Markus 14:43-15:5 – Die tyd van die duister magte

Markus

Jesus word gevange geneem: As die gebed van Jesus aan jou hart geruk het in die vorige perikoop, gaan die verdere verloop van die verhaal jou met afgryse vervul.  Wat in die duister beplan is, begin nou sy ware kleure wys.  Judas kom met ‘n klomp mense (soldate en tempelwagte – Johannes) met swaarde en stokke daar aan om Jesus gevange te neem.  Hy verraai Jesus met die voorafgespreekte teken, die kus van ‘n leerling vir sy leermeester.

Een van Jesus se dissipels (Petrus – volgens Johannes – moontlik omdat hy wou wys dat hy by Jesus sal staan, hoewel dié bravade nie lank hou nie) slaan met ‘n kort swaard na een van hulle, ‘n slaaf van die hoëpriester (Malgus – volgens Johannes), en kry dit reg om sy (regter)-oor af te kap.  Jesus keer die res van hulle om in ‘n geveg betrokke te raak.  Markus en Matteus vertel nie dat Jesus die oor weer genees het nie, wat Lukas en Johannes wel in hulle verhale insluit.

Jesus tree wel met die mense in gesprek deur die agterbaksheid van hulle handelinge uit te wys, maar interpreteer dit steeds as die vervulling van die Skrif.  Die dissipels laat Hom hierna egter liederlik in die steek.

Markus voeg aan die einde ‘n mededeling by, dat ‘n sekere jongman wel agter Jesus aan is, soos ons later ook sal agterkom Petrus ook gedoen het.  Volgens oorlewering is dit heel moontlik dat dié jongman Johannes Markus, die skrywer van hierdie Evangelie was. Nie een van die ander Evangelieskrywers noem egter hierdie insident nie. Moontlik het Markus net uit die bed opgestaan net met sy bokleed om, om saam met Jesus-hulle Getsemane toe te gaan en het daarom nie nog onderklere aangehad nie. Dié verloor hy in die proses en vlug kaal weg.  Later sou die dissipels soms in sy ma se huis bymekaar kom (Hand 12:12).  Dit kan ook wees dat dit in dié huis is waar die bovertrek was waar Jesus saam met sy dissipels bymekaar gekom het (Hand 1:13).

Jesus voor die Joodse Raad: Darem ironies dat die hemelse Hoëpriester, die Alfa en die Omega, na die aardse hoëpriester weggelei word.  Dat ‘n mens só die plot kan mis, jou met die tyd, die kairos kan misreken.  Die hoëpriester is Kajafas (Matteus).

Petrus volg op ‘n afstand tot in die binnehof van die hoëpriester se huis (Johannes vertel in sy evangelie dat dit hy is dit reggekry het om hom binne te laat, omdat die hoëpriester hom geken het).

Die Joodse Raad probeer met valse getuies ‘n aanklag teen Jesus formuleer, maar die getuienis stem nie ooreen nie.  Dan tree die hoëpriester tot die proses toe, maar Jesus weier om op die vals getuienis te reageer. Dit is eers as die hoëpriester vra of Hy die Christus, die Seun van God is, dat Jesus daaroor getuienis aflê: “Ek is” en daarop uitbrei met ‘n aanhaling uit Ps 110 en Dan 7.

Met teatrale vertoon skeur die hoëpriester sy klere oor die godslastering, ten spyte daarvan dat die wet dit verbied het (Lev 10:6), en na die Raad Hom veroordeel het, word Jesus verneder met spoeg, en vuisslanery, terwyl hulle met sy profetiese vermoë spot.

Petrus verloën Jesus: Petrus word hier drie keer gevra of Hy nie saam met Jesus van Nasaret was nie, twee keer deur een van die hoëpriester se diensmeisies, en een keer deur die ander wat by die vuur gestaan het.  Na die eerste ontkenning kraai ‘n haan, en weer na die derde ontkenning, nogal met ‘n gevloek en gesweer, val die woorde van Jesus Petrus by dat hy Hom sou verraai.  Dit laat Petrus in trane uitbars.

Jesus voor Pilatus: Die môre vroeg word Jesus na Pilatus gestuur, nadat die volle Joodse Raad Hom uitgelewer het.  Pilatus se vraag oor sy koningskap word positief deur Jesus beantwoord, maar die beskuldigings lok geen verweer by Jesus uit nie.  Dit het Pilatus verbaas.

Matteus, Lukas en Johannes

Jesus word gevange geneem: Matteus volg in breë trekke Markus se verhaal, maar voeg detail by, soos Judas wat vir Jesus: “Goeiemôre” sê (dit was nog voor hanekraai!).  Jesus noem ironies genoeg: “Vriend”.  Volgens Matteus het Jesus sy dissipels ook probeer leer dat dié wat die swaard gebruik deur die swaard sal omkom; daarom moet hulle nie daarmee probeer om goed reg te maak nie.  Jesus verwys ook na die meer as 12 legioene engele wat tot sy hulp sou kon kom.  Dit is tussen 48 000 en 72 000 engele, ‘n formidabele mag!  Matteus beklemtoon selfs meer as Markus dat dié proses nie gekeer mag word nie, want dít is hoe die Skrif daaroor skryf.

Lukas vertel die verhaal korter en voeg benewens die genesing van Malgus se oor die veelseggende frase by, dat dit nou “die tyd van die duistere magte” is – ‘n afgryslike gedagte.

Johannes het weer meer uitgebreide detail as Markus.  Die soldate kom bv. met lanterns en fakkels; hulle benoem Jesus na aanleiding van sy afkoms, van Nasaret; deins aanvanklik terug vir Jesus en val op die grond neer; en laat toe dat Jesus sy mense wegstuur, sodat die Skrif vervul sou word, dat Jesus niemand van dié wat God Hom gee, verlore laat gaan nie.

Jesus voor die Joodse Raad: Matteus vertel die verhaal in breë trekke net soos Markus met klein detail verskille.  Lukas verkort Markus se weergawe weereens, maar voeg ‘n interessante gesprek by waar Jesus op die vraag of Hy die Christus is, reageer deur hulle daarop te wys dat al antwoord Hy dit positief, sal hulle tog nie in Hom glo nie.  Soos reeds genoem, het Johannes die ekstra gegewens dat dit hy (die ander dissipel) was wat Petrus in die hoëpriester se woning ingekry het.  Hy vertel ook dat Annas betrokke was, die skoonpa van Kajafas, en die vorige hoëpriester.

Petrus verloën Jesus: Matteus se detail verskil effens van Markus s’n deurdat die tweede vraag aan Petrus in die mond van ‘n ander diensmeisie geplaas word.  Lukas sê ook dat die tweede vraag deur iemand anders gevra is en gee ‘n tydsaanduiding van die verloop van sake.  Hy skets ook die roerende prentjie van Jesus wat omdraai met die derde verloëning en Petrus aankyk.  Johannes plaas die derde vraag aan Petrus ironies genoeg in die mond van familie van Malgus, die een wie se oor hy so pas tevore afgekap het.

Jesus voor Pilatus: Matteus voeg net een detail by, dat Pilatus goewerneur was, terwyl Lukas uitbrei oor die aanklag van die Joodse Raad teen Jesus voor Pilatus: dat Hy die volk opgehits he tom nie belasting te betaal nie, en dat Hy voorgee dat Hy ‘n koning is.  Pilatus vind egter geen skuld in Hom nie.  Johannes beskryf die ironie van ‘n Joodse Raad wat nie die woning van Pilatus wil binnegaan nie, omdat dit hulle onrein sou maak om die paasmaaltyd te eet, terwyl die Paaslam binne die onrein woning van Pilatus is, waarmee Jesus eintlik die boodskap gee dat Hy daar is vir almal.  Hy brei uit oor die gesprek met Pilatus wat handel oor die koninkryk en die waarheid.

View all posts in this series

Markus, verhoor, verloën


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • In Markus14:51 lees ons van n sekere jong man wat agter Jesus aangegaan het toe By gevange geneem is.Hy het kaal weggehardloop. Is daar enige idee wie die man was en waarom dit genoem word?

    • Hi Margaret, volgens oorlewering is dit heel moontlik dat dié jongman Johannes Markus, die skrywer van hierdie Evangelie was. Nie een van die ander Evangelieskrywers noem wel hierdie insident nie. As dit wel hy was, het Markus moontlik uit die bed opgestaan – die nagmaal is waarskynlik in hulle huis gehou (Hand 1:13) – net met sy bokleed om, om saam met Jesus-hulle Getsemane toe te gaan en het daarom nie nog klere aangehad nie. Dié verloor hy in die proses en vlug kaal weg. Later sou die dissipels weer in sy ma, Maria, familie van Barnabas, se huis bymekaar kom (Hand 12:12).

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: