Skip to main content

Tag: opstanding

Bydraes hervat weer Donderdag

My program die afgelope twee weke was net te vol om by te bly met die bydraes oor Job.  Ek hoop om die bydraes weer Donderdag te hervat.  Jammer!

Hier is sommer twee aanhalings wat julle sal interesseer uit ‘n boek waarmee ek tans besig is: The Case for the Resurrection of Jesus, 2004, deur Gary R. Habermas en Michael R. Licona van Kregel Publications gepubliseer by Grand Rapids.

Continue reading

Die geloofwaardigheid van die getuienis oor die opstanding van die Here Jesus Christus

Matthee, Keith 2010 The Resurrection – a lawyer’s view.  Methodist Publishing House: Cape Town.
Laai The Resurrection – a Lawyer’s view hier af (pdf – 500 KB)

Die geloofwaardigheid van die getuienis oor die opstanding

Keith gebruik sy ervaring as advokaat en regter om die getuienis vir die opstanding van die Here Jesus Christus te ontleed op dieselfde wyse as wat hy dit in ’n gewone hofsitting sou doen.  Dit doen hy met volle inagneming van die belangrikheid om nie tevrede te wees met die oppervlakkige en oënskynlike interpretasies van feite nie, maar ook nie om sonder meer te swig voor die versoeking van die tydgees van skeptisisme nie.

Hy fokus op die opstanding van die Here Jesus Christus uit die hoek van die geloofwaardigheid van die getuienis waarin ’n mens altyd ook die moontlikheid moet verreken dat jy verkeerd kan wees.  Daarom is die bevestiging van die waarheid van die getuienis van die opstanding vir hom wesenlik, iets wat hy mense soos Richard Dawkins, bv. in The God Delusion, verkwalik, dat hulle geen poging aanwend om die waarheid van die NT getuienis te ondersoek nie, maar dit net sonder meer verwerp.

Oor Richard Dawkins sê hy die volgende: “he fails to address the obvious question: even if earlier religions believed in a resurrection, of what evidential value is this when assessing the evidence of the alleged resurrection of Jesus?  In a court of law such evidence would be inadmissible for lack of relevance.” (p. 29).

Continue reading

1 Korintiërs 15-16 – Ons groot hoop: die opstanding met ’n onverganklike liggaam

Paulus wend hom nou tot ’n onderwerp wat hy self op die tafel sit en van kardinale belang vir die Korintiërs se geloof is – die opstanding van Christus.  Dit vorm die basis vir die geloof in hulle eie opstanding uit die dood en is dié ding wat hulle moet aanspoor om standvastig en onwankelbaar te wees, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat die hoop op die opstanding hulle oortuig dat hulle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (vers 58).

Hy begin deur uit te brei op die kruis-evangelie van hoofstuk 2 en herinner hulle aan die die 4 hoofpilare van hulle geloof, dát Christus gesterf het, dát Hy begrawe is, dát Hy opgestaan, en dát Hy verskyn het aan die gelowiges.  Let op hoe die historiese feite (gesterf, begrawe, opgestaan, verskyn) met sy interpretasie daarvan (vir ons sonde, volgens die Skrifte) as lewensveranderende evangelie bevestig word.

Die verskeidenheid van die 6 verskynings wat Paulus beskrywe val ook op, aan enkelinge, kleiner groepe en groot groepe.  Let op ook op dat die twaalf (dissipels) onderskei word van die apostels, wat ’n groter groep was, waaronder Andronikus en Junia was (Rom 16).  Paulus sluit homself as ontydig geborene en geringste van die apostels in, weens sy vervolgingsgeskiedenis, hoewel hy trots is daarop dat hy harder as almal gewerk het, darem weens die genade van die Here.

Met hierdie opstandings-evangelie as vertrekpunt beweeg hy dan direk oor na die verwagting van die opstanding van die dooies waarsonder hulle geloof waardeloos en sonder inhoud en betekenis sou wees.  Hy stel dit daarom duidelik dat soos Christus opgewek is uit die dood, sal dié wat aan Hom behoort, by Christus se koms, lewend gemaak word en opstaan uit die dood.  Dit is die evangelie en dit is ons hoop!

As dit nie waar was nie, sou ook die werk van die evangelie-bedienaars tevergeefs wees, en sou ’n mens eerder kon eet en drink asof alles tot ’n einde sal kom (hy haal hierdie spreuk uit die werk van die Griekse digter Menander aan – 341-291 vC).

Oor die verwysing na die Korintiërs wat hulle vir die dooies laat doop het, is al baie gedink, maar daar is regtig nie goeie verklarings daarvoor nie.  Al wat ’n mens kan sê, is dat Paulus dié gebruik ook inspan om die onsinnigheid van ’n geloof uit te wys wat nie rekening hou met die opstanding uit die dood nie.

Daarna praat Paulus oor die opstandingsliggaam om alle onduidelikheid daaroor op te klaar.

Ons moet onthou dat die Grieke nie in die opstanding van die liggaam geglo het nie, selfs al het hulle die idee gekoester dat die siel van die mens onsterflik is en na die dood sou kon voortbestaan.  Daarom dat Paulus soveel klem lê op die voortbestaan van gelowiges in ’n liggaamlike staat, nie net ’n geestelike nie.

Let op hoe hy in vers 36-41 sy siening begrond deur 3 voorbeelde uit die natuur te gebruik, voordat hy in vers 42-43 sy gevolgtrekkings sal maak en in vers 44-49 verder daarop sal uitbrei.

Hy gebruik eerstens die voorbeeld van die saad wat in die grond val en sterf om in ’n ander gestalte, die koringplant, voort te leef (vers 36-38).  Daarmee wys hy die onderskeid tussen die verganklike en die onverganklike liggaam aan sowel as die wesenlike kontinuïteit al is dit in ’n ander gestalte (vers 42).

Tweedens skryf hy oor die verskil tussen die vleis van mense, diere, voëls en visse (vers 39).  Daarmee probeer hy die geringheid van die aardse liggaam teenoor die heerlikheid van die hemelse liggaam aandui sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees (vers 43a).

In die derde plek beskryf hy die verskil tussen dowwer en helderder hemelliggame soos die maan en sterre versus die son, en selfs sterre onderling (vers 40-41).  Daarmee probeer hy die swakker karakter van die aardse liggaam teenoor die krag van die hemelse liggaam uitdruk sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees (vers 43b).

In sy uitbreiding in vers 44-49 kontrasteer hy die natuurlike karakter van ons liggame hier met die geestelike karakter van ons liggame na die opstanding.  Dit is soos die verskil tussen die eerste mens, Adam, en die laaste Adam, die lewendmakende Gees, die hemelse mens, di Christus.  Die een se liggaam is uit die aarde, en is stoflik; die tweede se liggaam is uit die hemel, en is hemels (In Romeine 5-6 sal hy weer terug kom op ’n vergelyking tussen Adam en Christus).

Die dooies sal dus as onverganklikes opgewek word, net soos dié wat dan nog lewe, in ’n oomblik ook met onverganklikheid beklee sal word.  Dan is dit die einde van die dood, en daarmee die einde van die sonde, want die oorwinning van God sal dan onverganklik wees.

Daarom kan ons saam met Paulus die Here altyd dank en standvastig en oorvloedig in die werk van die Here wees, omdat hierdie opstanding, hierdie onverganklikheid, ons hoop is.

Hoofstuk 16

Paulus sluit af met drie perikope:

  • Vers 1-4: ’n opdrag om die kollekte vir Jerusalem voor te berei deur op elke Sondag iets opsy te sit – ons gebruik van dankoffers opneem op Sondae by ons eredienste kom onder andere van dié verse vandaan; dit is ook die eerste geskrewe aanduiding van die byeenkoms van gelowiges op ’n Sondag en nie ’n sabbat nie.
  • Vers 5-12: ’n Kykie na sy reisplanne wat ’n besoek aan hulle in die winter insluit; hy vra hulle ook om hulle oor Timoteus te ontferm op pad terug na hom toe; hy vra ook dat hulle Apollos se afwesigheid sal verskoon – wonder of sy “beslis nie nou nie”-houding iets met die verdeeldheid in die gemeente te make gehad het?
  • Vers 13-24: laaste versoeke en persoonlike detail; let op hoe hy in vers 14 en 24 weereens oor die liefde praat, ’n boodskap waarmee hy die brief begin het, in hoofstuk 13 breedvoerig geskryf het en hulle hier weer aan herinner.

Môre begin ons met 2 Korintiërs – ek publiseer dus saam met hierdie bydrae ‘n Inleiding op 2 Korintiërs en die leesplan vir die volgende week.  Jy kan dit vandag lees of môre.  Lekker lees!

Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan

Markus

Ek wil nie graag by die onverkwiklike debat oor die opstanding wat deur sommige organisasies en teoloë gevoer word, betrokke raak nie.  Ek wil ook nie met allerhande hermeneutiese nuanses met woorde speel rondom die opstanding nie.  Markus 16:1-8 sê soos die ander evangelies dat Jesus opgestaan het. Dit was liggaamlik (as jy Paulus se taal wil gebruik, ‘n verheerlikte liggaam soos ons in 1 Kor 15 leer).  En ek glo dit.

Verder bly dit darem net ongelooflik hoe die vroue aan die einde van die evangelie na vore tree as ondersteuners en getuies, terwyl al die mans, behalwe moontlik Johannes, gevlug het.  Dit is uiters betekenisvol in die lig van die patriargale omgewing waarbinne hulle gelewe het.

Die teks van Markus wat aan ons oorgelewer is, het eintlik 3 eindes.  Die beste manuskripte eindig die teks by vers 8.  Sommige ander voeg ‘n vers 9 by, en nog ander voeg ‘n paar verse, 9-20 by, soos ons dit tans in die NAV het.  Die langer tekstradisies dateer heel moontlik eers uit die tweede eeu nC, heel moontlik om ‘n meer afgeronde afsluiting vir die evangelie te verskaf.  Die konsensus onder geleerdes is dat die langer eindes heel moontlik latere byvoegings is, maar dat die korter teks ook te kortaf is, en dat daar van die oorspronklike teks moontlik ‘n deel verlore geraak het.

Korter einde: 3 vroue gaan die Sondagmôre na die graf, Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome.  Let op hoe die jongman, ‘n engel, Jesus in sy mensheid as van Nasaret identifiseer.  ‘n Boodskap aan Petrus is ook sy missie vir hulle, dat die dissipels Jesus in Galilea moet ontmoet.

Die korter teks eindig met die vroue wat weghardloop en Markus se evangelie wat dus eindig met die woorde: “Want hulle was bang.”

Effens langer teks: Die effens langer teks het ‘n soort opsomming van die gesprek tussen die vroue en Petrus en die ander dissipels, en die mededeling dat Jesus self aan hulle verskyn het en deur hulle die evangelie oral laat verkondig het.

Langer einde: Die langste teks voeg dan by dat Jesus aan Maria Magdalena verskyn het, sowel as aan 2 mense op pad na die platteland, wat ons uit Lukas se weergawe weet die Emmaüsgangers was.

Die onderlinge verskille tussen hierdie Markus weergawe en Lukas s’n wys egter dat dié teks, soos die effens langer teks, heel moontlik nie oorspronklik is nie:

Daar word in vers 13bv. gesê dat ander dissipels die twee Emmausgangers nie geglo het nie. Dit verskil van Lukas 24:34 waar die dissipels vir die Emmausgangers sê dat hulle inligting ooreenkom met dít wat hulleself by Simon gehoor het.

Die teks stel die Emmausgangers ook as dissipels voor wat nie die geval was volgens die ander evangeliste nie.

Hoe dit ook al sy, die teks vertel ons dat Jesus se verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart gou oorslaan in ‘n opdrag om die evangelie te gaan verkondig.  Jesus gee hulle voorsmakie van die tipe wondertekens wat by hulle sal voorkom, genesing van duiwelbesetenheid en siekte, tale, en beskerming teen slange en gif (onthou Paulus se ervaring op die eiland Malta – Hand 28).

Markus se langer einde eindig met Jesus se hemelvaart en ‘n kort beskrywing van die evangelieverkondiging wat deur wondertekens bekragtig is.

Matteus, Lukas en Johannes

Korter einde: Matteus noem die ma van Jakobus slegs die “ander Maria” wat ons laat vermoed dat dit dieselfde persoon kan wees.  Hy beskryf die toneel by die graf ook meer volledig met ‘n aardbewing waarna ‘n engel die klip voor die graf wegrol en daarop gaan sit, met die wagte wat bewe en soos dooies word.  Sy boodskap is dat Jesus opgewek is en dat dié nuus aan die dissipels vertel moet word.  Hulle gaan doen dit dan tegelykertyd bang en bly.

Lukas se detail verskil van Markus en Matteus se weergawe; daar is 2 engele en hulle gaan in gesprek met die vroue.  Matteus noem ook vir Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, maar met hulle saam was daar ook Johanna (Salome?).  En hy vertel van Petrus se besoek aan die graf.

Johannes vertel weer in meer detail van Petrus en sy eie ervarings by die graf.  Interessant is dat hulle wel begin glo dat Jesus opgestaan het, maar nog nie sover kan kom om die Skrif hieroor te verstaan nie.

Langer einde: Matteus sluit sy evangelie af met die Groot Opdrag net voor Jesus se Hemelvaart.  Lukas brei weer uit oor die pragtige verhaal van die Emmaüsgangers, sowel as die toneel by Galilea waar Jesus vis eet om hulle van die werklikheid van sy opstanding te oortuig.  Hy sluit met ‘n korter weergawe van die Hemelvaart.  In Handelinge is ‘n langer weergawe.  Johannes brei weer uit oor die engele se gesprek met Maria Magdalena, waarna Jesus self aan haar verskyn.  Hy vertel van nog twee verskynings van Jesus, een waar Tomas nie by was nie, en een waar ook die ongelowiges Tomas ‘n getuie van die opstanding word.

Markus 9:30-48 – dié wat eerste wil wees, moet laaste wees

Markus

Jesus kondig die tweede keer sy dood aan terwyl hulle reis deur Galilea.  Let op hoe Hy die passiewe vorm gebruik: “word oorgelewer” wat beteken dat Hy deeglik bewus is dat dit God is wat hierby betrokke is.  Hy verwys heel moontlik na uitsprake soos dié in Jesaja 53:12 en Daniël 7:25 asook Hos 6:2.  Hy wil egter steeds nie hê dat dié nuus voortydig publieke nuus word nie, en hoewel die dissipels dit nie verstaan het nie, en selfs te bang is om Hom in te vra daaroor, bly hulle daaroor stil.

Op pad na Kapernaum stry die dissipels egter oor wie van hulle die belangrikste is, waarskynlik onder andere weens die voorkeur wat die driemanskap, Petrus en die twee broers Johannes en Jakobus, die seuns van die donder, op die berg van Verheerliking gehad het. Jesus leer hulle daarom by die huis dat die wat eerste wil wees, laaste moet wees.  Om dit met ‘n “acted parable” te illustreer neem Hy ‘n kindjie (die Aramese woord vir kind kan ook dienskneg beteken!), sit sy arm om hom en verklaar dat elkeen wat só ‘n kindjie in sy Naam ontvang, eintlik vir Hom ontvang; meer nog, ook Hom wat Jesus gestuur het (vgl Mark 10:13-16).  Uit Jesus se perspektief sal iemand wat ‘n kindjie vriendelik ontvang, ook vir Hom ontvang.  En as die dissipels nie as belangrikes by mense aankom nie, sal hulle Jesus in hulle bediening raaksien.

Johannes se vraag oor iemand wat in Jesus se Naam bose geeste uitdrywe (ook Hand 19:13 vertel van só n praktyk), maar nie vir hulle volg nie, illustreer sonder dat hulle dit eers agterkom, eintlik hulle gevoel van eksklusiwiteit en belangrikheid.  Ironies genoeg het hulle net tevore gesukkel om ‘n duiwel uit die stom seun te dryf!  Dit lei tot die bekende uitspraak van Jesus:  “Wie nie téén ons is nie, is vir ons.”  Sulke mense moet dus nie gekeer word nie.  Daarmee relativeer Hy ook hulle gevoel van belangrikheid, dit is nie status wat tel nie, maar diens in die koninkryk, en bevorder só ‘n ruimheid van hart teenoor ander se diens in die koninkryk. Vergelyk Moses wat op soortgelyke wyse mense toelaat om te profeteer, ten spyte van teenkanting (Num 11:27).

Hy keer terug na die aanvanklike gesprek oor belangrikheid, en voeg by dat elkeen wat vir die dissipels iets kleins soos ‘n beker water te drinke gee, omdat hulle aan Christus behoort, sal beslis daarvoor beloon word.

Met die kindjie wat waarskynlik nog daar in hulle midde staan, brei Jesus uit oor elkeen wat een van hierdie kleintjies afvallig laat word.  Dit sal beroerd met só iemand gaan, soos die meulsteen-aan-die-nek uitspraak bewys. Aan die een kant waarsku Jesus sy dissipels om nie mense wat hulle as geringer ag te laat struikel nie (vgl 1 Kor 8-9, Rom 14).  Aan die ander kant spreek Jesus heel moontlik ook die vrees by die dissipels aan dat só ‘n houding van diens en ruimheid van hart tot misbruik kan lei wat hulle van ‘n egte oorgawe aan diens kan afskrik en afvallig kan laat raak.

Maar, Jesus spreek ook elkeen van hulle aan, wat sorg moet dra dat nie ‘n hand of voet of oog hulle van Hom afvallig laat word nie.  Dit is beter om fisiese gebrek te ly, eerder as om van Hom afvallig te raak.

Die uiteinde van afvalliges is die hel (die Griekse woord gehenna word gebruik wat verwys na die altyd smeulende vullishoop in die Hinnomsdal buite die stad Jerusalem, wat gereeld gebrand is en waar die wurms in die afval gekrioel het) en die onblusbare vuur, waar die wurm nie dood nie en die vuur nie geblus word nie (verskillende Markus manuskripte plaas hierdie laaste mededeling op verskillende plekke in die perikoop, maar dit verander nie aan die betekenis nie).  Vergelyk ook die verwysing hierna in Jesaja 66:24 en die grusame praktyke waarvan Jeremia vertel (7:30-33).

Matteus en Lukas

Matteus vermeld ook droefheid by die dissipels by die tweede dood-en-opstanding aankondiging van Jesus, terwyl Lukas skryf dat die betekenis vir hulle bedek was, sodat hulle nie kon begryp nie.

Net Matteus het die vraag oor die tempelbelasting wat hy aanhak aan die vraag oor wie die belangrikste “in die koninkryk” is.  Hy voeg ook die uitspraak van Jesus by dat die dissipels soos kindertjies moet word, anders sal hulle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.  Dit is dié wat hulle gering ag soos die kindjie wat in hulle midde staan, wat die belangrikste in die koninkryk van die hemel is.  En, soos Markus, ontvang jy Jesus as jy só ‘n kindjie in Jesus se Naam ontvang, wat heel moontlik op die dissipels slaan. Lukas vertel ook van die stryery en voeg by dat Jesus leer dat dié een wat “die minste onder julle almal is, hý is groot.”

Matteus het nie die uitspraak van Jesus dat wie nie téén ons is nie, is vir ons.  Hy het die omgekeerde uitspraak dat “Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaar maak nie, jaag hulle uitmekaar.”  Daarmee verklaar Jesus dat ‘n kinderlike houding om jouself nie belangriker as ander te ag nie, nie beteken dat ‘n mens nie geloofonderskeidend na mense se aksies kan kyk nie.  In die konteks van teenstand teen sy bediening, maak die uitspraak dus sin (Markus se uitspraak kom in die konteks van iemand wat op ‘n positiewe manier Jesus se Naam gebruik, wat weer sy uitspraak verklaar).  As iemand nie die skape saam met Jesus bymekaar maak nie, lei die koninkryk skade.  Sulke aksies of dan gebrek aan aksies moet afgewys word.  Lukas het beide uitsprake in hulle onderskeie positiewe en negatiewe kontekste.

Matteus verkort weereens die Markaanse weergawe oor afvalligheid, bv. deur die uitspraak oor die hand en voet te kombineer, terwyl Lukas eerder van struikeling as van afvalligheid praat.  Sy weergawe is nog korter.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda