Tien lesings uit Markus vir Heilige Week met kommentaar

Inleiding

Lees gerus dié week Markus se weergawe van die laaste week in Jesus se lewe en bediening op aarde sowel as sy weergawe van die opstanding.  Ek gee hier die verskillende lesings uit die evangelie van Markus (uit die NAV) sowel as skakels na my kommentaar daarop by Bybelskool.com.  Ek maak daar telkens ook ‘n paar opmerkings oor die ander evangelies se bydraes:

1. Markus 10:46-11:25 – ‘n Huis van gebed vir die nasies
2. Markus 11:27-12:37 – Jesus se intellek en wysheid is te veel vir die Joodse Raad
3. Markus 12:38-44 – Die arm weduwee se gawe
4. Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking
5. Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens
6. Markus 14:1-11 – Gesalf in Betanië, verraai in Jerusalem
7. Markus 14:12-42 – Jesus word die paaslam
8. Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte
9. Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe
10. Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan


1.  Markus 10:46-11:25 – ‘n Huis van gebed vir die nasies

1.1  Lees die teks in Markus

Jesus genees die blinde Bartimeus

(Matt 20:29–34; Luk 18:35–43)

46Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en ’n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar ’n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

48Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.”

Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”

50Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. 51Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”

“Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.”

52Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”

Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.

Die intog van Jesus in Jerusalem

(Matt 21:1–11; Luk 19:28–40; Joh 12:12–19)

11 Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië op die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels 2en sê vir hulle: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ’n jong donkie vasgemaak kry. Geen mens het nog op hom gery nie. Maak hom los en bring hom hier. 3En as iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ moet julle sê: Die Here het hom nodig, en Hy sal hom gou weer hierheen terugstuur.”

4Hulle het toe gegaan en ’n jong donkie by die ingang, buite langs die pad, vasgemaak gekry en hom losgemaak. 5Party van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gesê: “Waarom maak julle die donkie los?”

6Hulle het hulle geantwoord soos Jesus gesê het. Daarna het die mense hulle laat begaan.

7Hulle bring toe die donkie na Jesus toe en sit van hulle klere op hom, en Jesus het opgeklim. 8Baie mense het van hulle klere op die pad oopgegooi en party weer groen takkies wat hulle langs die pad afgebreek het. 9Dié wat voor geloop en dié wat agteraan gekom het, het uitgeroep:

“Prys Hom!

Loof Hom wat in die Naam

van die Here kom! o

10Geseënd is ons voorvader Dawid

se koninkryk

wat aan die kom is!

Prys Hom in die hoogste hemel!”

11Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het.

Jesus vervloek die vyeboom

(Matt 21:18–19)

12Toe hulle die volgende dag van Betanië af terugkom, het Jesus honger gekry. 13Hy sien toe op ’n afstand ’n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien ’n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie. 14Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.”

Sy dissipels het dit gehoor.

Die reiniging van die tempel

(Matt 21:12–17; Luk 19:45–48; Joh 2:13–22)

15Hulle kom toe in Jerusalem aan. Jesus het na die tempel toe gegaan en die mense wat op die tempelplein besig was om te koop en te verkoop, daar begin uitjaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi. 16En Hy het niemand toegelaat om goed oor die tempelplein te dra nie.

17Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies wees’ pnie? Maar julle het dit ’n rowersnes gemaak.”

18Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het dit gehoor en het na ’n plan gesoek om Hom om die lewe te bring, want hulle was bang vir Hom, omdat al die mense deur sy leer aangegryp is.

19Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uit weggegaan.

Die vyeboom het verdroog

(Matt 21:20–22)

20Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is. 21Gedagtig aan wat Jesus gesê het, sê Petrus vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.”

22Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! 23Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. 24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

25“En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” 26q

1.2  Lees nou die Bybelskool bydrae


2.  Markus 11:27-12:37 – Jesus se intellek en wysheid is te veel vir die Joodse Raad

2.1  Lees die teks in Markus

Die vraag oor Jesus se gesag

(Matt 21:23–27; Luk 20:1–8)

27Hulle kom toe weer in Jerusalem aan. Terwyl Jesus op die tempelplein loop, kom die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde na Hom toe 28en vra vir Hom: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie het u hierdie gesag gegee om dit te doen?”

29Jesus sê toe vir hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. 30Die doop van Johannes, was dit van God of van mense afkomstig? Antwoord My.”

31Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’32Maar moet ons sê: ‘Van mense af’?…” Hulle was bang vir die mense, want almal was van mening dat Johannes werklik ’n profeet was. 33Daarom sê hulle toe vir Jesus: “Ons weet nie.”

Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Die gelykenis van die boere en die wingerd

(Matt 21:33–46; Luk 20:9–19)

12 Jesus het voortgegaan om in gelykenisse met hulle te praat en gesê: “’n Man het ’n wingerd aangeplant en ’n klipmuur daar rondom gebou. Hy het daarin ook ’n parskuip uitgekap en ’n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en daarvandaan weggegaan. 2Op die vasgestelde tyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur om by hulle sy deel van die wingerd se opbrengs te kry. 3Hulle het hom egter gegryp en geslaan en met leë hande weggejaag. 4Daarna het hy ’n ander slaaf na hulle toe gestuur. Hulle het hom oor die kop geslaan en hom uitgeskel. 5Hy het nog ’n ander een gestuur en vir hom het hulle doodgemaak. Later het hy nog baie ander gestuur; hulle het party geslaan en ander doodgemaak. 6Hy het nog net een oorgehad, sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. 7Maar daardie boere het vir mekaar gesê: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood; dan sal die erfenis ons s’n wees.’8Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi.

9“Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd nou doen? Hy sal kom en die boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee. 10Julle het tog al in die Skrif gelees:

Die klip wat deur die bouers

afgekeur is,

juis hy het die belangrikste klip in die

gebou geword.

11Dit is deur die Here gedoen

en is ’n wonder in ons oë.” r

12Hulle het toe na ’n plan gesoek om Hom te laat vang, want hulle het besef dat Hy met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Maar hulle was bang vir die mense en het Hom laat staan en weggegaan.

Die vraag oor die betaal van belasting

(Matt 22:15–22; Luk 20:20–26)

13Toe stuur hulle ’n paar van die Fariseërs en van die Herodiane na Jesus toe om Hom met ’n vraag in ’n strik te vang. 14Hulle kom sê toe vir Hom: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid en so maak u die wil van God bekend. Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie? Moet ons betaal, of moet ons nie betaal nie?”

15Jesus het egter geweet dat hulle huigel en Hy het vir hulle gesê: “Waarom stel julle vir My ’n strik? Bring vir My ’n muntstuk dat Ek sien.”

16Hulle bring toe vir Hom een en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”

“Die keiser s’n,” antwoord hulle Hom.

17Jesus sê toe vir hulle: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

En hulle was stom van verbasing oor Hom.

Die vraag oor die opstanding uit die dood

(Matt 22:23–33; Luk 20:27–40)

18Toe kom daar Sadduseërs na Jesus toe. Dit is hulle wat beweer dat daar nie ’n opstanding is nie. 19Hulle vra Hom toe: “Meneer, Moses het vir ons voorgeskrywe: ‘As iemand se broer sterwe en ’n vrou agterlaat maar nie kinders het nie, moet hy met die weduwee van sy broer trou en ’n nageslag vir sy broer verwek.’ s20Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en by sy sterwe geen kinders gehad nie. 21Die tweede het toe met die weduwee getrou, maar hy het ook gesterwe sonder om kinders agter te laat, en die derde net so. 22Nie een van die sewe het kinders by haar gehad nie. Heel laaste het die vrou toe ook gesterwe. 23Met die opstanding, wanneer hulle uit die dood opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”

24Jesus sê vir hulle: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie? 25Ja, want wanneer die mense uit die dood opstaan, trou hulle nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. 26En dat die dooies opgewek word, het julle dan nie in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, gelees hoe God vir hom gesê het: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’ tnie? 27Hy is nie ’n God van dooies nie maar van lewendes. Julle is dus heeltemal aan die dwaal!”

Die vraag oor die grootste gebod

(Matt 22:34–40; Luk 10:25–28)

28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ’n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ u 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ vGeen ander gebod is groter as dié twee nie.”

32“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ wen ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ x33En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ yen ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ zis van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

34Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”

Niemand het dit toe meer gewaag om Hom ’n vraag te stel nie.

Die vraag oor die seun van Dawid

(Matt 22:41–46; Luk 20:41–44)

35Jesus het toe voortgegaan om die mense in die tempel te leer, en Hy het vir hulle gesê: “Hoe is dit dat die skrifgeleerdes sê dat die Christus die seun van Dawid is? 36Dawid self het deur die ingewing van die Gees gesê:

‘Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

totdat Ek jou vyande aan jou

onderwerp het.’ a

37Dawid self noem Hom ‘Here’;hoe kan Hy dan sy seun wees?”

Die groot menigte mense het graag na Hom geluister.

2.2  Lees nou die Bybelskool bydrae


3.  Markus 12:38-44 – Die arm weduwee se gawe

3.1  Lees die teks in Markus

Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes

(Matt 23:1–36; Luk 20:45–47)

38Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word, 39wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê. 40Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”

Die arm weduwee se gawe

(Luk 21:1–4)

41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe ’n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

3.2  Lees nou die Bybelskool bydrae


4.  Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking

4.1  Lees die teks in Markus

Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word

(Matt 24:1–2; Luk 21:5–6)

13 Toe Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!”

2Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”

Die profetiese rede: rampe en vervolging

(Matt 24:3–14; Luk 21:7–19)

3Jesus het op die Olyfberg gaan sit, regoor die tempel. Toe hulle alleen was, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom: 4“Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?”

5Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. 6Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei.

7“En wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. 8Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.

9“En julle moet teen julleself op julle hoede wees. Mense sal julle aan die geregshowe oorlewer; in die sinagoges sal julle geslaan word, en voor goewerneurs en konings sal julle oor My teregstaan. Dit sal ’n getuienis voor hulle wees. 10En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. 11Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. 12Die een broer sal die ander oorlewer om doodgemaak te word, en selfs ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. 13Ja, julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.”

Die profetiese rede: die groot verdrukking

(Matt 24:15–28; Luk 21:20–24)

14“En wanneer julle die ding wat ’n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sien staan op die plek waar hy nie moet wees nie—wie dit lees, moet dit goed begryp—dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. 15Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om iets in sy huis te gryp nie; 16en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie.

17“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. 18Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie, 19want in daardie tyd sal daar so ’n verdrukking wees soos daar van die begin af, vandat God die wêreld geskep het tot nou toe, nog nie was nie en ook nie sal wees nie. 20En as dit nie was dat die Here daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy daardie tyd ingekort.

21“As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. 22Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei. 23Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle vooruit gesê.”

4.2  Lees nou die Bybelskool bydrae


5.  Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens

5.1  Lees die teks in Markus

Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens

(Matt 24:29–31; Luk 21:25–28)

24“Maar in daardie tyd,

ná daardie verdrukking,

sal die son verduister word

en die maan sal nie skyn nie;

25die sterre sal uit die ruimte val

en die kragte van die hemelruim

sal ontwrig word.

26Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. 27En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.”

Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom

(Matt 24:32–35; Luk 21:29–33)

28“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 29So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 30Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 31Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.

Die profetiese rede: die dag en uur van die wederkoms

(Matt 24:36–44; Luk 21:34–36)

32“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 33Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. 34Dit is soos ’n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. 35Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, 36sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. 37En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”

5.2  Lees nou die Bybelskool bydrae


6.  Markus 14:1-11 – Gesalf in Betanië, verraai in Jerusalem

6.1  Lees die teks in Markus

Jesus se dood word beplan

(Matt 26:1–5; Luk 22:1–2; Joh 11:45–53)

14 Twee dae later sou dit die paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na ’n plan om Jesus op ’n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 2Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”

Jesus word in Betanië gesalf

(Matt 26:6–13;)

3Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar ’n vrou gekom met ’n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. 4Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? 5Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar.

6“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ’n goeie daad aan My gedoen. 7Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. 8Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. 9Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar.”

Judas onderneem om Jesus te verraai

(Matt 26:14–16; Luk 22:3–6)

10Judas Iskariot, wat een van die twaalf was, het sy hulp vir die priesterhoofde gaan aanbied om Jesus in die hande te kry. 11Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het hulle belowe om hom daarvoor te betaal. Hy het toe na ’n plan gesoek om Hom by ’n geskikte geleentheid te verraai.

6.2  Lees nou die Bybelskool bydrae


7.  Markus 14:12-42 – Jesus word die paaslam

7.1  Lees die teks in Markus

Die paasmaaltyd word voorberei

(Matt 26:17–19; Luk 22:7–13)

12Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

13Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal ’n man wat ’n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom 14en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’15Hy sal julle dan ’n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.”

16Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei.

Een van Jesus se dissipels gaan Hom verraai

(Matt 26:20–25; Luk 22:14, 21–23; Joh 13:18–30)

17Die aand kom Jesus toe met die twaalf daar aan. 18Terwyl hulle sit en eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.”

19Hulle was onthuts, en een na die ander het Hom gevra: “Dis tog nie ek nie?”

20Hy sê toe vir hulle: “Dit is een van julle twaalf, die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek. 21Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

Die instelling van die nagmaal

(Matt 26:26–29; Luk 22:15–20; 1 Kor 11:23–25)

22Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.”

23Toe neem Hy ’n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. 24Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. 25Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.”

Petrus sal Jesus verloën

(Matt 26:30–35; Luk 22:31–34; Joh 13:36–38)

26Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

27Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe:

Ek sal die herder doodmaak,

en die skape sal uitmekaar

gejaag word. b

28Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.”

29Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”

30Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan ’n tweede keer kraai, My drie keer verloën.”

31Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”

En al die ander het dieselfde gesê.

Jesus in Getsemane

(Matt 26:36–46; Luk 22:39–46; Joh 18:1–2)

32Toe kom hulle by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”

33Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword 34en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

35Hy het toe ’n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. 36Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

37Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? 38Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

39Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. 40Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

41Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. 42Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

7.2  Lees nou die Bybelskool bydrae


8.  Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte

8.1  Lees die teks in Markus

Jesus word gevange geneem

(Matt 26:47–56; Luk 22:47–53; Joh 18:3–12)

43Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met ’n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. 44Die verraaier het met die mense ’n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.”

45Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met ’n soen gegroet. 46Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem.

47Een van dié wat daarby gestaan het, het ’n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.

48Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek ’n rower is? 49Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.”

50Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

51’n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net ’n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, 52maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.

Jesus voor die Joodse Raad

(Matt 26:57–68; Luk 22:54–55; 63–71; Joh 18:15–16, 24)

53Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom.

54Petrus het op ’n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak.

55Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om ’n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. 56Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie.

57Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê: 58“Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae ’n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.” 59Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie.

60Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

61Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie.

Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra.

62“Ek is,” het Jesus geantwoord,

“en julle sal die

van die mens sien

waar Hy sit aan die regterhand

van Hom wat magtig is,

en wanneer Hy kom

op die wolke van die hemel.” c

63Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? 64Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?”

Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!”

65Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ’n bietjie!”

Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat.

Petrus verloën Jesus

(Matt 26:69–75; Luk 22:56–62; Joh 18:17–18, 25–27)

66Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar. 67Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.”

68Hy het dit egter ontken deur te sê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het ’n haan gekraai.

69Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: “Hy is een van hulle.” 70Maar hy het dit weer ontken.

’n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook ’n Galileër.”

71Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.”

72En onmiddellik het die haan ’n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan ’n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.”

En hy het in trane uitgebars.

Jesus voor Pilatus

(Matt 27:1–2, 11–14; Luk 23:1–5; Joh 18:28–38)

15 Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad ’n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer.

2Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?”

Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.”

3Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. 4Pilatus het Hom toe verder ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.”

5Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was.

8.2  Lees nou die Bybelskool bydrae


9.  Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe

9.1  Lees die teks in Markus

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word

(Matt 27:15–26; Luk 23:13–25; Joh 18:38–19:16)

6Elke paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat. 7Daar was ’n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg. 8Daar het toe juis ’n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was. 9Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” 10Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

11Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat.

12Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?”

13“Kruisig hom!” skreeu hulle.

14“Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle.

Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

15Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus

(Matt 27:27–31; Joh 19:2–3)

16Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar. 17Toe trek hulle Hom ’n pers mantel aan en vleg ’n doringkroon en sit dit vir Hom op. 18Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

19Hulle het Hom herhaaldelik met ’n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys. 20Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig

(Matt 27:32–44; Luk 23:26–43; Joh 19:17–27)

21Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus.

22Hulle bring Jesus toe na ’n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken. 23Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie. 24Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry.

25Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het. 26En die rede waarom Hy gekruisig is, was op ’n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.”

27Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom. 28d

29Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou! 30Red jouself en kom van die kruis af.”

31Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! 32Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!”

Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig.

Jesus sterwe

(Matt 27:45–56; Luk 23:44–49; Joh 19:28–30)

33Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. 34Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? e

35Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.”

36Een van hulle het toe gehardloop, ’n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op ’n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.”

37Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

38Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.

39Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

40Daar het ook vroue op ’n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome. 41Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

Jesus word begrawe

(Matt 27:57–61; Luk 23:50–56; Joh 19:38–42)

42Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. 43Josef van Arimatea, ’n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra.

44Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het. 45Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee.

46Josef het ’n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ’n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ’n klip voor die ingang van die graf gerol. 47Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.

9.2  Lees nou die Bybelskool bydrae


10.  Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan

10.1  Lees die teks in Markus

Jesus het opgestaan

(Matt 28:1–8; Luk 24:1–12; Joh 20:1–10)

16 Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.

2Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. 3Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?”

4Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. 5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ’n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.

6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

8Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang. f

Jesus verskyn na sy opstanding

(Matt 28:9–10, 16–20; Luk 24:13–53; Joh 20:11–29; Hand 1:6–11)

9Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het. 10Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. 11Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie.

12Daarna het Jesus met ’n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe. 13Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie.

14Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. 15Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. 16Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. 17Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; 18met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”

19Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit. 20Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.

10.2  Lees nou die Bybelskool bydrae


Voetnote

o Vgl. Ps. 118:26

p Vgl. Jes. 56:7

q Sommige manuskripte voeg by: 11:26 “Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemel is, ook julle oortredings nie vergewe nie.”, vgl. Matt. 6:15

r Ps. 118:22–118:23

s Vgl. Deut. 25:5; Gen. 38:8

t Eks. 3:6; 3:15; 3:16

u Vgl. Deut. 6:4–6:5

v Lev. 19:18

w Vgl. Deut. 6:4

x Vgl. Deut. 4:35; Jes. 45:21

y Vgl. Deut. 6:5

z Lev. 19:18

a Vgl. Ps. 110:1

b Vgl. Sag. 13:7

c Vgl. Ps. 110:1; Dan. 7:13

d Sommige manuskripte voeg by: 15:28 Daarmee is die Skrifwoord vervul wat sê: “Hy is as misdadiger beskou.”, vgl. Luk. 22:37; Jes. 53:12

e Ps. 22:2

f Volgens die gebruikte grondteks eindig die Evangelie hier. 16:9 tot 16:20 is in sommige manuskripte bygevoeg en is mettertyd aanvaar as die gepaste afsluiting van die Evangelie. In sommige manuskripte is benewens of in die plek van 16:9 tot 16:20 die volgende bygevoeg: Maar die vroue het alles wat vir hulle gesê is, kortliks vir Petrus en die ander by hom vertel. Daarna het Jesus self deur hulle die heilige en onverganklike evangelie oor die ewige redding van die ooste tot in die weste laat verkondig. Amen.

View all posts in this series

Markus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: