Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan
Markus
Ek wil nie graag by die onverkwiklike debat oor die opstanding wat deur sommige organisasies en teoloë gevoer word, betrokke raak nie. Ek wil ook nie met allerhande hermeneutiese nuanses met woorde speel rondom die opstanding nie. Markus 16:1-8 sê soos die ander evangelies dat Jesus opgestaan het. Dit was liggaamlik (as jy Paulus se taal wil gebruik, ‘n verheerlikte liggaam soos ons in 1 Kor 15 leer). En ek glo dit.
Verder bly dit darem net ongelooflik hoe die vroue aan die einde van die evangelie na vore tree as ondersteuners en getuies, terwyl al die mans, behalwe moontlik Johannes, gevlug het. Dit is uiters betekenisvol in die lig van die patriargale omgewing waarbinne hulle gelewe het.
Die teks van Markus wat aan ons oorgelewer is, het eintlik 3 eindes. Die beste manuskripte eindig die teks by vers 8. Sommige ander voeg ‘n vers 9 by, en nog ander voeg ‘n paar verse, 9-20 by, soos ons dit tans in die NAV het. Die langer tekstradisies dateer heel moontlik eers uit die tweede eeu nC, heel moontlik om ‘n meer afgeronde afsluiting vir die evangelie te verskaf. Die konsensus onder geleerdes is dat die langer eindes heel moontlik latere byvoegings is, maar dat die korter teks ook te kortaf is, en dat daar van die oorspronklike teks moontlik ‘n deel verlore geraak het.
Korter einde: 3 vroue gaan die Sondagmôre na die graf, Maria Magdalena, Maria, die moeder van Jakobus, en Salome. Let op hoe die jongman, ‘n engel, Jesus in sy mensheid as van Nasaret identifiseer. ‘n Boodskap aan Petrus is ook sy missie vir hulle, dat die dissipels Jesus in Galilea moet ontmoet.
Die korter teks eindig met die vroue wat weghardloop en Markus se evangelie wat dus eindig met die woorde: “Want hulle was bang.”
Effens langer teks: Die effens langer teks het ‘n soort opsomming van die gesprek tussen die vroue en Petrus en die ander dissipels, en die mededeling dat Jesus self aan hulle verskyn het en deur hulle die evangelie oral laat verkondig het.
Langer einde: Die langste teks voeg dan by dat Jesus aan Maria Magdalena verskyn het, sowel as aan 2 mense op pad na die platteland, wat ons uit Lukas se weergawe weet die Emmaüsgangers was.
Die onderlinge verskille tussen hierdie Markus weergawe en Lukas s’n wys egter dat dié teks, soos die effens langer teks, heel moontlik nie oorspronklik is nie:
Daar word in vers 13bv. gesê dat ander dissipels die twee Emmausgangers nie geglo het nie. Dit verskil van Lukas 24:34 waar die dissipels vir die Emmausgangers sê dat hulle inligting ooreenkom met dít wat hulleself by Simon gehoor het.
Die teks stel die Emmausgangers ook as dissipels voor wat nie die geval was volgens die ander evangeliste nie.
Hoe dit ook al sy, die teks vertel ons dat Jesus se verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart gou oorslaan in ‘n opdrag om die evangelie te gaan verkondig. Jesus gee hulle voorsmakie van die tipe wondertekens wat by hulle sal voorkom, genesing van duiwelbesetenheid en siekte, tale, en beskerming teen slange en gif (onthou Paulus se ervaring op die eiland Malta – Hand 28).
Markus se langer einde eindig met Jesus se hemelvaart en ‘n kort beskrywing van die evangelieverkondiging wat deur wondertekens bekragtig is.
Matteus, Lukas en Johannes
Korter einde: Matteus noem die ma van Jakobus slegs die “ander Maria” wat ons laat vermoed dat dit dieselfde persoon kan wees. Hy beskryf die toneel by die graf ook meer volledig met ‘n aardbewing waarna ‘n engel die klip voor die graf wegrol en daarop gaan sit, met die wagte wat bewe en soos dooies word. Sy boodskap is dat Jesus opgewek is en dat dié nuus aan die dissipels vertel moet word. Hulle gaan doen dit dan tegelykertyd bang en bly.
Lukas se detail verskil van Markus en Matteus se weergawe; daar is 2 engele en hulle gaan in gesprek met die vroue. Matteus noem ook vir Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, maar met hulle saam was daar ook Johanna (Salome?). En hy vertel van Petrus se besoek aan die graf.
Johannes vertel weer in meer detail van Petrus en sy eie ervarings by die graf. Interessant is dat hulle wel begin glo dat Jesus opgestaan het, maar nog nie sover kan kom om die Skrif hieroor te verstaan nie.
Langer einde: Matteus sluit sy evangelie af met die Groot Opdrag net voor Jesus se Hemelvaart. Lukas brei weer uit oor die pragtige verhaal van die Emmaüsgangers, sowel as die toneel by Galilea waar Jesus vis eet om hulle van die werklikheid van sy opstanding te oortuig. Hy sluit met ‘n korter weergawe van die Hemelvaart. In Handelinge is ‘n langer weergawe. Johannes brei weer uit oor die engele se gesprek met Maria Magdalena, waarna Jesus self aan haar verskyn. Hy vertel van nog twee verskynings van Jesus, een waar Tomas nie by was nie, en een waar ook die ongelowiges Tomas ‘n getuie van die opstanding word.
View all posts in this series
- WEEK 1: Inleiding op die evangelie van Markus - January 12, 2010
- Die vier evangelies se unieke Jesus-portrette - January 21, 2010
- Die drie Sinoptiese evangelies - January 22, 2010
- Die boodskap van Markus - January 25, 2010
- Markus in vergelyking met die ander evangelies - January 26, 2010
- Bybelstudie metodiek - January 27, 2010
- Luistersiklus
- Lectio Divina
- WEEK 2: Markus 1:1-3:6 – Proloog en Deel 1: Bekendstelling - January 28, 2010
- Markus 1:1 – Jesus as God-mens vervul die OT beloftes
- Markus 1:1-8 – Die hart van die evangelie is opgesluit in Jesus Christus
- Markus 1:9-20 – om deur Christus geroep te wees, is om ‘n dissipel te wees - January 29, 2010
- Markus 1:21-31 – Dit is ‘n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die bose geeste, en hulle gehoorsaam hom. - February 1, 2010
- Markus 1:32-39 – Die bediening draai om God, nie om die vrugte daarvan nie
- Markus 1:40-45 – “Ek wil. Word gesond.” - February 2, 2010
- Markus 2:1-12 – geloof word in gedrag uitgedruk
- Markus 2:13-17 – dié wat siek is, het ‘n dokter nodig
- Markus 2:18-3:6 – Jesus se bevrydende bediening wek wrede weerstand van die leiers - February 3, 2010
- WEEK 3 van die Bybelskool oor Markus - February 4, 2010
- Markus 3:7-30 – Die impak van die bediening verskerp
- Die twaalf dissipels in die evangelies en Handelinge
- Markus 3:31-35 – Jesus en sy familie - February 5, 2010
- Markus 4:1-9 – Wie ore het en kan hoor, moet luister
- Markus 4:10-12 – Die geheim van die koninkryk word gegee, nie verwerf nie
- Markus 4:13-29 – om reg te hoor, bepaal jou hele lewe - February 8, 2010
- Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie? - February 9, 2010
- Markus 5:1-20 – Wat het U met my te doen? - February 10, 2010
- Markus 5:21-43 – Bly maar net glo!
- Markus 6:1-6 – Sy tuisdorp se mense wil niks van Hom weet nie
- WEEK 4 van die Bybelskool - February 11, 2010
- Markus 6:7-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys
- Markus 6:30-52 – Jesus demonstreer sy Godheid op verskillende maniere - February 12, 2010
- Markus 6:53-7:23 – Onreinheid het met die hart te make - February 15, 2010
- Markus 7:24-8:10 – Jesus is intiem en intens betrokke by mense - February 16, 2010
- Markus 8:11-21 – Hoe blind is dié wat nie wil sien nie - February 17, 2010
- WEEK 5 van die Bybelskool - February 18, 2010
- Markus 8:22-9:1 – Wie sy lewe vir Jesus en die evangelie verloor, sal dit behou
- Markus 9:2-29 – Vir die een wat glo, kan alles - February 19, 2010
- Markus 9:30-48 – dié wat eerste wil wees, moet laaste wees - February 22, 2010
- Markus 9:49-10:16 – Jesus vra getrouheid aan Hom en lojaliteit aan mekaar - February 23, 2010
- Markus 10:17-45 – Redding uit genade alleen - February 24, 2010
- WEEK 6 van die Bybelskool - February 25, 2010
- Markus 10:46-11:25 – ‘n huis van gebed vir die nasies
- Markus 11:27-12:37 – Jesus se intellek en wysheid is te veel vir die Joodse Raad - February 26, 2010
- Markus 12:38-44 – Die arm weduwee se gawe - March 1, 2010
- Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking - March 2, 2010
- Markus 13:24-37 – Die koms van die Seun van die mens - March 3, 2010
- WEEK 7 van die Bybelskool - March 4, 2010
- Markus 14:1-11 – Gesalf in Betanië, verraai in Jerusalem
- Markus 14:12-42 – Jesus word die paaslam - March 5, 2010
- Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte - March 8, 2010
- Markus 15:6-47 – Jesus word gekruisig en begrawe - March 9, 2010
- Markus 16:1-20 – Jesus het liggaamlik opgestaan - March 10, 2010
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
- Tien lesings uit Markus vir Heilige Week met kommentaar - April 11, 2017
- Jesus is die hart van die evangelie - January 8, 2018
Vince Aslett
Chris
Baie dankie vir n ongelooflike Bybelstudie – dit was n groot blessing vir my as persoon, asook vir baie in ons manne bediening. Dankie vir die harde werk en toewyding. Laat weet my asb waneer die volgende een begin.
Groete Vince
Chris van Wyk
Hi Vince
Ek het jou bydraes geniet deur die afgelope paar weke. En julle is baie welkom om die volgende rondte in te skakel. Ek beplan tans om 1 en 2 Konings deur te werk in so 'n 6 weke in die tweede kwartaal. Die verhaal fokus veral op die pad van die Here met sy volk, soos 'n mens dit raaksien in die lewe van drie groot karakters, Salomo, Elia en Elisa, sowel as in 'n klomp kleiner karakters, konings en gewone mense (Nabot), en ek sien uit daarna om die betekenis daarvan saam met julle te ondersoek. Ek sal detail daaroor binnekort publiseer, en moontlik ook iets skryf oor die evangelie van Thomas wat ons volgende Woensdag hier by ons in die gemeente gaan lees.
Walter
Hoe moet ons Markus 16:18 verstaan? Dat daar wondertekens sal wees maar sekerlik tog nie dat hierdie wondertekens by alle gelowiges teenwoordig sal/moet wees nie?
Chris van Wyk
Jy is reg. God gebruik soms wonderwerke in die lewe van gelowiges, soos ons lees van Paulus wat niks oorgekom het toe ’n slang hom gebyt het nie (Hand 28:5). Net so het die dissipels siekes gesond gemaak (reeds in die evangelies, bv Matt 10:1, maar ook hierna, soos ons lees in Hand 3:7–8). Maar dit is nie almal beskore nie, soos ons duidelik lees in 1 Kor 12:27-30 dat almal nie die gawes van wonderdade en gesondmaking het nie.