Die geldigheid van die wet van God is ’n komplekse saak in die NT
Ek het vanoggend nagedink oor die geldigheid van die wet in die NT. Hier is ‘n paar opmerkings oor hierdie komplekse saak.
-
Jesus leer ons dat die wet tot die einde van krag bly (Matt. 5:18; Rom. 3:31). Trouens, die hele Bergrede (Matt. 5-7) is ‘n uitleg en toepassing van die wet.
-
Jesus oordeel daarom aan die einde van die tyd almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat wetteloos lewe. Sonde is immers wetteloosheid soos Johannes later vir Jesus sal eggo (Matt. 13:41; 1 Joh. 1:4).
-
Jesus lê klem op reinheid van hart (Matt. 5:8), is duidelik oor watter dinge hy bedoel ‘n hart onrein maak (Mark. 7:20-23), maar verklaar wel alle kos rein (Mark. 7:19) soos Paulus ook doen (Rom. 14:20).
-
God wys in lyn hiermee vir Petrus ná die opstanding dat mense uit alle nasies die evangelie kan ontvang en aanvaar: dat “in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.” (Hand. 10).
-
Paulus kom daarom tot die einde van sy lewe die wet van Moses persoonlik na (Hand. 24:14; 25:8). Daar is talle bewyse daarvan. Die besnydenis van Timoteus (Hand. 16:3), die reinigingsrituele wat hy nakom (Hand. 21:26) en sy offers in die tempel (Hand. 24:17).
-
Paulus verkondig ook die evangelie uit die wet van Moses (Hand. 28:23) soos talle ou kerkvaders hom nadoen.
-
Gelowiges staan egter nie meer onder die wet nie, maar onder die genade (Rom. 6:15). Dit verkondig Paulus ook helder.
-
Gelowiges behoort nou aan Christus (Rom. 7:4). Dit is die goeie nuus van die evangelie.
-
Gelowiges is vrygemaak van die wet om in die nuwe bedeling van die Gees te leef (Rom. 7:6).
-
Die wet van die Gees het gelowiges vrygemaak van die wet van sonde en dood (Rom. 8:2).
-
Gelowiges kom nou die eise van die wet na deur die Gees hulle te laat beheers (Rom. 8:4). Let op dat dit steeds die eise van die wet is!
-
Christus is egter steeds nie net die vervulling van die wet nie, maar ook die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word (Rom. 10:4 – “tot geregtigheid van elkeen wat glo”). Anders sou ons nooit in die genade kon leef nie.
-
Die liefde is nou die volle uitvoering van die wet (Rom. 13:10). Maar, let ook daar op dat amper elkeen van die Tien Gebooie genoem word as dié dinge wat die wet van die liefde begrond. Liefde is immers om nie te steel nie. Liefde is immers om nie dood te maak nie. Liefde is immers om nie egbreuk te pleeg nie, ensovoorts.
-
Gelowiges is nou onder die wet van Christus (1 Kor. 9:21). Sy genade spreek vry en maak heilig onder leiding van die Heilige Gees.
-
Maar, vir Christelike gedrag word die wet steeds ingespan, bv. in hoe mense in die gemeente moet optree (1 Kor. 14:34), ook kinders teenoor hulle ouers (Ef. 6:1) en rondom die tipe sondes wat vermy moet word (1 Tim. 1:9-11). Daar is ook talle ander plekke waar Paulus riglyne neerlê wat met die wet verbind kan word (bv. Rom. 1; Gal. 5-6; 1 Kor. 5-7) waarin veral die eis van die wet rondom reinheid (1 Tes. 3:13; 4:3-7; 1 Kor. 5:8; 1 Tim. 1:5; 4:12; 2 Tim. 2:22; Fil. 4:8) en heiligheid (Rom. 6:19; Ef. 1:3; 4:24; Kol. 1:22; Hebr. 12:10) ‘n belangrike rol speel. Ons reinheid en heiligheid moet immers soos Jesus s’n wees (1 Pet. 1:15; 1 Joh. 3:3). Die wet is immers ’n tugmeester na Christus toe (Gal. 4:23-25).
-
Gelowiges moenie hulle vryheid van die wet misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie (Gal. 5:13), want dan is hulle juis besig om die wet van God te oortree.
-
Die wet met al sy gebooie en bepalings is egter opgehef om plek te maak vir die heidene (Ef. 2:15) soos die vergadering in Handelinge ook erken het, behalwe vir afgodery en sedeloosheid (Hand. 15). Daarom die brief van Jesus aan Tiatira wat waarsku teen afgodery en onsedelikheid (Openb. 2:18-29).
-
Die regte lering oor die wet – dat dit vir wettelose en opstandige mense bedoel is – is in ooreenstemming met die evangelie (1 Tim. 1:9-11). Die wet bly dus van krag vir hulle wat sonde doen.
-
Hoekom? Want sonde is wetteloosheid (1 Joh. 1:4; 3:4). Daarom bly die wet van God geldig in die veroordeling van oortreders daarvan as sondaars (Jak. 2:9). Jy is net vry as jy in Christus glo en deur die Gees in ‘n nuwe lewe begelei word. Sonder die heiligmaking sal niemand God sien nie (Hebr. 12:14).
-
Dit is nie om dowe neute wat Openbaring dié wat ‘n deel het aan die ewige lewe: “salig en heilig” noem nie (Openb. 20:6)!
-
Laastens. Dit is hoekom die Geloofsbelydenisse van die Gereformeerdes steeds ‘n rol aan die wet toeken in beide die oortuiging van sonde en die dankbaarheid vir die verlossing, bv. die Heidelbergse Kategismus, gebaseer op bogenoemde verwysings uit die Skrif.
monica
Ek net gewonder gee julle ook vrae oor die stukke wat ek moet lees uit. dan kan ek dit in vul.
Chris van Wyk
Hi Monica. Nee, daar is geen toetsing betrokke nie. Dit is net vir lees en self toeëien.