit is belangrik om die profesieë oor Jerusalem in die konteks van die eindtyd te verstaan. Sommige profesieë rondom Jerusalem is in die leeftyd van die dissipels bewaarheid.  Ander wag nog steeds om finale vervulling.  Matteus sê dit baie helder ”wat sal die teken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”

In 5 dele lig Jesus die gordyn oor die toekoms:

1.  Rampe en Vervolginge

Die Olyfberg is aan die oostekant van die stad geleë.  Jesus lewer hierdie profetiese rede terwyl hulle na die tempel kan kyk.  Die klippe waarvan die tempel gebou is, was regtig besonders.  Een klip wat opgegrawe is, was 4x6x12 meter groot.  Die tempel was op dié stadium nog nie eers voltooi nie.  Bouwerk het in 15 vC ‘n aanvang geneem onder Herodes die Grote en is in 64 nC (International Standard Bible Encyclopedia) eers finaal voltooi – ironies genoeg, net voor dit vernietig is in 70 nC deur keiser Titus.

Die tempel, sê Jesus, sal afgebreek word, klippe en al, sowel as die “gewyde geskenke” daarbinne vernietig word (Lukas).  Daar is nie meer ‘n omkeer moontlik vir Jerusalem nie.  Let op hoe die eerste geroepe dissipels, twee pare broers – hier in ‘n ander volgorde as in Markus 1:16-20 genoem – met Jesus in gesprek is.  Matteus en Lukas het dit dat al die dissipels hierna geluister het.

Jesus het klaar gepraat met die skares en die Joodse Raad en sal hulle eers weer met die verhoor en kruisiging ontmoet.  Op die dissipels se vraag na die tyd en teken van die vernietiging, gee Jesus twee antwoorde:

  1. Hulle moet versigtig wees vir misleiding oor Jesus self.  Mense sal voorgee hulle is Hy.  Die begeleidende tekens van die eindtyd: oorloë, hongersnood en aardbewings (Lukas voeg epidemies by) moet hulle nie verskrik nie.  Dit is geboortepyne van die nuwe tyd wat kom.
  2. Hulle moet versigtig wees vir wat met hulleself kan gebeur in teenstand. Hulle sal geregtiglik, godsdienstig en polities vervolg word.  Maar dit alles sal as getuienis vir Jesus dien en deel wees van die verkondiging van die evangelie aan alle nasies.

As bemoediging en motivering praat Hy oor die wysheid wat die Heilige Gees vir hulle in dié situasies sal gee, soos ook letterlik gebeur het voor die Joodse Raad in Handelinge 4.  Matteus praat nie hieroor in hierdie konteks nie, terwyl Lukas verder uitbrei daaroor en aan Jesus self koppel: “Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee …”.  Dit wys op die integrale eenheid tussen Jesus en die Gees.

Jesus waarsku egter ook dat die vervolging ook teenstand binne families sal insluit (vgl Mark 3:31!), en bemoedig hulle om tot die einde te volhard, al sluit dit die dood in.  Lukas het ‘n interessante byvoeging: “daar sal nie eens ‘n haar van julle kop af val nie,” waarmee Hy heel moontlik bedoel dat hulle steeds in die hande van God sal wees, en nie uit hulle verhouding met Hom geruk sal word nie, dws dat hulle nie geestelik deur fisiese lyding en die dood sal skade ly nie.  Kyk ook na Luk 12:8 vir ‘n soortgelyke stelling, waar duidelik gesê word dat die fisiese dood nie ‘n ewige skade aan gelowiges kan berokken nie. Paulus gebruik ook ‘n variasie van die stelling in Hand 27:34.  Daar word dit egter letterlik bedoel.

2. Die groot verdrukking

Jesus se visier verskuif na die tyd van die tempel vernietiging self.  Sy raad aan gelowiges is om in daardie tyd te vlug, omdat dit ‘n tyd van groot verdrukking sal wees.  As teken van die verwoesting wat kom, sal “die ding wat ‘n gruwel is vir God” op die “plek waar hy nie moet wees nie”, dws die tempel, opgerig word.  Weereens waarsku Jesus teen vals christusse en vals profete waarvoor hulle op hulle hoede moet wees.

Matteus verbind hierdie gebeure aan die soortgelyke gebeure wat in Daniël se profesie voorspel is, waar ook van die gruwelike ding gepraat word wat in die “heilige plek” opgerig sal word (Dan 12:11 – dit is vervul in 168 vC met die Siriese Antiogus Epifanes IV se altaar aan Zeus wat in die tempel opgerig is – 1 Makkabeërs 1:54,59).  Hy verduidelik verder dat die valse christusse en profete se aansprake getoets kan word aan die lokale en geheime aard daarvan, iemand moet jou inlig oor die detail: in die woestyn of in die slaapkamer.  Die koms van die Seun van die mens sal egter oombliklik, publiek en globaal sigbaar wees, soos ‘n weerligstraal wat van oos na wes alles verlig.

Dit is moontlik om hier ‘n verdere betekenis in te lees, dat hier van die eindtyd en die wederkoms gepraat word, soos baie geleerdes doen, veral as jy dit met ander eskatologiese gedeeltes vergelyk (bv. 2 Tess 2, waar van die Antichris gepraat word wat in die tempel sy troon sal oprig).  ‘n Mens moet egter onthou dat die profesie vir die dissipels egter iets was wat in hulle leeftyd betekenis gehad het.  Dit was duidelik voorop in Markus se oorvertelling hiervan, heel moontlik net ‘n paar jaar voor dit inderdaad in vervulling gegaan het.

Lukas vertel nie van die tempel ontheiliging, maar wel van leërs wat Jerusalem sal omsingel.  Hy verbind die verdrukking aan God se straf oor hierdie volk, wat Hy deur die heidennasies sal uitvoer.  Lukas gee dus ook duidelik ‘n Joodse interpretasie aan hierdie verdrukking wat direk met die gebeure in 70 nC verbind kan word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Groot verdrukking, Markus, profetiese rede


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.