Markus 7:24-8:10 – Jesus is intiem en intens betrokke by mense

Markus

Jesus is nog steeds besig om stilte te probeer opsoek, soos net te vore in Betsaida.  Hier soek Hy dit in die noordoostelike gebied van Tirus, wat so 25 km van Kapernaum af begin het, die enigste keer dat hy die Joodse gebied heeltemal verlaat het.  Interessant genoeg word die dissipels nie hier en in die volgende verhaal in Dekapolis eksplisiet genoem nie, hoewel Matteus dit wel doen.

Jesus gaan bly in ‘n “heidense” huis waarmee hy verder demonstreer dat Hy ernstig is oor die lering wat Hy oor rein/onrein gegee het.  Nie net alle kos is rein nie, maar ook alle nasies!  Vergelyk bv. Petrus se toespraak aan Kornelius waar hy verduidelik dat Jode nie in heidene se huise mag kom nie, ‘n idee wat hy eers laat vaar het op grond van die visioen wat God hom gegee het (Hand 10:28).

‘n Griekse vrou van Siro-Fenicië het egter gou van Hom te hore gekry en vra dat Hy ‘n bose (letterlik onrein!) gees uit haar dogtertjie dryf.  Jesus wys eers haar versoek af met beeldspraak (heidene is honde genoem, maar Jesus versag dit na hondjies), maar dan troef sy Hom met haar eie beeldspraak.  Let op hoe die tema van brood, wat al by Jaïrus se dogtertjie wat iets te ete moes kry na haar opwekking uit die dood, steeds die gedeeltes aan mekaar bind. Let ook op dat sy Jesus as Here aanspreek, wat ‘n ongelooflike belydenis in haar mond is.

Jesus genees dan haar dogtertjie op grond van wat sy gesê het (letterlik: op grond van hierdie logos), een van die min afstand-genesings, waarmee Jesus haar geloof en vertroue in Hom bedoel.  Sy staan dus in sterk kontras met die onbegrip nie net van die skares nie, maar ook van die dissipels.  En haar verhaal gee ‘n rasionaal aan die latere beweging van die kerk oor sosiale en godsdiens grense – soos Jesus, so ook die kerk.

Jesus keer hiervandaan af terug na Dekapolis, die gebied waar Legio verlos is.  Volgens sommige geleerdes lyk dit asof Hy Galilea vermy deurdat Hy via Sidon reis (‘n mens wonder oor die rede?) terwyl ander geleerdes dink dat dit nie sin maak nie, en moontlik aan se Markus se gebrekkige kennis van die gebied noord van Israel toe te skryf is.

Hoe dit ook al sy, Jesus genees daar onder andere ‘n dowe man (waarskynlik nie doof gebore nie, anders sou hy heel moontlik glad nie kon praat nie), wat deur mense (vriende?) na Hom gebring is (vergelyk die verlamde man se storie – een kommentaar noem dit “intercessory faith”), deur Hom hande op te lê, sy vingers in sy ore te steek, Sy spoeg (sommige het gedink daar is genesende krag in spoeg) aan die man se tong te smeer en ‘n hemelwaartse sug te gee, in Hebreeus (sommige sê Aramees, hoewel die woord nêrens anders só in Aramees voorkom nie) Effata (gaan oop) uit te roep, en sy gebrek te genees (Jesaja 35:5-6 gaan hier in vervulling).  Dit is ‘n baie intieme betrokkenheid van Jesus by die man, wat wys hoe intens Jesus by mense betrokke geraak het.  Dit roer my eie hart:

Hoe intiem en intens is my eie betrokkenheid by mense?

Die reaksie is ongelooflik: “Alles wat Hy doen, is goed,” heel moontlik voorberei deur die getuienis van Legio.  Interessant genoeg word die man nie aangeraai om oral te getuig soos Legio nie, heel moontlik omdat Hy reeds oorbekend was en dit vir Hom moeilik gemaak het om in die openbaar op te tree, iets wat nie nodig was met sy eerste besoek aan die Dekapolis nie.

Die tema van brood word voortgesit met die tweede vermeerdering van die brood, in oorwegend heidense gebied, weereens in die konteks van die onbegrip van die dissipels wat nou weer eksplisiet genoem word.  Hulle verstaan nog steeds nie dat Jesus God is en sy mag wil gebruik tot voordeel van mense wat behoefte het, omdat Hy hulle innig jammer kry nie.  Hierdie keer voed 7 brode (en ‘n paar vissies) 4000 mense en bly daar 7 mandjies (die woord spiridas wat hier gebruik word, dui ‘n groter mandjie aan – vgl Hand 9:25) oor. Die verskille met die eerste broodvermeerdering is te groot dat die twee geleenthede as een verhaal beskou kan word, soos sommige geleerdes doen: die getalle verskil, die woord vir mandjies verskil en Jesus self verwys net hierna in ‘n gesprek met die dissipels na twee geleenthede.

Hulle vertrek na Dalmanuta toe, waarskynlik in die omgewing van Magadan, hoewel niemand die dorpie tot nog kon eien nie.

Matteus

Lukas vertel nie enige van hierdie drie gebeure nie.

Matteus beskryf die vrou as ‘n Kanaänitiese vrou in die gebied van Tirus en Sidon.  Sommige geleerdes dink dat sy Kanaänities was, maar die Griekse taal en kultuur aangeneem het.  Grieks kon ook in die algemeen gebruik word om iemand as nie-Jood aan te dui (Geullich).  Interessant genoeg noem sy Hom die Seun van Dawid, iets wat vir die Joodse lesers van Matteus se evangelie sin sou gemaak het.  Hy vermeld wel dat die dissipels daar is en betrokke raak in die gesprek, maar op ‘n negatiewe manier.  Hulle wil haar wegstuur.  Jesus gooi dan sy aanvanklike weiering eksplisiet oor die boeg daarvan dat Hy net na Israel gestuur is en koppel die beeldspraak van die brood daaraan.

Interessant is dat die vrou sy beeldspraak dan ‘n ekstra detail bykry, waar sy praat van die hondjies wat van hulle base se kos eet.  Sy impliseer dus dat sy in ‘n ondergeskikte posisie ten opsigte van Israel is, hoewel ‘n mens nie te veel van individuele aspekte van ‘n beeld moet maak nie.  Jesus verwys dan ook eksplisiet na haar geloof wat haar wens in vervulling laat gaan.

Die gedeelte in Matteus wat die naaste ooreenstem met dié van Markus is 15:29-31.  Dit kon heel moontlik ook ‘n ander gebeurtenis wees.  Indien dit ‘n ander gebeurtenis was, sou dit moontlik wees om Matteus (8:28-34) se vertelling van die verlossing van Legio, wat hy vertel as die genesing van 2 mans, te verstaan as ‘n sameflansing van Legio se verhaal met hierdie verhaal van Markus oor die genesing van die doofstomme.

Matteus vertel ook die verhaal van die tweede vermeerdering van die brood, ietwat korter, en met kleinere detail wat verskil.  Hierna vertel hy, anders as Markus, dat hulle na Magadan in die weste vertrek het.

View all posts in this series

brood, Geloof


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Wat my verstom is dat die Dissipels nog steeds nie verstaan nie, hulle het in die eerste vermeerdering van die brood gesien wat Jesus gedoen het, en het nie die insig om dit weer van Hom te verwag nie? Ej het vanoggend ook gedink dat die rede dalk kan wees dat dit dieselfde verhaal is wat twee keer vertel word. Ek neem egter kennis wat jy hierbo aantoon in terme daarvan.

  • viniefurstenberg

    Chris, ek wil vanoggend `n onderwerp aanraak wat baie problematies is! Jy het so vinnig daarna verwys een aand by Bybelskool: die Teodisee-probleem!
    Waar begin `n mens? Ons is besig om die pad saam met Jesus te loop, en sien hoe Jesus besig is om die wese van God aan ons te demonstreer! God se LIEFDE en Sy ALMAG. Dit val my op dat Jesus Sy dissipels toerus, voordat hulle uitgestuur word, met kennis, maar ook met krag/mag om duiwels uit te dryf en mense gesond te maak! Maar in die volksmond en vandag nog lê die klem eerder op Jesus as Leermeester. Ons wat vandag Sy dissipels is, besig om ook ander op te lei in dissipelskap, kan nie aanspraak maak op die volle toedeling nie. (Natuurlik leer ons van besondere gawes wat God aan Sy kinders gee soos Hy wil……. of is daar fout met ons geloof?).
    Maar `n groter probleem nog, ons lees telkens dat Jesus so innig jammer gevoel het vir die mense en selfs die Siro-Feniciese vrou se dogter en talle ander van die bose verlos het.
    Hoe verstaan ons dan God se ALMAG en LIEFDE in die aangesig van sinlose lyding?
    Hoeveel van wat in ons verwysingsraamwerk ingevleg is, is te danke aan insigte van kerkvaders deur die eeue: God se toelatende wil (Arminius) , God voorbeskik ALLES (Calvyn)! Ferdinand Deist se boekie: Sê God So?, het daarop gewys hoe dit moontlik is om `n mens se eie siening te verhef en te regverdig asof dit presies is wat God wil!
    Prof. Adrio König se siening van sinlose lyding gooi ons op `n ander syspoor. Dit lyk vir my asof ons siening van die duiwel/Satan hier ook `n rol speel: OF Satan is `n hemelwese wat in God se diens staan soos in Job (toelatende wil van God), OF Satan het geen keuse nie want God beskik oor alles , en bring selfs die slegte oor ons (Calvyn) cf Jes 45:7 en Matteus 10:29ev. Jesus/Paulus leer ons egter dat ons self in stryd sal wees met die Bose/ die brullende leeu/ die owerste van die wêreld , maar met die geweldige vertroosting van Jesus se oorwinning en ons bevryding. Ons word gemaan om die volle wapenrusting van God aan te trek (Ef:6), maar ons weet ook van die triomftog (2 Kor 2). Ons leer egter ook dat die finale oorwinning eers by die Wederkoms gevestig sal wees. Hoe som ons dit nou op: Sou dit reg wees om af te lei dat dit dus nie net God is wat besluit(beskik) wat gebeur nie maar dat die Bose/Duiwel/Satan ook `n rol speel EN dat die mens `n keuse/verantwoordelikheid het wat God reeds by die Skepping aan die mens gegee het. En sou ek dan kon sê daar is dinge wat God sou wou keer/voorkom maar Hy hét nie want Hy “kon” nie teruggaan op SY eie beskikking naamlik om verantwoordelikheid aan die mens af te gee nie? Dit is mos darem ook deel van God se plan om die mens nie maar net as pionne op `n skaakbord rond te skuif nie !
    Dit help my om die konflik tussen God se liefde en Sy almag te probeer versoen! En wanneer Paulus ons verseker dat alles ten goede sal meewerk, weet ons mos hy verwys daarna dat dit so sal wees wanneer die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde kom!
    Na alles gesê is, bly dit maar moeilik om tot `n slotsom te kom. Daar is nog seker ander faktore ook soos kollektiewe skuld…verkeerde keuses wat ons as `n volk gemaak het waaronder baie moet ly? Maar dit vir `n ander keer.
    Soms dink ek dit moes seker rustiger gewees het om in die dae voor die Enlightenment te kon geleef het!
    Baie dankie Chris, vir die moeite wat jy doen om lig te werp op al ons vrae! Mag die Here jou ryklik seën en steeds toerus !

