Markus 9:30-48 – dié wat eerste wil wees, moet laaste wees

Markus

Jesus kondig die tweede keer sy dood aan terwyl hulle reis deur Galilea.  Let op hoe Hy die passiewe vorm gebruik: “word oorgelewer” wat beteken dat Hy deeglik bewus is dat dit God is wat hierby betrokke is.  Hy verwys heel moontlik na uitsprake soos dié in Jesaja 53:12 en Daniël 7:25 asook Hos 6:2.  Hy wil egter steeds nie hê dat dié nuus voortydig publieke nuus word nie, en hoewel die dissipels dit nie verstaan het nie, en selfs te bang is om Hom in te vra daaroor, bly hulle daaroor stil.

Op pad na Kapernaum stry die dissipels egter oor wie van hulle die belangrikste is, waarskynlik onder andere weens die voorkeur wat die driemanskap, Petrus en die twee broers Johannes en Jakobus, die seuns van die donder, op die berg van Verheerliking gehad het. Jesus leer hulle daarom by die huis dat die wat eerste wil wees, laaste moet wees.  Om dit met ‘n “acted parable” te illustreer neem Hy ‘n kindjie (die Aramese woord vir kind kan ook dienskneg beteken!), sit sy arm om hom en verklaar dat elkeen wat só ‘n kindjie in sy Naam ontvang, eintlik vir Hom ontvang; meer nog, ook Hom wat Jesus gestuur het (vgl Mark 10:13-16).  Uit Jesus se perspektief sal iemand wat ‘n kindjie vriendelik ontvang, ook vir Hom ontvang.  En as die dissipels nie as belangrikes by mense aankom nie, sal hulle Jesus in hulle bediening raaksien.

Johannes se vraag oor iemand wat in Jesus se Naam bose geeste uitdrywe (ook Hand 19:13 vertel van só n praktyk), maar nie vir hulle volg nie, illustreer sonder dat hulle dit eers agterkom, eintlik hulle gevoel van eksklusiwiteit en belangrikheid.  Ironies genoeg het hulle net tevore gesukkel om ‘n duiwel uit die stom seun te dryf!  Dit lei tot die bekende uitspraak van Jesus:  “Wie nie téén ons is nie, is vir ons.”  Sulke mense moet dus nie gekeer word nie.  Daarmee relativeer Hy ook hulle gevoel van belangrikheid, dit is nie status wat tel nie, maar diens in die koninkryk, en bevorder só ‘n ruimheid van hart teenoor ander se diens in die koninkryk. Vergelyk Moses wat op soortgelyke wyse mense toelaat om te profeteer, ten spyte van teenkanting (Num 11:27).

Hy keer terug na die aanvanklike gesprek oor belangrikheid, en voeg by dat elkeen wat vir die dissipels iets kleins soos ‘n beker water te drinke gee, omdat hulle aan Christus behoort, sal beslis daarvoor beloon word.

Met die kindjie wat waarskynlik nog daar in hulle midde staan, brei Jesus uit oor elkeen wat een van hierdie kleintjies afvallig laat word.  Dit sal beroerd met só iemand gaan, soos die meulsteen-aan-die-nek uitspraak bewys. Aan die een kant waarsku Jesus sy dissipels om nie mense wat hulle as geringer ag te laat struikel nie (vgl 1 Kor 8-9, Rom 14).  Aan die ander kant spreek Jesus heel moontlik ook die vrees by die dissipels aan dat só ‘n houding van diens en ruimheid van hart tot misbruik kan lei wat hulle van ‘n egte oorgawe aan diens kan afskrik en afvallig kan laat raak.

Maar, Jesus spreek ook elkeen van hulle aan, wat sorg moet dra dat nie ‘n hand of voet of oog hulle van Hom afvallig laat word nie.  Dit is beter om fisiese gebrek te ly, eerder as om van Hom afvallig te raak.

Die uiteinde van afvalliges is die hel (die Griekse woord gehenna word gebruik wat verwys na die altyd smeulende vullishoop in die Hinnomsdal buite die stad Jerusalem, wat gereeld gebrand is en waar die wurms in die afval gekrioel het) en die onblusbare vuur, waar die wurm nie dood nie en die vuur nie geblus word nie (verskillende Markus manuskripte plaas hierdie laaste mededeling op verskillende plekke in die perikoop, maar dit verander nie aan die betekenis nie).  Vergelyk ook die verwysing hierna in Jesaja 66:24 en die grusame praktyke waarvan Jeremia vertel (7:30-33).

Matteus en Lukas

Matteus vermeld ook droefheid by die dissipels by die tweede dood-en-opstanding aankondiging van Jesus, terwyl Lukas skryf dat die betekenis vir hulle bedek was, sodat hulle nie kon begryp nie.

Net Matteus het die vraag oor die tempelbelasting wat hy aanhak aan die vraag oor wie die belangrikste “in die koninkryk” is.  Hy voeg ook die uitspraak van Jesus by dat die dissipels soos kindertjies moet word, anders sal hulle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.  Dit is dié wat hulle gering ag soos die kindjie wat in hulle midde staan, wat die belangrikste in die koninkryk van die hemel is.  En, soos Markus, ontvang jy Jesus as jy só ‘n kindjie in Jesus se Naam ontvang, wat heel moontlik op die dissipels slaan. Lukas vertel ook van die stryery en voeg by dat Jesus leer dat dié een wat “die minste onder julle almal is, hý is groot.”

Matteus het nie die uitspraak van Jesus dat wie nie téén ons is nie, is vir ons.  Hy het die omgekeerde uitspraak dat “Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaar maak nie, jaag hulle uitmekaar.”  Daarmee verklaar Jesus dat ‘n kinderlike houding om jouself nie belangriker as ander te ag nie, nie beteken dat ‘n mens nie geloofonderskeidend na mense se aksies kan kyk nie.  In die konteks van teenstand teen sy bediening, maak die uitspraak dus sin (Markus se uitspraak kom in die konteks van iemand wat op ‘n positiewe manier Jesus se Naam gebruik, wat weer sy uitspraak verklaar).  As iemand nie die skape saam met Jesus bymekaar maak nie, lei die koninkryk skade.  Sulke aksies of dan gebrek aan aksies moet afgewys word.  Lukas het beide uitsprake in hulle onderskeie positiewe en negatiewe kontekste.

Matteus verkort weereens die Markaanse weergawe oor afvalligheid, bv. deur die uitspraak oor die hand en voet te kombineer, terwyl Lukas eerder van struikeling as van afvalligheid praat.  Sy weergawe is nog korter.

View all posts in this series

belangrikheid, dood, opstanding


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • Oor die gedeelte van die afkap van jou hand of voet of die uitpluk van jou oog het ek onlangs 'n interpretasie van Dallas Willard gelees wat vir my baie sinvol klink. Hy voer aan dat Jesus daardiie voorbeelde gebruik om te wys op die absurditeit van die Fariseërs en skrifgeleerdes se wettiese benadering. In hulle oë kan aan die wet voldoen word, en goedheid dus bereik word, deur die doen van sonde te vermy. In hierdie voorbeeld doen jy dit deur eenvoudig liggaamsdele te amputeer. “Then you would roll into heaven a mutilated stump.”! Jesus se lering is deurgaans presies die teenoorgestelde, sê hy. Die verminkte liggaan kan nog steeds 'n bose hart hê. Die vraag moenie wees wat jy doen of kan doen nie, maar wie jy is. Maw wat sou jy doen as jy kon. Soos Jesus in Markus 7:21-23 sê: “Van binne af, uit die hart, kom …” al die slegte goed wat daar gelys word. Die goedheid van die koninkrykshart, daarteenoor, is so vol van liefde vir God en jou naaste dat dit die baie vorms van boosheid verdring.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: