Skip to main content

“Wees heilig, want Ek is heilig”

Inleiding

Waar Genesis ‘n boek was wat op die heelal, die mensdom en die aartsvaders gefokus het, en Eksodus op die totstandkoming van die Godsvolk en hulle verlossing uit Egipte, fokus Levitikus nou op die wyse waarop dié Godsvolk voor die aangesig van God, in sy teenwoordigheid, moet lewe, soos dit op grond van God se bevele deur die begeleiding van die stam van Levi – die priesters en die Leviete – moontlik gemaak sal word.

Israel is steeds by die berg Sinai (Eks. 19:1 tot Num. 10:10).  Die Tabernakel is voltooi en ingewy minder as ‘n jaar ná hulle uit Egipte weg is (Eks. 40:17).  Hulle sou ongeveer ses weke daarna verder trek (Num. 10:11).

In hierdie tyd gee die Here vanuit die tent van ontmoeting ‘n wye reeks bevele aan Moses as ‘n gedragskode vir die Israeliete soos ons regdeur die boek dit agterkom (Lev. 1:1-2; 7:37-38; 26: 46; 27:34).  Vandaar die Hebreeuse titel וַיִּקְרָא – wǎyyiqrā(ʾ) – van die boek, wat ook die eerste woorde van die boek is: “ En Hy het geroep”.

Die feit dat bykans die hele boek God se direkte bevele bevat, beteken dat dié boek meer as enige ander boek die woorde van God bevat, meer as die verhalende of profetiese boeke, selfs meer as die wysheidsliteratuur.  Dit verklaar die geweldige betekenis wat die Jode aan die boek geheg het en waarom dit ook kwistig in die NT aangehaal word (daar is ongeveer 90 aanhalings), soos ek later sal aantoon.

Die Latynse titel van die boek Levitikus is afgelei van die woord Leviet.  Dit is dus ‘n boek wat fokus op die wyse waarop die Aäronitiese priesters (Lev. 1) en die Leviete (Lev. 25) die Israeliete moet begelei in die gehoorsaamheid aan die Tora wat by Sinai vir hulle gegee is.  Waar die fokus in Eksodus was op God wat sy intrek in die Tabernakel geneem het, is die fokus in Levitikus op hoe daar met dié God in verhouding getree en gelewe kan word.

“Wees heilig, want Ek is heilig”

In die hart van die verhouding van Israel met hulle God het sy teenwoordigheid gestaan, soos dit nou deur die Tabernakel vir hulle moontlik gemaak is.  En sy visie vir hierdie verkore volk met wie Hy ‘n verbond gesluit het, was dat hulle as ‘n volk ‘n koninklike priesterdom sou wees.  Hulle gehoorsaamheid al dan nie sou egter bepaal of dié visie vervul sou kon word: “As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie.” (Eks. 19:5-6; vgl. Petrus se identiese visie vir gelowiges in die NT: 1 Pet. 2:9).

Gehoorsaamheid aan die wil van God was dus ononderhandelbaar in die verhouding met God.  Vandaar die presiese detail van die verbondsboek – Eks. 19-24 – sowel as die hele boek van Levitikus.  Hierdie eis tot gehoorsaamheid aan God is daarom deur ‘n gedragskode vir die Levitiese priesters uitgespel (Lev. 1-16) sowel as deur ‘n gedragskode vir die Godsvolk (Lev. 17-27).  Almal is daardeur by God se wil vir die lewe betrek.  Levitikus was hulle handboek vir die lewe met God en mekaar in die wêreld waar God hulle geplaas het.

  • Aan die een kant fokus die boek dus op wat in die Tabernakel, God se “tent, gebeur. Hoe hulle Hom moes nader. Hoe hulle Hom moes aanbid.  Daarom is die boek ‘n “godsdienstige handboek” vir die Tabernakel.
  • Aan die ander kant fokus die boek op wat in die volk se “tente” gebeur (Pawson: Unlocking the Bible). Hoe hulle met Hom in die lewe moet wandel.  Hoe hulle met mekaar moet handel.  Die boek is daarom ook ‘n “moreel-etiese handboek” vir die Lewe.

Die sleutelmotief vir die karakter van hierdie gehoorsaamheid regdeur die boek is die bevel van God: “Wees heilig, want Ek is heilig.” (Lev. 11:44-45; 19:2; 20:26).  ‘n Motief wat ook sy neerslag in die NT etiek vind, waar Petrus hierdie frase uit Levitikus aanhaal as begronding van sy oproep tot gehoorsaamheid: “As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees.  Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig.’” (1 Pet. 14-16).

Die persoonlike etiek van beide die OT as die NT is dus in die heiligheid van God gefundeer.  Soos Jesus immers in die Bergrede sê nadat Hy ses dele van die wet uitgelê het: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matt. 5:48).  Die woord “volmaak” is die vertaling van die Griekse teleios, die ekwivalent van die Hebreeuse tāmîm wat op etiese perfeksie dui.

Die punt is dat die Israeliete die samelewing waaruit hulle verlos is – Egipte – sowel as die samelewing waarheen hulle op pad is – Kanaän – se moreel-etiese en godsdienstige waardes moes teenstaan en volgens die bevele van God moes leef.  Die Verlosser uit Egipte het die reg verdien om die gedragskode te bepaal waarvolgens hulle moes leef.  “Wees heilig, want Ek is heilig.

Gewyd versus gewoon

Heiligheid het aan die een kant die betekenis gehad van afgesonder of gewyd teenoor algemeen of gewoon (ongewyd).  Hoe nader jy aan die Here – die volmaakte Heilige – gekom het, hoe groter was die voorskrifte vir jou afsondering of heiliging aan Hom.

Dit het alles gegeld.  ‘n Dier was bv. gewoon of ongewyd as dit deel van jou kudde was.  Dieselfde dier was egter geheilig as dit afgesonder of gewyd is as ‘n offer.  Dieselfde geld enige offergawe wat by die Tabernakel aan die Here geoffer is sowel as enige mens wat aan die diens van die Here toegewy is.  Hulle was heilig of gewyd in terme van hulle nabyheid aan of gebruik in die teenwoordigheid van die Heilige van Israel, die Here God.

Hartley dink daarom aan heiligheid as konsentriese sirkels vanaf die Allerheiligste deel van die Tabernakel wat uitkring van volmaak heilig na volledig onheilig: Allerheiligste, Heiligste, Voorhof, kamp, buite die kamp, in die wildernis van die woestyn.  Heiligheid is dus gedefinieer in terme van die nabyheid of afstand van die Heilige, Jahwe (Leviticus: Word).

Alle Israeliete was dus al reeds heilig, want hulle was deel van die uitverkore volk van God.  Die priesters was egter meer heilig, want hulle het diens gedoen in die Tabernakel.  Die voorskrifte vir hulle lewe en bediening was dus strenger as dié van die ander lede van die volk.  Die Hoëpriester was nog meer heilig, want hy het die voorreg gehad om een keer ‘n jaar in die Allerheiligste deel van die Tabernakel in te gaan op die Groot Versoeningsdag.  Hy het die heel strengste voorskrifte vir sy lewe en bediening gehad.

Rein en onrein

Aan die ander kant was hierdie onderskeid ook die basis vir die onderskeid tussen rein óf onrein dinge.  Iets wat rein was, was iets wat in die breë aan sy normale funksie of riglyne voldoen het, ‘n staat van heelheid en volmaaktheid, sonder gebreke of siektes.  Dit was egter nie noodwendig heilig nie.  Dit kon eers gebeur wanneer dit aan die Here gewy of geoffer is.

Iets wat onrein was daarenteen, was iets wat in die breë abnormaal, gebroke of onvolmaak geword het deur siekte, misbruik of sonde. Rein en onrein was daarom ‘n polariteit van normaal of abnormaal, heel of gebroke, volmaak of onvolmaak, in orde of buite orde, hetsy deur intrinsieke eienskappe (bv. velsiektes) of ekstrinsieke eienskappe (bv. deur God se bevel).

Herkouende diere met gesplete hoewe was bv. rein en mag geëet word.  Diere wat óf nie herkou nie, óf nie gesplete hoewe het nie, óf kruipende diere is, was onrein en mag nie geëet word nie.  Dieselfde geld visse met skubbe en vinne.  Hulle was rein.  Visse sonder skubbe of vinne was onrein (Lev. 11).  En hoewel ‘n mens allerhande kreatiewe interpretasies kan probeer gee van die intrinsieke redes waarom dít die geval was – higiëniese redes bv. – het die motivering doodgewoon gelê in God se bevel, d.w.s. ekstrinsiek aan die diere of die mense. Dit is waarskynlik ook waarom hierdie reëls rondom rein en onrein kos in die NT opgehef kon word, omdat God dit beveel het (Mark. 7:19).

Daarom kon ‘n lam met ‘n gebreekte been nie aan die Here gewy word nie, sowel as iemand wat aan een of ander gebrek gely het nie.  Hulle was onrein.  Hulle was nog steeds aanvaarbaar as gewone of algemene goed/mense, maar nie in die spesiale funksie om aan die Here gewy te word nie.  Soos Hartley dit stel: “The clean, i.e., the pure, the whole, the just, coincided with the holy while that which was unclean corresponded to that which was imperfect, confused, and false.” (Leviticus: Word).

Hartley stel voor dat in baie gevalle ‘n mens oor rein en onrein ook kan dink as ‘n polariteit van lewe of dood (Leviticus: Word).  Dit wat lewe gegee en bevorder het, was rein.  Dit wat die lewe bedreig en die dood gebring het, was onrein.  Daarom het die aanraking van ‘n lyk of ‘n dooie dier jou onrein gemaak.  Soortgelyk een of ander velsiekte of gebrek.  Onthou hulle het naby mekaar in tente hier gebly.  Siektes was ‘n gemeenskapsuitdaging!  Wanneer daar egter genesing ingetree het óf jy deur ‘n proses van reiniging gegaan het, is jy weer rein verklaar.

Die strewe na heelheid en volmaaktheid

Dit verklaar ook hoekom die strawwe wat aan sekere onheilige en onrein dinge en dade gekoppel is so onbuigsaam en brutaal was.  Onheiligheid en onreinheid het die dood in die spel gebring in die lewe van die geloofsgemeenskap.  Daarteenoor het die hele sisteem van offers en rituele juis voorsiening gemaak vir die herstel van heiligheid en reinheid sodat die lewe in God se teenwoordigheid moontlik kon word.

Só kon elke Israeliet streef na ‘n staat van heelheid en volmaaktheid deur die voorskrifte wat die Here in Levitikus neergelê het rondom die gedragskode by die tabernakel en by hulle eie tente.  Die offers het die verhoudings tussen God en mens herstel deur vergifnis en genade op grond van die bloed wat namens en in hulle plek gestort is.  Die basis vir dié versoening het gelê in die lewe wat God deur die bloed in elke lewende wese geplaas het: “Omdat die lewe van ’n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens.” (Lev. 17:11).

Dit was dan ook die rede waarom die bloed van diere vir geen ander doel gebruik is nie, ook nie in hulle dieet nie: “Omdat bloed versoening bring deur die lewe wat daarin is, beveel Ek elke Israeliet en elke vreemdeling by julle om géén bloed te eet nie.”  (Lev. 17:11-12).  Selfs die NT gelowiges het dié riglyn vir die nuwe lewe in Christus as blywend aanvaar (Hand. 15).  Die versoening in Levitikus het ook restitusie bv. deur skadevergoeding ingesluit wanneer dit verhoudings tussen mense is wat herstel moes word (Lev. 19:20).

Hierdie strewe na volmaaktheid in dissipelskap is ook ‘n fundamentele deel van die Here Jesus se riglyne vir die lewe in die Bergrede waarin Hy absolute klem lê op die innerlike en uiterlike geregtigheid wat in terme van gedagtes en gedrag deel van gelowiges se lewe moet word: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matt. 5:48).  En Jesus gebruik heel spesifiek die uitsprake in die wet van Eksodus 19-24 sowel as Levitikus en Deuteronomium om hierdie volmaaktheid te illustreer in Matt. 5:17-48 in terme van sy riglyne rondom moord (Eks. 20:6), owerspel (Eks. 20:14), egskeiding (Deut. 24:1), eedswering (Lev. 19:12), vergelding (Lev. 24:20), en vyande (Lev. 19:18).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Levitikus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar