Markus 10:17-45 – Redding uit genade alleen

Markus

Markus sit die tema van die koninkryk van God, en wie daarin welkom sal wees, voort met die verhaal van die ryk jongman.  Dié kom aangehardloop net toe Jesus sy reis na Jerusalem voortsit.  Sy vraag na die verkryging van die ewige lewe verwys letterlik na die ewige lewe as erfenis, wat in die lig van Jesus se naderende dood betekenisvol is.  Hy wil egter nie iets ontvang nie, maar daarvoor iets doen.  Jesus verwys hom dan na die 6 gebooie van die tweede tafel van die tien gebooie, met die 10de gebod effens anders geformuleer: jy mag nie iemand veronreg nie (Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie …).

Op die positiewe reaksie van die jongman hierop, dat hy dit van sy kinderdae af doen, vertel Markus ons, het Jesus hom liefgekry en ingenooi in sy dissipelkring, op voorwaarde dat hy ook nog afstand doen van sy besittings, soos die ander dissipels inderdaad ook gedoen het.  Dit het die jongman egter afgeskrik en bedruk laat weggaan, want hy het baie besittings gehad.

Jesus se lering oor ryk mense wat moeilik in die koninkryk van God sal kom, weens hulle verknogtheid aan besittings, laat die dissipels verbaas en uiteindelik ontsteld, omdat dit hulle laat wonder of enigiemand dan gered kan word.  Hulle het gewerk met die idee dat ‘n ryk man eintlik baie meer vir die koninkryk kan doen, en daarom sou verdien om makliker daar in te kon gaan.

Jesus gebruik dan die geleentheid om redding te verbind aan God se werk alleen, want vir Hom is alles moontlik.  Die koninkryk moet as ‘n genadegeskenk van God aanvaar word, soos die kind in die vorige perikoop.  Hiermee gee Jesus ‘n fundamentele teologiese beginsel waarop die hele Reformasie se hervorming sou berus:

Redding deur genade alleen.

Petrus wonder dan hardop oor hulle eie situasie in terme van die koninkryk, en vra Jesus of hulle afstanddoening van werk en familie in berekening gebring word.  Jesus reageer daarop met ‘n positiewe motivering dat hulle nie net uiteindelik die ewige lewe sou kry nie, maar ook in hierdie lewe reeds ‘n oorvloed van familie en eiendom, hoewel dit saam met vervolging sal wees.

Dit wil voorkom asof Jesus begin haastig raak om in Jerusalem te kom, daarom loop Hy voor die dissipels uit tot hulle ontsteltenis.  Dit noop Hom om ‘n derde keer oor sy naderende dood en opstanding met die twaalf te praat.  Hierdie keer doen Hy dit nog meer volledig, en praat spesifiek ook oor die uitlewering aan die heidene wat Hom sal spot en spoeg en slaan (Jes 50:6), maar dat Hy uit die dood sal opstaan.

Die dissipels is egter nog nie klaar gepraat oor wie belangrik is in die koninkryk (na die Verheerliking op die berg episode) nie.  Jakobus en Johannes wil hoor of hulle nie in die komende koninkryk langs Jesus op sy troon kan sit nie.  Jesus beantwoord die vraag tereg deur dit as Sy Vader se besluit uit te spel, hoewel Hy ook erken dat hulle dieselfde lydensbeker as Hyself sal drink.

Die ander dissipels is egter verontwaardig oor die twee seuns van die donder se wedywering vir bevoorregte posisies, waarop Jesus weereens sy lering herhaal dat dié wat eerste wil wees, almal se dienaar moet word, soos Hy inderdaad deur sy eie manier van lewe gewys het.  Let op hoe Jesus se hele roepingsverstaan opgesluit lê in vers 45, dat Hy sy lewe gee as losprys vir baie mense, om hulle uit hulle slawerny aan die sonde los te koop.

Matteus en Lukas

Matteus vertel die verhaal net soos Markus, met klein, maar interessante verskille: hy haal in die plek van die 10de gebod vir Lev 19:18 aan wat eintlik ‘n opsomming van die hele tweede tafel van die wet is, om jou naaste lief te hê soos jouself; vir die ryk jongman voeg hy toe: “As jy volmaak wil wees …”; Hy spel die beloning in die ewige lewe uit as dat die 12 dissipels op 12 trone sal sit en oor die 12 stamme van Israel sal regeer.

Lukas vertel die verhaal ietwat korter met ‘n paar eie stukkies kommentaar: hy praat van “’n man van aansien”, laat die 10de gebod weg, beskryf die jongman as diep teleurgesteld as hy die prys begin bereken en praat in vers 30 net van “baie keer” in plaas van “honderd keer”.

Die derde aankondiging van Jesus se dood word ook net so oorvertel deur Matteus en Lukas, effens korter, met geringe klemverskille, waarvan die grootste Lukas se opmerking is dat die dissipels steeds niks begryp het nie.

Matteus het die interessante wysiging aan die vraag van Jakobus en Johannes deurdat hy dit in die mond van hulle ma plaas.  Sy kniel voor Jesus en vra Hom as ‘n guns dat hulle trone langs Jesus s’n sal wees.  Hulle is immers deel van die binnekring, sou ‘n mens namens haar wou redeneer!  Tog antwoord Jesus haar nie direk nie, maar praat direk met die twee dissipels.  Lukas vertel nie die verhaal nie.

View all posts in this series

genade, Markus, redding


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
  • Mariaana on RomeineHoe maak ek om die bybelstudie oor die boek Romeine te bekom En ook oor God Se wil asb
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieHi Petrus, FF Bruce verklaar dit in sy kommentaar só: "Moenie in jou hart sê: ‘Wie sal na die hemel opvaar nie?’ – dit wil sê om Christus neer te brin…
%d bloggers like this: