Markus 9:2-29 – Vir die een wat glo, kan alles
Markus
Die driemanskap kry die voorreg om 6 dae (moontlik beïnvloed deur die feit dat Moses 6 dae in voorbereiding op die berg was –
Eks 24:15 – Lukas sê 8 dae wat moontlik meer histories korrek is) na die gesprek oor dissipelskap met Jesus op ‘n hoë berg (die Hermonberg noord van Seserea-Filippi en nie die Taborberg soos oorlewering dit het nie), heeltemal alleen, Jesus se verheerliking (letterlik: metamorfose) te ervaar.
Sy voorkoms en klere verander terwyl Elia (verteenwoordig die profete) en Moses (verteenwoordig die wet) met Hom in gesprek is (oor sy dood of “Uittog” soos Lukas dit vertel). Sy Goddelikheid skyn deur sy menslikheid en laat ‘n mens dink aan Daniël 7:9 se “Ancient of days”. Sommige geleerdes verbind dié twee ook met die twee getuies in Openbaring 11:3-12.
Petrus se verskrikte reaksie is om 3 hutte vir Elia, Moses en sy “rabbi” Jesus te probeer bou, maar as die wolk (aanduiding van God se teenwoordigheid – Eks 16:10) sy skaduwee oor hulle laat val, en die stem Jesus as God se geliefde Seun identifiseer, bly hulle agter met Jesus alleen, dié een na wie hulle moet luister. Net Hy kan God se plan in werking stel.
‘n Mens kan ook nie anders as om te dink aan Hebreërs 12:2 waar die motivering vir Jesus se aanvaarding van die kruisdood en die skande daarvan aan die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was toegeskryf word. Die verheerliking op die berg berei Hom en sy dissipels voor op die lydenspad wat hierna in intensiteit toeneem.
Die dissipels gehoorsaam Jesus se opdrag om hierdie gebeurtenis geheim te hou tot na sy dood, hoewel hulle oor die betekenis hiervan bly gesels het. Op hulle vraag oor Elia wat eers moes kom (Mal 4:5), wat in die lig van die gebeure op die berg in betekenis vir hulle toegeneem het, antwoord Jesus dat Elia al gekom het (Matteus verbind dit eksplisiet aan Johannes die Doper). Hy het net soos Elia – onder die hand van die swak koning Agab en sluwe koningin Isebel – gely onder die hand van die swak Herodes en die sluwe Herodias.
Terug by die ander dissipels is daar ‘n menigte mense en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer oor ‘n besete seun, wat volgens die simptome as ‘n vorm van erge epilepsie presenteer, wat hulle nie kon genees nie. Let op hoe verras die skare is oor Jesus se verskyning. Sommige dink dat sy klere miskien nog geskyn het, soos Moses na hy van die berg af gekom het.
Die pa van die seun tree dan met Jesus in gesprek om te verduidelik, waarop Jesus ontsteld word oor die ongeloof wat steeds vaardig is onder sy dissipels. Op die smekende versoek van die man dryf Jesus die onrein gees uit die seun, nadat die man sy mate van geloof eerlik bely het: “Ek glo. Help my in my ongeloof.” Daarmee help Jesus eintlik beide die pa en die seun, die een in sy gebrekkige geloof, die ander met sy siekte.
Toe hulle weer alleen was, het Jesus die dissipels se verwarring oor hulle onvermoë om iets vir die seun te doen, beantwoord deur te sê: “Hierdie goed kan deur niks anders as gebed uitgedrywe word nie.” Dit beteken, net God kan gevra word om só iets te doen. Ongeloof en ‘n gebrek aan gebed lei onvermydelik tot geestelike swakheid en oneffektiwiteit.
Matteus en Lukas
Matteus en Lukas vertel beide die verhaal op die berg langer as Markus. Die detail verskil hier en daar, maar kom in breë trekke ooreen. Matteus voeg by dat God oor sy Seun sê dat Hy Hom oor Hom verheug, en Lukas dat Hy sy Seun uitverkies het. Lukas wy kortliks uit oor die gesprek tussen Jesus en die 2 OT figure, terwyl die dissipels aan die slaap was.
Matteus vertel soos Markus van die gesprek tussen Jesus en die 3 dissipels soos hulle die berg afgekom het, en identifiseer Johannes die Doper as die Elia wat moes kom. Lukas volstaan met ‘n enkele sin daaroor as deel van die gebeure op die Berg van Verheerliking.
Matteus en Lukas verkort beide die verhaal van die besete seun, met kleiner detail verskille: in Matteus word die seun as geestelik versteurd beskryf, en in Lukas roep die man uit die skare uit voor hy in gesprek met Jesus gaan. Matteus voeg ‘n insiggewende beeld by om die dissipels se ongeloof te ontbloot: “As julle maar net geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie … Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”
Dit tref my baie diep. Dié week is ek gekonfronteer met baie negatiewe goed wat met mense om my gebeur het: ‘n verkragting, iemand wat 45% brandwonde opgedoen het, iemand wat op die punt staan om alles te verloor en gesekwestreer te word, ‘n huisgesin waar die dogter ‘n ernstige operasie moet ondergaan vir geskeurde ligamente wat haar sportloopbaan kan kelder en ‘n garagedeur duisende Rande se skade aan ‘n splinternuwe geleende motor aangerig het toe dit losgeskeur en op die kar geval het (hulle het dit vir iemand anders gestoor). En die vraag in my hart is, met watter geloof (en gebed) gaan ek dit tegemoet? Wat vra hierdie verhale van my in my eie situasie? Is my geloof nie ook soos die dissipels uiteindelik kleiner as ‘n mosterdsaadjie nie? En ek luister weereens na Jesus se antwoord aan die pa van die seun:
“Vir die een wat glo, kan alles.”
En ek antwoord Hom net soos die pa:
“Ek glo. Help my in my ongeloof.”
Na ek verder hieroor gebid het, weet ek, daar is twee goed wat ek kan doen: ek kan vir hulle vra hoe ek moet bid (soos Jesus vir sy dissipels ook leer), en ek kan ondersteun waar ek die vermoë het. Die antwoorde en uitkomste sal van God af kom.
View all posts in this series
- WEEK 1: Inleiding op die evangelie van Markus - Jan 12, 2010
- Die vier evangelies se unieke Jesus-portrette - Jan 21, 2010
- Die drie Sinoptiese evangelies - Jan 22, 2010
- Die boodskap van Markus - Jan 25, 2010
- Markus in vergelyking met die ander evangelies - Jan 26, 2010
- Bybelstudie metodiek - Jan 27, 2010
- Luistersiklus
- Lectio Divina
- WEEK 2: Markus 1:1-3:6 – Proloog en Deel 1: Bekendstelling - Jan 28, 2010
- Markus 1:1 – Jesus as God-mens vervul die OT beloftes
- Markus 1:1-8 – Die hart van die evangelie is opgesluit in Jesus Christus
- Markus 1:9-20 – om deur Christus geroep te wees, is om ‘n dissipel te wees - Jan 29, 2010
- Markus 1:21-31 – Dit is ‘n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die bose geeste, en hulle gehoorsaam hom. - Feb 1, 2010
- Markus 1:32-39 – Die bediening draai om God, nie om die vrugte daarvan nie
- Markus 1:40-45 – “Ek wil. Word gesond.” - Feb 2, 2010
- Markus 2:1-12 – geloof word in gedrag uitgedruk
- Markus 2:13-17 – dié wat siek is, het ‘n dokter nodig
- Markus 2:18-3:6 – Jesus se bevrydende bediening wek wrede weerstand van die leiers - Feb 3, 2010
- WEEK 3 van die Bybelskool oor Markus - Feb 4, 2010
- Markus 3:7-30 – Die impak van die bediening verskerp
- Die twaalf dissipels in die evangelies en Handelinge
- Markus 3:31-35 – Jesus en sy familie - Feb 5, 2010
- Markus 4:1-9 – Wie ore het en kan hoor, moet luister
- Markus 4:10-12 – Die geheim van die koninkryk word gegee, nie verwerf nie
- Markus 4:13-29 – om reg te hoor, bepaal jou hele lewe - Feb 8, 2010
- Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie? - Feb 9, 2010
- Markus 5:1-20 – Wat het U met my te doen? - Feb 10, 2010
- Markus 5:21-43 – Bly maar net glo!
- Markus 6:1-6 – Sy tuisdorp se mense wil niks van Hom weet nie
- WEEK 4 van die Bybelskool - Feb 11, 2010
- Markus 6:7-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys
- Markus 6:30-52 – Jesus demonstreer sy Godheid op verskillende maniere - Feb 12, 2010
- Markus 6:53-7:23 – Onreinheid het met die hart te make - Feb 15, 2010
- Markus 7:24-8:10 – Jesus is intiem en intens betrokke by mense - Feb 16, 2010
- Markus 8:11-21 – Hoe blind is dié wat nie wil sien nie - Feb 17, 2010
- WEEK 5 van die Bybelskool - Feb 18, 2010
- Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou
- Markus 9:2-29 – Vir die een wat glo, kan alles - Feb 19, 2010
- Markus 9:30-48 – dié wat eerste wil wees, moet laaste wees - Feb 22, 2010
- Markus 9:49-10:16 – Jesus vra getrouheid aan Hom en lojaliteit aan mekaar - Feb 23, 2010
- Markus 10:17-45 – Redding uit genade alleen - Feb 24, 2010
- WEEK 6 van die Bybelskool - Feb 25, 2010
- Markus 10:46-11:25 – ‘n huis van gebed vir die nasies
- Markus 11:27-12:37 – Jesus se intellek en wysheid is te veel vir die Joodse Raad - Feb 26, 2010
- Markus 12:38-44 – Die arm weduwee se gawe - Mar 1, 2010
- Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking - Mar 2, 2010
- Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens - Mar 3, 2010
- WEEK 7 van die Bybelskool - Mar 4, 2010
- Markus 14:1-11 – Gesalf in Betanië, verraai in Jerusalem
- Markus 14:12-42 – Jesus word die paaslam - Mar 5, 2010
- Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte - Mar 8, 2010
- Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe - Mar 9, 2010
- Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan - Mar 10, 2010
- Lees die vier evangelies en Handelinge - Jun 20, 2016
- Tien lesings uit Markus vir Heilige Week met kommentaar - Apr 11, 2017
- Jesus is die hart van die evangelie - Jan 8, 2018
Berg van verheerliking, Geloof
Vince Aslett
Vandag spreek tot my persoonlik; As ek na Jesus kyk, bid Hy altyd voordat Hy n pad moet loop, die Dissipels het nie gebid voordat hulle die seuntjie probeer gesond maak nie, hulle het op eie krag dit probeer doen – en kon dit nie reg kry nie. Hoeveel besluite maak ek nie daagliks sonder om daaroor te bid nie, en dus op my eie krag staatmaak. Week 4 gaan vir my tot dusver oor geloof, of eerder ongeloof. Ek sien dit as n vorm van ongeloof om nie afhanklik van God te wees in dit wat ek daagliks doen nie.
Baie dankie vir die tyd wat jy in hierdie bybelstudie insit, ek geniet dit gate uit. Lekker naweek