Skip to main content

Tag: getuienis

1 Korintiërs 2 – God oortuig deur getuienisse

Daar is altyd die gevaar dat ’n mens sal dink dat geleerdheid en welsprekendheid mense sal oortuig eerder as die kragtige werking van die Gees wat deur die boodskap van Jesus Christus self werk.  Paulus herinner ons daaraan dat ’n oortuiging gegrond op menslike redenasies aards bly en ontoereikend is.  ’n Oortuiging wat van God af kom, kom per definisie nie van menslike wysheid af nie, maar word aan jou geopenbaar.

Daarom het Paulus – en onthou sy ervaring op die Areopagus in Atene, waar hy argumentatief gewerk het en min sukses gehad het (Hand 17:16 vv), hoewel daar geleerdes is wat hiervan verskil – hom hier voorgeneem om by die inhoud van die boodskap van Jesus Christus te bly, en die Here te vertrou vir die uitwerking daarvan op die mense wat na hom luister.

Dit herinner my net weer daaraan dat ’n mens versigtig moet wees wanneer jy met ongelowiges in gesprek tree oor die Here, en nie te veel tyd moet spandeer aan argumente vir die geloof nie, maar veel eerder aan getuienisse oor geloof en oor God (die vertaling in vers: “geheimnisvolle waarheid” word letterlik as “getuienis” in die oorspronklike aangegee!), want daarin lê die krag van ’n openbaring van God se Gees.  Argumente vir die geloof het immers meer betekenis vir gelowiges as vir ongelowiges.

Dat Paulus hier op Jesus as die gekruisigde fokus het te make met van die probleme wat hy met die gemeente ervaar, spesifiek dat hulle nie hul eie voorkeure in terme van leiers kruisig en die eenheid in Christus belangriker ag as hulle eie “wysheid” nie.  Tog kan hy nie anders as om later voluit te praat oor die opstanding en ook die wederkoms nie (hfts 15), omdat dit die kruis in perspektief plaas en die sentrum van ons hoop vorm.

Dit is interessant dat sy bewussyn van sy swakheid, nie net terugverwys na sy ervaringe in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene nie, maar die opening laat vir God om Sy krag te demonstreer.  Dit is juis hier waar hy die gesig gekry het van God wat hom aanmoedig om aan te hou met die bediening (Hand 18:9).  En in 2 Korintiërs sal Paulus uiteindelik skrywe oor swakhede, sowel die swakhede waarvoor die Satan verantwoordelik is (die doring in die vlees), as swakhede wat inherent aan jouself of jou omstandighede is: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:9).  Daarom sê Paulus: “sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.” (12:10).

“Heersers van hierdie wêreld” dui waarskynlik hier die politieke leiers van sy tyd aan (dieselfde woord word gebruik as in Rom 13:3, waar dit onteenseglik op aardse leiers dui), hoewel die gedagte van die gevalle engele wat ’n rol speel in wêreldsake ook op die agtergrond is, waaroor Paulus meer uitgebreid sal skrywe in sy brief aan die Efesiërs (hfst 6).

Markus 5:1-20 – Wat het U met my te doen?

Ek het vanoggend behoefte om dié gedeelte met die Lectio Divina metodiek te lees.

Die vers wat my getref het na ek dit deeglik deurgelees het, is vers 7:

“Wat het U met my te doen?”

Ek vertoef by die betekenis van dié enkele sin, en ervaar ‘n groot stuk kalmte en tevredenheid dat die Here na my toe kom in Sy Woord en Hom bemoei met my.  Ek ervaar sy liefde en betrokkenheid, midde in ‘n baie besige program, wat soms soos hierdie Legio besetenheid voel.  En wy myself weer aan Hom toe en geniet net sy teenwoordigheid.  Ek ervaar dat dit my ‘n rustige kern in myself gee vir hierdie dag.

Ek gee ook ‘n paar eksegetiese opmerkings vir dié wat dit anders gaan lees (en sal die ander gedeeltes vir vandag in 2 ander posts hanteer):

Markus

  • Die dorpie Gerasa was so 50 km suid van die See van Galilea.  Dit was een van die 10 Griekse stede van Dekapolis (Griekse woord wat tien stede beteken) wat ‘n alliansie gevorm het.  Sommige manuskripte plaas die verhaal in Gergesa, ‘n dorpie aan die see, en in die gebied van die Dekapolis stede.  Dit maak meer sin, omdat die verhaal eksplisiet sê dat die duiwels in die see invaar.  Geleerdes oordeel egter dat Gergesa eerder ‘n wysiging aan die teks is deur latere skrywers (Origines bv.).  Matteus plaas weer die verhaal in Gadara wat nader aan die see was (10 km), maar steeds te ver is vir die nuus om so vinnig daarheen te versprei, maar deur sommige as meer histories korrek geag word (Hagner).  Moontlik moet ‘n mens Markus se mededeling so verstaan, dat die werkers die nabygeleë boere (vgl. plase in vers 14) gaan vertel het, en dié kom kyk het wat aangaan, terwyl die nuus steeds verder versprei is na die ander dorpe van die Dekapolis.
  • Die belangrike punt is egter, Jesus se werk brei uit na die Griekse wêreld toe en het ‘n groot impak daar.
  • Die grafte van destyds was baie keer in spelonke en grotte wat verklaar hoe die man daar kon bly.
  • Die man se naam, Legio,  verwys waarskynlik na ‘n Romeinse legioen, wat uit 5000 – 6000 soldate bestaan het.
  • Die feit dat die bose (onrein) geeste deur die varke in die see vaar, het waarskynlik te make met die feit dat die see as die plek van die bose geteken is (vgl Jesaja 27:1; Eseg 28:2; Open 13). Varke was natuurlik onrein diere vir die Jode (Lev 11:7) wat waarskynlik verklaar hoekom Jesus die “onrein” geeste toelaat om in die varke te vaar.
  • Interessant is dat Jesus hierdie motief – onreinheid – later verder sou aanspreek in sy gesprekke met die Fariseërs (vgl hfst 7 vv).
  • Die verhaal demonstreer Jesus se krag oor die Bose.  Dit is net so groot soos sy krag om die wind en weer te beheer, soos Hy in die vorige verhaal van die storm op die see gewys het.  En dit bring bevryding vir mense wat onder die juk van die Bose krepeer.  En dat hierdie verhaal in ‘n heidense gebied afspeel, dra die boodskap dat Jesus se bediening uiteindelik sal uitkring en die hele wêreld sal impakteer.
  • Dat Jesus die man vra om agter te bly in die streek van Dekapolis en te getuig van wat Jesus vir Hom beteken het, het ‘n groot effek op die omgewing. Wanneer Jesus weer in die streek van Dekapolis kom (Mark 7:31 vv) is daar ‘n ontvanklikheid vir Jesus se bediening, anders as hier waar die Geraseners Hom wegstuur, en Hy genees dan ‘n dowe man.  Die reaksie van die mense in Markus 7 is oorweldigend: “Alles wat Hy doen, is goed”!  Die reaksie toe kan daarom waarskynlik ten minste ten dele aan hierdie getuienis van die geneesde besetene van Gerasa gewyt word.  Matteus meld ook in 4:25 dat groot menigtes uit Dekapolis vir Jesus gevolg het, wat moontlik met hierdie getuienis verbind kan word.

Matteus en Lukas

  • Die verhale verskil redelik onderling, maar interessant vir my, is dat die vraag wat my getref het, in al drie verhale prominent is: “Wat het U met my (ons) te doen?”  Dit is asof hierdie vraag Jesus se motief in die oorsteek van die grens na die Grieke ontbloot – Hy het inderdaad baie te doen met die Grieke, want Hy wil bevryding vir alle mense bring.
  • Matteus vertel van 2 mans wat besete was, maar identifiseer nie die duiwels nie.  Interessant is dat hy ook van twee blindes praat (Mark 10:46-52 en Matt 20:29-34).  Sommige geleerdes verklaar dit uit die hoek van die noodsaak van meer as 1 getuie in die Joodse tradisie, en die feit dat daar uiteraard meer duiweluitdrywings plaasgevind het in Jesus se bediening.  Daarmee wil hy dus die ware impak van Jesus se bediening versterk.
  • Die feit dat Matteus die verhaal korter vertel, kan moontlik wees omdat hy in elk geval ‘n hele aantal meer wonderwerke as  Markus neerpen, en daarby ‘n groot klem plaas op die leringe wat Jesus gelewer het.  Jesus praat bv. ook nie met die mans na hulle bevryding nie.  ‘n Ekonomie van woorde met die wonderwerke laat hom dus toe om groter prominensie aan die leringe van Jesus te gee.
  • Hy plaas die verhaal ook in Gadara, ook een van die Dekapolis stede, en 10 km suid van die See van Galilea.  Sien die bespreking hierbo vir meer inligting hieroor.
  • Die inhoud van Lukas se verhaal is grootliks dieselfde as dié van Markus.  Klein detail verskil – die man kom van die dorp af Jesus tegemoet, en van die grafte af nie, hoewel Lukas steeds noem dat hy tussen die grafte gewoon het; die man gaan vertel wat gebeur het in die dorp, terwyl Markus uitwei oor sy getuienis regdeur die Dekapolis.
  • Interessant dat Lukas praat van die onderaardse diepte as die woonplek van die Bose (8:31).

Onlangse kommentaar