WEEK 1: Bybelskool oor 1 en 2 Konings

Die Bybelskool oor Markus was vir my ‘n louter vreugde.  Nie net oor die helderder prentjie wat ek self van Jesus daardeur gevorm het nie.  Maar ook weens die interaksie met deelnemers nie net in my eie gemeente nie, maar reg oor die wêreld.  Dit is wonderlik om deur julle brille te kyk na die Bybel en in julle perspektiewe self so baie te leer.

Ek sal graag wil hoor, noudat julle ‘n bietjie afstand gekry het op die leeswerk van die vorige kwartaal, watter verskil die Bybelskool oor Markus in julle lewe gemaak het!

Ons keer nou terug na die Ou Testament en gaan oor die volgende 6 weke die verhale van 1 en 2 Konings lees (leesplan word Woensdag gepubliseer).

INLEIDING

“Let the word of Christ – the Message – have the run of the house.  Give it plenty of room in your lives.  Instruct and direct one another using good common sense.  And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.

Hierdie woorde van Eugene Peterson verwoord op ‘n besondere manier hierdie Bybelskool se motto:

Om in die Woord te Woon.

Navorsing wys dat daar vier katalisators is vir geestelike groei:

  • Geestelike oortuigings en houdings – oor God, Christus, Heilige Gees, die Bybel, genade
  • Georganiseerde kerklike aktiwiteite – eredienste, kleingroepe, diensgeleenthede
  • Persoonlike geestelike praktyke – refleksie oor die Bybel, gebed
  • Geestelike aktiwiteite saam met ander – ongeorganiseerde dinge soos vriendskappe, dienslewering in informele netwerke

Gelowiges se behoeftes verskil soos hulle vorder op die pad van geestelike groei:

  • Geleenthede om met God en ander gelowiges te connect – veral eredienste
  • Kleingroepe en basiese persoonlike geestelike praktyke – veral rondom die Bybel
  • Diensgeleenthede en gevorderde persoonlike geestelike praktyke – veral rondom die Bybel
  • Mentor geleenthede en ‘n wye reeks van diensgeleenthede

Die belangrikste behoefte wat in alle fases van geestelike groei uitgespreek word, is:

“Help my om die Bybel in diepte te verstaan en oor die betekenis daarvan te reflekteer.”

En dit is my passie om mense hiermee te help: om die skatte van die Woord só oop te sluit vir mense dat hulle daarvan ‘n woonplek maak, ‘n ruimte waarbinne hulle God ontmoet en waardeur Hy ‘n lewende metgesel op hul reis deur die wêreld raak.

1 EN 2 KONINGS

Die afgelope jaar of wat het ons nou al deur die Pentateug gewerk, die eerste 5 boeke van die Bybel; ons het die evangelie van Lukas saam met die Handelinge van die Apostels deurgelees, weer ‘n draai gemaak in die Ou Testament en Josua, Rigters en 1 en 2 Samuel deurgelees.

Die eerste kwartaal van die jaar het ons die evangelie van Markus gelees in vergelyking met die ander evangelies, sodat aan die een kant die boodskap van Markus nog meer spesifiek kon uitstaan, maar aan die ander kant ‘n mens ook ‘n waardering begin kry vir die wyse waarop die ander evangeliste dieselfde gegewens geneem het en ander beklemtonings en nuanses daaraan gegee het.

Hierdie kwartaal wil ek die boek van 1 en 2 Konings saam met julle deurlees.  Die boek sal ons ’n perspektief gee op God se hantering van die wêreldgeskiedenis, beide in die groter tendense en bewegings, as in die kleiner plaaslike stories waarbinne ons lewens hulself afspeel.  En net soos die boek Konings alle konings beoordeel in die lig van hulle lojaliteit aan God, só sal die boek ook vir ons help om ons eie lewe in die lig van ons lojaliteit aan God te beskou.

Ek sal van tyd tot tyd opmerkings maak oor vergelykende dele in 1 en 2 Kronieke, maar gaan dit nie as sodanig hanteer nie.  Kronieke gebruik die verhale van Samuel en Konings as basis vir sy verhaal, maar voeg baie ander materiaal by: geslagsregisters, lyste, psalms en toesprake.  Kronieke skep daarmee ’n eenheidsverhaal van Israel van Adam af tot by die terugkeer uit ballingskap in die sesde eeu vC.  Kronieke fokus ook meer op die positiewe kante van die koningsverhale, terwyl Konings die verhale in hulle volle, soms aaklige, detail vertel.

OORSIG

1 en 2 Konings was oorspronklik een boek. Dit vorm deel van die Vroeë Profete: Josua, Rigters, Samuel en Konings. Die samehang tussen hulle bestaan in die verband tussen heilsgeskiedenis en die wêreldgeskiedenis, waarvan laasgenoemde veral in Konings beskryf word.

Die boeke is heel moontlik geskryf deur voor-ballingskap skrywers wat finaal in die ballingskap geredigeer is. Gedurende die ballingskap is die geskiedenis van die konings (in Israel en Juda) in die lig van die val van Jerusalem in 586 vC nuut geïnterpreteer.

Die eerste lesers was dus heel moontlik Jode in ballingskap.  Die brandende vraag in hulle harte: “Hoekom is ons hier in ballingskap?” word deur Konings beantwoord.  Dit het ook die implisiete appél ingesluit aan hulle om die slegte voorbeeld van die konings te vermy en lojaal aan God te bly, ook in die vreemde omstandighede waarin hulle hul bevind.

Jahwe, die God van Israel, word deur die boek Konings as die Almagtige beskrywe.  Hy verhoog en Hy verneder.  Hy gebruik soms op ‘n verstommende wyse nederige en selfs magtelose mense. Vergelyk byvoorbeeld die verhaal van die melaatse Naäman,  en die (naamlose!) konings van Aram en Israel in 2 Konings 5 waarin ‘n jong dogtertjie en die profeet Elisa die sleutelrolle speel.

Dit is verder ironies dat die koninklike vertelling eintlik telkens eerder die verhale van profete op die voorgrond bring. Brueggemann sê hieroor:

“It suggests that the texts are not overly impressed with the kings and in fact do not believe the kings are the real makers of Israel history. Rather the kings are incidental public points of reference which simply provide a context for the real history-makers, who are the prophets.”

Dié gedeeltes dien dus as verhale om die konings se legitimiteit te bevraagteken en die koninklike persepsie van die werklikheid te ontken. Die verhale wil dit duidelik stel dat die wêreld nie is soos die konings sê dit is nie. En dat die perspektief wat die profete op die tafel sit, God se werklikheid, die eintlike werklikheid is.

View all posts in this series

Konings


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • martinoosthuizen

    'n Interessenate perspektief op 1 en 2 Konings is dat die boeke dan ook die mense in ballingskap wil voorberei vir 'n situasie waarin daar nie meer 'n koning is nie, en waar God dan weer as die ware koning oor Sy volk sal heers. Daarom dat die verhale van 1 en 2 Konings telkemale die volk waarsku teen die misbruik van mag wat onder soveel van die konings plaasgevind het. Die teks van Deuteronomium 18 is baie insiggewend hier – waar dit dan teen die misbruike van mag deur die aardse konings waarsku.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: