Markus 14:12-42 – Jesus word die paaslam
Markus
Dit tref my hoe anders hierdie Paasfees vir Jesus moes gewees het. Jesus het saam met sy ouers elke jaar vir die Paasfees Jerusalem toe gekom (Luk 2:41). Hierdie keer sou egter nou ‘n heel ander ervaring vir hom en vir hulle wees. Waar hulle vroeër ‘n lam sou slag vir die paasmaaltyd, word Hy nou die Paaslam. Maar let op hoe dit uiteindelik op sy eie terme is wat Hy die maaltyd hou en Homself beskikbaar stel om God se wil uit te voer. Hy kan Homself uit die voete maak, of ‘n legioen van engele gebruik om Hom te beveilig, maar Hy kies om Hom aan die kwaad wat mense beplan, te onderwerp.
Die voorbereidings: Jesus stuur 2 van sy dissipels om die paasmaaltyd gereed te kry. Die reëling is heel moontlik vooraf getref sodat Judas nie sou weet waar dit sou wees nie, en Jesus die paasmaaltyd onverhinderd kon vier – ‘n man sou hulle ontmoet, nogal met ‘n kruik water in die hand, wat normaalweg deur vrouens gedra is; hy sou hulle na die eienaar neem, waar die kamer reeds ingerig was.
Ek kan my regtig inleef in Jesus se ervaring wat waarskynlik saam met die dissipels na die tempel met die lam gaan, soos al die ander Jode, die lam se keel afsny op die voorgeskrewe manier waar die bloed gedreineer word in ‘n bak wat deur ‘n priester vasgehou word, en daarna by die voet van die altaar gesprinkel word. Dit terwyl Hy die hele tyd weet dít is wat ook op soortgelyke wyse met Hom die volgende dag gaan gebeur.
Vir ‘n bietjie agtergrond oor die feeste: Vanaf die vroegste tyd is die Joodse jaar gekenmerk deur groot feeste. Sommige feeste is gereël om saam te val met die wisseling van die seisoene, om die volk te herinner dat God voortdurend vir hulle sorg en om hulle ‘n geleentheid te bied om aan God hul dankbaarheid te betoon. Op ander feeste is die groot gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel gedenk, die geleenthede toe God op ‘n onmiskenbare wyse ingetree het om sy volk te verlos. Al die feeste was geleenthede van vreugde en die genieting van God se goeie gawes, en terselfdertyd plegtige byeenkomste om sy vergewing en reiniging te vra.
Die doel van die feeste was geestelik: ‘n groot en heerlike ontmoeting tussen God en sy volk, en die profete het hulle skerp uitgespreek teen diegene wat die feeste tot blote formaliteit en leë ritueel verlaag het.
Daar was waarskynlik baie plaaslike feeste (Rigters 21:21), maar al die mans moes die drie groot nasionale feesvierings bywoon:
- Paasfees en die fees van die ongesuurde brood (Eks 12:1-20; 23:15). Hierdie twee feeste is saam gevier om die uittog uit Egipte te herdenk (kyk Eks 11-12). Dit het op die 14de dag van die eerste maand begin en ‘n week geduur.
- Die fees van die weke (oesfees) (Num 28:26; Eks 23:16; Lev 23:15-21). Die fees – later’ bekend as pinkster – is 50 dae na die begin van die paasfees gevier. Dit was in wese ‘n landboufees waar die eerstelinge van die oes aan God gewy is.
- Die fees van die insameling (huttefees) (Eks 23:16; Lev 23:33-43). ‘n Herfsfees aan die einde van die insameling van die vrugteoes. Die volk het sewe dae lank in hutte wat van takke gemaak is, gewoon – uit dank vir die oes, maar ook as ‘n herinnering aan die dae toe hulle in die woestyn in tente gewoon het (Lev 23:43). Al hierdie feeste is beskou as “heilige” geleenthede waarop die gewone werk gestaak is. Daar was ook ander feesvierings. (Philip Budd – Handboek by die Bybel)
Die paasmaaltyd: Dit begin met Jesus se stelling dat een van julle Hom sal verraai. Op hulle ontsteltenis oor wie dit kan wees, antwoord Jesus dat dit die een sal wees wat sy brood saam met Jesus in die skottel (óf die een met gedroogte vrugte: dadels, vye en rosyne in ‘n wyn-asyn sous óf die een met die bitter kruie) insteek, sonder om dit nader te verduidelik (Johannes identifiseer dit as Judas, en sê verder dat Jesus vir hom die stukkie brood gegee het, hoewel hy ook sê dat niemand geweet het wat Jesus bedoel nie).
Jesus se opmerking dat Sy dood wel ‘n vervulling van die Skrifte is, maar dat dit beter sou gewees het dat sy verraaier nooit gebore was nie, wys op die misterieuse manier waarop God se werk en dié van mense in tyd saamval.
Die instelling van die nagmaal: Die gedeelte is vir ons baie bekend. Jesus neem die brood en die beker (die derde beker van vier wat deur die loop van die paasmaaltyd gebruik is) en verbind die betekenis daarvan aan sy liggaam en bloed wat die verbond beseël, wat vir baie mense bedoel is. Daarby voeg Hy die voorneme om nie weer wyn te dring totdat Hy die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink nie.
Petrus se verloëning: Na die lofsang (deel van die pasgaritueel – heel moontlik Ps 116-118) is hulle uit na die Olyfberg, waar Jesus onder andere die profetiese rede gelewer het. Jesus verklaar dat almal van Hom afvallig sal word met ‘n aanhaling uit Sagaria 13:7. Hy sal hulle egter na sy opstanding in Galilea gaan ontmoet, dws weg van Jerusalem af. Petrus se dapper verbintenis aan Jesus lok die bekende uitspraak van Jesus uit, dat Petrus Jesus voor die haan ‘n tweede keer gekraai het, dws voor die oggend aangebreek het, 3 keer sal verloën. Let op dat die ander ook soos Petrus dieselfde verbintenis gemaak het.
Jesus in Getsemane (“oliepers”): Jesus gaan die moeilikste toets van sy lewe tegemoet met gebed. Hy probeer dit doen saam met die drietal dissipels wat saam met Hom op die berg van verheerliking was, maar dié kan ironies genoeg om die dood toe nie wakker bly nie. Jesus is ontsteld en beangs en doodsbenoud. Hierdie angs is natuurlik nie net vir die dood self nie, maar ook vir die oordeel van God wat vir Hom wag. Hy bid dat die lydensuur nie vir Hom aanbreek nie, en dat die lydensbeker van Hom af weggeneem word. Hy gee Hom egter ook oor aan sy Vader se besluit en wil. Na die derde tyd van gebed was dit genoeg: “Die tyd het gekom.” Jesus is gereed vir die pad wat Hy moet loop.
Matteus, Lukas en Johannes
Die voorbereidings: Let op hoe Matteus Jesus se boodskap aan die eienaar weergee as: “My tyd is naby,” wat verband hou met die woorde later in Getsemane: “Die uur het gekom.” Lukas identifiseer die 2 dissipels as Petrus en Johannes, wat hierna baie keer só saam sou optree (Handelinge 3-4). Johannes vertel nie iets hieroor nie.
Die paasmaaltyd: Matteus brei uit op Markus se weergawe en vertel spesifiek van ‘n gesprek tussen Jesus en Judas, waar Judas vra of hy miskien die verraaier is – en onthou, hy het al die verraad begin pleeg – waarop Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!” Lukas gee Markus se weergawe korter weer. Johannes plaas dié maaltyd en gesprek natuurlik as deel van die voetewas episode. Hy maak baie van die voorkennis van Jesus, sowel as sy verbintenis aan die Skrifwoord, dié keer uit Psalm 41:10: “Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek.” Hy brei ook uit oor Jesus se ontsteltenis daaroor, en die “dissipel vir wie Jesus baie lief was” se vraag na wie dit kan wees. Jesus antwoord Hom dat dit die een is vir wie Hy ‘n stukkie brood wat Hy in die sous gesteek het, sal gee, waarmee Hy eintlik die Psalmuitspraak dramatiseer. Let op hoe dit ook die moment is waarop die Satan Judas invaar en Jesus hom die opdrag gee om sy werk af te handel. Dit is egter net Jesus en Judas wat weet wat gebeur. Die ander is salig onbewus van die drama wat onder hulle oë afspeel. Hoe onheilspellend sluit dié perikoop nie af nie: “Dit was nag.”
Die instelling van die nagmaal: Matteus het net twee klein uitbreidings. Hy meld dat die nagmaal “tot vergewing van sondes” lei en dat die koninkryk dié van sy Vader is. Lukas gee weer van die menslike emosies weer: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly.” Hy sê ook dat Hy die paasmaaltyd nie weer sal geniet voordat dit in die koninkryk van God “sy volle betekenis” gekry het nie. Die orde van die instelling van die nagmaal word ook in sy voller pasga konteks geplaas, met ‘n beker wyn voor die werklike instelling van die nagmaal, soos ons dit ken. Jesus voeg ook die woorde by wat Paulus in 1 Korintiërs 11:23-25 later sou gebruik: “Gebruik dit tot my gedagtenis”. Lukas praat ook van die “nuwe” verbond, heel moontlik aangehaal uit Jer 31:31. Johannes het nie dié instellingswoorde nie. In Paulus se skrywe aan die Korintiërs wil dit lyk asof hy dié nagmaalsritueel direk van die Here af ontvang het, maar dat dit interessant genoeg meer met Lukas se weergawe daarvan ooreenstem. Hulle was nie verniet ‘n hele paar keer saam op reis nie …
Petrus se verloëning: Lukas volg Markus se weergawe, net met een detail verskil: Petrus sal Jesus verloën voor die haan kraai. Lukas brei uit oor die gesprek met Petrus waarin Jesus uitbrei oor sy vooraf gebed vir Petrus dat die Satan hom nie van sy geloof sou ontroof nie. En gee hom die hoopvolle opdrag dat as hy weer tot inkeer gekom het, hy die broers moet versterk. Lukas sê ook dat die verloëning voor die hanekraai sal gebeur, en spel uit dat die verloëning sal insluit dat Petrus sal sê dat hy Jesus nie ken nie. Johannes vertel die hele verhaal op sy eie manier. Op Jesus se vertelling van sy verheerliking (dood) in die vorige perikoop, wonder Petrus wat dit alles beteken, waarna Jesus die nuus vir hom breek, dat hy Jesus sal verloën (ook voor die hanekraai).
Jesus in Getsemane: Matteus volg Markus se weergawe met ‘n paar detail wysigings: hy noem Jakobus en Johannes die twee seuns van Sebedeus, en vertel dat Jesus gekniel het met die gesig teen die grond. Lukas vertel dit weer op sy eie manier, met ‘n engel wat aan Hom verskyn om Hom te versterk as Sy doodsangs sy sweet soos bloeddruppels laat word terwyl Hy nog ernstiger gebid het. Die dissipels se moeite om wakker te bly word interessant genoeg ook eerder gewyt aan uitputting deur droefheid, as aan doodgewone moegheid. Johannes gee ekstra detail, dat hulle deur die Kedronspruit by Getsemane uitgekom het, en noem spesifiek dat dit ‘n tuin was.
View all posts in this series
- WEEK 1: Inleiding op die evangelie van Markus
- Die vier evangelies se unieke Jesus-portrette
- Die drie Sinoptiese evangelies
- Die boodskap van Markus
- Markus in vergelyking met die ander evangelies
- Bybelstudie metodiek
- Luistersiklus
- Lectio Divina
- WEEK 2: Markus 1:1-3:6 – Proloog en Deel 1: Bekendstelling
- Markus 1:1 – Jesus as God-mens vervul die OT beloftes
- Markus 1:1-8 – Die hart van die evangelie is opgesluit in Jesus Christus
- Markus 1:9-20 – om deur Christus geroep te wees, is om ‘n dissipel te wees
- Markus 1:21-31 – Dit is ‘n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die bose geeste, en hulle gehoorsaam hom.
- Markus 1:32-39 – Die bediening draai om God, nie om die vrugte daarvan nie
- Markus 1:40-45 – “Ek wil. Word gesond.”
- Markus 2:1-12 – geloof word in gedrag uitgedruk
- Markus 2:13-17 – dié wat siek is, het ‘n dokter nodig
- Markus 2:18-3:6 – Jesus se bevrydende bediening wek wrede weerstand van die leiers
- WEEK 3 van die Bybelskool oor Markus
- Markus 3:7-30 – Die impak van die bediening verskerp
- Die twaalf dissipels in die evangelies en Handelinge
- Markus 3:31-35 – Jesus en sy familie
- Markus 4:1-9 – Wie ore het en kan hoor, moet luister
- Markus 4:10-12 – Die geheim van die koninkryk word gegee, nie verwerf nie
- Markus 4:13-29 – om reg te hoor, bepaal jou hele lewe
- Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie?
- Markus 5:1-20 – Wat het U met my te doen?
- Markus 5:21-43 – Bly maar net glo!
- Markus 6:1-6 – Sy tuisdorp se mense wil niks van Hom weet nie
- WEEK 4 van die Bybelskool
- Markus 6:7-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys
- Markus 6:30-52 – Jesus demonstreer sy Godheid op verskillende maniere
- Markus 6:53-7:23 – Onreinheid het met die hart te make
- Markus 7:24-8:10 – Jesus is intiem en intens betrokke by mense
- Markus 8:11-21 – Hoe blind is dié wat nie wil sien nie
- WEEK 5 van die Bybelskool
- Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou
- Markus 9:2-29 – Vir die een wat glo, kan alles
- Markus 9:30-48 – dié wat eerste wil wees, moet laaste wees
- Markus 9:49-10:16 – Jesus vra getrouheid aan Hom en lojaliteit aan mekaar
- Markus 10:17-45 – Redding uit genade alleen
- WEEK 6 van die Bybelskool
- Markus 10:46-11:25 – ‘n huis van gebed vir die nasies
- Markus 11:27-12:37 – Jesus se intellek en wysheid is te veel vir die Joodse Raad
- Markus 12:38-44 – Die arm weduwee se gawe
- Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking
- Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens
- WEEK 7 van die Bybelskool
- Markus 14:1-11 – Gesalf in Betanië, verraai in Jerusalem
- Markus 14:12-42 – Jesus word die paaslam
- Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte
- Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe
- Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan
- Lees die vier evangelies en Handelinge
- Tien lesings uit Markus vir Heilige Week met kommentaar
- Jesus is die hart van die evangelie
Tags: 1 Petrus, Joodse feeste, Markus, Nagmaal, Paasfees
Trackback from your site.
Chris van Wyk
| #
Hi Yunis, die reëling was om vermorsing te voorkom. Die pa moes bereken of sy familie ‘n lam sou kon opeet. Minder as tien mense in ‘n gesin, veral as dit kleiner kinders was, sou dit moontlik nie maak nie! Daarom kon hulle met hulle bure deel, sodat die vleis nie vermors word nie. Want, onthou, alles is verbrand aan die einde van die maaltyd. As ‘n mens simbolies daarna kyk, kan ‘n mens mededeelsaamheid en samewerking in die koninkryk daarin lees.
Yunis Duimpies
| #
Goeie middag Ds Chris
Baie dankie vir Ds se uiteensetting oor Exodus 12 in verband met die uittog uit Egipte.Ek wil net graag weet,wat beteken dit simbolies wanneer as huisgesinne die lammetjie saam moet eet en as hulle te klein is vir die lam,hulle saam met hulle bure deel.Ek hoop u verstaan wat ek bedoel.Baie dankie
Chris van Wyk
| #
Hi Yvonne, dankie vir die korreksie! Seën vir jou leeswerk hierdie jaar.
Chris van Wyk
| #
Hi Miems, die wet is duidelik dat ‘n mens nie moord mag pleeg nie (Eks 20:13) soos Jesus (Matt 5:21-22) en Paulus (Rom 13:9) dit ook bevestig. Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit so:
Sondag 40
105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20.
Chris van Wyk
| #
Ek het ook ‘n paar gedagtes oor gebed by: https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-elke-dag/
Chris van Wyk
| #
Hi Frans – ek het ‘n paar gedagtes oor vas geplaas by: https://bybelskool.com/die-plek-van-vas-in-geloofsgewoontes/. Daarin is ‘n pdf van Calvyn oor vas.
Frans Scheepers
| #
Ek soek na handleiding vir die tyd waarin ons is, vir die pandemie. Veral oor intense gebed.
Chris van Wyk
| #
Dankie Chantelle – jy kan my bydraes oor Esegiël hier bereik: https://bybelskool.com/esegiel-blad/
Chantelle
| #
Baie Dankie hier oor Baie ekstra kennis by gelas 🙏👋, ek is op soek na notasoor die boek Esegiel.
Kan my kontak op my epos Dankie
Groete
Chantelle du Plessis
Chris van Wyk
| #
Hi Anton
Dit is nie my punt nie, maar die punt van die Dordtse Leerreëls op grond van die Skrif. Hier is dit in konteks aangehaal:
1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23) en: Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23).
2. Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh 4:9; Joh 3:16).
3. Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom 10:14,15).
4. Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh 3:36; Mark 16:16).
5. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef 2:8), ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil 1:29).
6. Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Ef 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlor is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit ‘n onuitspreeklike troos.
7. Hierdie uitverkiesing is ‘n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ‘n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies. Hierdie menslike geslag het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as die ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot Fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die
gemeenskap van sy Seun bewaar word, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik. Soos geskrywe is: In Christus het God Hy ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons vir sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde (Ef 1:4,5,6); en elders: Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook
verheerlik (Rom 8:30).
8. Hierdie uitverkiesing is nie veelvoudig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid sowel as tot die weg na die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Ef 1:4,5; 2:10).
9. Hierdie uitverkiesing het nie op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie. Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ensovoorts. Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees (Ef 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.
10. Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as ‘n voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere bepaalde mense uit die hele menigte van sondaars as sy eiendom aangeneem het. Soos geskrywe is: Toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie, …, is vir haar (nl Rebekka) gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat (Rom 9:11,12,l3); en: Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe (Hand
13:48).
11. God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie ongedaan gemaak, oorgedoen, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of in getal verminder word nie.
12. Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur verskillend en nie vir almal in gelyke mate nie. Hierdie versekering ontvang hulle nie as hulle nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God probeer deursoek nie. Hulle ontvang die sekerheid egter as hulle in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waarneem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is die ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ensovoorts (2 Kor 13:5).
13. Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ‘n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te
wandel.
14. Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God – waarvoor dit in die besonder bestem is – uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder ‘n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot ‘n lewende troos vir sy volk (Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33,34; Heb 6:17,18).
15. Verder toon die heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakend~ geloof én die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees. Inteendeel, dit sê juis dat God ‘n gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.
16. Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie ten volle ervaar nie – ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God hulle beloof, het om hierdie dinge in ons te bewerk – moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulleself ook nie onder die verworpenes reken nie, maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen gehoorsaam te wees en van die liggaam van die dood verlos te word, maar op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle wel wou nie, behoort nog minder die leer van die verwerping te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar
hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.
17. Die Woord van God, waaruit ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie, maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. Gelowige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (Gen 17:7; Hand 2:39;1 Kor 7:14).
18. Teen iemand wat oor hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: O, mens, wie is jy wat teen God antwoord? (Rom 9:20); en ook die woorde van ons Saligmaker: Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? (Matt 20:15). Maar ons wat hierdie verborgenhede godvresend en met eerbied aanbid; roep saam met die apostel uit: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken of wie was sy raadsman gewees? Of wie het iets aan Hom gegee, dat dit vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid! Amen (Rom 11:33-36).