  • Een van die maniere om na te dink oor die probleem van lyding in die lig van God se almag, word met die term teodisee weergegee. Dit beteken letterlik die “regverdiging van God”. Al die oplossings wat egter daarmee voorgestel word, het die probleem dat dit logiese sin probeer maak van iets wat eintlik nie vir ons logika deursigtig is nie.
    • Sommige probeer bv. lyding harmonieer met God se liefde en almag, maar loop die gevaar dat die kwaad óf goedgepraat word (masochisme) óf dat afbreek aan God se liefde en almag gedoen word (sadisme).
    • Sommige probeer om die kwaad en die goeie as twee teenoorstaande oerbeginsels te beskryf, wat eintlik vir ewig dualisties naas mekaar geplaas word. Hoewel God volledig onthef word van enige aandeel in die kwaad, tas jy tog in wese sy almag aan en doen jy daaraan afbreek.
    • Ander probeer weer om God se liefde en almag te regverdig deur te wys dat aan die einde van die tyd alles ten goede sal meewerk: “Eind goed, alles goed”. Dit is die sogenaamde teleologiese teodisee. Dit hef egter nie die probleem van die ervaring van die lyding in die hede op nie, en bring God se liefde in gedrang.

    Die poging om God (en daarmee die lyding, soos Job se vriende gedoen het) te regverdig, moet dus afgewys word. Die teodisee bring 'n mens nêrens nie.

    ‘n Mens moet eerder die weg van die Bybel volg, wat oor die probleem van lyding praat in terme van werklike stories.

    • Bv. die verhaal van Johannes oor die blindgebore seun (Joh 9). Jesus wys die dissipels se oorsaaklike teodisee verklaring af wat lyding as 'n straf op sonde sien (om God te regverdig!) en verklaar self dat die seun blind is “sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word”.
    • Ons het ook die afgelope week uitvoerig begin lees oor Jesus wat oor sy eie lydenspad en dié van sy dissipels te sê het. Lyding is daarvolgens deel van die pad van dissipelskap, sonder om daarmee óf die lyding te verheerlik óf God se rol daarin te regverdig óf om dit te wyt aan die kwaad in die wêreld. Jesus aanvaar (openbaar) doodgewoon in sy lering aan Petrus en die dissipels dat lyding (en sekere voorsienings!) deel van die dissipelskappad is, sonder om dit te verklaar of te verdedig: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” (Mark 10:29-31)

    Ek kan ook nog verwys na die wyse waarop sommige teoloë (Moltmann, Sölle) kies om eerder oor die teopasgitisme (of teopasgüisme) as die teodisee te praat. Teopasgitisme gaan oor die hart van God vir lyding, dat Hy simpatiek is oor mense in lyding, dat Hy inderdaad ook self ly. Daarmee probeer teoloë dus nie vir God regverdig nie, maar eintlik wys hoe Hy by ons staan in ons lyding en Homself selfs daaraan onderwerp. Dit is vir my alreeds 'n beter manier om oor lyding te praat, maar dit verklaar natuurlik steeds nog nie die probleem van lyding nie. Dit ontglip dus telkens ons rede!

    Oor die ander sake wat jy aanraak sal ek later reageer.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: