Markus 2:18-3:6 – Jesus se bevrydende bediening wek wrede weerstand van die leiers

Ek lees verder soos ‘n Speurder

  • Wat gebeur hier (wie, wat, wanneer, waar)?
  • Wat beteken dit (hoekom, met watter doel)?
  • Wat nou (aksie, met wie)?

In drie verdere tonele (laaste van vyf – vorige twee in 2:1-17) neem die teenstand van die Fariseërs teen die werk van Jesus só toe, dat hulle saam met die Herodiane beplan om Jesus dood te maak.

Toneel 3: Die gesprek oor die vastyd.

In die OT was daar aanvanklik net met die Groot Versoendag gevas (Lev 16:29) en met siekte en dood (1 Sam 31:13; 2 Sam 1:12).  Na die ballingskap het die vastye begin toeneem (Sag 7:5; 8:19).  Die Fariseërs het dit egter verder aangevul met ‘n vasdag twee keer ‘n week.  Dat Jesus die dissipels bevry van hierdie benouende voorskrif wek egter weerstand by die Fariseërs.  Jesus se verduideliking dat daar nie in sy teenwoordigheid – die beeld van Jesus as Bruidegom moes die Fariseërs aan die voorspelling van Hos 2:14-23 laat dink het, maar hulle mis dit! – gevas kan word nie, word aangevul met ‘n eerste verskuilde aankondiging van sy dood, waar ‘n vastyd weer sinvol sou wees (soos Johannes die Doper se vastyd ook sinvol was as voorbereiding vir die Bruidegom).

Met die twee metafore van materiaal vir klere en velsakke vir wyn verkondig Jesus onomwonde dat ‘n nuwe bedeling aangebreek het, en dat die ou manier van doen net nie meer pas by die koninkryk wat Hy kom vestig nie.  Soos nuwe klere se inkrimping ou materiaal sal laat skeur, en nuwe wyn se gistingsproses die velsakke sal laat rek (en ou klaar-gerekte “verstokte” velsakke sal skeur), so nooi Jesus mense hiermee uit om die nuwe bedeling, d.w.s. Homself, te omarm en die oue agter te laat.

Matteus en Lukas

Matteus plaas die aanvanklike vraag in die mond van die dissipels van Johannes die Doper en Lukas, soos Markus, in die mond van die mense, hoewel aldrie na beide Johannes die Doper en die Fariseërs se vastye verwys.  Lukas noem die twee metafore wat Jesus gebruik ‘n gelykenis.  Albei Matteus en Lukas las ‘n verdere interpretasie aan die gedeelte, wat neerkom op ‘n waardering ook vir die oue, hoewel die onversoenbare tussen oud en nuut steeds gehandhaaf word.  Lukas se laaste vers is as kritiek bedoel op die duidelik-wordende weerstand van die Fariseërs, soos Nolland dit parafraseer:

“I tell you that what I bring is like new wine in one respect; but I see that you will treat it as like new wine in quite a different respect, i.e., as inferior to the old wine.”

Toneel 4: Jesus is Here oor die sabbat.

Die Fariseërs se interpretasie dat are afpluk as oes vertolk kan word (Eks 34:21), was alreeds verkeerd.  Jesus probeer egter met die voorbeeld van Dawid (1 Samuel 21), wat in sy vlug van Saul van die offerbrood by die priesters in Nob geeët het, die Fariseërs leer dat die funksie van die wet in ag geneem moet word in die uitvoering en interpretasie daarvan.  Die wet is ter wille van die mens geskep en nie andersom nie.  En die Here van die sabbat het die reg om te voorsien vir dié wat alles gelos het om Hom te volg.

Terloops: Agimelek was eintlik toe hoëpriester, maar Abjatar het hom hierna opgevolg en was die enigste oorlewende na Saul die priesters om die lewe gebring het vir hulle goeie daad.

Matteus en Lukas

Lukas verkort Markus se verhaal hier, maar Matteus brei daarop uit (een van die min kere wat hy dit doen).  Jesus verwys in Matteus se weergawe, as steun vir sy standpunt, ook na die feit dat priesters op ‘n sabbatdag moes werk, en dat dit deel van die wet was.  Hy verwyt ook die Fariseërs dat hulle ‘n onbarmhartige gesindheid ten toon stel teenoor onskuldige mense, die dissipels.  Dit wys duidelik hoe onbarmhartig ‘n onbuigsame hantering van die wet in die praktyk gebruik kan word.

Toneel 5: Jesus genees die man met die gebreklike hand

Hoe ironies dat Jesus voor die genesing van die man met die gebreklike hand op ‘n sabbat die vraag vra, mag ‘n mens goed doen of kwaad doen, of red of doodmaak op die sabbat … en die Fariseërs direk na die genesing uitloop om Jesus kwaad aan te doen, en te beplan om Hom dood te maak, saam met die Herodiane … op ‘n sabbatdag!  Doodmaak was immers verkeerd volgens die wet … sewe dae ‘n week.

Geen wonder dat Jesus se emosies hoog geloop het, dat Hy kwaad en bedroef tegelykertyd was!

Die Herodiane was politieke aanhangers van Herodes Antipas, viervors van Galilea, seun van die Herodes waarvan ons lees by Jesus se geboorte.  Gewoonlik was die twee groepe vyande, tot op hierdie dag …

Matteus en Lukas

Matteus brei weereens die gedeelte uit met ‘n verwysing na ‘n alledaagse voorbeeld dat ‘n mens op die sabbatdag tog ‘n skaap uit ‘n sloot sal red, hoeveel te meer nie ‘n mens nie, maar laat die verwysing na die Herodiane weg, soos ook in Lukas.  Lukas weer noem die skrifgeleerdes saam met die Fariseërs, maar beskryf interessant genoeg die teenstanders as “rasend van woede”, en nie Jesus nie.  Hy herformuleer Markus se weergawe dus heeltemal.

View all posts in this series

Genesing, Sabbat, Teenstand, Vas


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Dis vir my ongelooflik hoe ek wat toe gebeur het kan deurtrek na myself toe vandag. Ek kan nie aangaan met my ou lewe as Jesus in my lewe ingekom het nie, iets moet verander, anders bars die sakke en niks bly oor nie….

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: