Skip to main content

Markus 14:1-11 – Gesalf in Betanië, verraai in Jerusalem

Markus

Die Joodse Raad was intussen aan die beplan om Jesus dood te maak, maar wou dit nie op die Paasfees doen wat oor 2 dae sou begin nie, weens die steun van die skares.  Judas Iskariot sou hulle egter die gulde geleentheid gee, wat hulle van plan laat verander, deurdat hy aanbied om Jesus te verraai (oorhandig).  Hulle onderneem om hom te betaal daarvoor (Matteus praat van 30 silwerstukke).

In die Grieks word Judas in vers 10 letterlik beskryf as: “dié een van die twaalf” waarmee sy verraaierskap onderstreep word.  Gaan kyk weer in Mark 3:13-19 hoe Judas in die lysie van name aan die einde geaksentueer word met “en Judas Iskariot wat Jesus verraai het.”

Let op hoe ‘n sterk kontras geteken word tussen die vrou wat Jesus salf met die albaste fles duur nardusolie en Judas wat Hom by die Joodse Raad verraai.   Sy bederf Jesus met ‘n duur geskenk.  Hy verraai (Grieks het oorhandig) Jesus vir eie gewin.

Teenoor die mense wat weerstand bied teen hierdie verkwisting, loof Jesus haar aksies, omdat dit ‘n goeie (kan ook vertaal word met “pragtige”) daad met die oog op sy begrafnis is, waarvoor sy altyd onthou sou word.  Jesus gebruik dus die geleentheid om verdere lering oor sy naderende dood aan sy dissipels te gee.

Dit tref my hoe selfloos en vrygewig sy in die oortreffende trap is (die nardusolie het ‘n jaar se salaris van ‘n gewone arbeider gekos) en dat sy daarmee haar toewyding en geloof in Hom illustreer.  Sy doen dit ook in die publiek waar almal dit kan sien, teenoor Judas en die Joodse Raad wat hulle gekonkel in die geheim doen.  Sy raak hiermee eintlik dié voorbeeld in die evangelies van hoe ‘n dissipel teenoor sy Meester en Rabbi moet optree.

Geen wonder dat Jesus van haar sê – en onthou dit is in die konteks van die dissipels wat haar probeer keer en ander wat sy dood beplan:

“Wat sy kon, het sy gedoen.”

Dit laat my diep nadink oor my lewe as ‘n gawe aan God. Daar is niks wat in my pad moet staan om die beste en mooiste vir Jesus te doen nie.  Dit is die gedagte waarmee ek vandag gaan leef om vannaand te kan sê: “Wat ek kon, het ek gedoen”.

Matteus, Lukas en Johannes

Matteus plaas die mededeling van Markus oor die Joodse Raad se beplanning in die mond van Jesus wat sy dissipels leer oor sy oorlewering om gekruisig te word.  Matteus brei ook uit oor die betrokkenheid van Kajafas, die hoëpriester.  Lukas vertel dit korter as die twee ander Sinoptici.

Johannes plaas die beplanning in die konteks direk na die opwekking van Lasarus.  Let op hoe daar ‘n kontras getrek word tussen mense wat na sy suster Maria kom om te hoor wat alles daar gebeur het, en tot geloof kom, en ander mense wat die Fariseërs betrek by die gebeure wat uitloop op ‘n ongelowige besluit om Jesus dood te maak.  Ironies genoeg dink die Joodse Raad dat Jesus se aksies tot ‘n verwoesting van die tempel deur die Romeine sou lei.  En dit is inderdaad wat gebeur het, maar nie as gevolg van Jesus se opwekking van Lasarus nie, maar as gevolg van die Joodse Raad se verwerping van Jesus.

Kajafas se opmerking dat een ter wille van almal moet sterwe, word deur Johannes as ‘n profesie geïnterpreteer, omdat dit ironies genoeg die waarheid was.

Matteus neem Markus se verhaal in Betanië (3 km oos van Jerusalem, aan die voete van die Olyfberg) in breë trekke net so oor, hoewel hy die vraag oor die verkwisting van die olie in die mond van die dissipels plaas.  Lukas vertel nie dié verhaal nie, maar het ‘n soortgelyke verhaal van ‘n salwing in Lukas 7:36-50.  Daar is die vrou iemand wat ‘n sondige lewe gelei het, en Simon ‘n Fariseër, en nie melaats nie.  Jesus verbind dié aksie ook nie met sy dood nie. Dit is daarom waarskynlik ‘n ander verhaal (Geulich).

Johannes vertel dit wel, binne die konteks van Lasarus se opwekking, en het ‘n paar ander detail verskille: 1) Dit gebeur 6 dae voor die Paasfees, dws vroeër in die week as wat Markus opteken; 2) Die vrou word as Maria, Lasarus se suster, geïdentifiseer wat die olie op sy voete uitgooi en nie op sy kop soos in Markus en Matteus nie; 3) Die weerstand teen die verkwisting word in die mond van Judas Iskariot geplaas en nie in die mense of die dissipels s’n nie. Johannes lewer ook kommentaar op die rede vir sy weerstand: “omdat hy ‘n dief was”.

Lukas vertel wel soos Matteus ook die verhaal van Judas wat Jesus by die Joodse Raad verkla, maar voeg interessant genoeg twee ekstra detail by: 1) dat dit die Satan is wat Judas hiertoe lei, en 2) dat die offisiere van die tempelwag ook betrek word by die komplot, soos inderdaad by die tuin van Getsémané gebeur.

View all posts in this series

dissipel, Markus, toewyding, verraai


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar