Skip to main content

Jesus is die hart van die evangelie

Ek het ‘n navraag gekry oor ‘n Bybelstudie van Markus 1:1-15.  Ek plaas hier die teks van Markus 1:1-20 (wat ‘n beter afbakening is) uit die BDV sowel as my opmerkings wat ek daaroor by die Bybelskool oor Markus gemaak het.  Jy is welkom om die hele Markus deur te lees in hierdie Epifanie tyd aan die hand van my vergelykende studie: Markus.  Geniet!

Markus skryf sy evangelie in ses dele:

  • Markus 1:1-8 – Die Proloog
  • Markus 1:9-3:6 – Bekendstelling
  • Markus 3:7-8:21 – Impak op die skares, dissipels en teenstanders
  • Markus 8:22-10:45 – Gefokusde aandag aan die dissipels
  • Markus 10:46-15:47 – Klimaks van die evangelie
  • Markus 16:1-20 – Epiloog

Ek plaas hier die proloog en as bonus die eerste perikoop van Jesus se bekendstelling.

DIE PROLOOG – Markus 1:1-8

Die optrede van Johannes die Doper

1 Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God.  2 Soos daar in die profeet Jesaja geskryf staan,

“Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit —  Hy sal jou pad gereed maak (Mal. 3:1).  3 ‘n Stem van iemand wat roep in die woestyn,  ‘Maak die pad van die Here gereed,  maak sy paaie reguit!’ (Jes. 40:3)”

4 het Johannes gekom, het hy in die woestyn gedoop en ‘n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig. 5 Die hele landstreek van Judea en almal in Jerusalem het na hom gegaan en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hulle sondes bely het. 6 Johannes het ‘n kleed van kameelhaar gedra met ‘n leergordel om sy heupe en hy het sprinkane en wilde heuning geëet. 7 Hy het gepreek en gesê: “Ná my kom Hy wat sterker as ek is. Ek is nie eers werd om te buk en die riempies van sy sandale los te maak nie. 8 Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Markus begin met die goeie nuus van Jesus Christus as die Seun van God (1:1) wie se menslike natuur bevestig word deurdat Hy van Nasaret in Galilea (1:6) af gekom het. Jesus as Seun van God word ook deur die Gees wat na Hom toe neerdaal en die stem uit die hemel bevestig. Interessant dat Markus beide van die evangelie as die evangelie van Jesus Christus praat (1:1) sowel as die evangelie van God (1:14). Daaruit blyk ook die sterk klem wat hy plaas op die Goddelike karakter van Jesus Christus.

JESUS AS GOD-MENS VERVUL DIE OT BELOFTES – Markus 1:1

1. Jesus is God en mens

Die evangelies begrond merkwaardig genoeg almal die twee nature van Jesus Christus reg in die begin van hulle skrywes, hoewel verskillend.

  • Markus, soos ek hierbo gesê het, bevestig Jesus se menslike natuur deur van Nasaret te praat en later met die stem van God wat Hom as Seun van God eien.
  • Matteus begin weer met Jesus se menslike afkoms in ‘n geslagsregister (1:1 vv) waarna hy Maria se swangerskap aan die Heilige Gees koppel (1:18).
  • Lukas wys ook hoe die kombinasie van die Goddelike en die menslike in Maria se swangerskap aan die Heilige Gees se werk in haar toegeskryf word (1:26 vv).
  • Johannes verbind ook die Goddelike oorsprong en status van Jesus, waar hy Hom beskryf as die lig wat mense tot geloof bring, direk aan sy menswording: Hy het onder ons kom woon (1:14).
2. Jesus vervul die Ou Testament beloftes

Dié evangelie, hierdie goeie nuus, is dat die tyd aangebreek het (:15), en die koninkryk van God naby gekom het. ‘n Mens hoor hier Jesaja 52:7 implisiet eggo: “Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede (sjalôm) aankondig, wat die goeie tyding (tôv) bring, wat redding (jesjûa) aankondig, en vir Sion sê: ‘Jou God is Koning’”. Dit word daar as oproep gebruik om die ballinge te laat trek uit Babel, hier om die Jode aan Jesus, die Redder-God, te koppel. Let ook op na dieselfde boodskapper-teks in Nahum 1:15 (geskryf in die 7de eeu v.C. net voor die val van die Assiriërs en hulle hoofstad Ninevé in 612 v.C.) en Jesaja 40:9-11 (wat ook hoop bring vir die ballinge in Babel in die 6de eeu v.C.), sowel as Paulus wat ook hierdie teks aanhaal in Romeine 10:15.

Johannes die Doper word deur Markus as die vervulling van hierdie boodskapper-teks geteken. Jesaja 40:3 word eksplisiet aangehaal, terwyl Maleagi 3:1 (die laaste boek van die 12 kleiner profeteboeke, wat uit die tyd van Esra en Nehemia in die 5de eeu v.C, na die ballingskap dateer) as verduideliking gebruik word (sonder verwysing) om die stem te verklaar waarvan Jesaja praat. Interessant dat Maleagi die voorbereidingswerk van die boodskapper aan die koms van die Here, die Verbondsengel, koppel, die een waarna Israel met soveel vreugde uitsien. Dit laat ‘n mens onmiddelik dink aan die Eksodus 23:20 vv., waar die Here sy engel belowe as gids en beskermer deur die woestyn tot in die beloofde land, wat eintlik niemand anders as die Here self is nie (Hy het volmag en word in vers 25 met die Here God verbind).

Let ook op hoe die Johannes evangelie in sy proloog in hoofstuk 1 hierdie boodskapper gedagte van Jesaja en Maleagi inspan om Johannes die Doper se getuienis te verduidelik, waarmee Jesus – die Woord van God, die een deur wie alles tot stand gekom het, die een in wie lewe is, en daarom die lig vir die wêreld se mense is, ja, God self is – aan die orde gestel word. Hy het die teenwoordigheid van God by ons geword, net soos dit met ‘n vooraf afskaduwing in die woestyn by Moses en sy mense gebeur het. Jesus kom tabernakel by ons (die woord σκηνόω [skênoô – tent opslaan] word hier gebruik en vertaal met “onder ons kom woon” – 1:14).

Die verbintenis aan die OT beloftes en die koppeling van Jesus se goddelike en menslike natuur bevestig net weer vir my dat die evangelie geloofwaardig is, en dat ek my lewe daarop kan bou. Ek bevestig in gebed my geloof in hierdie Jesus wat al vier evangelies so kragtig as die Seun van God teken.

DIE HART VAN DIE EVANGELIE IS OPGESLUIT IN JESUS CHRISTUS – Markus 1:2-8

Markus begin sy verhaal van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, met die optrede van Johannes die Doper. Hy verduidelik met die twee aanhalings uit Maleagi 3:1 en Jesaja 40:3 (uit die Griekse vertaling van die OT wat effens verskil van die Hebreeuse oorspronklike wat sê: “Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn.”) dat Johannes die Doper die pad vir die Here kom regmaak het. Daarmee verbind hy Johannes die Doper met die Ou Testament Messias verwagting.

Sy boodskap was kort en kragtig:

  • Die mense van Judea en Jerusalem moes hulle bekeer, en laat doop sodat God hulle sondes kon vergewe.
  • Die Een wat na hom kom, is sy meerdere, omdat Hy nie met water sal doop nie, maar met die Heilige Gees.

Die evangelie gaan nie om allerhande goed op die periferie nie. Die hart van die evangelie is opgesluit in die lewe en boodskap van Jesus Christus self.

‘n Vergelyking met die ander evangelies

Matteus brei in 3:1-12 hierop uit deur Johannes se gesprek met baie van die Fariseërs en Sadduseërs wat hulle laat doop het, te vertel, waar hy hulle waarsku dat hulle vrugte moet dra wat by die bekering pas, en nie op hulle Abrahamitiese afkoms moet staatmaak nie.

Lukas brei nog verder hierop uit in 3:1-9, 15-17 deur die prediking van Johannes die Doper histories te plaas, en dit aan die woord van God wat tot Johannes gekom het, toe te skryf. Hy haal Jesaja meer volledig aan en spel die vrugte van bekering uit vir gewone mense, tollenaars, en soldate. Lukas haal Johannes, soos Markus, aan in die skerp onderskeid wat hy tussen sy eie bediening en dié van die Een wat kom, tref maar brei meer uit oor wat met die koms van die Heilige Gees sal gebeur, wat onder andere oordeel sal insluit. Lukas se weergawe sluit af met die mededeling dat Johannes ook vir Herodes aangespreek het, en dat dié hom in die tronk opgesluit het.

Die evangelie van Johannes vertel ook die verhaal van Johannes die Doper, een van die enkele kere wat Johannes ooreenkom met die ander drie evangelie-verhale, behalwe vir die lydingsgeskiedenis. Johannes, die dissipel, brei uit op die onderskeid tussen Johannes die Doper se bediening en die Christus, en plaas dit in ‘n gesprek tussen hom en die priesters en Leviete. Hy gebruik ook Jes 40:3 as bewysplaas vir Johannes die Doper se bediening.

Die indruk wat ‘n mens van Markus se verhaal van Johannes die Doper kry, in die vergelyking met die ander drie evangelies, is dat hy net die sentrale punt van Johannes die Doper se bediening wil vertel: die noodsaak van bekering en die te wagte doop met die Heilige Gees, om by die hart van sy verhaal uit te kom, die evangelie van Jesus Christus.

In die evangelie van Johannes word Johannes die Doper ook deur Jesus (9:13) met Elia verbind, soos voorspel is in Maleagi 4:5. Johannes het aangetrek soos Elia (2 Kon 1:8) en ander profete (Sag 13:4).

Deel 1: BEKENDSTELLING – Markus 1:9-3:6

1. OM DEUR CHRISTUS GEROEP TE WEES, IS OM ‘N DISSIPEL TE WEES – Markus 1:9-20

Jesus word gedoop (Matt 3:13-17; Luk 3:21-22)

9 In daardie dae het Jesus vanaf Nasaret, in Galilea, gekom en is Hy deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10 En net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos ‘n duif op Hom sien neerdaal. 11 En ‘n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My!” (toespeling op Gen. 22:2; Ps. 2:7; Jes. 42:1)

Jesus word versoek (Matt 4:1-11; Luk 4:1-13)

12 Direk daarna het die Gees Hom die woestyn in gedryf. 13 Hy was vir veertig dae in die woestyn, waar Hy deur Satan versoek is. Hy was saam met wilde diere, en engele het Hom versorg.

Jesus begin met sy verkondiging (Matt 4:12-17; Luk 4:14-15)

14 Nadat Johannes gevange geneem is, het Jesus na Galilea gegaan, waar Hy die evangelie van God verkondig het. 15 Hy het gesê: “Die bestemde tyd is vervul en die koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Die roeping van die eerste dissipels (Matt 4:18-22; Luk 5:1-11)

16 Terwyl Hy langs die See van Galilea loop, het Hy Simon en Andreas, die broer van Simon, nette in die see sien uitgooi, want hulle was vissers. 17 Jesus sê toe vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word.” 18 Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. 19 Toe Hy ‘n entjie verder loop, het Hy Jakobus, die seun van Sebedeus, en Johannes, sy broer, gesien, waar hulle in die skuit besig was om nette heel te maak. 20 Hy het hulle dadelik geroep, en hulle het hulle pa, Sebedeus, met die huurarbeiders, in die skuit gelos en weggegaan agter Hom aan.

Jesus se doop, versoeking, eerste prediking en roeping van sy dissipels word met vinnige penstrepe geteken. Sy tuisdorp plaas Hom binne Joodse konteks. Die doop met water verbind Hom aan mense wat bekering nodig het. Die doop met die Heilige Gees verbind Hom aan God wat deur Jesus goeie nuus vir sulke mense bring. Die versoeking in die woestyn stel Hom voor as beproefde en getoetste boodskapper.

Let op hoe sy prediking in Galilea, sy tuisgebied, begin en hoe op die punt af dit gelewer word: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” Hy is die Een waarvan Johannes die Doper gepraat het, en Hy bring die goeie nuus wat lank gelede al belowe is (Jesaja en Maleagi).

Sonder omhaal van woorde word die volgende stap in hierdie vinnigvloeiende agenda van Jesus uitgevoer. Hy roep sy eerste dissipels (vgl Elia en Elisa in 1 Kon 19:19-21) en draai geen doekies om oor hulle nuwe lewenstaak nie: “Kom hier! Kom saam met My [letterlik: ‘Kom agter My aan’], en Ek sal julle vissers van mense maak.” En die reaksie van die eerste dissipels is om onmiddellik hulle werpnette te los en Hom te volg. Jesus se roeping is dus gesagvol, soos ook verderaan met die prediking en die uitdrywing van die duiwels sal blyk, en effektief.

Die dissipels vervul ‘n baie belangrike rol in Markus se vertelling van die evangelie. Dit is belangrik vir Markus om aan te toon dat hulle van die begin af saam met Jesus is, veral die vier wat hier genoem word. Interessant dat hulle 2-2 geroep word, wat heel moontlik ‘n patroon vir dissipelskap daar stel (vgl. Mark 6:7 en Luk 10). Daarby kan hy met hulle reaksies (en gebrek daaraan) Jesus en die ander karakters in sy verhaal beter definieer en beskrywe. En, ons die lesers, kan met hulle identifiseer. Van die begin af is hulle ook besig met in diens opleiding as dissipels.

Dit laat my besef:

Om deur Christus geroep te wees, is om ‘n dissipel te wees. Ek moet Hom volg.

‘n Vergelyking met die ander evangelies
1. Die optrede van Johannes die Doper

Matteus (3:13-17) brei uit oor die gesprek wat tussen Jesus en Johannes die Doper ontstaan oor die gepastheid dat Jesus deur Johannes gedoop word. Jesus oortuig hom egter dat dit God se wil is, en dieselfde tekens begelei hierdie doop: die duif en die stem. Lukas (3:21-22) hou meer by die korter weergawe van Markus, hoewel hy bv. ‘n ander woord gebruik vir die openbaring van die Heilige Gees (die hemel het oopgegaan eerder as oopgeskeur soos in Markus). Dit wil ook lyk asof meer mense die duif gesien het, nie net Jesus en/of Johannes nie.

Die evangelie van Johannes vertel ook die verhaal van Jesus se doop (1:29-34) maar uit die hoek van die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Waar Markus en Matteus vertel dat Jesus die duif gesien het, is dit hier ook Johannes die Doper wat die wondergebeure gadeslaan en ingetrek word in die gesprek met God oor die betekenis daarvan.

2. Jesus word versoek

Matteus (4:1-11) en Lukas (4:1-13) vertel die verhaal van die versoeking in die woestyn met baie meer detail. Hulle brei uit oor die effek op Jesus (honger), en sy verweer uit die Skrif in antwoord op die versoekings. Matteus en Lukas se vertelling van die onderskeie versoekings kom ooreen, hoewel die orde verskil. Matteus vermeld nie die wilde diere (teken van die vredesryk wat aanbreek – vgl Jes 11:6-8) soos Markus nie, wel die engele wat Jesus hierna kom versorg. Lukas het niks daaroor nie, net dat die Satan Hom vir ‘n ruk met rus gelaat het. Let ook op hoe Lukas, anders as Matteus wat sy evangelie daarmee begin, Jesus se geslagsregister plaas tussen die verhaal van die doop en die versoeking, en dit van Jesus se verbintenis aan Josef terugvertel tot by Adam, wat die seun van God genoem word.

3. Jesus begin preek

Jesus se eerste optrede word deur Matteus (4:12-17) en Lukas (4:14-15) ook in Galilea geplaas, spesifiek in Kapernaum, soos Markus later ook skryf met die verhaal van die besetene wat genees word, en verbind aan die profesie in Jesaja 8:23-9:2. Jesus se eerste prediking word deur Matteus in dieselfde kort woorde as in Markus weergegee. Lukas verbind die prediking eksplisiet aan die krag van die Gees en die effek daarvan op die mense, veral in die sinagoges, en dat almal met lof van Hom gepraat het.

4. Jesus roep sy eerste dissipels

Die roeping van die eerste dissipels word op soortgelyke wyse in Matteus (4:18-22) as in Markus vertel. Matteus plaas dit ook direk na die eerste berig oor Jesus se prediking.

Lukas (5:1-11) se weergawe verskil van Markus en Matteus s’n, beide in die plasing daarvan – die prediking in Nasaret, sowel as ‘n paar optredes in Kapernaum word daarvoor geplaas – as in die beskrywing daarvan. Lukas plaas dit in die konteks van die lering van die skare en ‘n wonderteken aan Simon.

Johannes se vertelling van die roeping van die eerste dissipels verskil ook, onder ander in die bykomende detail oor Filippus en Natanael se roeping, en die plasing van die roeping van Andreas by die Jordaan rivier, eerder as by die See van Galilea (ook See van Tiberias [Joh 21:1], See van Gennesaret [Luk 5:1] genoem). Andreas is ook die een wat vir Simon by Jesus uitbring, anders as in die ander evangelies.


Jy is welkom om die hele Markus verder deur te lees in hierdie Epifanie tyd aan die hand van my vergelykende studie: Markus.  Geniet!

View all posts in this series

Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar