Skip to main content

WEEK 1: Inleiding op die evangelie van Markus

Die motto van hierdie Bybelskool

“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house.  Give it plenty of room in your lives.  Instruct and direct one another using good common sense.  And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.

Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:

Om in die Woord te Woon.

My passie is om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.

Die evangelie van Markus

Ek wil nou die evangelie van Markus neem en dit saam met jou deur te lees, maar op ‘n baie spesifieke manier.  Ek wil dit lees in vergelyking met die ander evangelies, sodat aan die een kant die boodskap van Markus nog meer spesifiek kan uitstaan, maar aan die ander kant ‘n mens ook ‘n waardering begin kry vir die wyse waarop die ander evangeliste dieselfde gegewens geneem het en ander beklemtonings en nuanses daaraan gegee het.

Werkswyse

Ons gaan die evangelie van Markus in die volgende paar weke deurlees en telkens die tekste ook vergelyk met gedeeltes in die ander evangelies.

  • Inleiding – ‘n Paar bydraes oor Markus en leesmetodes – Week 1
  • Markus 1:1-3:6 – Die Proloog en Deel 1: Bekendstelling – Week 2
  • Markus 3:7-6:6 – Deel 2: Impak op die skares, dissipels en teenstanders – Week 3
  • Markus 6:7-8:21 – Deel 2: Vervolg – Week 4
  • Markus 8:22-10:45 – Deel 3: Gefokusde aandag aan die dissipels – Week 5
  • Markus 10:46-13:37 – Deel 4: Klimaks van die evangelie – Week 6
  • Markus 14:1-16:20 – Deel 4: Vervolg en Die Epiloog – Week 7

Lekker lees!

Die vier evangelies se unieke Jesus-portrette

Soos ek vroeër geskrywe het, gaan ons die evangelie van Markus deurlees in samehang met die ooreenstemmende gedeeltes in die ander evangelies.

Ek doen dit, omdat die vier evangelies van die NT aan ons ‘n verskeidenheid ryk perspektiewe gee op die wonder van God se verskyning in Jesus Christus aan die mensdom.  In die skakeringe van die een verhaal wat met ‘n verskeidenheid van nuanses en foci en beklemtonings deur die verskillende skrywers vertel word, nooi dit ons uit om saam te dink en saam te gesels oor die betekenis daarvan vir die lewe.

Want dit is natuurlik die doel van enige besigwees met die Woord – om só te lees dat die betekenis daarvan vir jou oopgaan en dit jou lewe kan verryk en verander.

Impak

Die impak hiervan is verreikend.  In die eerste plek verander dit ons eie lewe en bring dit ons in ‘n persoonlike verhouding met God en raak Hy ‘n daaglikse metgesel op ons pad.  Maar in die tweede plek het dit ‘n deurslaggewende impak op ons gemeenskapslewe met mekaar.  Soos Francois Wessels in sy lekkerlees akademies-verantwoorde en Andrew Murray-bekroonde boek sê:

Dit is juis in die saamdink wat die geheel saamhang, waarin die onderlinge verskille verduur word deur die “vashou-aan-mekaar, deur die hoog-ag-van-ander, deur saam-dra-aan-mekaar-se-laste, deur onderlinge vergifnis en versoening, deur eenheid as band van vrede te bewaar, en voortdurend afhanklik te bly bid en wag op die wyse leiding van die Heilige Gees – wat aan almal sáám gegee is” (2006, Wie was Jesus regtig? In gesprek … Oor die historiese Jesus.  Lux Verbi.BM: Wellington, p 8).

Só ‘n lees van die Woord keer ook dat ons ‘n Jesus in die evangelies probeer soek, gestroop van enige dogma, die sogenaamde “historiese Jesus”, soos deur sommige geleerdes sedert die Verligting van die 16de eeu probeer is (Reimarus, Lessing, Strauss, von Harnack) of om die evangelies ten minste te probeer stroop tot net Jesus se outentieke woorde oorbly (Jesus Seminar).

Elke evangelie gee ‘n eie Jesus-portret

Die Evangelies gee immers elkeen sy eie Jesus-portret (a.w. p 16) soos ons alreeds uit die unieke ordening van die beskikbare verhale en die nuanse verskille in die oorvertel van dié verhale in die 4 evangelies kan sien.  Die bergrede in Lukas en Matteus is bv. eerder ‘n opsomming van wat Jesus gesê het, as ‘n verbatim verslag van wat Hy gesê het.  Daarby beklemtoon Lukas bv. doelbewus die fisiese implikasie van wat Jesus gesê het: “Geseënd is julle wat arm is …” en Matteus die geestelike implikasie: “Geseënd is die arm van gees is …” wat saamhang met elkeen se onderskeie teologiese doelwit met die skryf van hulle evangelie.

Die evangelie van Johannes verskil die meeste van die ander drie sinoptiese evangelies, Markus, Matteus en Lukas.  Waar die Sinoptici die gebeure rondom Jesus in die geskiedenis vasanker met datums en OT verwysings, vertel Johannes eerder die geestelike betekenis van Jesus se woorde en dade, om daarmee duidelik te maak dat dit God self is wat in Jesus mens geword het. Omdat hy sy evangelie ook ruim 20 jaar na die ander skrywe, bevat dit meer teologiese refleksie oor die betekenis van Jesus as die ander evangelies.

Maar, en dit is die wonder hiervan, dit is in die saamlees van al die verskillende perspektiewe en nuanses dat ‘n veelkleurige prentjie vorm aanneem, ‘n beeld van Jesus waarmee ons in gesprek kan tree, en met Wie ons op reis kan gaan.

En my hoop en wens en gebed vir die volgende paar weke, is dat dié Jesus in ons saamlees en saamgesels ons almal se reisgenoot sal word.

Die drie Sinoptiese evangelies

Vir ons leeswerk gee ek ook die volgende baie kort oorsig van die drie Sinoptiese evangelies.

Markus is een van die drie Sinoptici (sinopties = oorsigtelike, samevattende hantering [van die Griekse “saam-kyk”]).

Uit ‘n vergelyking van die drie sinoptiese evangelies, Markus, Matteus en Lukas, is dit opvallend dat bykans alle gedeeltes in Markus ook in die ander twee evangelies, Matteus en Lukas voorkom.  Slegs drie gedeeltes kom net in Markus voor: 1) 1:1 – die Inleiding tot sy evangelie; 2) 4:26-29 – Die gelykenis van die saad wat vanself groei en 3) 8:22-26 – Jesus wat ‘n blinde man in Betsaida genees.

Matteus en Lukas het egter verskeie gedeeltes wat nie by Markus voorkom nie, die Bergrede bv.  Dit dui volgens geleerdes daarop dat Matteus en Lukas die evangelie van Markus gebruik het as basis-dokument vir hulle eie evangelies.  Markus is dus die oudste evangelie wat ons het.

Matteus en Lukas het ook ‘n tweede bron gebruik, wat blyk uit dié gedeeltes waarin hulle met mekaar ooreenstem (en nie by Markus geleen het nie), ‘n totaal van 62 perikope, wat deur geleerdes die (hipotetiese) Q- bron genoem word (Q is die afkorting vir die Duitse woord Quelle wat bron beteken).  Dit bevat interessant genoeg meesal uitsprake van Jesus, en omtrent geen genesings en wonderdade van Jesus nie, sowel as niks van sy konfrontasie met die Joodse leiers en uiteindelike dood en opstanding nie (Wie was Jesus regtig?, p 56).  Dit is egter redelik sinloos om die bron op grond van aanhalings en weglatings in sekondêre bronne (Matteus en Lukas) nouer te probeer omskryf.  Omdat die ooreenstemmende gedeeltes in Matteus en Lukas egter byna woordeliks ooreenstem, en daarby in dieselfde volgorde in die twee evangelies geplaas is, word wel aanvaar dat dié bron skriftelik was.

Lees hier meer oor die ontstaan van die Bybel.

Die boodskap van Markus

Die evangelie van Markus is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13].  Dit is heel moontlik geskrywe in Rome aan die gemeente in Rome (volgens Papias, ‘n kerkvader).  Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is.

Hy vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Jesus vervul volgens Markus die Messiaanse verwagting deurdat God se koninkryk in Jesus aanbreek.  Die nuwe Uittog waarvan Jesaja praat begin met die bediening van Jesus wat sy lyding en plaasvervangende dood insluit.  Daardeur het Hy ‘n model van dissipelskap gegee wat opgesluit lê in selfverloëning, die opneem van ‘n kruis en Hom na te volg (8:34).

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

  1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God.  Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God.  In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
  2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
  3. Markus 8:22-10:45 – Jesus wat sy dissipels dieper inlei in die aard en betekenis van sy bediening, en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
  4. Markus 10:46-15:47 – Jesus wat Jerusalem binnegaan tot verrukking van die skares, maar uiteindelik deur hulle verwerp word en deur die leiers gekruisig word, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Interessant, die prentjie van die kerk wat ons in Markus kry, is dat dit die plek is waar grense oorgesteek word na gemarginaliseerdes.  Dit pas goed in die situasie van die vervolging in Rome in keiser Nero se tyd.

Ek steun hier onder andere op die uitstekende boek van Gordon D Fee en Douglas Stuart, How to Read the Bible Book by Book – A Guided Tour.  Uitgegee deur Zondervan, Grand Rapids, Michigan in 2002.

Markus in vergelyking met die ander evangelies

Ek het gister geskryf oor die boodskap van Markus.

Net om dit te vergelyk met die ander sinoptiese evangelies:

  • Matteus (apostel?) vertel die storie van Jesus aan Joodse Christene wat ‘n verbintenis het aan die Groot Opdrag aan die heidene.  Heel moontlik is dit geskrywe in Antiochië in die 70’s n.C.  Die storie van Jesus van geboorte tot Groot Opdrag sluit groot blokke van sy leringe in en stel Jesus voor as die Seun van God, die Messiaanse Koning van die Jode, wie se boodskap vir alle mense bedoel is. Die kerk is vir hom die familie van God (broers en susters vir mekaar).
  • Lukas (‘n dokter wat Paulus soms vergesel het – Kol 4:14 – die enigste “heidense” outeur in die Bybel) vertel die storie van die redding van Israel wat Jesus (en die Gees in Handelinge) bring.  Dit is heel moontlik na die val van Jerusalem in 70 n.C. geskrywe aan Christene uit die heidense nasies. Dit word gerig aan Teofilus, andersins onbekend, wat heel moontlik die publikasie onderskryf het.  Lukas plaas die verhaal in die konteks van die wêreldgeskiedenis en sluit die voortgaande bediening van die Gees in die kerk van die begin af in.  Die kerk is vir hom die plek waar alle Jode welkom is, daarom word bv. spesifiek aandag gegee aan die stories van vroue.
  • En natuurlik moet ons nie vergeet dat Handelinge deel twee is van Lukas, wat die storie van redding deur Jesus vertel soos dit deur die Gees en die kerk voortgesit word van Jerusalem af tot in Rome.  Die kerk is vir Hom die plek waar mense uit alle kulture welkom is (akkulturasie), maar ook deur die evangelie verander word (inkarnasie).  Vergelyk bv. Paulus in gesprek met die Epikureërs en Stoïsyne in Atene (Hand 17 – kyk by punt 3.3.2).

Lees hier meer oor die wyse waarop die Bybel as kanon tot stand gekom het.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda