Skip to main content

Markus 1:9-20 – om deur Christus geroep te wees, is om ‘n dissipel te wees

Vandag lees ek soos ‘n vakleerling:

  • Wat doen Jesus (doen, dink, sê, reageer, vermy, vra, beveel, uitnooi)?
  • Wat moet ek hiermee doen?

Markus

Jesus se doop, versoeking, eerste prediking en roeping van sy dissipels word met vinnige penstrepe geteken.  Sy tuisdorp plaas Hom binne Joodse konteks.  Die doop met water verbind Hom aan mense wat bekering nodig het.  Die doop met die Heilige Gees verbind Hom aan God wat deur Jesus goeie nuus vir sulke mense bring.  Die versoeking in die woestyn stel Hom voor as beproefde en getoetste boodskapper.

Let op hoe sy prediking in Galilea, sy tuisgebied, begin en hoe op die punt af dit gelewer word: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom.  Bekeer julle en glo die evangelie.”  Hy is die Een waarvan Johannes die Doper gepraat het, en Hy bring die goeie nuus wat lank gelede al belowe is (Jesaja en Maleagi).

Sonder omhaal van woorde word die volgende stap in hierdie vinnigvloeiende agenda van Jesus uitgevoer.  Hy roep sy eerste dissipels (vgl Elia en Elisa in 1 Kon 19:19-21) en draai geen doekies om oor hulle nuwe lewenstaak nie: “Kom hier!  Kom saam met My [letterlik: ‘Kom agter My aan’], en Ek sal julle vissers van mense maak.”  En die reaksie van die eerste dissipels is om onmiddellik hulle werpnette te los en Hom te volg.  Jesus se roeping is dus gesagvol, soos ook verderaan met die prediking en die uitdrywing van die duiwels sal blyk, en effektief.

Die dissipels vervul ‘n baie belangrike rol in Markus se vertelling van die evangelie.  Dit is belangrik vir Markus om aan te toon dat hulle van die begin af saam met Jesus is, veral die vier wat hier genoem word.  Interessant dat hulle 2-2 geroep word, wat heel moontlik ‘n patroon vir dissipelskap daar stel (vgl. Mark 6:7 en Luk 10).  Daarby kan hy met hulle reaksies (en gebrek daaraan) Jesus en die ander karakters in sy verhaal beter definieer en beskrywe.  En, ons die lesers, kan met hulle identifiseer. Van die begin af is hulle ook besig met in diens opleiding as dissipels.

Dit laat my besef:

Om deur Christus geroep te wees, is om ‘n dissipel te wees.  Ek moet Hom volg.

Die ander evangelies

Die optrede van Johannes die Doper

Matteus (3:13-17) brei uit oor die gesprek wat tussen Jesus en Johannes die Doper ontstaan oor die gepastheid dat Jesus deur Johannes gedoop word.  Jesus oortuig hom egter dat dit God se wil is, en dieselfde tekens begelei hierdie doop: die duif en die stem. Lukas (3:21-22) hou meer by die korter weergawe van Markus, hoewel hy bv. ‘n ander woord gebruik vir die openbaring van die Heilige Gees (die hemel het oopgegaan eerder as oopgeskeur soos in Markus).  Dit wil ook lyk asof meer mense die duif gesien het, nie net Jesus en/of Johannes nie.

Die evangelie van Johannes vertel ook die verhaal van Jesus se doop (1:29-34) maar uit die hoek van die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.  Waar Markus en Matteus vertel dat Jesus die duif gesien het, is dit hier ook Johannes die Doper wat die wondergebeure gadeslaan en ingetrek word in die gesprek met God oor die betekenis daarvan.

Jesus word versoek

Matteus (4:1-11) en Lukas (4:1-13) vertel die verhaal van die versoeking in die woestyn met baie meer detail.  Hulle brei uit oor die effek op Jesus (honger), en sy verweer uit die Skrif in antwoord op die versoekings.  Matteus en Lukas se vertelling van die onderskeie versoekings kom ooreen, hoewel die orde verskil.  Matteus vermeld nie die wilde diere (teken van die vredesryk wat aanbreek – vgl Jes 11:6-8) soos Markus nie, wel die engele wat Jesus hierna kom versorg.  Lukas het niks daaroor nie, net dat die Satan Hom vir ‘n ruk met rus gelaat het.  Let ook op hoe Lukas, anders as Matteus wat sy evangelie daarmee begin, Jesus se geslagsregister plaas tussen die verhaal van die doop en die versoeking, en dit van Jesus se verbintenis aan Josef terugvertel tot by Adam, wat die seun van God genoem word.

Jesus begin preek

Jesus se eerste optrede word deur Matteus (4:12-17) en Lukas (4:14-15) ook in Galilea geplaas, spesifiek in Kapernaum, soos Markus later ook skryf met die verhaal van die besetene wat genees word, en verbind aan die profesie in Jesaja 8:23-9:2.  Jesus se eerste prediking word deur Matteus in dieselfde kort woorde as in Markus weergegee.  Lukas verbind die prediking eksplisiet aan die krag van die Gees en die effek daarvan op die mense, veral in die sinagoges, en dat almal met lof van Hom gepraat het.

Jesus roep sy eerste dissipels

Die roeping van die eerste dissipels word op soortgelyke wyse in Matteus (4:18-22) as in Markus vertel.  Matteus plaas dit ook direk na die eerste berig oor Jesus se prediking.

Lukas (5:1-11) se weergawe verskil van Markus en Matteus s’n, beide in die plasing daarvan – die prediking in Nasaret, sowel as ‘n paar optredes in Kapernaum word daarvoor geplaas – as in die beskrywing daarvan.  Lukas plaas dit in die konteks van die lering van die skare en ‘n wonderteken aan Simon.

Johannes se vertelling van die roeping van die eerste dissipels verskil ook, onder ander in die bykomende detail oor Filippus en Natanael se roeping, en die plasing van die roeping van Andreas by die Jordaan rivier, eerder as by die See van Galilea (ook See van Tiberias [Joh 21:1], See van Gennesaret [Luk 5:1] genoem).  Andreas is ook die een wat vir Simon by Jesus uitbring, anders as in die ander evangelies.

View all posts in this series

Dissipelskap, Roeping


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar