Skip to main content

Markus 4:13-29 – om reg te hoor, bepaal jou hele lewe

Markus

Jesus se retoriese vraag aan die dissipels en gevolglike verduideliking van die gelykenis van die Saad is belangrik om twee redes:

  1. Dit gebruik die dissipels se onbegrip as ‘n voorbeeld vir die lesers van die evangelie (ook ons!) om hulle aan te moedig om regtig te luister, soos net hierna met die voorbeeld van die lamp verder geïllustreer gaan word; en
  2. Dit identifiseer hierdie gelykenis as ‘n sleutel om ook die ander gelykenisse te verstaan wat oor die koninkryk handel.

Dit tref my dat hierdie deel van Markus se evangelie van 3:20 af tot 4:25 met die regte manier van luister te make het.  Luister is die primêre houding of ingesteldheid van ‘n dissipel van Jesus:

“Gee aandag aan wat julle hoor!” (vers 24)

Let op hoe die gelykenis beweeg van:

  1. Die mense by wie daar soos op ‘n pad gesaai word en nooit die Woord regtig hoor nie, na
  2. Dié wat die Woord wel hoor, maar swig onder eksterne druk, en die Woord nie laat wortelskiet nie, na
  3. Dié wat ook die Woord hoor, maar swig onder interne druk, begeertes wat hulle harte gevange hou, en die Woord verstik.

Goeie grond (volgelinge van Jesus) luister EN aanvaar egter die Woord (logos) voortdurend (die teenwoordige tyd  van die werkwoord word gebruik wat ‘n konstante voortgaande luister impliseer) , kies doelbewus om nie sporadies of oppervlakkig te hoor nie, maar gereeld en diep, sodat die Woord wortel skiet; waak daarteen dat die interne sorge (angstigheid) van die lewe en die verleiding (misleiding!) van die rykdom en die begeertes na allerhande dinge die Woord verstik en die vrug belemmer.

Maar die krag wat die dissipels, en ook my, verander lê steeds in die saad – die Woord – en die saaier – Jesus.  Die voorbeeld van die lamp (simbool van die teenwoordigheid van die koninkryk in Jesus) op die staander in 4:21-25, sowel as die gelykenis van die saad wat vanself groei en vrug dra (die sekel insteek by die oestyd laat ‘n mens in hierdie koninkrykskonteks dink aan die oordeelsdag – Joël 3:13) in 4:26-29 (wat net in Markus vertel word) onderstreep dit. ‘n Ontvanklike luister laat net toe dat die Woord wortelskiet en Jesus sy vrugdraende werk doen.

Die klem op die saad wat vanself groei, is vir my in die bediening ‘n groot stuk troos: die krag lê nie in my werk opgesluit nie, maar in die Een wat my stuur!

Die belang van luister word daarmee saam egter ook onderstreep met die interessante verduideliking: “met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word” (vers 24).  As die dissipels (en ons) met ‘n groot maat luister, sal ‘n groot maat vrug die gevolg wees.  En dié wat het, sal meer kry (vgl Spr 1:5; 9:9), en dié wat nie het nie, van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, weggeneem word (vgl ook Matt 25:29; Luk 19:26 vir dieselfde gedagterigting).

Die ander evangelies

Matteus maak die gelykenis meer persoonlik (man in plaas van mense), wyt die nie-hoor van die Woord aan ‘n gebrek aan begrip (“dit nie verstaan nie”) waarna die Bose dit wegneem, laat die begeertes na allerhande dinge weg as tekening van die interne druk wat die Woord verstik, en koppel die regte hoor van die Woord aan die regte begrip, eerder as aan die aanvaarding daarvan soos die geval is in Markus.  Die vrug word ook in omgekeerde volgorde genoem: 100-voudig, 60-voudig en 30-voudig.  Hy gebruik ook nie die voorbeeld van die lamp nie, maar behou die uitdrukking van Jesus oor dié wat het en dié wat nie het nie.

Lukas weer verklaar hoekom die duiwel (Satan in Markus en Bose in Matteus) die Woord wegneem, “sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie,” (wat nogal ooreenkom met God se bedoeling soos in Jesaja 6 uitgespel word – die duiwel tree dus as instrument op?), wyt die gebrek aan wortel skiet aan ‘n korstondige geloof, wat as dit op die proef gestel word, moed opgee (terloops: dit is darem ‘n baie belangrike insig!), en brei uit op die goeie grond se vrugbaarheid deur dit te wyt aan die luister met ‘n goeie en opregte hart, die bewaring van die Woord en volharding in die luister en vrugdra.

Die onderlinge verskille kan waarskynlik aan die mondelinge tradisie toegeskryf word, sowel as aan die unieke perspektiewe wat die onderskeie skrywers wou uitlig.

Interessant is dat die Evangelie van Tomas 33 ook die voorbeeld van die lamp vertel, maar dit verbind aan die innerlike oor se luister, anders as die kanonieke evangelies.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

luister


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda