Markus 5:1-20 – Wat het U met my te doen?
Ek het vanoggend behoefte om dié gedeelte met die Lectio Divina metodiek te lees.
Die vers wat my getref het na ek dit deeglik deurgelees het, is vers 7:
“Wat het U met my te doen?”
Ek vertoef by die betekenis van dié enkele sin, en ervaar ‘n groot stuk kalmte en tevredenheid dat die Here na my toe kom in Sy Woord en Hom bemoei met my. Ek ervaar sy liefde en betrokkenheid, midde in ‘n baie besige program, wat soms soos hierdie Legio besetenheid voel. En wy myself weer aan Hom toe en geniet net sy teenwoordigheid. Ek ervaar dat dit my ‘n rustige kern in myself gee vir hierdie dag.
Ek gee ook ‘n paar eksegetiese opmerkings vir dié wat dit anders gaan lees (en sal die ander gedeeltes vir vandag in 2 ander posts hanteer):
Markus
- Die dorpie Gerasa was so 50 km suid van die See van Galilea. Dit was een van die 10 Griekse stede van Dekapolis (Griekse woord wat tien stede beteken) wat ‘n alliansie gevorm het. Sommige manuskripte plaas die verhaal in Gergesa, ‘n dorpie aan die see, en in die gebied van die Dekapolis stede. Dit maak meer sin, omdat die verhaal eksplisiet sê dat die duiwels in die see invaar. Geleerdes oordeel egter dat Gergesa eerder ‘n wysiging aan die teks is deur latere skrywers (Origines bv.). Matteus plaas weer die verhaal in Gadara wat nader aan die see was (10 km), maar steeds te ver is vir die nuus om so vinnig daarheen te versprei, maar deur sommige as meer histories korrek geag word (Hagner). Moontlik moet ‘n mens Markus se mededeling so verstaan, dat die werkers die nabygeleë boere (vgl. plase in vers 14) gaan vertel het, en dié kom kyk het wat aangaan, terwyl die nuus steeds verder versprei is na die ander dorpe van die Dekapolis.
- Die belangrike punt is egter, Jesus se werk brei uit na die Griekse wêreld toe en het ‘n groot impak daar.
- Die grafte van destyds was baie keer in spelonke en grotte wat verklaar hoe die man daar kon bly.
- Die man se naam, Legio, verwys waarskynlik na ‘n Romeinse legioen, wat uit 5000 – 6000 soldate bestaan het.
- Die feit dat die bose (onrein) geeste deur die varke in die see vaar, het waarskynlik te make met die feit dat die see as die plek van die bose geteken is (vgl Jesaja 27:1; Eseg 28:2; Open 13). Varke was natuurlik onrein diere vir die Jode (Lev 11:7) wat waarskynlik verklaar hoekom Jesus die “onrein” geeste toelaat om in die varke te vaar.
- Interessant is dat Jesus hierdie motief – onreinheid – later verder sou aanspreek in sy gesprekke met die Fariseërs (vgl hfst 7 vv).
- Die verhaal demonstreer Jesus se krag oor die Bose. Dit is net so groot soos sy krag om die wind en weer te beheer, soos Hy in die vorige verhaal van die storm op die see gewys het. En dit bring bevryding vir mense wat onder die juk van die Bose krepeer. En dat hierdie verhaal in ‘n heidense gebied afspeel, dra die boodskap dat Jesus se bediening uiteindelik sal uitkring en die hele wêreld sal impakteer.
- Dat Jesus die man vra om agter te bly in die streek van Dekapolis en te getuig van wat Jesus vir Hom beteken het, het ‘n groot effek op die omgewing. Wanneer Jesus weer in die streek van Dekapolis kom (Mark 7:31 vv) is daar ‘n ontvanklikheid vir Jesus se bediening, anders as hier waar die Geraseners Hom wegstuur, en Hy genees dan ‘n dowe man. Die reaksie van die mense in Markus 7 is oorweldigend: “Alles wat Hy doen, is goed”! Die reaksie toe kan daarom waarskynlik ten minste ten dele aan hierdie getuienis van die geneesde besetene van Gerasa gewyt word. Matteus meld ook in 4:25 dat groot menigtes uit Dekapolis vir Jesus gevolg het, wat moontlik met hierdie getuienis verbind kan word.
Matteus en Lukas
- Die verhale verskil redelik onderling, maar interessant vir my, is dat die vraag wat my getref het, in al drie verhale prominent is: “Wat het U met my (ons) te doen?” Dit is asof hierdie vraag Jesus se motief in die oorsteek van die grens na die Grieke ontbloot – Hy het inderdaad baie te doen met die Grieke, want Hy wil bevryding vir alle mense bring.
- Matteus vertel van 2 mans wat besete was, maar identifiseer nie die duiwels nie. Interessant is dat hy ook van twee blindes praat (Mark 10:46-52 en Matt 20:29-34). Sommige geleerdes verklaar dit uit die hoek van die noodsaak van meer as 1 getuie in die Joodse tradisie, en die feit dat daar uiteraard meer duiweluitdrywings plaasgevind het in Jesus se bediening. Daarmee wil hy dus die ware impak van Jesus se bediening versterk.
- Die feit dat Matteus die verhaal korter vertel, kan moontlik wees omdat hy in elk geval ‘n hele aantal meer wonderwerke as Markus neerpen, en daarby ‘n groot klem plaas op die leringe wat Jesus gelewer het. Jesus praat bv. ook nie met die mans na hulle bevryding nie. ‘n Ekonomie van woorde met die wonderwerke laat hom dus toe om groter prominensie aan die leringe van Jesus te gee.
- Hy plaas die verhaal ook in Gadara, ook een van die Dekapolis stede, en 10 km suid van die See van Galilea. Sien die bespreking hierbo vir meer inligting hieroor.
- Die inhoud van Lukas se verhaal is grootliks dieselfde as dié van Markus. Klein detail verskil – die man kom van die dorp af Jesus tegemoet, en van die grafte af nie, hoewel Lukas steeds noem dat hy tussen die grafte gewoon het; die man gaan vertel wat gebeur het in die dorp, terwyl Markus uitwei oor sy getuienis regdeur die Dekapolis.
- Interessant dat Lukas praat van die onderaardse diepte as die woonplek van die Bose (8:31).
View all posts in this series
- WEEK 1: Inleiding op die evangelie van Markus - January 12, 2010
- Die vier evangelies se unieke Jesus-portrette - January 21, 2010
- Die drie Sinoptiese evangelies - January 22, 2010
- Die boodskap van Markus - January 25, 2010
- Markus in vergelyking met die ander evangelies - January 26, 2010
- Bybelstudie metodiek - January 27, 2010
- Luistersiklus
- Lectio Divina
- WEEK 2: Markus 1:1-3:6 – Proloog en Deel 1: Bekendstelling - January 28, 2010
- Markus 1:1 – Jesus as God-mens vervul die OT beloftes
- Markus 1:1-8 – Die hart van die evangelie is opgesluit in Jesus Christus
- Markus 1:9-20 – om deur Christus geroep te wees, is om ‘n dissipel te wees - January 29, 2010
- Markus 1:21-31 – Dit is ‘n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die bose geeste, en hulle gehoorsaam hom. - February 1, 2010
- Markus 1:32-39 – Die bediening draai om God, nie om die vrugte daarvan nie
- Markus 1:40-45 – “Ek wil. Word gesond.” - February 2, 2010
- Markus 2:1-12 – geloof word in gedrag uitgedruk
- Markus 2:13-17 – dié wat siek is, het ‘n dokter nodig
- Markus 2:18-3:6 – Jesus se bevrydende bediening wek wrede weerstand van die leiers - February 3, 2010
- WEEK 3 van die Bybelskool oor Markus - February 4, 2010
- Markus 3:7-30 – Die impak van die bediening verskerp
- Die twaalf dissipels in die evangelies en Handelinge
- Markus 3:31-35 – Jesus en sy familie - February 5, 2010
- Markus 4:1-9 – Wie ore het en kan hoor, moet luister
- Markus 4:10-12 – Die geheim van die koninkryk word gegee, nie verwerf nie
- Markus 4:13-29 – om reg te hoor, bepaal jou hele lewe - February 8, 2010
- Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie? - February 9, 2010
- Markus 5:1-20 – Wat het U met my te doen? - February 10, 2010
- Markus 5:21-43 – Bly maar net glo!
- Markus 6:1-6 – Sy tuisdorp se mense wil niks van Hom weet nie
- WEEK 4 van die Bybelskool - February 11, 2010
- Markus 6:7-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys
- Markus 6:30-52 – Jesus demonstreer sy Godheid op verskillende maniere - February 12, 2010
- Markus 6:53-7:23 – Onreinheid het met die hart te make - February 15, 2010
- Markus 7:24-8:10 – Jesus is intiem en intens betrokke by mense - February 16, 2010
- Markus 8:11-21 – Hoe blind is dié wat nie wil sien nie - February 17, 2010
- WEEK 5 van die Bybelskool - February 18, 2010
- Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou
- Markus 9:2-29 – Vir die een wat glo, kan alles - February 19, 2010
- Markus 9:30-48 – dié wat eerste wil wees, moet laaste wees - February 22, 2010
- Markus 9:49-10:16 – Jesus vra getrouheid aan Hom en lojaliteit aan mekaar - February 23, 2010
- Markus 10:17-45 – Redding uit genade alleen - February 24, 2010
- WEEK 6 van die Bybelskool - February 25, 2010
- Markus 10:46-11:25 – ‘n huis van gebed vir die nasies
- Markus 11:27-12:37 – Jesus se intellek en wysheid is te veel vir die Joodse Raad - February 26, 2010
- Markus 12:38-44 – Die arm weduwee se gawe - March 1, 2010
- Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking - March 2, 2010
- Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens - March 3, 2010
- WEEK 7 van die Bybelskool - March 4, 2010
- Markus 14:1-11 – Gesalf in Betanië, verraai in Jerusalem
- Markus 14:12-42 – Jesus word die paaslam - March 5, 2010
- Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte - March 8, 2010
- Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe - March 9, 2010
- Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan - March 10, 2010
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Tien lesings uit Markus vir Heilige Week met kommentaar - April 11, 2017
- Jesus is die hart van die evangelie - January 8, 2018
juriejurgens
Sien ons hier die verskeidenheid van opdragte/bedienings/gawes in Jesus se kerk? Vir sommiges (die dissipels) vra hy om huis en familie te verlaat en saam met Hom te gaan, terwyl Jesus hierdie man, wat vra om saam met Jesus te gaan, aanse om by sy tuiste en sy mense te bly en “gaan vertel vir hulle”. Kan ek dit sien as 'n voorbeeld hoe Jesus vandag nog sommiges roep om op ander plekke vir Hom te werk en vir ander roep om tuis te bly en daar hulle dissipelskap uit te leef? So bv. word die Brinks geroep na die sendingveld in Holland, en nou die dag ontmoet ek twee Hollanders wat weer na Jeffreysbaai geroep is om daar sendingwerk in die Joshua projek te doen!
Chris van Wyk
Ek dink jy maak 'n geldige afleiding! Een van die groot probleme wat ons met ons lees van die Bybel het, is dat ons te maklik 'n reglynige brug slaan na ons eie situasie, asof die opdrag wat die Here op 'n spesifieke dag vir sy dissipels of iemand anders in die Bybel gegee het, net so op ons self van toepassing gemaak moet word. Een dag lees ons dat die dissipels uitgestuur is, en dan gaan ons ook. Die volgende dag lees ons van hierdie man wat moet agterbly, en dan bly ons weer.
Daarom is dit so goed om die hele boodskap van die Bybel in gedagte te hou, die bly en ry tekste, en dan met jou lewe en gawes en passie voor die Here te staan en te onderskei wat Sy wil is. Daar is natuurlik ook opdragte wat algemeen geldig is, jy moet God liefhê en jou naaste soos jouself. Maar dan is daar ander wat 'n mens nie net so van toepassing kan maak nie, voordat jy nie deur 'n hermeneutiese oefening gegaan het nie, in gewone taal: geloofsonderskeiding. En dit is waarom Gerrit en Sonja Brink na Holland geroep kan word, en die twee Hollanders na Jeffreysbaai toe, deur dieselfde God en dieselfde Bybel, omdat hulle deur 'n proses van onderskeiding gegaan het, waarin die liggaam van Christus ook 'n rol gespeel het.
Lidia
Ek wil graag weet waar in die ou testament een persoon wat deur storm is en in nuwe testament 2 persone wat deur storms gegaan het dis my huis werk asb waar moet ek lees
Chris van Wyk
Hi Lidia, Elia is in ‘n “storm” hemel toe (2 Kon 2:11). Dit is die geval waarvan ek in die OT weet. In die NT weet ek net van gelowiges wat in storms bewaar gebly het, maar nie dat hulle hemel toe is nie: die dissipels (Mark 4:35-41; Luk 8:22-25; Matt 8:23-27) en Paulus en Lukas (Hand 27:1-44).
viniefurstenberg
Dit is opvallend dat die man uit wie Jesus die onrein gees uitdryf in die Sinagoge in Kapernaum, vir Jesus vra: “Wat het ONS met U te doen..het U gekom om ONS te verdelg…(Mark1:24) en hier is dit andersom: ” Wat het U met my te doen”. Is dit maar woordspeling of is daar `n dieper betekenis?
Ek vind nogal soms dat `n enkele woord `n verskil kan maak as dit “verkeerd” vertaal word soos ook na aanleiding van Stefan Bothma se opmerking en jou kommentaar oor “sodat “en “omdat”
En is dit nie ook moontlik dat ons Bybels waarin elke perikoop `n opskrif het wat nie oorspronklik daar was nie, nou met `n voorveronderstelling gelees word nie? Ek dink aan jou klem op die gelykenis van die SAAD, dus met die klem nie net op die Saaier nie.
Vince Aslett
Daar is mense wat krities na die detail van die verhale in die verskillende Evangelies kyk en dus dan gebruik om te probeer bewys dat die verhale nie waar kan wees nie. Ek lees vanoggend moontlike verklarings in “A popular survey of the New Testament” deur Norman L Geisler;
In die verhaal van die man(s) van Gedara waaruit Legio gedryf is sê Geisler dat n moontlike oplossing eerstens eenvoudig n “textual error” kan wees en ook dat die moontlikheid bestaan dat Gedara moontlik die hoofstad van die area kon wees en dat Matteus dalk kon verwys het na die area van die Gadareners omdat die mense wat in daardie omgewing gewoon het, bekend was as Gadareners. Markus en Lukas kon dalk verwys het na die (Geraseners ?) wat die wyer omliggende area aangedui het?
In terme van die verskil in die hoevvelheid mans wat betrokke was, sê Geisler dat waar daar twee is , is daar altyd ook een – en dat Markus en Lukas dalk net een genoem het vir watter rede ook al.( Dit is dus nie noodwendig in kontras met mekaar nie?
Chris van Wyk
Ek dink nie daar is 'n dieper betekenis nie. Die man in die sinagoge in Kapernaum het heel waarskynlik ook meer as een bose gees gehad. Dit sou die gebruik van “ons” verklaar. In Legio se geval lyk dit asof daar 'n soort Leiergees (as daar so iets bestaan!?) was in die man wat as woordvoerder opgetree het. Want die gees sê: MY naam is Legio … want ONS is baie.” Die man smeek Jesus ook om “hulle” nie uit die landstreek uit weg te stuur nie, wat weereens lyk na 'n woordvoerder wat met Jesus gesprek voer.
Die opskrifte het inderdaad die effek dat 'n mens die teks met 'n voorveronderstelling lees. Maar, die vertaling as sodanig het ook daardie effek. Dit hang af van die keuses wat 'n mens maak met die kennis en begripsraamwerk tot jou beskikking. Daarom dat 'n mens klem moet lê op die deeglike en verantwoorde uitleg van 'n gedeelte, en 'n vergelyking met en saamlees met ander kommentaar en insigte, voordat jy die boodskap daarvan regtig met gesag kan verkondig. En dan bly dit ook nog steeds net een perspektief, wat 'n mens nederig as 'n bydrae aanbied.
Chris van Wyk
Jy is reg dat daar 'n verskeidenheid verklarings moontlik is vir die verskille. Tereg kan 'n mens ook redeneer dat Markus net van die een praat, vir 'n rede wat vir ons nie toeganklik is nie, waar Matteus van twee praat, wat volgens sommige met sy poging om 2 getuies vir 'n wonderwerk te voorsien, saamhang. Maar ek dink ons moet eerder elke verhaal op sy eie as 'n perspektief op die gebeure neem, en binne die verhaalkonteks bly, en só in 'n eerste rondte die boodskap van die gedeelte vir onsself toeëien. In 'n tweede rondte werk mens met die verskille, maar nie net om dit te harmoniseer nie, maar ook te probeer verstaan uit watter hoek dit geskryf is en wat die betekenis daarvan vir ons is. Matteus en Lukas moet natuurlik ook weer op hulle beurt in hulle eie verhaalkonteks gelees word, iets wat ons nie nou in die Bybelskool doen nie, doodgewoon weens die tyd wat dit sou verg (Sou graag dit wou doen, as dit al is wat ek doen!). Ek is minder gespanne oor die verskille of kontraste, selfs waar dit so groot is soos 1 of 2 manne wat betrokke is. Dit dra vir my by tot die outensiteit van die verhale, want hulle vertel dié goed oor 30 en meer jare na dit al gebeur het, en vertel dit soos hulle dit onthou, en probeer juis nie om kunsmatig alles te harmonieer nie. Dit sou sameswering beteken! Geheues vervaag, en gebeure smelt soms saam, wat vir my heel verstaanbaar is, en 'n genoegsame verklaring vir die verskille is.
Maar hoe lyk dit? Kom ons kry 'n bietjie ander se kommentaar op die verskille. Is dit 'n probleem of nie?
juriejurgens
Daar was 'n lang tyd in my lewe waar ek ook nie kon, wou of mog erken dat daar verskille of feitlike onakkuraathede in die Bybel is nie – dis immers die Woord van God en daarom perfek waar in alle opsigte in elke sin, woord en letter. Ja elke jota en titel in letterlike sin. Jare gelede, egter, het my liefde, respek, ontsag en “awe' vir die Bybel egter na 'n dieper vlak verskuif, en ek die Boodskap, die Betekenis, die ontsaglike Waarheid van die Bybel belangriker ag as die indiwiduele woorde waarin daardie Boodskap vervat is. God se evangelie is mensewoorde!!.
Daarom is daar vir my geen pyn of verleentheid om verskille te herken nie, en ek hoef nie te voel ek moet hierdie oenskynlike verskille “goedpraat” of harmoniseer nie. Trouens, sommige pogings tot harmonisasie wat ek al gelees het is eerder vir my 'n probleem.
Dit is net die ouens wat vasklou aan 'n siening van letterlike inspirasie en letterlike interpretasie vir wie hierdie verskille 'n probleem is, en wat geroepe voel om die verskille te ontken en te probeer om dit weg te verduidelik. Vir my is die werklike waarheid en die integriteit van hierdie verhaal intakt, en maak dit geen verskil aan die trefkrag en boodskap of daar een of twee mans was nie. Elke weergawe van die verhaal is, soos die hele Bybel, deel van God se blye boodskap aan die mensdom, en ons moet dit nie lees soos ons more se koerante gaan lees en toets welke een vandag se gebeure waar en korrek rapporteer nie.
Die blote feit dat die evangelieskrywers en die eerste paar geslagte Christene nie hierdie oenskynlike verskille probeer “regdokter” het nie (net soos bv Konings en Kronieke in die Ou Testament) bewys vir my dat my liefde, respek, ens vir die Bybel op 'n dieper vlak moet le.
Ek respekteer ander kinders van die Here wie se liefde en respek vir die Bybel hulle laat vashou aan 'n letterlike siening, en die enigste pyn wat ek rondom hierdie kwessie ervaar is dat sommige van my mede Christene my lefde en respek bevraagteken, en my in dieselfde kamp wil sit as diegene wat die kernwaarhede van die Bybel bevraagteken of bloot ontken.
Chris van Wyk
Dit is vir my 'n geweldige bevryding om te kan werk met 'n organiese inspirasie – God wat mense se gawes en beperkinge gebruik in sy openbaring – eerder as 'n verbale inspirasie – God wat mense soos robotte laat buikspreek. En jy stel die saak daarvoor met soveel deernis en begrip, met tegelykertyd praktiese wysheid! Dankie!